Hoe lyk die telkaart vir die omkeer van ons geknelde land?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

Deur dr. Theuns Eloff

Dis nou reeds ou nuus dat die voormalige president Zuma hierdie week voor die Zondo-kommissie verskyn. Of hy werklik vrae gaan beantwoord, moet nog gesien word. So ver lyk dit asof hy óf aan ernstige geheueverlies lei óf geen mening oor die meeste sake het nie.

Maar benewens hierdie nuus, is daar ’n ander vraag waarmee die meerderheid regdenkende en bekommerde Suid-Afrikaners worstel en waarmee baie kundiges daagliks gekonfronteer word. Is president Ramaphosa besig is om die stryd om die land om te keer, te wen? Is hy aan die wen in sy stryd om die land en veral die staat te hervorm, uit die kloue van die Zuptas te red, die ekonomie te help herstel en die land op ’n vaste koers te plaas?

Dis nie maklik om hierdie vraag met ’n ja of nee te beantwoord nie, omdat dit kompleks is en van ’n hele klomp faktore afhang. En omdat dit dikwels gesê word dat Ramaphosa ’n lang en strategiese skaakspel speel, is die stand van sake ook nie altyd vir die gewone Suid-Afrikaner so duidelik nie. Max du Preez het onlangs opgemerk dat wat hom bekommer, is dat terwyl Ramaphosa skaak speel, Ace Magashule met ’n bofbalkolf inklim…

Tans bestaan die Ramaphosa-telkaart uit drie groepe faktore: negatiewes, hoofsaaklik veroorsaak deur die Zupta-faksie in die ANC; positiewes wat deur Ramaphosa en sy kant gedryf word; en dan ’n aantal faktore wat as “eie doele” beskryf sou kon word – aangeteken deur die optrede en soms gebrek aan optrede deur die Ramaphosa-kant self.

Die faktore wat teen die Ramaphosa-planne gekant is, is welbekend. Magashule se oorwinnings in die grootte en samestelling van die kabinet, asook die aanstelling van voorsitters van portefeuljekomitees in die parlement is dalk die duidelikste. Al word die skakel tussen die Openbare Beskermer (OB) se heksejag teen Pravin Gordhan en Ramaphosa self, en die Zupta-groep nie uitgebasuin nie, is daar tekens dat die Zuptas hierdie keer die OB ten volle en openlik ondersteun. ’n Strategie wat onlangs duidelik na vore gekom het, is om Ramaphosa te dwing om die soms irrasionele besluite van die ANC se Nasrec-konferensie van Desember 2017 teen wil en dank toe te pas. Hieronder tel die nasionalisering van die Reserwebank en onteiening sonder vergoeding. Gedurende dieselfde naweek het Magashule onlangs op ’n openbare vergadering gesê dat hy dit as sy erflating beskou om seker te maak dat die Nasrec-besluite toegepas word. En daardie selfde naweek het Zuma by ’n vergadering van die ANC Jeugliga gesê dat as ’n president van ’n organisasie weier om die besluite van sy hoogste gesagliggaam toe te pas, hy vervang moet word. ’n Sterker dreigement en oorlogsverklaring deur die Zuptas teenoor Ramaphosa kan mens jou kwalik indink.

Daar is aan die Ramaphosa-kant ’n paar ligpunte wat positief is. Die belangrikste hiervan is die aanstellings wat reeds deur Ramaphosa gemaak is. Dit begin lyk asof die direkteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, hard aan die werk is, saam met die hoof van haar spesiale ondersoekeenheid, Hermione Cronje. Daar is selfs gerugte dat die eerste hoëprofielvervolging voor die einde van 2019 kan begin. ’n Aantal prokureursfirmas het alreeds ’n hele aantal lêers ontvang met inligting waarvoor advokate opdrag gegee moet word vir vervolgingsake. Die regulasie wat Ramaphosa onlangs geteken het wat die Spesiale Ondersoekeenheid die mag sal gee om die 2015 omstrede asbeskontrak van die Vrystaatse regering te ondersoek, is ook betekenisvol. Hierdie kontrak is tydens Magashule se bewind as premier toegeken, en daar was bewerings dat hy persoonlik daarby gebaat het. Indien die ondersoek wel ongerymdhede en voordele aan politici of sakemense uitwys, en vervolgings ingestel word, kan dit ’n groot hupstoot aan hervormingspogings gee. Dit kan selfs (maar miskien moet mens nog nie asem ophou nie) die begin van die einde vir Magashule se politieke loopbaan beteken. Die president se “terugveg” in die hof oor die Gordhan-saak toon ook tekens van ’n meer proaktiewe optrede.

Die meeste Suid-Afrikaners glo dat Ramaphosa die land werklik wil omdraai. Maar dit word nie altyd gesien nie. ’n Senior raadgewer van Ramaphosa het onlangs navraag gedoen waarom mense “so negatief oor Ramaphosa” is. Dit openbaar dat in Ramaphosa se eie kleiner kring van raadgewers daar nie genoegsaam begrip is oor wat aan die gang is en hoe gewone Suid-Afrikaners die situasie en die talle negatiewe mediaberigte beleef nie.

