Hoe het ons in die Zuma-gemors beland?

Oudpres. Thabo Mbeki. (Argieffoto.)

Die Zuma-era is nou dramaties tot ʼn punt gedryf, maar hoe het ons in hierdie Zuma-gemors beland? Kan dit weer gebeur en wie se skuld was dit? Dit is die ANC en spesifiek Thabo Mbeki se skuld, maar ook die ANC se Grondwet.

Thabo Mbeki

President Nelson Mandela het onder druk en teen sy sin vir Thabo Mbeki as adjunkpresident aangestel. Sy eerste keuse was Cyril Ramaphosa.

Om Ramaphosa uit te hou, het Mbeki onmiddellik begin om die tradisie te skep dat die adjunkpresident outomaties die president moet opvolg. Toe Mandela uittree, is Mbeki dan ook eenparig as nuwe ANC-president en daarna ook as president van Suid-Afrika verkies.

Ná sy verkiesing was dit Mbeki se taak om ʼn nuwe adjunkpresident aan te wys. Volgens die “tradisie” wat hy geskep het, moet die persoon hom eendag as president opvolg. Die sterkste aanspraakmakers was Cyril Ramaphosa, Matthews Phosa, Tokyo Sexwale en ook Winnie Mandela. Mbeki het die besluit ontduik en nie een van die persone bevorder nie. Hy het Jacob Zuma ondersteun.

Mbeki, met sy Britse meestersgraad, het gedink dat Jacob Zuma, wat nooit werklik skoolgegaan het nie, nooit president kan word nie. Almal weet dat Mbeki groot waarde aan akademiese opleiding heg. Deur Zuma as ANC-adjunkpresident te ondersteun, stel Mbeki die besluit oor sy opvolger uit tot aan die einde van sy termyn. Zuma sit solank die adjunkpresident se stoel warm totdat die regte opvolger uit die aanspraakmakers hierbo gekies kan word.

Terwyl Mbeki as president amper permanent buite Suid-Afrika rondgerits het om Afrika se probleme op te los en die Verenigde Nasies te probeer hervorm, het Zuma as sy adjunk sy werk gedoen soos hy geglo het van hom verwag word. Saam met Winnie Mandela woon hy al die belangrike ANC-begrafnisse by en lewer die nodige lofredes. Met Mbeki afwesig, het Zuma die ANC-stadionbyeenkomste toegespreek en met sy masjiengeweer-lied en danspassies afgesluit. Dit maak hom gewild onder die gewone ANC-lede.

Te laat besef Mbeki dat die ANC-lede aanvaar Zuma gaan hom opvolg as volgende president. Dit is immers die “tradisie” wat Mbeki self geskep het en “is waarskynlik Mbeki se keuse” – word geredeneer.

Mbeki doen verskillende stappe om te probeer keer dat Zuma hom opvolg. Hy dank Zuma af as adjunkpresident. Dit werk nie en maak Zuma net sterker. Zuma word nou deur baie as nog ʼn Mbeki-slagoffer gesien. Dit maak hom ʼn ANC-martelaar wat skielik deur al die Mbeki gegriefdes soos die SAKP, Cosatu en die ANC-jeugliga gesteun word.

Verskillende hofsake teen Zuma volg – met sterk gerugte van die Zuma-ondersteuners dat Mbeki agter die hofsake sit. Tot selfs regter Nicholson bevind aanvanklik só.

Tot die verbasing van baie word Zuma by die ANC-kongres in 2007 tot ANC-president verkies. Hy verslaan Mbeki oortuigend.

Mbeki se ondersteuners het in nuwe BMW’s en Mercedesse by die Polokwane ANC-kongres aangekom – hoofsaaklik die nuwe swart middelklas.

Die Zuma-ondersteuners het in oorvol busse, wat ure lank van ver af gery het, aangekom. Hulle het Zuma-T-hemde aangehad en was die armes, die verontregtes, diegene wat kwaad was vir Mbeki en die Zoeloes van KwaZulu-Natal. Hierdie magsbasis was groter as Mbeki sʼn.

Nege maande later, in 2008, besluit die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dat Mbeki ook as president van Suid-Afrika moet bedank. Dit is voor sy termyn in 2009 verstryk.

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma tydens sy openingstoespraak by die ANC se nasionale beleidskonferensie in Johannesburg (30 Junie 2017). Foto: ANA

Zuma as president

Zuma is ʼn aangename, laggende en charismatiese Zoeloe-hoofman met vier vroue. ʼn Tradisionele tipe leier wat nooit president van ʼn ingewikkelde land en ʼn ontwikkelde ekonomie soos Suid-Afrika moes geword het nie.

