Hoe lyk dinge tussen die Demokrate en sy kiesers?

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Nadat ek ʼn staatsgekaapte Suid-Afrika in Januarie 2018 verlaat het, was my aankoms in Amerika nogal ʼn onverwagse politieke kultuurskok. My heen-en-weer-reise na die VSA die afgelope 30 jaar is een ding; om daar te woon, is vir seker ʼn perd van ʼn héél ander kleur.

Amerikaanse politiek laat dikwels veel te wense oor in die wêreld se mees gevorderde supermoondheid. Die verskil? Terwyl staatskaping in Suid-Afrika die land tot bankrotskap geruïneer het, funksioneer en vaar die VSA heel goed. En juis daarom verstom die Demokratiese Party se geflikflooiery met sosialisme my.

Die Amerikaners is al so gewoond aan demokrasie dat hulle skoon arrogant is daaroor. Wat erger is, is dat die Demokratiese Party eintlik moeite gedoen het om die vaste beginsels van die grondwet te ondermyn. Hul begeerte na mag en vernietigende politieke beleidstellings strek verby hul respek vir enige reëls van die wet, vryheid van spraak, en die veiligheid en beskerming van hul landsburgers. Die gebrek aan politieke leierskap (vir veral die jeug) rakende politieke wedywering binne die grense van die wet is in hierdie stadium onrusbarend.

Om hul doel te bereik het die Demokrate die Republikeine as die vyand en as boos uitgemaak; sosialisme is opgehemel en as moreel beter beskou; en die gevolglike vergiftiging van die res van die samelewing is doodeenvoudig geïgnoreer.

Diegene wat teen aborsie is of geloofstwyfel het oor dieselfdegeslaghuwelike, gewere besit of transseksualisme in sport verag, word as boos beskou – die ergste vernedering tans in Amerika is as jy wit, ʼn man, getroud, ʼn Christen en/of heteroseksueel is. Vroue wat beweer hulle is seksueel gemolesteer, behoort te alle tye geglo te word. Die algemene veronderstelling (ongeskrewe reël) dat iemand onskuldig bly totdat hy skuldig bevind is, geld ook lankal nie meer nie – veral nie vir die wit konserwatiewes wat dit nog waag om te droom van ʼn hoë ampsposisie in die regeringsbestel as, onder andere, president, hooggeregshofregter, prokureur-generaal, en so meer nie.

Die DEM’e, wat heel dikwels deur Trump en sy ondersteuners die obstruksieparty genoem word, fokus gedurig en ywerig op agendas wat Amerika gewis sal skaad – identiteitspolitiek, die afskaffing van die kieskollege[1], oop grense, gratis gesondheidsorg, gratis kollege-opleiding, vergoeding vir slawerny, laattermyn-aborsies en die riskante groen nuwe ooreenkoms (New Green Deal).

Aangesien dit blyk dat die DEM’e nie in staat is om enigsins op Trump se beduidende prestasies op die politieke en ekonomiese fronte te verbeter nie, doen hulle nou alles in hul vermoë om kiesers weg te rokkel met politiekery wat dalk indrukwekkend lyk, maar nie juis werkbaar is nie.

Hier is ʼn paar van die DEM’e se kwessies wat hulle graag voor in die ry wil indruk om by die elektoraat vlerk te sleep, ongeag hoe roekeloos hul populistiese agendas mag wees.

Afskaffing van die kieskollege (EC)

Die DEM’e is onverbiddelik in hul druk om die kieskollege af te skaf, ongeag die nagevolge van so ʼn besluit. Die rede? Hillary Clinton het die presidensiële verkiesing in 2016 verloor, ondanks die feit dat sy die gewildste was met 65 845 063 stemme teenoor Trump se 62 980 160 stemme. Hoe dit ook al sy, Trump het die verkiesing oorheers met ʼn oorwinning van 306 state teenoor Hillary se 232.

Soos bepaal in die Amerikaanse grondwet is die kieskollege se rol om elke staat ʼn gelykmatige verteenwoordiging te gee. Die VSA is dus ʼn republiek en nie ʼn demokrasie wat op ʼn een-persoon-een-stem gebaseer is nie. Stemme wat op laasgenoemde beginsel gebaseer sou wees, sou groot state soos Kalifornië, Texas, Florida, New York en Ohio ʼn onregverdige voorsprong gee oor kleiner state soos Wyoming, Montana, Noord-Dakota, Suid-Dakota, Nieu-Meksiko, Idaho en Nebraska en sou meerderheidsdominansie verskans. Kalifornië, ʼn DEM-beheerde staat, sou oor die lot van die kleiner state moes besluit. Die senaat sou oorbodig word. Maar meer belangrik: Sou die gewilde stem seëvier, sou die presidensiële kandidate hul verkiesingsveldtogte dienooreenkomstig bestuur het.

