Hoe om nié oor die konflik in die Oekraïne te praat nie

Deur Louise Mabille

’n Oekraïense nasionale vlag word op 1 Oktober 2022 voor ’n verwoeste huis naby Izyum, Oos-Oekraïne, te midde van die Russiese inval in die Oekraïne vertoon. (Foto: uan BARRETO / AFP)

Een van die mees opvallende aspekte van die openbare gesprek tans in Suid-Afrika, sowel as in die buiteland, is die sterk woordeskat van goedheid en boosheid wat gebesig word. Groepe – of individue – word dikwels in terme van sterk moralistiese terme beskryf. “Moralisties” in hierdie konteks beteken nie dieselfde as “moreel” nie. Dit is wanneer morele goedheid (wat ʼn werklikheid is en aan niemand ‘behoort’ nie) as politieke wapen aangewend word.

ʼn Sprekende voorbeeld is Hillary Clinton se nou berugte “basket of deplorables”. Hierdie term het nie bloot verwys na politieke opponente nie, maar na mense wat in hulle diepste wese gekant is teen alles wat ʼn redelike mens as ‘goed’ sal beskou: regte vir vroue, swartmense, die LGBTQ-gemeenskap, gestremdes en enigiemand wat histories benadeel is. Daardie term is selfs deur Demokrate veroordeel en het Clinton duur te staan gekom.

‘Goeie’ en ‘slegte’ bondgenote

Tans word ʼn soortgelyke toon wyd gehandhaaf in gesprekke rondom die Russiese Federasie en sy militêre operasie in die Oekraïne. ʼn Onlangse voorbeeld verwys na Rusland en sy ‘slegte vriende’ soos Turkye, Wit-Rusland, Eritrea, Sirië, en die twee-en-dertig ander lande wat hulle nie uitdruklik by Navo skaar nie. ʼn Mens vind dit ook in spekulasies oor hoekom Poetin kwansuis so ‘gewild’ onder ‘die Afrikaner’ is.

Hierdie intense morele opposisie, tussen ‘goeie’ demokratiese lande en slegte ‘ondemokratiese’ lande, is natuurlik ʼn woordeskat wat uit die Koue Oorlog dateer met Reagan se benaming vir die Sowjetunie as die sogenaamde Evil Empire. Reagan en Thatcher het egter die kompleksiteit van die Sowjetunie ten minste goed genoeg begryp dat ʼn waardige en suksesvolle gesprek moontlik was met Gorbatsjof – ʼn gesprek wat uiteindelik ʼn positiewe wending geneem het.

Amerikaanse president Ronald Reagan (R) op 21 November 1985 waar hy met president van die Sowjetunie Michail Gorbatsjof (L) praat tydens ‘n beraad tussen die supermoondhede in Genève. (Foto: AFP)

Wat interessant is, is dat die gesprek vandag weer gaan draai by die VSA en sy Navo-bondgenote as die onbetwisbare verteenwoordigers van die morele hoë grond. Daar was ʼn tyd na 9/11 waar akademici en joernaliste graag die skynheiligheid en self-weersprekende diktatoriale tendense van die VSA beklemtoon het. George W Bush was elke satirikus en intellektueel se gunstelingteiken. Die gesprek het graag gaan draai by die blindheid van die Weste en die feit dat dit geen begrip toon vir kulture wat nie die konvensionele pad na ʼn progressiewe liberale demokrasie gestap het nie.

Nou word daar eensklaps egter weer verwys na ‘Islamatiese terroriste’ – wat tot onlangs ʼn doodsonde was. So ook word daar verwys na die ‘sosialis Daniel Ortega’, asof sosialisme vanselfsprekend ‘sleg’ is, terwyl vorme van sosialisme al vir dekades in Westerse geesteswetenskapdepartemente gesien word as die natuurlike politieke keuse vir enige self-respekterende denker.

