Hoe ontsnap SA die tirannie van verteenwoordigendheid?

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit

Die arbeidsjoernalis Jan de Lange het verlede week in Rapport Dirk Hermann daarop gewys dat hy nie die boodskap van regstellende aksie korrek oordra nie (klik hier om Hermann se oorspronklike toespraak te lees). “Enige wit mens wat iets oor regstellende aksie in ons land wil sê, moet begin deur daarop te wys dat die werkloosheidskoers onder wit Suid-Afrikaners die afgelope 20 jaar deurlopend onder 7% was… Dis volle indiensneming,” het De Lange geskryf.

Hier volg Dirk Hermann se reaksie:

Beste Jan

My oorlede oom Kosie het nie ʼn mediese fonds gehad nie en het doodsiek in ʼn staatshospitaal beland. Ek het hom daar besoek en dit was ʼn ontstellende ondervinding. Die reuk van urine en vuil beddegoed sal my altyd bybly. Pa het gereël dat oom Kosie na ʼn privaathospitaal oorgeplaas word. Die familie het betaal. Ek moes die oorplasing met ʼn groot gesukkel met die hospitaal onderhandel. Die hospitaalbestuur was ten volle getransformeer.

Ek het gehelp om oom Kosie uit die saal te stoot, terwyl die desperate oë van die ander pasiënte in die hospitaalsaal, twee wit en sowat 35 swart pasiënte, gesmeek het: neem my net saam. Ek het half naar van die paradoks van regstellende aksie weggestap – ʼn getransformeerde hospitaal met meesal swart pasiënte wat desperaat aan die transformasie wil ontsnap.

Ek dink ons moet meer reguit praat oor regstellende aksie. Regstellende aksie maak mense siek; dit vernietig munisipale dienslewering; dit sit ligte af; dit verjaag ons beste polisielede uit die diens en soos Frans Cronjé, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge sê, dit laat babas doodgaan. Dit is my probleem, Jan. Ek sien hierdie dinge, maar te veel mense bly stil. Ek wil dit uitroep, nie net namens die klompie wittes wie se reg op waardigheid en billikheid ondermyn word nie, maar ook namens die massa swart Suid-Afrikaners wat moet betaal vir die ideologie van verteenwoordigendheid.

Die probleem is dat regstellende aksie ontaard in ’n ideologie wat nie die werklikheid in ag neem nie. Alles het syfers geword. In die Wes-Kaap moet bruin Suid-Afrikaners van meer as die helfte in die provinsie tot minder as ’n tiende getransformeer word. Die SAPD neem nie dienslewering in ag wanneer Renate Barnard vir ʼn pos oorweeg word nie, net ras. Vir Jennila Naidoo word gesê die ideale syfer vir Indiërvroue op sekere offisiersvlakke is nul.

Die SAPD se rassesyfers lyk “beter”, maar die polisie se diens aan gewone Suid-Afrikaners verswak. Mense word ter wille van ‘n sogenaamde groot nasionale idee geoffer. ʼn Idee wat nog nêrens in die wêreld werklikheid is nie – ʼn samelewing wat oral dieselfde lyk. Die groot idee behels groot programme van sosiale manipulasie om die Suid-Afrikaanse samelewing te herontwerp, en as jou ras oorverteenwoordig in ʼn streek is, moet jy trek.

Jan, dit is nie regstellende aksie nie, maar ʼn stiksienige rasse-ideologie.

Een van die onderliggende faktore is Suid-Afrika se vaardigheidsaanbod. Die feit is dat die verspreiding van vaardighede en opleiding nie die nasionale rassedemografie weerspieël nie. Op die senior posvlakke in die staatsdiens is ʼn graad ʼn minimum kwalifikasie, maar slegs 49% van mense met grade in Suid-Afrika is swart. Op hierdie posvlakke in die staatsdiens beklee swart Suid-Afrikaners reeds 73% van die poste, ʼn persentasie wat ver bo die vaardigheidsaanbod is. Dit plaas dienslewering onder druk. Dit is hoegenaamd nie ʼn swart/wit vraag nie; die vraag is eerder of die vaardighede en ondervinding by die pos pas. Dit sluit ook nog nie eens in dat institusionele geheue; streekswerklikhede; individuele vaardighede en passie; en so meer ook vir ʼn effektiewe staatsdiens in ag geneem moet word nie.