DEM-gekontroleerde state word in elk geval nie baie goed geregeer nie. Kalifornië, die digs bevolkte staat in die VSA en tuiste van net oor die 39,5 miljoen mense, is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Dit is ʼn ryk staat met 77 miljardêrs en kan spog as die vyfde rykste staat uit tien in die VSA. Maar moenie vergeet dat Kalifornië ook die meeste onwettige immigrante huisves nie …

Daarbenewens bly die grootste klomp mense wat regeringshulp kry, en wat onder die broodlyn lewe, in Kalifornië. Dié staat staan ook ver agter (46ste) in die opvoeding- en onderwysry as dit kom by graad 8-uitslae, en een derde van alle hospitaaltoelatings is vir mense met diabetes. Om die kroon te span, is die peperduur eiendomme, hemelhoë belasting en ander streng regulasies die oorsaak van die hoogste emigrasiekoers van die middelklas na ander state soos Florida, Texas en Nevada – meestal weens die geweldig hoë belastings.

Gratis kollege-onderrig

Om studente vir stemme af te rokkel, bied politici gratis onderrig by kolleges ondanks hoë studenteskuld. Zack Friedman van Forbes sê dat studenteleningskuld in die tweede hoogste skuldkategorie val – eerste op die lys is die skuld op huislenings. Hy haal aan uit Make Lemonade – ’n voorste aanlyn persoonlike finansieringsmaatskappy waarvan hy die stigter en uitvoerende hoof is – en sê: “There are more than 44 million borrowers who collectively own $1,5 trillion in student loan debt in the USA alone.” En ook: “As of 2018, more than 42 million student loan borrowers have a student loan debt of $100,000 or less.” Hierdie stand van sake is uiteraard verwerplik en diep bekommerenswaardig.

Die gevolg is dat studente buitengewoon hard moet werk om hul skuld af te betaal, heelwat later trou (of glad nie!), kinders op ’n later ouderdom kry en skuld vir lang periodes het. Geen wonder dat universiteite die broeiplek geword het van verstandelose linkse aktiviste wat hulle toewy aan populistiese sienings van sosialisme, gratis gesondheidsorg, gratis kollege-onderrig en identiteitspolitiek nie.

“Veilige ruimtes” wat geskep word vir studente wat nie opponerende sienings en gewelddadige onderdrukking van konserwatiewes kan verdra nie, is glad nie ongewoon nie. Sensorskap onder die dekmantel van sosiale geregtigheid is ook heel algemeen. En die belofte van gratis onderrig pas netjies in die sosialistiese idee van “Alles is gratis”. Wanneer studente egter gevra word hoe hul skuld vereffen gaan word, het die meeste van hulle geen benul nie.

Slawevergoedings

Kamala Harris, Kirsten Gillibrand, Elizabeth Warren en Corey Booker, kandidate vir die Demokratiese Party, versoek slawevergoeding. Hoewel dit ʼn eerbare onderwerp is om oor te gesels, meen die meeste Afro-Amerikaners dit is nie net ʼn dom, onverantwoordelike idee nie, maar ook ekonomies en polities geheel en al onuitvoerbaar. Wie kan kwalifiseer? Hoe op aarde gaan die nasate van slawe geïdentifiseer word? Hoe gaan slawe, wat reeds oorlede is, vergoed word? Wie gaan die vergoedings uitbetaal? Sal swart slawe-eienaars uitgesluit word? Sal die Republikeine wat vir die afskaffing van slawerny geveg het, vereer word? Sal Barack Obama, wie se pa ʼn Afrikaan en ma ʼn Amerikaner was, dalk kwalifiseer? Hierdie voorstel is vol gebreke. Gaan dit dalk meer oor ras as oor vergoeding?

Met ʼn vergoedingsbegroting wat tot $807 miljard in 2020 kan strek, sal nóg ʼn vergoedingsbegroting die belastingbetaler eksponensieel verder laat swaarkry.