“As president is Zuma tegnies die koning oor die Zoeloekoning. Hy skakel gereeld met die Swazikoning. As die Zoeloekoning ses vroue kan hê en die Swazikoning 14, dan is Zuma heel beskeie met tans slegs vier vroue,” verduidelik ʼn Zuma-ondersteuner hierdie tradisionele benadering aan my.

En wat van Nkandla?

“As die staat jaarliks R56 miljoen kan betaal aan die Zoeloekoning om sy huishouding en ses paleise vir sy vroue in stand te hou, kan hulle sekerlik ook Zuma se veiligheid in ʼn gevaarlike omgewing soos Nkandla met ʼn eenmalige R254 miljoen vir opknappingswerk verseker. Straf die korruptes wat geld uit die Nkandla-projek gemaak het, maar moenie Zuma verantwoordelik hou nie. Die polisie en openbare werke het die besluite oor Nkandla en sy veiligheid geneem,” het die Zuma-ondersteuner geantwoord.

Waarom wou Zuma nie Ramaphosa as sy opvolger hê nie?

Een van Zuma se vroue, Thobeka Madiba-Zuma, som die Zuma-ondersteuners se gevoel oor Ramaphosa op toe sy verlede week op Twitter daaroor skryf. Sy skryf onder die naam “firstladytzuma”.

“UmSholozi [Zuma se troetelnaam] did not join the ANC in 1991 [dit is wanneer Ramaphosa ʼn ANC-lid geword het], jumped ship nor hip hopped between the struggle and wealth accumulation. He left his home at a tender age to fight apartheid. He was prepared to pay the ultimate price. He will finish what he started because he does not take orders beyond the Atlantic Ocean.”

Waarom het die ANC nie lankal van Zuma ontslae geraak soos hulle met Mbeki gemaak het nie? Met die Nkandla-skandaal, beskerm die ANC vir Zuma. Toe die konstitusionele hof in 2016 bevind dat Zuma versuim het om die Grondwet te verdedig, beskerm die ANC hom. Selfs die #Guptaleaks-e-posse en bewyse van staatskaping was nie genoeg om die ANC sover te kry om ʼn mosie van wantroue in Zuma te steun nie. Hy het reeds sewe sulke mosies oorleef.

julius-malema

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC-grondwet

Die belangrikste rede waarom hulle so gesukkel het om van Zuma ontslae te raak, is die bepalings in die ANC se Grondwet.

Die ANC-grondwet bepaal in artikel 10.5 dat die nasionale kongres, waar die ANC-leiers verkies word, slegs elke vyf jaar vergader. In die vyf jaar tussen kongresse is die NUK volgens artikel 12.1 die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC. Die liggaam kan van Zuma ontslae raak. Die liggaam bestaan uit tagtig verkose lede en enkele ander.

Zuma, as ʼn slim politieke strateeg, het kort ná hy ANC-president geword het, begin seker maak dat hy die meerderheid steun in die NUK het.

Met ʼn kabinet van 72 ministers en adjunkministers het Zuma verseker dat meeste van die 80 verkose NUK-lede kabinets- of ander belangrike provinsiale poste kry. (Die Duitse kabinet het 15 lede en die VSA se kabinet 14.)

Die ANC se vroueliga, die jeugliga en die ANC-veterane het ook verteenwoordigers in die NUK. Zuma moes ook oor hierdie organisasies beheer kry.

Die minister van onderwys, Angie Motshekga, was die president van die ANC-vroueliga. Sy was nie aan Zuma se kant nie. Met ʼn gekoukus is sy uitgestem en vervang met Bathabile Dlamini – die minister wat veroorsaak het dat die uitbetaling van toelaes in ʼn krisis is. Is dit toevallig dat Dlamini ook van Nkandla kom?

Toe Julius Malema as ANC-jeugleier teen Zuma draai, is hy uit die ANC en so uit die NUK geskop. Hy is met Collen Maine as nuwe ANC-jeugleier en NUK-lid vervang wat ʼn blinde Zuma-volgeling is.

ANC-veterane soos generaal Siphiwe Nyanda is, ná kritiek op Zuma, uitgeskuif en met Kebby Maphatsoe as hoof van die MK-veterane vervang. Maphatsoe steun Zuma onvoorwaardelik. Malema beweer Maphatsoe was ʼn hopelose MK-soldaat wat sy arm verloor het toe hy gedros het.

