Hoe lyk jou ware identiteit?

Foto: EFF/Twitter

’n Onrusbarende tendens in die teenswoordige wêreld is die mate waarin kiesersteun vir populistiese partye groei. Dit wissel van die regse populisme in Amerika, Rusland, Pole en Hongarye tot die linkse populisme in Griekeland, Spanje, Venezuela en Suid-Afrika.

’n Mens kan dik boekwerke hieraan wy. Maar minstens ’n deel van die oorsaak moet gesoek word in die eensydige benadering van die drie groot oorkoepelende ideologieë wat ons wêreld oorheers, te wete die sosialisme, die liberalisme en die nasionalisme.

Laat dit duidelik gestel word: Níks in die lewe is ooit pikswart teen spierwit nie. Dit gaan eerder om verskillende skakerings van grys.

Al drie ideologieë het waarheidsmomente. Die gemeenskaplike fout is dat al drie op die volledige waarheid aanspraak maak.

Die waarheidsmoment van die sosialisme is dat sommige mense ryk en magtig word op die rug van armes en magteloses. Die diagnose wat Karl Marx vir sy tyd oor die destydse samelewing gestel het, was korrek. Dit was dat dié wat het, diegene wat nié het nie, uitbuit en keer dat die ongelyke magsverhoudinge fundamenteel verander.

Die vryheid van onwetendheid en armoede waartoe Marx en sy volgelinge die vertraptes van die aarde gemobiliseer het, verklaar die enorme steun wat die sosialisme by tientalle miljoene gekry het.

Die probleem met die sosialisme is dat hy die wêreld en die geskiedenis volgens onbuigsame natuurwette verklaar. Van ’n oortuiging dat die sosialisme die volle waarheid het, is dit maar ’n klein stappie na die wete dat niémand anders dit het nie en dat alle ander antwoorde verbied moet word.

Dit het gelei tot die diktature van die Sowjetunie, China en die lande agter die Ystergordyn. Dit het wel minder ongelykheid tot gevolg gehad, maar ook dramaties minder vryheid.

Die teenpool van die sosialisme is die liberalisme. Die uitgangspunt daarvan is die individu. Die waarheidsmoment van die liberalisme is dat elke mens sekere onvervreembare regte teenoor die staat en mekaar het waaraan nie getorring mag word nie.

Die demokrasie en die regstaat is ’n regstreekse uitvloeisel hiervan. Dit is die demokrasie en die regstaat wat die waarborg is teen owerheidswillekeur en sake soos vryheid van spraak verseker.

Die probleem met die liberalisme is dat hy die individu verabsoluteer. Die klassieke liberalisme hang ook ten nouste saam met die kapitalisme, wat enersyds ekonomiese vryheid verskans, maar wat sonder beperking uitbuiting van die swakke deur die magtige aanmoedig.

Ook heg die liberalisme geen (of te min) waarde aan iets soos kollektiewe identiteit nie. Volgens die klassieke liberalisme is dit byvoorbeeld irrelevant dat ek ’n Afrikaner is; my identiteit as méns is die enigste wat belangrik is.

Ofskoon, dis ’n enigsins ongenuanseerde stelling: Die tradisionele Engelse liberalisme het, weliswaar onuitgesproke en onbewus, die Engelse etniese identiteit outomaties as die hoogste goed ervaar.

Vandaar dat die Engelse liberalisme so intens met die Britse imperialisme in verskeie wêrelddele saamgehang het. Dit sien jy ook vandag nog in Amerika (uiteraard in ’n Amerikaanse gewaad) by sowel Liberaliste as konserwatiewes.

Die derde ideologie, nasionalisme, het ook ’n waarheidsmoment in die sin dat hy die verskille erken tussen groepe wat hulself etnies definieer. Dit beteken dat die bestaan van – sê maar – die Nederlandse en die Duitse volk ’n politieke feit van betekenis is.

Dit is waarom die instroom van soveel moeilik absorbeerbare immigrante uit die Derde Wêreld na Europa en Amerika weerstand oproep. Die Europeërs en Amerikaners kry die gevoel dat die immigrante hulle onderploeg.

Die objektiewe syfers wys dat die vrees swaar oordrewe is. Maar dit sou ’n fout wees om die bestáán van die vrees te ontken of selfs te geringskat.

Die probleem met nasionalisme is dat Nasionaliste jou etniese identiteit dikwels tot énigste relevante faktor verhef. Dat daar op ander neergekyk en hul menswees ontken word.

Dis byvoorbeeld wat in Nazi-Duitsland gebeur het. Adolf Hitler het gemeen hy het die formule om die geskiedenis te verstaan, ontdek: Volke bots teen en worstel met mekaar. Die een wen en oorleef; die ander verloor, gaan onder en verdwyn uit die geskiedenis.