Die idee om vir sondes wat twee eeue gelede gepleeg is, te vergoed, is werklik belaglik. Blexit-leier Candace Owens beskuldig die DEM’e daarvan om (tipies) op die verlede te fokus omdat hulle nie daartoe in staat is om swart mense te betrek by strategieë om hul toekoms, onafhanklik van die staat, te verbeter nie – dit sluit sosiale welstand, swak onderwys, parool en misdaad in.

Aborsies van laattermyn-swangerskappe

Sedert die sestigerjare is aborsie al ʼn turksvy in verkiesingsveldtogte. Feministe het die aborsiekwessie as maatstaf gebruik om uit te vind hoe progressief kandidate was. Ondanks die voordele wat die Roe vs. Wade-saak na vore gebring het, asook dié van die hoofprokureur van Planned Parenthood vs. Casey, was die DEM’e nog steeds bang dat die Republikeine aborsie sal teenstaan.

Debatte hieroor het so ekstreem geword dat dit nie meer rondom ʼn tafel bespreek kon word nie. Laattermyn-swangerskappe én nageboorte-aborsies is gedoen. Dit terwyl die Roe vs. Wade-saak deur die hooggeregshof bepaal het “dat ʼn vrou se reg op nageboorte-aborsie verdedigbaar was weens haar reg op privaatheid volgens haar regte soos uitgestippel in die vierde wysiging van die grondwet, met dien verstande dat die reg gebalanseerd was ten opsigte van die staat se twee belangrikste redes om aborsie te beheer: die beskerming van die gesondheid van die moeder en die beskerming van die prenatale lewe”.

Ten einde hierdie te laat balanseer, het die hof beveel om aborsie te beperk tot die derde semester van swangerskap. En om balans aan hierdie belange te gee, het die hof ʼn bevel uitgereik om aborsie net tot by die derde semester van die swangerskap te laat uitvoer. Hierdie besluit het aborsie voor “lewensvatbaarheid” gewettig met “lewensvatbaarheid” gedefinieer as om in staat te wees om buite die moeder se baarmoeder te kan lewe – ʼn “ouderdom” van tussen 24 tot 28 weke.

Die Republikeine staan natuurlik die bewering dat ʼn kind ʼn persoon is teen, asook dat sy regte deur die wet beskerm moet word vanaf bevrugting, en nie net wanneer dit eers lewensvatbaar is nie. Hierdie verskillende sienings het gelei tot die pro-lewe- en pro-keuse-verdeling, met pro-lewe-voorstanders wat glo dat daar in die eerste plek voorsorgmaatreëls getref moet word om aborsies te voorkom. Die DEM’e en pro-keuse-voorstanders glo weer dat diegene wat aborsies teenstaan, die regte van vroue teenstaan.

Die Republikeine argumenteer dat hulle nie soseer teen vroueregte is nie, as wat hulle vir pro-lewe van die kind stem. Ongeag hiervan word hulle as vrouehaters beskou wat die Republikeinse Party se vernuf om vouestemmers te lok, net so “suksesvol” beïnvloed soos die DEM’e s’n.

Die betaalstrokie van dié wat beplande ouerskap (Planned Parenthood, oftewel PP) toepas, toon ʼn aansienlike toelae as hulle openlik die Demokratiese Party ondersteun. Dit maak die Republikeine – wat voel dat hulle ʼn partydige aktivistegroep met hul (onwillige) belasting ondersteun – net kwater. Hul ontevredenheid word verder aangeblaas deur groot bedrae geld wat die PP aan die DEM’e skenk. Die rolprent, Unplanned, wat onlangs begin draai het, gaan oor die val van ʼn PP-direkteur wat alte vinnig die roemleertjie klim totdat sy “tot haar sinne kom” en ʼn anti-aborsie-aktivis word. Die rolprent klassifiseer blykbaar nie as ʼn goeie drama nie, maar is beslis goeie propaganda vir die Republikeine wat aborsie, meer as tevore, by hul verkiesingsveldtog insleep. In hul oë het die PP ʼn aborsiefabriek geword wat ʼn verhoging in geld afdwing en fetale liggaamsdele aan geïnteresseerde mediese fakulteite verkoop as ʼn winsgewende oefening.

Ondanks die Republikeine se pogings om meer inklusief te wees wat sosiale kwessies betref – die druk om laattermyn-swangerskappe te aborteer, die bespotlikhede van wat by Planned Parenthood aangaan, en die onthullings met die wys van die rolprent Unplanned – het die party selfs meer pro-lewe geword, met groot pro-lewe-optogte en pres. Trump se vasbeslotenheid om die aborsie van laattermyn-swangerskappe af te skaf.