Die aanname van die tirannie van verteenwoordigendheid is dat indien Suid-Afrika se werksmag op alle plekke en alle vlakke verteenwoordigend van die nasionale rassedemografie is, dan is ons ʼn gelyke samelewing. Dit is nie so eenvoudig nie. Indien die breë werkloosheidskoers van wit mense vanaand gelyk gestel word aan die gemiddeld in Suid-Afrika, sal slegs 553 000 poste vir swart Suid-Afrikaners oopgaan. Die breë werkloosheidskoers onder dié groep sal dan met ʼn geringe drie persentasiepunte van 39,9% tot 36,9% daal.

Die antwoord moet op ʼn ander vlak lê en dit is aan die insetkant van regstellende aksie, naamlik opleiding en ontwikkeling. Hieroor moet baie meer geskryf word.

Jan, ek praat met baie gehore en dikwels is die grootste deel van die gehoor swart. Die vraag is tereg hoe ons boodskappe verby mekaar se ingeboude filters oordra. Ek het nie ʼn kitsoplossing daarvoor nie, maar die antwoord is nie politieke korrektheid wat eintlik maar oneerlikheid is nie.

Die kwessie oor die simboliese erkenning van swaarkry van die verlede is iets wat internasionaal bespreek word. Ward Connerly, die swart Amerikaanse aktivis teen regstellende aksie, vra die vraag hoekom swart Amerikaners regstellende aksie steun al word hulle nie daardeur bevoordeel nie. Sy antwoord is dat die stelsel ʼn erkenning vir die swaarkry van die verlede is. Hy hanteer die probleem nie deur die stelsel in stand te hou nie, maar om swart Amerikaners van die stelsel te bevry deur ʼn reeks referendums wat regstellende aksie in sekere deelstate verban het. Ek is in die Connerly skool van denke wat daarin glo dat die verlede nie gebruik moet word om afhanklikheid van die stelsel te voed nie en dat die slagoffer/oortreder verhouding verbreek moet word, want dit is dodelik vir volwasse politieke debat.

Groete

Dirk

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Dirk, dankie vir die wetenskaplike benadering en die helder uiteensetting en die stryd sonder einde wat jul stry. Daar sal maar steeds die politiekgedrewe sluimerende revolusie bly. Nooit sal die minder gekwalifiseerde swarte vir die meer gekwalifiseerde blanke vrywillig vir n pos terugstaan nie, al besef hy al te goed dat daardie pos bo sy vermoe is. Veral as die regering hom ook nog rugsteun. Dit het temake met dit wat Ward Connerly se. Die persepsie van die swaarkry van die verlede. Hoe skeefgetrek en gedoktrineerd hierdie persepsie ookal is. Dan ook, geld spreek bykans in almal se lewe hard. Hoe oneties dit ookal bekom word, spreek nie almal ewe duidelik aan nie.

Egbert Bosman ·

Selfs as die ontoepaslike demografiese persentasies (ons wit onderhandelaars het die ANC se “eerbare” woord aanvaar sonder om die huidige wetsvertolkings enigsins te voorsien nie) toegepas word dan moet bv 8% van alle staatsdiensposvlakke, van direkteur-generaal ondertoe beklee word deur wittes. Dit word natuurlik nooit eers oorweeg nie.

Wat taal betref moet 5% van alle tenders vir staatskontrakte, insluitende alle tegniese en ingenieurskontrakte, in Afrikaans behartig word. Moet net nie die breedsprakige akdemici glo wat beweer dit is nie moontlik nie!

Ons kon en het enige siviele ingenieurskontrak in die verlede suksesvol in Afrikaans ontwerp, tenders aanvra en administreer. Dink net wat ‘n hupstoot dit nie vir Afrikaans sal wees nie as hulle selfs hulle rastellende aksie eerlik sou toepas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.