En aangesien die Germaanse ras biologies meerderwaardig is, sál hy oorleef en het die ander geen bestaansreg nie. Dus mag hulle maar letterlik uitgeroei word.

Hitler se ideologie was ’n uiterste geval. Dit sou verkeerd wees om álle Nasionaliste aan hom te meet.

Tog moet Nasionaliste versigtig wees om hul ideologie te verabsoluteer. Dit geld ook vir die Sosialiste en Liberaliste.

Ál drie ideologieë het onmiskenbare waarheidsmomente. Al drie kan – en is – geperverteer en het tot enorme ellende gelei. Dít is waarom die populiste opgang maak, omdat mense die gevoel kry dat hulle ekonomies uitsak, dat hul regte vertrap word en dat hulle deur vreemdelinge oorstroom word.

Daar is ’n alternatief wat die waarheidsmomente van sowel die sosialisme as die liberalisme en die nasionalisme kan kombineer terwyl die uitwasse vermy word. In Europa word dit die Christen-demokrasie genoem.

Daar is verskeie partye wat die begrip Christen-demokraties in hul naam opgeneem het. Dikwels is dit maar ’n gebaar sonder enige werklike inhoud, maar af en toe kry jy ’n party vir wie dit erns is.

Tog is daar in die Christelike geloof genoeg elemente waarop gebou kan word.

So is die individu in die Christelike geloof, byvoorbeeld, van onskatbare waarde. Die geloof leer immers dat Christus vir elke enkele mens, hoe onwaardig ook al, gekruisig is.

Dit sluit aan by die liberalisme en onvervreembare politieke regte.

Maar die geloof leer ook dat die sterke die swakke – die spreekwoordelike weduwees en wese – nie mag verdruk nie. Dat die samelewing se maatskaplik-ekonomiese samestelling nie mag neerkom op ’n klein, magtige groepie wat ’n groot, magtelose groep ekonomies uitbuit nie.

Dit sluit aan by die sosialisme en sosio-ekonomiese regte.

Ten slotte leer die geloof dat die bestáán van Jood en Griek, van Romein en Pers, as ’n neutrale gegewe aanvaar word. Daar is niks mee verkeerd as Paulus trots op sy Joodse identiteit is nie.

Dit sluit aan by die nasionalisme. Solank daardie aspek van jou identiteit nie vir jou belangriker as jou identiteit as gelowige en as méns word nie.

Dit beteken nie dat die Bybel ’n moderne grondwet is nie, bloot dat dit belangrike riglyne verskaf hoe mense met mekaar moet omgaan.

In elk geval, met só ’n holistiese, inklusiewe benadering sal populiste, waar ook al, geen vastrapplek kry nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Francois vRvO ·

Baie goeie artikel oom Leopold,
Ek en my swart kolega praat gereeld oor wat aangaan en wat is die plan vorentoe en ons het ook tot die gevolgtreking gekom dat die enigste gesamentlike grond wat ons kan vind is in ons Christen geloof.
Die 10 gebooie is al wat ons nodig het en alle ander wette moet gemeet kan word teen die 10 gebooie.
Selfs die leier van enige organisasie moet ‘n godelike mens wees, gemeet teen die 10 gebooie , dan sal daar geen korupsie ,moord, leuns , of afgunstigheid wees nie.
Mense kan gemobiliseer word deur te glo dat hulle bou aan die koningkryk van God.
Maar dit is als wensdenkery want die komersiallisering van kerke het gemaak dat mense die kerk sien as ‘n rowers spilonk.
Die feit dat daar meer as 1500 verskilende denominasies van kerke in die land is , is bewys dat die kerke christenne meer verdeel as om hulle saam te bring.
In 100% komunistiese lande word die bybel verban (Sjina) maar die gelowiges in daardie lande is meer toegewyd as in ‘n land waar alle godsdienste gelyk is.
Deur christenskap vir almal oop te gooi het dit eintlik verwater , die hemel is nie meer so aanloklik as die komuniste ook welkom is nie.

Stuiwer ·

Francois vRvO, ek stem saam dat die 10 gebooie belangrik is en as riglyn gebruik moet word vir hoe ons moet lewe, maar moet nooit uit die oog verloor dat ons dit NOOIT uit eie krag sal regkry nie. As ons glo dat Jesus die Here en Verlosser van ALMAL is, moet ons ook ons afhanklikheid van Hom besef. Laat ons van daardie oogpunt af begin lewe.

Lerato ·

Hallo Francois
Ek stem gedeeltelik met Stuiwer saam.