Selfs George W Bush is blykbaar heeltemal gerehabiliteer: hy bied nou tot klasse in ‘outentieke leierskap’ aan op die platform Masterclass, waar hy deel met figure soos Gloria Steinem en Pharell Williams en ander sosiaal legitieme figure.

In die afwesigheid van nuanse

Hierdie spronge is tekenend van die vermoë om óf werklik polities óf werklik moreel te dink. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar twee breë pogings om sin te maak van hierdie verskriklike gebeurtenis en die gruwels van die Holocaust. Een manier van dink – wat vandag blykbaar die oorhand verkry het – is om goedheid en boosheid in absolute terme te bedink: die aakligheid van die Holocaust moet uit iets heeltemal anders vloei as wat ‘gewone’ mense kenmerk, en elke oppervlakkige teken wat na ‘nasionalisme’ of ‘fascisme’ ruik, moet verwoed beveg word en met ‘goedheid’ toegegooi word. Dit is ook ʼn houding wat dikwels in gesprekke oor die Afrikaner-verlede voorkom.

Hongaarse Jode by Auschwitz II-Birkenau in Duits-besette Pole, omstreeks Mei 1944. Die foto is deel van die versameling bekend as die Auschwitz Album (Foto: Wikipedia)

Daar is egter ook ʼn ander manier van dink, wat ironies genoeg met ʼn Joodse denker wat self amper in Auschwitz beland het geassosieer word. In haar nadenke oor die oorsprong van totalitarisme het Hannah Arendt juis daarop gewys dat die pogings om slegs een ‘groot verhaal’ as legitiem te beskou (selfs die moreel reverdigbares) eintlik aan die wortel van die politieke krisisse van die 20ste eeu gelê het. Pogings van die ‘goeie Geallieerdes om die ‘slegte’ Duitsland met reuse skadevergoeding te ‘straf’ na die Eerste Wêreldoorlog het juis na die tweede erger konflik gelei.

Baie mense dink aan politiek as versorging deur ʼn goedbedoelende regering wat altyd weet wat reg en goed is. Vir Arendt bestaan enige gesonde samelewing egter uit twee sfere: die privaat sfeer van die huis en die hart, die plek van emosie, die psige, liggaam en die intieme, wat deur velde soos die psigologie bestuur word. Daar is egter ook die publieke sfeer of openbare sfeer: In die openbare sfeer word ʼn tree teruggeneem van slordige privaat emosies, en die masker van beleefdheid en formaliteit word opgesit ten einde ʼn vry gesprek te kan hê.

Hier is selfs mooi privaat emosies soos liefde taboe: dit is die domein van redelikheid, regverdigheid en soveel as moontlik objektiwiteit. ʼn Hof is byvoorbeeld so ʼn domein, maar eintlik behoort alle politieke gesprekke aan hierdie standaard te voldoen. Dit is ook die taak van elke burger om self hulle vryheid in hierdie sfeer op te eis en uit te leef.

Hannah Arendt (Foto: Wikipedia)

Sluiting van die openbare sfeer

Arendt wys daarop dat ʼn weergawe van hierdie domein vanaf die Grieke, deur die Middeleeuse koninklike howe, die Renaissance tot by die nederige Engelse pub-kultuur (pub is ʼn afkorting van public) bestaan het. Wat Nazisme so sinister gemaak het, was nie hulle propagering van haat nie – dit bestaan maar altyd in een of ander vorm – maar die feit dat hulle die openbare sfeer heeltemal gesluit het. Dit het nie net weerstand onmoontlik gemaak nie, maar enige ander alternatiewe visie op die werklikheid van die tafel afgevee.

Tans dreig ʼn soortgelyke sluiting. Kommentators wat werklik die politiek in die klassieke sin van die woord wil behou en uitbou, sal moet besef dat die politiek – net soos die regswese – berus op die openbare sfeer, waar elke perspektief sy geleentheid in die kalklig moet kry. Dit sluit selfs die perspektief van die persoon in wat op die oog af die verpersoonliking van boosheid is.

