Hoe orkane en ekonome die ekonomie kan verwoes (video)

Die enigste ding waarvoor orkaan Sandy goed is, is om ons daaraan te herinner dat ekonomie as wetenskap in ʼn troostelose staat (a dismal state) is. Sandy bring vir ons artikels wat lui “Is Hurricane Sandy good for the economy? Experts disagree.” [my klem]

Ag nee, hier gaan ons al weer: een of ander ekonomie-professor in ʼn respektabele posisie skimp, of sê reguit, dat ʼn katastrofiese gebeurtenis ʼn netto ekonomiese voordeel bied. Miskien selfs meer as die verwoesting van ‘n orkaan, verwoes hierdie soort ekonome egter ‘n ekonomie.

 

dr-peter-morici

Dr. Peter Morici

Dit is wat dr. Peter Morici, professor by die Robert H. Smith Sakeskool van die Universiteit van Maryland in die VSA – ʼn topgerekende sakeskool  – doen. (Sien ook die ontstellende video hieronder). Hy reken dat die vernietigde kapitaal in die stormgebied vervang sal word met verbeterde, nuwe kapitaalvorme sodra die herbouprogram inskop – en op een of ander manier sal dit en die heropbou-aktiwiteite almal uiteindelik beter daaraan toe laat.

[A]n initial estimate of the economic losses imposed by Sandy is about $35 to 45 billion.

However, rebuilding after Sandy, especially in an economy with high unemployment and underused resources in the construction industry, will unleash at least $15-20 billion in new direct private spending–likely more as many folks rebuild larger than before, and the capital stock that emerges will prove more economically useful and productive.

[…]

[W]hen government authorities facilitate rebuilding quickly and effectively, the process of economic renewal, in many tangible ways, can leave communities better off than before.

Dr. Morici begaan hier die klassieke gebreekte ruit-denkfout. Hy ignoreer die konsepte ‘skaarste’ en ‘geleentheidskoste’ – dat hulpbronne beperk is en dat die aanwending daarvan vir een doel altyd geskied ten koste van aanwending vir ʼn ander doel.

Hulpbronne wat nou aan die heropbou van die ontwrigte ooskus van die VSA toegedeel moet word, is hulpbronne wat op ʼn ander manier aangewend kon word. Stel dit so: om nou ʼn beter-as-tevore-huis in New York te herbou, beteken dat daardie nuwe huis nie in Boston gebou kon word nie.

Die somtotaal? Een (1) nuwe huis na die orkaan, in plaas van twee (2) huise – een nuut en een oud – sonder die orkaan.

Verbeel jou net Orkaan Sandy het nooit gebeur nie, dan sou dr. Morici – as hy regtig in sy eie kwaksalwer ekonomiese medisyne geglo het – dalk sover moes gaan om die Amerikaanse ooskus sommer self te verwoes. As ek aan die ongeskonde weskus van die VSA gewoon het sou ek nou bekommerd gewees het, want nou-nou kom dr. Morici en probeer my huis vernietig om my eie beswil.

Waarskuwing: die video-onderhoud met dr. Morici hieronder is ontstellend. Moet onder geen omstandighede enige van dr. Morici se aanbevelings volg nie – jy gaan op straat eindig.

http://youtu.be/75oeOblJPQw

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.