Die groen nuwe ooreenkoms (Green New Deal)

Die nuwe kongreslid Alexandria Ocasio-Cortez (AOC), ʼn betroubare voorstander van klimaatverandering, het, skaars twee weke in haar nuwe kantoor, die groen nuwe ooreenkoms (Green New Deal, oftewel GND) voorgelê. Dié ooreenkoms vra vir radikale uitfasering/afskaffing van fossielbrandstowwe wat regeringsingryping in elke aspek van die Amerikaanse lewe nodig sal hê. Ocasio-Cortez sê: “The plan would aim to make air travel obsolete, upgrade or replace every building in America to ensure energy efficiency and give economic security even to those ‘unwilling’ to work.”

Volgens kenner Ben Schapiro stel die GND die volgende voor: “… for the United States to be free of carbon emissions within 10 years without the use of nuclear power. It calls for every building in the United States to be replaced or retrofitted in green fashion. It calls for universal healthcare, free college education, the replacement of airplanes with high-speed trains, charging stations ‘everywhere’ (this is the sort of exactness the proposal contains), replacement of ‘every combustion-engine vehicle’, government-provided jobs, family and medical leave, vacations, retirement security, and the abolition of ‘farting cows’. It also calls for total ‘economic security’ for anyone ‘unable or unwilling to work’.”

Die hele plan is so belaglik dat dit ʼn parodie geword het wat die konserwatiewes graag gebruik om hul hou in te kry. Ondanks die plan se ernstige tekortkominge het DEM-kandidate onmiddellik op die lawaaiwa gespring en dit ondersteun sonder om dit eers te lees. Mitch McConnell, die Republikeinse meerderheidsleier in die senaat, het die uitdaging aanvaar deur vir die nuwe groen ooreenkoms te stem. Interessant genoeg, het die DEM’e teen hul eie voorstel gestem terwyl hul presidensiële kandidate dit tot by die verkiesingsveldtog gedruk het!

Om op te som: Bostaande is maar ʼn klein kykie in die verstandelose populistiese politiek – die DEM’e sit hul beste voetjie voor om Jan Alleman te beïndruk. Hierdie rubriek sluit nie eens die (selfs meer) belaglike beleidstellings rakende oop grense, misdaad en toevlug- oftewel asielstede in nie.

Ten opsigte van bogenoemde kwessies sal die 2020-verkiesing beslis kan bepaal of die DEM’e op dieselfde golflengte as sy kiesers is.

Nota:

[1] Liggaam van persone wat gemagtig is om die lede van ’n ander liggaam te kies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andreas ·

Jy hou mens geboei! Dan, met die lees sit en wonder ek toe hoeveel van die ANC parlementslede sal verstaan wat jy hier geskryf het? Ek sien wel ooreenkomste met hier plaaslik, ‘ondermyning van die vaste beginsels van die grondwet’, dan kan mens ook maar net van jou opskrifte bokant die paragrawe lees.

Stephan de S ·

Dankie vir hd inligtende perspektief…….die opmerking oor republiek en demokrasie en die balansering van mag/gesag is kostelik. Ons het hd amper lerende artikels so nodig. Tog sal sekere ouens nooit begryp nie…….soos Skrif sê: sien altyddeur maar bemerk nie, hoor altyddeur maar verstaan nie. Niemand is so blind soos die wat nie wil sien nie.

Billy. ·

Uitstekende artikel Rhoda! Baie dankie! Waar in die wêreld het sosialisme al óóit gewerk?? Ons ‘slim’ ANC en EFF politici wil dieselfde pad volg. Die hemel bewaar ons……… !

Charles ·

Pragtig!Dankie Rhoda,wat my egter slapelose nagte gee is dat die liberales “vlug” uit die kens “blou state”, soos NY en “Commiefornia”, na goed bestuurde,meer vrye,meer belasting-vriendelike state soos veral Florida en Texas,en wil jy dit glo!wragtig dan hul liberale maniertjies en grilletjies daar gaan uithaal-terwyl hulle juis gevlug het vir die einste verswarende liberale(lees: fascisties, marxisties, en baie onverdraagsaam) beleide wat hulle nou weereens propageer,en so die state waarheen hulle gevlug het “pers” kleur…