Hierdie gedagte, wat deur Voltaire se beroemde uitspraak: “I may not agree with what you have to say, but I will defend to the death your right to say it” verteenwoordig word en lank die hoeksteen van die vrye orde was, word al hoe meer in die kiem gesmoor deur ʼn politiek van goeie bedoelinge.

Dit gaan oor baie meer as bloot goeie ou ‘verdraagsaamheid’: die moontlikheid moet oopgehou word dat enigiemand – selfs die slegste mens op aarde – dalk ʼn punt beet kan hê.

Opkoms van die sosiale sfeer

Arendt noem die verbreking tussen die openbare en private die opkoms van die sosiale sfeer, die vreemde soort vermenging van die private en die publieke. Dit bied nie die beskerming van die private nie, maar ook nie die vryheid, nugterheid en regverdigheid van die openbare sfeer nie. Sosiale media is die verpersoonliking van hierdie probleem: aan die een kant is dit vol morsige emosionele uitinge, maar aan die ander kant het dit ook ʼn kleingeestige kultuur van aankla en uitskel.

(Foto illustrasie: Jonathan Raa / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Heeltemal te veel politieke kommentaar geskied volgens hierdie trant. Dit sal die wêreld juis veiliger vir demokrasie maak as kommentators minder op die psige of persoonlike lewens van figure soos Poetin of Trump fokus en na die ware politiek terugkeer. Deur Rusland bloot net as ‘sleg’ te beskou, word daar belangrike moontlikhede misgekyk, soos byvoorbeeld dat ons vandag met ʼn belangrike herrangskikking van mag te make het. Of dat Navo – wat gedurende die Koue Oorlog gevorm is met die spesifieke doel om Rusland teë te staan, dalk die einde van sy rakleeftyd bereik het.

Dalk is dit nie Rusland wat terughunker na die ‘goeie ou dae’ van die ‘glorie’ van die ou Sowjetunie nie, maar onsself wat terugverlang na Reagan se gemaklike beskrywing van die Sowjetunie as die Evil Empire. Die wêreld is egter nie ʼn Batman-strokiesprent vol helde en booswigte nie en daar is meer aan politiek praat as morele verdoeming.

  • Louise Mabille, PhD, is die skrywer van o.a. ‘Nietzsche and the Anglo-Saxon Tradition’ (Bloomsbury) en saam met Henk Stoker die redakteur van ‘The Morality Wars: The Ongoing Debate Over the Origins of Human Goodness (Fortress)’. Sy was ʼn Erasmus-beurshouer en doseer tans politiek en ekonomie aan die Afrikaanse Protestantse Akademie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Conraad ·

Baie goeie artikel – in gedagte, en in motivering vir sodanige gedagte – baie dankie.

Snaaks genoeg, net gister redeneer ek met myself: “Ek het nie van die ANC se Jay Naidoo gehou in die 1980’s en 1990’s nie – maar tog het hy partkeer goed geseg waarmee ek kon saamstem. Mens moet inderedaad leer om persoonlikheid en ‘n persoon se standpunte as apart te sien.”

Ek sou dink ‘n Donald Trump is in dieselfde kategorie: Alle hou mense glad nie van sy karakter / styl nie, maar tog noem (en doen) hy ‘n paar dinge wat respek afdwing.

Treurwilger ·

Puik artikel, Louise Mabille!

Dit voel toenemend, verál na die wêreldwye Covid- oorreaksie, asof die mensdom agteruit beweeg na donker Middeleeuse tipe heksejagte op enigiemand met ‘n alternatiewe mening.
Die “Media” sal hul sokkies moet optrek en besef dat ‘n reuse verantwoordelikheid op hul skouers rus.
Tans faal hulle in hul taak om ‘oopkop’ en ewewigtig oor sake te berig.
Persoonlik, géén vertroue meer voordat nie sélf navorsing gedoen is nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Joernaliste van nuusgroepe asook geleerde kommentators op radio en TV behoort hierdie artikel te lees. Die vermoë om onafhanklik en nugter oor ‘n saak te skryf en praat bestaan nie. Te lui om te dink en self vasgevang in uitgediende ideologië as jy my vra.