Daars mi twee redes vir so baie kerke.
1 Verskillende interpretasies,en
2 Mense gaan na kerke om goed te voel. Mense soek leraars wat sê wat jy ookal doen is OK. Hierdie prekers veral in Amerika word biljioenêrs.

Arak ·

Dankie vir ‘n interessante artikel. Ek dink nie mens kan die ideologieë vergelyk met die Christendom nie. Hoewel daar ooreenkomste is, dink ek dit is bloot op die oppervlak. Meeste van die ideologieë probeer samelewings bestuur aan die hand van sekere beginsels en dit is die beginsels wat onderling tussen die ideologieë verskil. Die Christen se fokus is op die individue en sy verhouding met God. As die verhouding reg is, sal sy verhouding met sy medemens en samelewing ook reg wees. Dit voel vir my die beginpunt en verantwoordelikhede is omgekeerd tussen die ideologieë en die Christendom. Wil wel voorkom of klassieke liberalisme as ideologie, die meeste vryheid bied vir die Christen om sy verhouding met God te kan uitleef. Ek wonder egter self hoe ‘n samelewing en ideologie sal lyk wat absoluut op Bybelse beginsels geskoei is en waar die burokrate van so ‘n samelewing ware Christene is.

Gerhard ·

Klink vir my na ‘n geval van my politiek is populisme en jou populisme is politiek.

nico k ·

Dat elkeen die reg het om jou eie identiteit te erken is die ideaal. Die oplossing volgens hierdie beginsel is die nasiestaat. Maar in praktyk is dit nie altyd moontlik om ‘n nasiestaat te skep nie. Die rede hoekom ‘n Afrikaner volkstaat nooit in die ou SA sou gewerk het nie, was watter gebied sou geïdentifeer word. Alle Afrikaners daarbuite sou dit nooit aanvaar het nie. So die Liberalisme waar elkeen die vryheid het om sy eie kultuur uit te leef bly die naaste aan die beste stelsel. Maar so staat bestaan ook maar min in die wêreld aangesien die grootste groep altyd regeer en onderdrukking van die minderheid in te veel gevalle die resultaat is.

Gerhard ·

Multikulturele state werk nerens. Dit is soos komunisme ‘n onwerkbare droom vir die wat daaraan glo.

Marthinus Willemse ·

Een van die redes vir Wladimir Poetin se gewildheid, is omdat godsdiens herleef. Party noem hom selfs `n “gawe van God”. Alhoewel die kommuniste historiese kerke gerestoureer en in stand gehou het, en `n erkende ateïs soos Michail Gorbatjof die kerk se grond teruggegee het, is Poetin eerlik en ernstig oor sy Christenskap.

Die volgende grappie was baie gewild in die Sowjetunie:

Leonid Brezjnef vra die Pous, “Waarom glo die mense in júlle paradys, maar weier om in die kommunistiese paradys te glo?”
“Dis omdat ons nooit ons s’n wys nie,” sê die Pous.

Piet ·

Sal maar weer probeer. Christus is nie gekruisig vir elke enkelinge mens nie. Die bybel leer dit beslis nie. Gaan lees gerus wat Jesus sê vir wie het Hy eindlik gekom. Onthou die verhaal van die Kanaänitiese vrou en na wie toe het Hy Sy disippels gestuur.
Lees gerus die boek ” Die verlore tien stamme van Israel: deur FWC Neser en word wys.

Lerato ·

Hallo Piet
Johannes 3:16
Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun gestuur het dat ELKEEN wat in hom GLO nie verlore sal gaan nie.(klem my eie)
Ek dink ook sommer aan die Samaritaanse vrou by die put, asook die Ethiopieër wat Philipus gedoop het.

Piet ·

Lerato, met respek. Jy kan tog nie die hele plean van God op een versie baseer nie. Bestudeer die hele bybel van voor tot agter en jy sal ander insigte kry.

Mat 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

Die huis van Israel en die huis van Juda (Dawid) moet eers herenig soos beskryf deur die profeet Ezekiel. Dit het nog nie plaas gevind nie.

Dit strook duidelik met die beloftes wat Hy aan Adam, Abraham, Isak en Jakob gemaak het en die belofte aan hulle waar Sy Koningkryk gevestig gaan wees en waarvandaan die hele Israel oor die ander volke sal regeer.

Lerato ·

Baie geluk Leopold met n skittetende artikel.

Ek is bly dat jy die konsep. ” libetalisme” ,so duidelik omlyn het.

Talle deelnemers aan die blog verstaan die konsep verkeerd.

Lerato ·

Hallo Piet
Johannes 3:16
Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun gestuur het dat ELKEEN wat in hom GLO nie verlore sal gaan nie.(klem my eie)
Ek dink ook sommer aan die Samaritaanse vrou by die put, asook die Ethiopieër wat Philipus gedoop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.