Met die NUK nou veilig in Zuma se hande, was dit onmoontlik om in die vyf jaar tussen kongresse die NUK sover te kry om ʼn mosie van wantroue teen Zuma te aanvaar.

Derek Hanekom, was die voorsitter van die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die wiel begin draai

Zuma se afdanking van minister Nhlanhla Nene as minister van finansies en die wyse waarop hy daarna vir Pravin Gordhan van Europa teruggeroep en verneder het, het die meerderheid van die ANC se parlementêre koukus teen Zuma laat draai.

Die gety het verder teen Zuma gedraai toe die ANC baie steun in die 2016 plaaslike verkiesing verloor het. Ministers soos Derek Hanekom en Blade Nzimande is uit die kabinet geskop toe hulle teen Zuma draai en openlik gevra het dat hy nou afgedank word. Die NUK het steeds Zuma beskerm. Toe Derek Hanekom na al hierdie gebeure ʼn mosie van wantroue in Zuma in die NUK instel, is die mosie verslaan.

Wat het dan nou verander?

Die ANC se nasionale kongres, wat net elke vyf jaar vergader, het in Desember 2017 plaasgevind. Ramaphosa is by die kongres as nuwe leier bo Zuma se kandidaat, sy eksvrou Dlamini-Zuma, verkies. Zuma het gedobbel en verloor.

Skielik was daar ʼn totale magsverskuiwing. ʼn Nuwe NUK is ook saamgestel. Daagliks hoor ons van vorige Zuma-ministers en NUK-ondersteuners wat nou Ramaphosa se lof besing. Hulle eenvoudige logika is dat Zuma jou net nog vir enkele maande ʼn pos kan aanbied, maar op die langtermyn is Ramaphosa die man.

Hierdie patroon het hom herhaal toe almal van Mbeki wou ontslae raak. Ongeag Mbeki se rampspoedige Vigs-beleid en die hardkoppigheid waarmee hy Mugabe beskerm het, het die ANC-NUK nooit teen hom opgetree nie.

Nadat Mbeki in 2007 by die ANC-kongres teen Zuma verloor het, het die NUK besluit dat Mbeki nou moet gaan. Hulle het wel nege maande gevat om van Mbeki ontslae te raak.

Die enigste verskil is dat die NUK wil hê dat Ramaphosa die staatsrede reeds volgende week moet lewer en nie Zuma nie. Met die volgende verkiesing 18 maande ver kan hulle nie nege maande wag om van Zuma ontslae te raak nie. Hulle glo Ramaphosa kan die ANC se beeld herstel ná die rampspoedige Zuma-jare.

anc mpumalanga

Ondersteuners vir premier David Mabuza (Foto: Thembilihle Mkhonza/ANA)

Kan dit weer gebeur?

Hoe het ons in die Zuma-gemors beland en kan dit weer gebeur? Dit was van my vrae aan die begin van hierdie rubriek.

Dit kan weer gebeur. Ramaphosa het verkies dat minister Naledi Pandor as adjunkpresident verkies moet word. Sy is bekwaam, intelligent en uit ʼn ANC-oogpunt gesien, beslis ʼn moontlike toekomstige eerste vroue president van die land. Ramaphosa se langtermyn denke was waarskynlik dat Pandor hom sal kan opvolg.

Die ANC-kongres het egter vir David Mabuza as adjunkpresident verkies. Dit is weereens ʼn korttermyn-kompromie-keuse om die eenheid van die ANC te behou.

Soos Zuma is Mabuza ʼn baie omstrede figuur wat as premier van Mpumalanga sy provinsie soos sy persoonlike eiendom bestuur het. Tot op die laaste het hy Zuma ondersteun en toe omgespring na Ramaphosa.

In 2010 was R10 miljoen na bewering van sy huis gesteel en verskeie bewerings oor tenderbedrog is oor hom gemaak. Sy provinsie het ook verskeie politieke moorde onder eienaardige omstandighede gehad.

Dit lyk nie of die ANC enige lesse uit die verlede geleer het nie.

“Ons weet Mabuza is ʼn korrupte politikus. Daarom sal hy nooit president word nie. Sy keuse was net vir die korttermyn ter wille van ANC-eenheid,” verduidelik ʼn Ramaphosa-ondersteuner aan my.

Dit klink baie bekend en presies dieselfde tipe argumente as toe Zuma adjunkpresident geword het. Vir my lyk dit of die huidige politieke gemors hom weer oor ʼn paar jaar gaan herhaal.

