Hoe om grondhervorming te laat werk

Foto: Lukas/Pexels.com

Deur Terence Corrigan

Terwyl tienduisende Suid-Afrikaners hulle instel op die verwerping van die regering se voorstel om grond sonder vergoeding te onteien, moet die fokus heeltemal daarop toegespits wees om te bepaal wat dit sal vereis om suksesvolle grondhervorming te bewerkstellig.

Die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRV) se voorlegging aan die grondwetlike hersieningskomitee, wat onteiening sonder vergoeding en die verwering van eiendomsregte teenstaan, strek verder as die angstigheid oor die neiging van huidige beleidsdenke en stel konstruktiewe maatreëls voor om lank agterstallige grondhervorming te bewerkstellig.

Teen Dinsdag het meer as 34 000 Suid-Afrikaners uit alle gemeenskappe reeds die IRV se voorlegging onderskryf.

Aan die spits daarvan is navorsing wat toon dat ’n toekoms waarin ’n aansienlike getal swart kommersiële boere gehelp word tot besigheid en om hul grond veilig te behou, hoegenaamd nie buite Suid-Afrika se bereik is nie – met dien verstande dat die nodige voorbehoude daargestel word.

Regeringsbeleid is tans om die staat, eerder as die aspirantboer, as die middelpunt van sy grondhervormingspogings te beskou. Dit is in die Staatsgrondverhurings- en onteieningsbeleid gekodifiseer, wat spesifiseer dat grond wat vir herverspreidingsdoeleindes verkry is (met inbegrip van beskikbaarstelling van grond vir aspirantboere) in staatsbesit sal bly.

Slegs die grootste produsente mag kwalifiseer om hul stukke grond te koop, en dan slegs ná 50 jaar. Die beleid van die regering beweeg nou na een van onteiening vanaf bestaande boere om dan – vermoedelik aan opkomende produsente – verhuur te word. Die rede vir hierdie benadering is, volgens die regering, dat “die gewillige koper, gewillige verkoper-model misluk het” omdat daar nie genoeg geld is om dit te laat werk nie.

Hierdie argument is egter onjuis.

Die IRV beraam dat weidingsgrond van goeie gehalte in die mark is vir R10 000 per hektaar. Om ’n 1 000 hektaar-plaas vir ’n jong opkomende boer te koop, sou R10 000 000 kos. Ons reken verder dat dit nog R4 000 000 sou kos om dié plaas met 200 dragtige koeie toe te rus. Met nog R2 500 000 sou dan ’n nuwe Land Cruiser-bakkie, ’n trekker, sleepwa en implemente aangeskaf kon word. ’n Verdere R3 500 000 kontant sou as bedryfskapitaal aan die boer voorsien kon word.

Die hele belegging sou op R20 000 000 te staan kom en sou ’n skuldvrye kommersiële boer daarstel wat ’n positiewe kontantvloei van R1 000 000 per jaar genereer, met meer as genoegsame aanvullende sekuriteit om verdere grond te koop en sy boerderyonderneming uit te brei.

Hierdie bedrae is inderdaad heeltemal beskeie in vergelyking met ander verbintenisse wat die regering verkies het om aan te gaan. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het, byvoorbeeld, die afgelope jare omvattende dekking vir sy swak prestasie en regeringsuitdagings gekry. Hy het verlede jaar finansiële reddingshulp van R10 miljard van die regering ontvang en het onlangs nog R5 miljard aangevra.

Gebaseer op die IRV se bedrae, indien dit aan grondhervorming bestee sou wees, sou dit net oor die afgelope twee jaar 750 suksesvolle nuwe swart kommersiële boere kon vestig. As in aanmerking geneem word dat daar slegs 30 000 kommersiële boere in die land is, is dit nie ’n onaansienlike getal nie. ’n 10%-besnoeiing in die regering se salarisrekening sou elke jaar die vestiging van ’n geraamde 3 000 nuwe swart kommersiële boere kon finansier.

In werklikheid laat die regering egter opkomende swart boere met ’n groot gebrek aan ondersteuning.

Die begroting van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming is hierdie jaar omtrent R10,4 miljard. Dit bedra minder as 1% van die regering se totale begrote besteding. Die begroting vir grondhervorming – die verkryging van grond vir herverspreiding – kom op R2,7 miljard te staan.

Vir restitusie – skikking van grondeise – word R3,7 miljard begroot. (In elke saak sluit dit administrasiekoste in, en nie net die bedrae wat aan werklike grondoordragte toegesê word nie.)

