Hoe nodig is regerings?

Globaal`n Onlangse berig in Afrikaanse dagblaaie het verwys na ’n ministeriële besoek aan verskeie Europese lande wat het ten doel het om beleggings te lok wat die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) ’n hupstoot moet gee.

Teen dié agtergrond moet ons ook kennis neem van `n afvaardiging van Orania wat onlangs tydens `n oorsese besoek moontlike samewerkingsooreenkomste met streke daar identifiseer het – onder meer met die outonome gebied van Suid-Tirool. Samewerkings- en handelsooreenkomste wat tussen gemeenskappe gesluit word sal daartoe lei dat daar nie slegs in terme van samewerking tussen lande gedink word nie, maar ten opsigte van ooreenkomste tussen gemeenskappe.

Dié soort handelsooreenkomste kan lei tot die bevordering van gemeenskappe se selfstandigheid aangesien daar nie meer `n afhanklikheid van regerings sal wees om so `n ooreenkoms te bekragtig nie. Dit kan verder lei tot die meer gereelde vra van die vraag: Het ons werklik regerings nodig of kan daar op `n meer plaaslike vlak handel gedryf word? Ook buite landsgrense?

Neem as voorbeeld die samewerkingsooreenkoms wat onlangs tussen TLU SA en die Georgiese regering gesluit is. Dit behels dat TLU SA die Georgiese regering bystaan met die ontwikkeling van landbou in dié land. `n Hooggeplaaste van Georgië het ook intussen Suid-Afrika besoek. Dit is `n ooreenkoms tussen `n regering en `n organisasie van `n ander land – nie tussen twee regerings nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs die BRICS-beraad aangebied en daardeur gepoog om handelsooreenkomste met Brasilië, Rusland, Indië en China te verstewig. Daar is egter deur ekonome gewaarsku dat Suid-Afrika sy vaardigheidsontwikkeling sal moet opskerp en aandag gee aan sy tekort aan menslike hulpbronne as hy met hierdie reuse wil handel dryf. Die bekende ekonoom, dr. Azar Jammine, het onder meer gesê dat Suid-Afrika se droom om `n nywerheidsland te word, nooit bewaarheid gaan word as hy nie werk aan sy menslike potensiaal nie.

In kleiner gemeenskappe soos Orania sien ons wel dat vaardigheidsontwikkeling aandag geniet en dat daar buite die kassie gedink word wat die skep van werksgeleenthede betref – neem byvoorbeeld die oproepsentrum wat onlangs daar ingerig is. Ook is daar in die verlede al groot hoeveelhede pekanneute na China uitgevoer. Die adjunk-uitvoerende hoof van die Orania Beweging, dr. John Strydom, wys my onlangs daarop dat die 50 grootste ekonomieë ter wêreld nie meer lande is nie, maar maatskappye.

Vir baie lank is daar na regerings gekyk as die enigste gesag wat `n internasionale ooreenkoms met `n ander land kan sluit. Die diversiteit van bevolkingsgroepe binne `n bepaalde land lei wêreldwyd daartoe dat “soort-soek-soort”-gemeenskappe gevorm word wat `n groter mate van selfstandigheid vir hul gemeenskappe bepleit. Daar is geen rede waarom die soort gemeenskappe nie ook rolspelers kan wees op die ekonomiese speelveld nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.