Hoe lyk die res van die land se skole?

dr-jaco-deacon-fedsas

Dr. Jaco Deacon djunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Foto: Facebook.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), skryf hierdie ope brief aan Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, na aanleiding van sy skerp bewoorde mediaverklaring Maandag waarin  Lesufi gewaarsku het dat die “haters van transformasie in onderwys” nie sy geduld moet toets nie.

Mnr. Lesufi, u onlangse opmerkings in die media en u verklaring oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, en veral die kommentaar daarop, is ter sprake.

U opmerkings en dreigemente ontbloot u ware kleure én bring ook die onderliggende doel van die wysigingswet na vore. Dit het niks met gehalte-onderwys te doen nie, maar is eerder gemik daarop om ’n bepaalde ideologiese beleid af te dwing ten koste van openbare skole.

U dreigement dat u geduld opraak en die feit dat u teenstanders van die konsepwet so fel kritiseer, laat ernstige gevaarligte flikker. Die doel van die publikasie van enige konsepwet is om openbare deelname te kry. Om die waarheid te sê nooi die minister van basiese onderwys die Suid-Afrikaanse publiek uit om hul siening te deel, naamlik om objektiewe, weldeurdagte en gegronde kommentaar te lewer ten einde die onderwysstelsel te verbeter. As LUR behoort u te weet dat elke burger die reg het om aan hierdie proses deel te neem – dit is die grondslag van demokrasie. Een van die onderliggende besware van die 46 voorgestelde wysigings is juis dat die staat ’n outokratiese stelsel wil voorskryf waarin magte na die staat gaan – u optrede help nie juis om hierdie vrese te besweer nie.

Mnr. Lesufi, u noem dat voormalige model C-skole (wat terloops al vir 20 jaar nie meer bestaan nie) bykans 80% swart leerders het – dit is mos transformasie. Hoe lyk die res van die land se skole? Hoe lyk die res van u eie provinsie se skole?

U tirade is volledig gefokus op Afrikaans-enkelmediumskole ‒ u swyg geriefshalwe oor die feit dat meer as 95% van die land se skole Engels-enkelmediumskole is! Hoe vier dít die diversiteit van die land? Hoe gee dít uiting aan die oogmerke van die Grondwet? Hoe help dit elke moedertaalspreker wat van sy reg ontneem word om in sy moedertaal onderrig te ontvang? Een van die redes waarom sommige Afrikaanse skole so goed presteer is juis omdat moedertaal so belangrik is – hierdie feite en internasionale navorsing oor die voordele van moedertaalonderrig word al te lank deur onderwysamptenare en politici onder die tafel ingevee.

U swyg voorts daaroor dat daar geen bevredigende befondsings- of personeelvoorsieningsmodel vir parallelmediumskole is nie. Geen van die klousules in die wysigingswet maak daarvoor voorsiening nie en u het dus ook die kans gemis!

Mnr. Lesufi, u swyg ook oor die feit dat daar in Gauteng weens swak beplanning te min skole gebou is en dat daar steeds nie vinnig genoeg skole gebou word nie. U ignoreer studies oor beste internasionale praktyke oor klasgrootte en ’n kleiner onderwyser-leerderverhouding. Blykbaar dink u dat om meer kinders in ’n klas te prop die antwoord is.

Mnr. Lesufi, u verwys ook nie daarna nie dat die werklike probleem in die meeste skole eenvoudig swak onderwysers is, beheerliggame wat nie opgelei word nie, onbeholpe amptenary en gebrekkige finansiering.

U verwysing na landsburgers wat kommentaar op die wetsontwerp lewer as “haters” moet ten sterkste veroordeel word. Dit is onverantwoordelik, verdelend en neerhalend.

Die openbare onderwysstelsel kan gered word deur sterk leierskap, maar leierskap wat openbare skole omarm, die regte van ouers erken om insae in die onderwys van hulle kinders te hê, die belangrike rol van beheerliggame versterk en departemente wat goed funksioneer en skole bedien.

Die voorgestelde wysigings slaan egter nie dié rigting in nie!

Mnr. Lesufi, u is in ’n posisie om die land ten goede te kan verander en u het die vermoë om die media baie doeltreffend te gebruik. Ek daag u uit om die kans te gebruik om saam met ons te werk aan ’n plan om Suid-Afrika te bou vir almal wat hierin woon en nie te verval in politieke retoriek wat verdeel en openbare skole vernietig nie.

Ek hoop die minister van basiese onderwys luister na al die openbare kommentaar, skep die geleentheid vir dialoog en debat en neem besluite in die beste belang van die land.

Ek hoor graag van u.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Onmoontlik om met die perd te redeneer. Hy is van n ander planeet. Sterkte met die weerstand teen skole kaping.

Frans C ·

As jy as ‘n donkie gebore is,sal jy nooit as ‘n perd doodgaan nie.

Disselboom ·

“Beheerliggame wat nie opgelei word nie”? Hoe lank gaan ons nog in die polities-korrekte moeras aanhou verdrink? Daar is duidelik twee wêrelde in Suid-Afrika: een wat leiers op alle vlakke het, en waar ‘n verkiesingsproses tussen ouers ‘n beheerliggaam oplewer met minstens ‘n mimimumvlak van kundigheid, en ‘n ander wêreld wat – hmm, ja – hoe sê mens dit nou in ons polities-korrekte wêreld sonder om ‘n klomp liberales te laat ineenkrimp – gewoon nie die kundigheid het nie, maar terselfdertyd hulle neuse optrek vir gedifferensiëerde onderwys. Want ons is mos almal ewe vermoënd in hierdie land?

Gisela van Reenen ·

Hopelik het die agbare minister hierdie skrywe in Engels ontvang.

Rupert Ashford ·

Lesufi is net in pas met die internasionale “progressiewe” neiging om ouers se beheer in die onderwys van hulle kinders te ondergrawe omdat die mense in beheer allerhande gemors aan hulle wil leer om die samelewing te “transformeer”.

Wat n grap ·

Asof hulle gaan luister. Die onderwys stelsel is reeds in sy ..kanon in. Die standaarde is alreeds so verlaag in Suid Afrika. Het verskeie prys uitdelings by gewoon en aarde kan nie glo hoe swak die top gemiddelde presentasies van leerders geword het nie. Ons voldoen reeds nie aan top onderwys nie. As jy 30% wiskunde kry kan jy mos wiskunde doen? Regtig dis n grap waar ons standaarde al is. En ek raak bevrees as ek dink ek het nog vier kinders wat nog lank moet skool gaan. Gelukkig een reeds matriek , maar ja wat verwag ons van Suid-Afrika en hulle “wonderlike”stelsels. Almal moet seker maar inpas by ons Pres.wat so intelligent is veral met Wiskunde.

susan ·

Dankie Jaco Deacon hy doen iets in belang van ons kinders en kleinkinders. Die mense wat so kla en kritiseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.