BBP-beskerming en verwante dienste (soos die SALM 21 Eskadrielje) sal, daarenteen, na verwagting altesaam R2,6 miljard kos. Beskerming van die land se politieke elite word, met ander woorde, as naastenby ewe belangrik as die voorsiening van grond aan opkomende boere beskou, en nie veel minder belangrik as die hantering van gevalle van grondontvreemding nie. As dit nie vir ons alles wat ons moet weet omtrent voorkeure sê nie, sê dit beslis vir ons baie.

Elkeen van die nuwe boere wat volgens die IRV se model gevestig sou word, sou in ’n goeie posisie wees om deur middel van hul eie aanvullende sekuriteit en kontantvloei hul besighede te laat groei – veral as die Landbank ruim leningsvoorwaardes aan hulle toestaan, iets wat hulle nie op die oomblik doen nie. Hierdie opkomende swart boere sou stellig in ’n baie sterker finansiële posisie as die meeste wit boere wees. Hul opgang, aansien, sukses en uitbreiding sou die kragtigste antwoord wees wat Suid-Afrika teenoor die historiese ontsegging van eiendomsregte aan swart mense kon bied.

Ons model sou ’n heroorweging van die rigting van beleid voorstel. Dit is eenvoudig, eerlik en kostedoeltreffend en sou binne weke in praktyk gestel kon word. Maar dit sou slegs werk indien eiendomsregte gerespekteer en die landbousektor as ’n markekonomie bestuur word – met ander woorde, indien pragmatisme eerder as ideologie voorgestaan word.

Hierdie konstruktiewe model lê ten grondslag van die IRV se uitnodiging aan almal wat ’n verbintenis tot ’n voorspoedige toekoms en sinvolle beleidsvoorstelle deel om by hom aan te sluit ter bestryding van die ingebruikneming van onteiening sonder vergoeding deur die voorlegging van hierdie voorstelle aan die Parlement hier te onderskryf.

  • Terence Corrigan is die Projekbestuurder by die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRV), ’n dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder. Indien jy saamstem met wat jy so pas gelees het, klik dan hier of SMS jou naam aan 32823.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Boerseun ·

Nog n siel wat die pot totaal mis. Dit gaan nie oor herverdeling of bemagtiging van swart boere nie, dit gaan oor totalitere beheer oor grond. Die res is mooi praatjies en ergste is julle gee die ANC skietgoed met al die praatjies oor goed soos bemagtiging , verdeling en saamewerking. Ek raai jou aan om bietjie die freedom charter en latere resolusies van die ANC en kie te lees en besluit dan of pragmatisme ooit n rol sal speel solank die laas genoemde regeer

B-man ·

Die skrywer sê dat net sal werk in ‘n vrye markekonomie. Lees. Daar moet beslis iets gebeur i.v.m. grondhervorming. Dit mag net nie toegelaat word om sonder vergoeding te gebeur nie!

Albaster ·

Ja dit gaan oor mag, stroop van nog een van die min hulpbronne wat nog oor is, en stemme inwin. Dit gaan gladnie oor regverdige verdeling van grond, voedselsekerheid of welstand van die mense nie, en die regering het geen belang in die welstand van die swartmens nie.

Willem ·

Dit klink na baie harde werk en buite die bereik van 80%.

Arak ·

Dit is nie die regering se plig om sekere mense te finansier nie, al is dit vir iets soos grond. Net ‘n paar vrae wat ek het soos, watter teenprestasie word van die swart opkomende boer vereis vir die “skuldvrye belegging” van R20miljoen? En wat as die boer dan nou ook besluit hy is eintlik nie lus vir boer nie en hy verkoop sommer die grond en vat die R5miljoen wat hy gaan ontvang. En hoekom dat nou stop by boer? Gee vir die swart entrepreneur ook sommer die R20miljoen “skuldvrye belegging” om sy besigheid te begin. En waar dink hierdie skrywer kom hierdie wonderlike “skuldvrye beleggings” dan nou eintlik vandaan? Ek is oortuig dat die staat nie die oplossing is nie en mense wat dink dat hulle enige iets gaan oplos deur sulke voorstelle (van “skuldvrye beleggins”) is absoluut naïef. Wil jy die swart man help, help dan almal. Begin om die belasting drasties te sny en verklein die staatsdiens. Moet nie jou tyd mors met “skuldvrye beleggings” nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.