Nietemin dink ek dat verstandelikheid sal seëvier,die Amerikaners het ‘n ingebore vrees vir sosialisme-(alhoewel-snaaks genoeg-wys ‘n onlangse peiling dat dit hulle nie motiveer soos dit moet t.o.v.2010 nie? ) met goeie rede,as gedink word aan die nagenoeg 100 miljoen lewens wat kommunisme en sy bose boeties sosialisme en marxisme die wêreld al gekos het.(mag hulle siele in vrede rus)

Soos dit nou gaan,gaan President Trump se herverkiesing ‘n “cake-walk” wees-ou Biden het dit net glad nie meer in hom nie-en die DEM’s se ID-politiek gaan terugkom om hulle in die rug te steek-hul ekstreem-linkse faksie gaan nie-soos hulle dit stel-vir ‘n “ou blanke man” stem nie. Verder maak die DEM’s hulle naam krater met die Russiagate/Spygate gedoente in hul skym-om-die-mond raserny om Pres. Trump “te kry”- Prok-Gen. Barr het alreeds gelas dat daar ondersoeke gaan kom ivm. die Obama-adm. se spioenering op die Trump-veldtog! Hou vas!!!
GOP! GOP! GOP!

humor ·

Ook hier gaan dit oor stryd tussen lig en duisternis en ons weet wie gaan die OORWINNAAR wees.

Jerry ·

Die demokrate se beleid bring hoop vir al die hooploses van Amerika en die wereld. Die republikeine bring hoop net vir hulle eie volgelinge. N verdere verskil is dat die demokrate kom hulle verkiesingsbeloftes na, terwyl die republikeine nie hulle verkiesingsbeloftes kan nakom nie. Na Trump se termyn sal die republikeine vir n baie lang tyd nie weer Amerika regeer nie!

Ben ·

Puik artikel Rhoda. Dis jammer dat jy nie meer gereeld en meer breedvoerig oor hierdie en ander onderwerpe kan berig nie. Ek lees graag jou mening. Sterkte aan joi en jou familie.

Therese van Schalkwyk ·

Politieke partye in enige land ter wêreld wat beloftes maak van “gratis” en “vergoeding”, sonder om die belastingimplikasies daarvan te verduidelik, verdien om soos die pes vermy te word.
Intensiewe verduidelikings van begrotingstoesprake, verkieslik beskikbaar in strokiesprentformaat, word sterk aanbeveel.
Verwag egter steeds kommentaar soos hierbo.

Nico ·

Puik artikel. Die demokratiese party het heeltemal die spoor byster geraak. Hulle tree op soos ‘n klomp kinders wat nie hulle sin kry nie. Al wat hulle kan doen is net kla en kerm oor alles.

Annie Webb ·

(Ek hoop Rhoda lees dié kommentare want ek het vrae wat sy as mede-SAner beter sal kan beantwoord as ‘n Amerikaner.) Ek volg die VSA-politiek daagliks in die konserwatiewe media en vind dit fassinerend op baie vlakke. Op dié stadium begryp ek darem hoe “groot geld” gelei het tot meer en meer korrupsie in Washington en ‘n groter kloof tussen gewone mense en dié wat veronderstel is om kiesers se belange te bevorder. Maar ek sukkel om te begryp hoe dié korrupsie kon vorder tot die kriminaliteit van die anti-Trump veldtog deur mense in hoë posisies wat tog van beter moes geweet het? Dieselfde met die totale absurditeite wat die Trump-haters in die geledere van die Dems, media, akademie en vermaaklikheid kwytraak. Die mense is tog nie onnosel en ongesofistikeerd nie, wat beweeg hulle om só tekere te gaan as hulle politieke filosofie deur die “ander helfte” verwerp word? Waar het hulle die idee gekry dat hulle siening nou vir altyd gaan oorheers? Veral gesien tot watter absurde uiterstes die jonger Dem-kandidate vir 2020 tans gaan? Ek is geneig om saam te stem met Newt Gingrich dat die Dems gemeen het Obama se radikale progressiwiteit gaan eenvoudig nog twee termyne voortduur, maar hóé kom mense daarby uit dat die mees vooruitstrewende Westerse land “radikaal getransformeer” moet word? Ek begryp hoekom SA getransformeer moes word, maar Amerika? As die resultate van sosialisme oral duidelik is? Dis tog irrasioneel? Of is dit gewoon diegene wat besluite met hul emosies neem?

Annamarie Olivier ·

Altyd ‘n plesier om die artikels te lees wat jy skryf Rhoda.
Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.