Hoe lyk die toekoms van die NFHS?

Argieffoto: ANA

Deur die Growth Institute

Volgens berigte die afgelope paar dae op RSG, kan die groter wordende krisis by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NFHS) nie geïgnoreer word nie.

Die bedanking van Sizwe Nxasana as voorsitter van die NFHS-bestuur kan mens hier vergelyk met ’n goeie kaptein wat ’n sinkende skip verlaat. In ag genome dat mnr. Nxasana voorheen die uitvoerende hoof by ’n baie groot finansiële instansie was, kan mens jou sy frustrasie met die toenemende benarde situasie by die NFHS indink. Sy bedanking word gesien as ’n geweldige terugslag ten opsigte van ’n moontlike ommeswaai in dié organisasie.

Daar is ook berig dat die NFHS nie in staat is om sy beloftes aan studente vir die 2017-akademiese jaar na te kom nie. Derdens, die onlangse erkentenis van die minister van onderwys dat die 2019-befondsing uitgestel moet word weens die NFHS-krisis, dui op die uiters onaangename werklikheid. Vierdens is daar die moontlikheid dat nuwe tekens van onrus die afgelope twee weke by die Universiteit van Venda die losbrand vir Kampusonrus 2018 kan beteken.

Ten spyte daarvan dat kampusonrus meesal gesien word as aangedryf deur ’n klein groep radikales, behoort die regering teen hierdie tyd ’n patroon te herken:

  • Maak onrealistiese beloftes en kom dit nie na nie sodat geweld en haatspraak opvlam;
  • Lewer opruiende toesprake en blameer almal en alles behalwe die feit dat sulke onverskillige beloftes spesifiek ingespan word om stemme te werf; en
  • Maak dan verdere en paaiende beloftes in die hoop dat dinge sal afkoel.

Dit laat mens dink aan die gesegde: ’n Benoude kat maak benoude spronge as hy in ’n hoek gedryf word. Afwykende taktieke raak uitgedien en die jeug is teen hierdie tyd meer as ongeduldig vanweë al die leë beloftes.

Opvoeding kan ook nie meer as sosiale eksperiment of politieke speelbal van desperate leiers gebruik word vir stemwerwing nie.

Enige ekonomie benodig vaardighede vir groei en die feit dat die NFHS-krisis die jeug as’t ware verhoed om verdere opleiding te ontvang, is ’n direkte aanslag op die ekonomiese welvaart van ’n nasie wat reeds so baie opgeoffer het om by ’n nuwe bestel uit te kom. Daarby is die belastingverhoging vroeër vanjaar reeds besig om te boemerang en staatsbeheerde ondernemings staan hoed in die hand vir meer befondsing omdat vorige befondsing reeds uitgeput is.

Wêreldwyd is die jeug siek en sat vir die politici. Die onrus in Gotenburg, Swede toon geweldig baie ooreenkomste met wat ons hier op die tuisfront mee te make het. Die Internasionale Jeugdag in Kampala was ’n goeie weerspieëling van die feit dat die jeug, as sodanig, ’n mag in eie reg is en om mee rekening te hou. Dit is juis die jeug wat die potensiaal het om aan die ekonomiese vooruitgang van ’n land te bou – indien daar voldoende geleenthede gebied word.

Die jeug is ook die vinnig groeiendste populasiegroep in menige ekonomie, maar hulle voel meesal “uit”. Nie gereken nie – waarskynlik die rede vir hul toenemende wantroue in politici en hul maatskaplike manipulasie-agendas. Die jeug bly immer aan die ontvangkant van mislukkende beleide en eksperimente.

Dis hoog tyd dat politieke leiers begryp dat sekere dinge in die samelewing eenvoudig nie deur hulle alleen bestuur kan word nie. En onderwys en opvoeding is die één ding wat nie langer in die slag mag bly deur die toedoen van politokrate nie.

  • Growth Institute is ’n private opleidingverskaffer wat ʼn reeks kommersiële-, tegniese toerisme- en gasvryheidsbedryfbestuurprogramme aanbied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swak Diens ·

Ek hoop die studente sit hulle voet neer.
Ek sal dit beslis nie duld indien my kinders uit woontelle/koshuise gegooi word omdat hulle nie die geld kry wat aan hulle goegekeur is om te kan betaal nie.
Dit is uiters swak.
Kry mense wat weet wat hulle doen en nie DINK/HOOP hulle weet wat hulle doen nie.

Cheers ·

WIE GEE OM? DIE WITTES MOET IN ELK GEVAL VIR ALLES BETAAL, so hulle sal nerens uitgegooi word nie. Studielenings en beurse aan wittes is maar YL gesaai, so betaal self en vergeet van die fondse wat op velkleur toegeken word.

John ·

… nou is dit weer die studente se jaarlikse kans vir die gereelde woede-jol want die eksamens is voor die deur… Breek dit af. Ek glo steeds, dit sal baie rustiger gaan en goedkoper wees om by geboorte (of by die grense) dokumente uit te deel tov burgerskap en kwalifikasies en bankkaarte vir NFHS en Sassa en koskoepons en motorlisensies en huise en plase en blanko-tjeks tot einde der dae… en vir die EFF-aanhangers elkeen ‘n paar gelddrukkers en goudstawe… ‘n paar ekstra’s vir Julius omdat hy glo geleer het vir sy graad en vir sy lourierkrans en vir sy standbeeld neffens Oom Castro. Wat die ANC met die res van die geld gaan doen… gaan ‘n kopkrappery afgee, maar dis hulle probleem.

Michelle ·

Deel van die probleem is die liberale dissipline-lose stelsel waar verwagting en werklikheid nie dieselfde is. Sien dit elke dag in werksituasie. Jongelinge wat nie meer weet van opbou en ervaring nie.
Wil onmiddelik deel wees van topbesluite op bestuursvlak en voel te na gekom as dit ni realiseer.
Tweede deel van probleem is dat mense in beheer nie n idee het wat hulle doen. Die formule kan tog nie werk.
John se oplossing al wat kan werk ☺

Snowball ·

As die jeug so immer aan die ontvangkant van mislukkende beleide en eksperimente bly, moet hulle dalk leer om anders te stem in die volgende verkiesing en ophou om populistiese bog te glo. As jy begaafd genoeg is om te studeer, behoort jy genoeg grysstof te hê om te besef dat dit onmoontlik is vir die ou drooggemelkte belastingkoei om in dié kwynende ekonomie (danksy staatskaping, korrupsie en onbevoegdheid), gratis tersiêre onderrig ook te subsidieer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.