En die derde groep faktore wat as “eie doele” beskryf word, bevestig dit. Daar is dié wat meen dat Ramaphosa se profiel te laag is en dat hy nie sigbaar genoeg is nie. Veral in die minderheidsgemeenskappe is die gevoel dat hy te min uitkom en openlik oor byvoorbeeld sake soos bendegeweld, plaasmoorde, ekonomiese groei en die belangrikheid van eiendomsreg praat. Sy kantoor se siening dat hierdie sake deur die betrokke ministers hanteer moet word, mag tegnies korrek wees, maar versterk die persepsie dat hy nie in die openbaar sterk genoeg leiding gee nie. In sy staatsrede het hy weliswaar visoenêre leiding probeer gee (wat selfs deur joernaliste gruwelik misverstaan is), maar ongelukkig het Suid-Afrikaners nou meer konkrete leiding oor spesifieke knelpunte nodig.

Dan is daar enkele Ramaphosa-uitsprake wat blykbaar daarop gerig is om die belangegroepe in eie geledere te paai. Die mees onlangse hiervan is die vreemde uitspraak oor die VSA, China en die maatskappy Huawei. Selfs al is Trump nie almal se gunsteling nie, maak dit nie sin om die VSA ’n vyand van Suid-Afrika te maak nie. In hierdie verband wonder mens wie Ramaphosa adviseer? Om deur ’n ondeurdagte uitspraak ’n belangegroep te probeer beïndruk wat jy in elk geval nie aan jou kant gaan kry nie, maar daardeur ’n belangegroep wat aan jou kant is, te vervreem, is onverstaanbaar.

Die telkaart is dus ’n mengsel van negatiewes, positiewes en eie doele. Die uitslag van die stryd is daarom nog lank nie seker nie. En soos voorheen gesê, gaan dit nie ’n kort stryd wees nie. Wat wel mettertyd aan die Ramaphosa-kant meer punte sal gee (en selfs ’n uiteindelike oorwinning) is sy eie aanstellingsmagte as president van die land. Bestuurskundiges se raad is altyd om te begin om die regte mense op die wa te kry en die verkeerde mense van die wa af. Dan kan die wa deur die drif. En daarmee is Ramaphosa besig. Sy aanstellings in die Nasionale Vervolginsggesag kan binne maande vrugte vir die land afwerp. Sy interne politieke geveg in die ANC kan na sy kant toe kantel as hy met selfs groter gesag praat en optree, en wys dat, al soek hy as ’n karaktereienskap eerstens konsensus en kompromieë, daar ’n punt kom wat hy sy voet neersit en ’n besluit neem. Na buite behoort hy ook meer só in die openbaar op te tree, en dit sal baie help om bekommerde Suid-Afrikaners gerus te stel dat hy hul twyfel verstaan, maar dat dinge stadig maar seker, aan die regkom is.

Aan die een kant weet die meeste van ons dat, menslikerwys gesproke, Cyril Ramaphosa die enigste persoon is wat tussen ons en Zupta-anargie staan – en daarom verdien hy almal se steun in sy stryd.

Aan die ander kant moet president Ramaphosa ook hy weet dat, menslikerwys gesproke, persoonlik die uitslag van die stryd kan (en moet) bepaal. Die geknelde land waarvan hy die verkose leier is, wag vir hom…

  • Dr. Theuns Eloff is die voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Ek gee hom so 30%. In die Nuwe Suid-Afrika is dit ‘n slaagpunt.

Lou ·

Dankie Dr Eloff dit gee so klein bietjie perspektief op die stand van sake.
Dit wys egter maar weer dat die ANC eintlik niks anders as ‘n rampokker organisasie is nie.
Binne gevegte en dwarstrekkery tussen senior ANC lede wat mekaar probeer uitwerk en in die proses gaan die land en alle staatsbeheerde organisasies onder.
Laat my baie dink aan die berugte Italiaanse Mafia. As ek Ramaphosa kan raadgee moet hy maar omkyk, omkyk loop en sy lyfwagte mooi naby hou want die Zuma lojaliste het hul mes in vir hom.

Arak ·

Ek is bly Cyril kan op die skrywer se steun pyl trek, maar hy kan maar van myne vergeet. Cyril is deel van die probleem, en mense kan met soveel woorde en spekulasie probeer om tot ‘n ander slotsom te kom, maar die feit is, as mens na sy “suksesse” tot nou kyk moet jy siende blind wees om te dink hy gaan nou skielik verander. Die Cyril boom se vrugte is vrot, maar steeds word vir ons vertel, die boom gaan nou verander.

Petrus ·

Stem 100% saam Arak! Arikaners word links en regs geslaan, maar van hulle hardloop steeds soos brandsiekhonde agter sekere ANC leiers aan in die hoop dat ‘n krummel wat na hul kant gegooi word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.