Hopelik, met ʼn steeds swakker wordende ANC, is daar ʼn totale ander politieke situasie met opposisie-alliansies in beheer die dag as Ramaphosa nie meer president is nie. Net die tyd sal leer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Hendrik ·

Ja nee dit is ongelooflik dat ons onsself so in ‘n hoek in kon verf. Gister het Fourie wat in FW se span erken dat die NP deur Ramapoza se span by KODESA uitoorle is. Hoe om uit die hoek uit te kom met die huidge S.A grondwet sal net ‘n wonderwerk wees. Daar is natuurlik senarios waar die huide toestand so sal verswak dat alles verval, soos voorspel word deur een van Frans Cronje se toekoms senarios. Ek dink hierdie week het daar ‘n ander moontlike rede tevoorskyn gekom wat die grondwet kan laat val. Die feit dat die Zulus koning se trusgrond kan nog lei tot baie probleme vir die huide regering. Wat gebeur as hulle wil afstig en wat gebeur as hulle die Afrikaner ‘n grondgebied aanbied in die noordekant (Vryheid, Utrech omgewing) om die Nuwe Republiek (Pres Lucas Meyer in die verlede). Kom ons kyk…

Gypsy ·

Goed gestel en maklik om te lees, dankie. Duidelik gaan dit nog ‘n redelike tydjie vat vir die lot om te besef dat solank dit ANC eerste is en SA tweede verloor ons almal. Nie dat hulle weklik omgee nie, solank hulle eie sakke gestop word.

lizl ·

Ek het gkad nie die stuk gelees nie. Ek antwoord wel op die opskrif. Hoe het ons in die Zuma gemors beland ? Deur in 1992 ja te stem in die referendum. Ons kan de klerk verwyt soos ons wil. Daardie dag het die meerderheid mense ja gestem.

Ou Vlakvark ·

Dankie Pieter vir hierdie goeie indiepte artikel.
Die NP het tog sekerlik ook uitstekende konstitisionele reg geleerdes betrek by die opstel van die Grondwet? Het elke stemgeregtigde wat JA gestem het nie ook die demokratiese reg gehad om self die konsep-Grondwet vooraf te bestudeer nie? En wat het hulle daaromtrent gedoen? Waarom wys sommiges die vingers na die vorige NP leiers? Drie vingers wys na hulself. Maar ons as onbetrokkenes leer nou soos kinders op die harde manier met duur skoolgeld.
Persoonlik glo ek die RSA gaan polities verkrummel. Op die einde sal soort-soek-soort groepeer. Dit is die natuurlike proses. Of is ons almal ondersteuners van die National Democratic Revolusion en National Democratic Society?

Rooikop ·

Hoe het ons in die gemors beland? Maklik – oorgegee in 94. DIT is waarvoor ja gestem was maar jy was verkramp as jy dit uitgewys het. Die bedjie is opgemaak lê nou maar in hom.

Hendrik ·

Dit is al vir my baie gewoon om geen reaksie te kry sodra ek iets noem van selfbeskikking , of groepeering van gemeenskappe. Ek weet dit verg moeite, harde werk en almal hou Orania altyd in die agterkop indien dinge skeef gaan loop erens in die toekoms. Meningvormers praat daarvan dat dit juis die feit is dat die Afrikaners nie gegroepeer is in ‘n gebied wat die voortbestaan van die Afrikaner bedreig. Maar niemand wil iets doen nie want dit is ongemaklik. Meningvormers praat van werkskepping vir Afrikaners en niks word gedoen nie. Meningvormers bly maar ook in hulle woongebiede en is ook lekker naby die werk en alles is baie gemaklik. Ek wil nou meningvormers uitdaag om dade by julle woorde te sit en saam met die stille pioniers van vandag hand aan die ploeg sit.

Eish ·

Dit is n uitweg, maar die plan sal meer om die lyf moet hê alvorens dit werklik gaan lei tot n kopskuif.
Byvoorbeeld, hoe skuif jy jou besigheid weg van die bestaande kliëntebasis sonder om te sink? Hoe skuif n boer sy boerdery?
Waar gaan almal werk?

Hendrik ·

Ek stem saam met jou maar erens moet ons begin. Bv naby Pretoria. Baie haalbaar, naby die klientebasis. Ek verstaan omtrent die boerdery. Ek weet dat daar elke maand in Pretoria sulke vergaderings is maar dit stop altyd waar die lede van die vergadering gevra word : Wanneer skuif julle na die geoormerkte gebied naby Pretoria? Dan raak dit ongemaklik….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.