Hoe om deel te neem aan ’n vol viering van Geloftedag

Prof. Alwyn Swanepoel se boodskap by die Voortrekkermonument op 16 Desember 2021.

Die Voortrekkermonument. (Foto: Nico Strydom)

Skriflesing:

Hebr. 4:4, 8-10.

Gen. 12:1-4, 7.

Gen. 13:1, 3-15, 18.

Teksvers: Gen. 13:3-4

En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die Here aangeroep.

Geagte broeders en susters, dit is heerlik om soveel mense vandag hier by die Geloftedagviering te sien.

Maar ek wil dit waag om positief uitlokkend te wees. Daar is eintlik geen werklike rede waarom die bywoning met so ’n treffende amfiteater nie na 50 000 en meer kan styg nie. En my rede vir hierdie realistiese stelling: Omdat Geloftedag eintlik niks anders doen nie as om te bevestig dat jou geloof en jou kultuur en geskiedenis alles met mekaar te make het. Om die waarheid te sê, die betekenis van Geloftedag kan, anders as wat die kritici sê, juis ’n reinigende en florerende uitwerking op Suid-Afrika en Afrikaners in besonder hê. Maar dit kan net gebeur wanneer ons die diepte-dimensies van Geloftedag bewandel.

Want sien, jy kan met Geloftedag enersyds die punt en andersyds dalk die volheid daarvan mis. Jy kan die volheid mis deur net op die letterlike betekenis te fokus en by die gees en bedoeling van Geloftedag verbygaan. Jy kan egter ook die punt heeltemal mis en verkeerd begryp deur ’n gees en bedoeling in Geloftedag in te lees wat nie op die letterlike betekenis van Geloftedag gegrond is nie, maar in ’n ander agenda – links of regs. Ons moet hierdie afwykings raaksien wat in die geskiedenis van Geloftedag ongelukkig ook hulle aanhangers gehad het en steeds het.

Meer nog, ons het nodig om in hierdie een-en-twintigste eeu, die era van die derde Afrikaner, met nuwe opgewondenheid weer aan te sluit by die benadering van die eerste Afrikaner, soos verteenwoordig deur die Voortrekkers. Dit is ’n weg waarin jy die volheid van die Gelofte betree deur die letterlike en die simboliese betekenis van die Gelofte in Christus en aan die hand van sy Woord met mekaar in verband te bring. Weet u waarby kom ons dan, geliefdes? Ons kom by die rykdom van die Gelofte wat ook ons en ons kinders nog lank kan vernuwe en waarin ons aansluit by die beste weergawes daarvan in vorige geslagte.

Vriende, by hierdie punt in die geskiedenis kan ons die syspore nie meer bekostig nie. En die maklikste manier om daarvan vry te bly, is om die weg van die heerlike alternatief voortdurend voor oë te hou. Ons gaan dit vandag doen deur te begin met die letterlike betekenis van die Gelofte en dan gaan ons hiermee saam ook vra na die simboliese betekenis wat hierop gebou kan word wanneer ons dit in Christus en sy Woord doen.[i]

Ons maak dan hier gebruik van die bekende weergawe van die Gelofte wat ook gebruik is om die gewaardeerde Geloftelied te komponeer.[ii] Daarin hoor ons dat die Voortrekkers drie voornemens teenoor God gemaak het: (1) Om hierdie dag elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat deur te bring, (2) om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, en (3) om ons kinders tot in die komende geslagte op te roep om daarin te deel. Die doel van al hierdie voornemens was God se eer wat so verheffend uitloop op ’n Godverheerlikende (doksologiese) crescendo in die marslied wat onlangs daaroor gekomponeer is: “Want die eer van sy Naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Vriende, hierdie loflied op God se genade en oorwinning kan voortgesit en voller word wanneer ons saam met die letterlike ook die geestelike en simboliese dimensies hiervan in Christus uitbou. Ons sou die betekenis van die drie voornemens met die beeld van ’n huis kon vergelyk waarin ons steeds deur die geloof kan inwoon.

Maar dan moet ons dit vandag weer hoor dat die drie voornemens van die Gelofte spreek van:

  • aanbidding in die sentrum;
  • rus en fees in die fondasies;
  • ons kinders se kinders se kinders in die uitsigpunt.

Lees gerus die volledige boodskap hier.

[i] Let op: Die simboliese dimensie is onvermydelik ter sprake. Die probleem met die modernisme en postmodernisme is dat die simboliese dimensie nie in Christus en gebonde aan die Woord gedoen word nie, maar in diens van sogenaamd nuwe agendas en narratiewe. Vir die werkswyse hier, wat aansluit by die kerkvaders, kyk gerus na die volgende artikel: “Die vierperdewa” by http://www.standpunte.co.za/die-vierperdewa/

[ii] Luister gerus weer na die Geloftelied hier.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Ek kry die indruk dat ons volk besig is om te ontwaak. Nog nooit het ek so baie Gelofdedag boodskappe gekry nie. Dankie aan MM se bydrae

Wat Wou ·

Ek vra net, sou die verontagsaming aan deelname en gebed, veral vir die Afrikaner op Geloftedag, daarop neerkom dat ons as hedendagse Afrikaners, skuldig daaraan is, dat die Vader sy aangesig van ons af wegdraai?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.