Hoe nou verder met Boris en Brexit?

Boris Johnson. Foto: Yui Mok/PA via AP

Maandag was die laaste sitting van die Britse parlement voor die verpligte reses tot middel Oktober. Dit was weer ’n dag vol hoogdrama, emosies en nog ’n verdere neerlaag vir eerste minister Boris Johnson, toe die meerderheid lede teen ’n vervroegde verkiesing gestem het en daarmee die agterdeur na ’n uitkoms toegeklap het.

Verlede week het hulle ook beslis dat die regering die Europese Unie (EU) om nog ’n verdere uitstel van drie maande vir die Brexit moet vra, iets wat die eerste minister volstrek weier. Woedend en onder protes het die parlementslede op verpligte verlof gegaan, maar net die volgende dag het ’n Skotse hof bevind dat die parlementêre reses onwettig is, omdat Johnson dit sonder nood gedoen het om die parlement se inspraak te keer. Die Britse regering het wel nou die hoogste hof (Supreme Court) aangeroep om die finale beslissing te gee.

Die huidige toestand waar regering en parlement in konflik met mekaar is, sou in vroeër tye op ’n burgeroorlog uitgeloop het, en daar was inderdaad al sulke gevalle in die verlede. Dit is teweeggebring omdat lede van die regerende Konserwatiewe Party teen hul eie eerste minister gedraai het in die belangrike vraag of Brexit ook sonder ooreenkoms moet geskied. Die konflik gaan egter verder as net tussen die regering en die parlementêre meerderheid. Ook onder die burgers loop die emosies hoog en is daar daagliks betogings vir en teen die Brexit.

Die opposisielede wat vroeër vanjaar Johnson se voorganger, May, se toegeeflike ooreenkoms met die EU suiwer om opportunistiese redes (om die regering in die verleentheid te stel) verwerp het, is waarskynlik nou spyt oor hul besluit. Dat hulle nou so hoog opgee dat hulle die land wil red van ’n besete Johnson, is pure skouspel. Die vervroegde verkiesing wat Johnson beplan het, sou die eerlikste oplossing gewees het. Immers kon die opposisie dan bewys dat die meerderheid van die bevolking ook voel soos die meerderheid van die parlement beweer. Trouens, dit is waarskynlik nie so nie (peilings wys ’n meerderheid vir die Konserwatiewes) en daarom weier die opposisie die toets van die stembus.

Al twee kante beweer dat hulle die demokrasie tot sy reg wil laat kom en dat hulle die volk se belange verteenwoordig. Die regering sê dat die volk gepraat het en die Brexit wil hê, en dat die parlement dit keer en die kanse op ’n voordelige ooreenkoms vir Brittanje kelder deur die regering in die rug te steek. Die opposisie beweer weer dat Johnson en sy binnekring die Brexit ten alle koste wil forseer en dat die volk nie ’n ongereëlde uittrede, wat vir die Britse ekonomie noodlottig kan wees, steun nie. Beide kante het ’n deel van die waarheid beet, maar tussen hulle kan geen kompromis gevind word nie.

Oor hoe die pad nou verder verloop, weet nugter. Dis nie eens seker of die reses gaan plaasvind of nie. Tans probeer die eerste minister inderhaas die skaakmatsituasie oor die Ierse “backstop” oplos, die belangrikste rede hoekom Brittanje die ooreenkoms met die EU verwerp het.

Die kanse dat die verdeelde parlement wat geen smaak vir kompromisse het nie, tot enige Brexit-ooreenkoms kom wat vir die meerderheid lede aanvaarbaar is (sowel vir die EU se 27 lidstate), is feitlik nul. Dat almal wat nou teen Johnson gekant is, agter die uitgesproke linkse opposisieleier Jeremy Corbyn verenig, is eweneens hoogs onwaarskynlik. Dit is ook moeilik voorstelbaar dat Johnson teen sy oortuiging vir nóg ’n doellose uitstel van Brexit gaan vra, nadat hy juis as leier verkies is omdat hy die land voor 31 Oktober uit die EU wou lei. Selfs al vra hy vir uitstel, is dit ook nie ’n uitgemaakte saak dat die EU daartoe gaan instem nie.

Johnson is wel nie iemand wat gaan lê nie en hy het moontlik iewers nog ’n troefkaart in die mou. Hy is ook bereid om ter wille van sy beginsels sy eie loopbaan op die spel te plaas. Trouens, hy het dit in die verlede ook al gedoen, toe hy minister van buitelandse sake was en uit protes teen May se onoortuigende Brexit-beleid bedank het, net om later met mag en mening die hoogste pos in die land te beklee.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

Hoe dit ookal sy, ek hou derem baie van dit wat op daai plakkaat staan.

Anneli ·

Boris Johnson is ver van volmaak, maar hy het rugraat. Ek glo hy is die regte man op die regte tyd vir Engeland.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.