Hoe lyk ons kinders se erfporsie?

kind-op-fiets

Foto: Soledadsnp/Pixabay.com

Deur Jannie Pelser

Kinders is buitengewoon kosbaar. Ek het soveel mense al hoor sê: “Ons lewe tog maar vir ons kinders.” Die meeste mense sal met hierdie sentiment kan saamstem. Kinders verdien die beste wat ouers kan gee sonder om hulle te bederf of sonder ʼn sin vir en van verantwoordelikheid groot te maak.

Ek kan die redevoering dat “omdat ons swaar gekry het, moet ons kinders ook swaar kry” nie verstaan nie. Dit grens aan geprojekteerde masochisme. Kinders moet waardering hê vir die harde werk, opoffering en swaarkry wat hulle ouers “ingesit” het, inderdaad. Om hulle sonder meer aan dieselfde beproewing te wil onderwerp, verstaan ek nie.

Uiteraard praat ek van alle kinders. Myne, ons s’n en die land s’n. Ek verwys na kinders ongeag herkoms, taal, kultuur, stand en status. Alle kinders verdien ʼn geleentheid om hul potensiaal voor God en mekaar te optimaliseer.

Lukas 18:16:

Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.”

Jesus het die Koninkryk “aarde toe gebring”, weliswaar in sy voorlopige gestalte, tog vol belofte en moontlikhede. Koninkryk herinner aan dit waarheen ons as gelowiges op pad is. Volmaaktheid, waar daar geen gebrek, hartseer, teleurstelling, siekte, en so meer sal wees nie. So beskou, breek die hemel ʼn pad na ons toe oop. (Lees Matteus 11:12.)

Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ʼn pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.

Dit word elke dag ʼn groter werklikheid vanweë die inspanning en geloof van God se kinders.

Laat ek dit weer sê, kinders is belangrik, buitengewoon kosbaar. Juis daarom behoort kinders nie projektiele van ons eie vooroordele, vrese en agendas te word nie. Kinders verdien ʼn gelyke kans om te besluit. Kinders het immers hulle eie breinkrag en vermoë.

Dis ouers wat die erfporsie agterlaat, nie kinders aan ouers nie. By die dood van ʼn ouer word die testament voorgelê en aan elke kind volgens die ouer se keuse iets bemaak. Die gedagte met die bemaking is tog dat dit die kind ʼn voorsprong sal gee. Dis ʼn vertrekpunt, ʼn lanseerbaan, dis ʼn “stepping stone” en tree vorentoe. Ouers bemaak tog nie hulle skuld aan hulle kinders nie. Dis ongehoord. Ouers probeer reëlings tref dat by hulle dood alle skuld vereffen is, daar nie sake is wat onopgelos is nie, dat kinders met dankbaarheid en erkentlikheid kan terugkyk en erkenning verleen aan wat hulle ouers, ook ten behoewe van hulle, tot stand gebring het.

Ons ry op paaie wat ander gebou het, ons gedenk mense se lewe wat ons voorafgegaan het, ons gee erkenning aan die bydraes wat ander gelewer het. Ons bou voort op dit wat ander by wyse van erfporsies agtergelaat het.

Ek wonder oor Suid-Afrika en wat ons vir al die kinders van hierdie land agterlaat. Die meeste van ons wat hier lees, is waarskynlik ouers in die samelewing, ons het ʼn ent gevorder op die lewenspad en baie lesse geleer. Ons het deur swaarkry geleer wat belangrik is, ons het geleer om te prioritiseer, ons het wysheid bekom. Ons het geleer wat liefde beteken, liefde vir al God se mense. Ons het klaargespeel met vrese en vooroordeel, met rassisme en seksisme, ons het die evangelie begin leef, al het dit baie van ons gevra, ons het ons skuld bely en vergiffenis gekry. Ons het onderskeidingsvermoë geleer, ook om ons ore nie vir elke opruiende toespraak uit te leen nie. Ons het geleer dat vrees ons nêrens bring nie, dat ons roeping in hierdie land groter is as die belang van ʼn bepaalde groep, dat ons net ʼn toekoms het as ons dit saam doen. Ons het somme gemaak en gesien dat ons op mekaar aangewese is, dat ons die luuksheid van selfsug nie kan bekostig nie. Ons het begin dink aan die erfporsie wat ons agterlaat en besef dat die boustene daarvan versoenende optrede, die liefde van Christus, die omgee van die Vader en die bemagtiging van die Gees is.

Hoe lyk die erfporsie wat ons agterlaat?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerda Erasmus

Dit is alles goed en wel …. het die kinders vir hul ouers omgegee toe hul nog gelewe het? Daar is kinders wat hul ouers sleg maak en sleg behandel, maar die dag as die testament gelees word is hul eerste daar om hul pond vleis op te eis en bakhand staan.

Suzie

Moenie veralgemeen nie. Party ouers is nie daar vir kinders wanneer hulle dit die nodigste het nie en dan met die testament word dit net weer bevestig. Want daar is ook dan nie voorsiening gemaak vir daai selfde kinders nie. Party ma’s moet alleen opsnork terwyl 2de vrou met stiefkinders als kry as die eie kinders.

Cobus

Die skrywer klink vir my soos ‘n nuwe wêreld orde man. Die Woord van die Here sê ons moet nie aan die juk van die anti-christ trek nie. Jesus sê immers dat hy vir die kinders wat God hom gegee het sal sterf. Nie vir hulle wat die wye pad bewandel nie. Dit is so dat ons nie weet wie op die wye pad is nie en dat die woord dus aan almal wat oor ons pad kom moet verkondig, maar fefinitief nie aan die selfde juk trek nie. Die woord word so maklik aangepas om by die wêreld (politiek)… Lees meer »

Piet Pompies

Ons gesin se finansiele erfporsie is deur my pa se die 2de vrou (na my ma oorlede is) se kinders opgebruik. Die nuwe vrou se seun was ‘n bedorwe mannetjie wat as volwasse groot bedrae geld opgebruik het, kon nooit ‘n werk hou omdat hy kastig nie gelukkig is. Sy ma het hom vol geld geprop met geld uit my pa se sak. Die dag met my pa se afsterwe was daar geen geld mee oor.
My nalentskap aan my kinders gaan eerder waardes wees, geld sal ‘n bonus wees.

Scalla

n Erfgenaam/kind moet ook besef dat dit n voorreg is om te erf en nie n reg nie.