Marthinus W ·

Ek hou van hierdie artikel. Veral twee stukkies: sosiale media vandag het n “kleingeestige kultuur van aankla en uitskel”, en dit is nie Rusland wat terughunker na die “goeie ou dae” nie, maar eerder ons. Ons moet daarby voeg: mediadienste, soos bv NW24 en Vryeweekblad, wat openlik anti-Russies is, sonder enige klaarblyklike behoefte aan redelikheid.

Peter Lavelle, wat al 20 jaar in Rusland werk, vertel dat toe hy begin het om Rusland te bestudeer, hulle elke toespraak wat vanuit die Kremlin kom, moes lees en leer en verstaan. Vandag se sogenaamde “ruslandkenners”, volgens hom , lees slegs n opsomming daarvan in die New York Times of Washington Post, en dink dan hulle verstaan die Kremlin se aksies. Wyle Stepehen F Cohen het juis gese fopnuus is nie die groot probleem nie, maar eerder foutiewe narratiewe; aannames gebaseer op onkunde.

MT ·

Uitstekende inset deur ‘n oop-kop persoon!

Dankie vir die plasing, MM. En mag daar nog meer pennevrugte van Louise Mabille met ons gedeel word.

Louis ·

BEGRIP

Watter boeiende afleidings kan ons uit hierdie puik beredeneerde pleidooi maak om begrip te hê vir die behoeftes van die Russe én die Oekraïeners!

Trouens: “Die moontlikheid moet oopgehou word dat enigiemand – selfs die slegste mens op aarde – dalk ‘n punt beet kan hê.”

Hendrik ·

Gmpf – jy kan sê wat jy wil, maar daar is geen regverdiging of nuanse moontlik wanneer een land ‘n ander soeweryne land inval en sy grongebied afneem met geweldige lewensverlies van selfs burgelikes nie. Dis presies wat die Engelse en hulle meelopers (Australië, Kanada, Nieu-Zeeland) met die Anglo Boere-oorlog gedoen het, en presies wat Rusland nou met Oekraïne doen. Daar is geen plek vir genuanseerde bespreking nie. So-ook met Hitler. Die een is boos, die ander nie. As ek so deur hierdie kommentare lees, lyk dit my asof sommige mense alle dade van alle despote wil goedpraat, solank daardie ouens net erens iets goeds gedoen het. Trump is so ‘n voorbeeld. Die man is ‘n buffelagtige nasis wat bloot om mag te bekom, ‘n paar goeie beleidsligtings bevorder het – beslis nie uit sy eie oortuiging nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Zelinski het sy land vir ‘n pot lensie sop verkoop.

Treurwilger ·

Nie Louise Mabille óf enige leser keur oorlog goed nie.
Sommige van ons besef egter dat enige konflik oorsake het, en beriggewing moet dit in ag neem.

Jaco ·

Uiters vreemd dat die ANC so min of meer vir Rusland steun. Rusland wil basies die etnies-Russiese dele van die Oekraïne beset en beskerming teen sogenaamde slegte behandeling vanaf die Oekraïne.
Draai dié situasie nou om en pas dit op SA toe: ‘n ander land val SA aan om ‘n einde te maak aan die onderdrukking van wit mense en kleurlinge in die Wes-Kaap.
Die ANC is vol dubbele standaarde: blykbaar is Rusland se “beskerming” van Russe in die Oekraïne reg. Blykbaar is die skep van ‘n Palestynse staat reg. Blykbaar is die outonomie wat China aan Hong Kong en Macao gee ook reg. Net wit mense/nie-ANC-mense in die Wes-Kaap wat vra vir outonomie/selfregering is egter verkeerd, rassisties en “vol apartheid”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.