Hoe ryp is Suid-Afrika vir die nosie ware demokrasie en integriteit?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Cyril Ramphosa se oorwinning vandeesweek het my laat dink aan ’n beroemde uitspraak uit 1877 van die Franse dramaturg Victor Hugo in sy Histoire d’un Crime (“Verhaal van ʼn Misdaad”): “Jy bied weerstand teen die inval van leërs; jy bied nie weerstand teen die inval van idees nie.”

Moontlik het Hugo die idee gekry by die romanskrywer Gustave Aimard in dié se roman Les Franc-Tireurs (1861): “Daar is iets wat sterker is as die brute mag van bajonette: Dit is die idee waarvan die tyd gekom en die uur geslaan het!”

Het dit iets vir ons in die Suid-Afrika van vandag te sê? Dit is nou die derde keer in Suid-Afrika se resente geskiedenis dat ’n idee waarvan die tyd gekom het ’n magtige groep aan die nek gryp en hom behoorlik gaffel.

Die eerste keer was vroeg in die 20ste eeu, toe die Britse imperialisme onoorwinlik gelyk het. In 1902 het die Britte die twee Boererepublieke letterlik in puin gelê en 10% van die Afrikaners vroegtydig die dood ingejaag, meestal in konsentrasiekampe. Die jongste navorsing wys dat 34 000 vroue en kinders gesterf het, meer dus as die 26 000 wat altyd gemeen is – en vergeet nie die sowat 20 000 swartes wat eweneens in die kampe dood is nie.

Die militêre oorwinning van die Anglo-Boereoorlog is opgevolg met ’n volgehoue aanslag op politieke, ekonomiese en kulturele terrein om die Afrikaner-identiteit heeltemal uit te wis. Dis nie dat die Britte soseer die ménse wou dood hê nie: Hulle wou wel die Afrikaners in voorbeeldige Engelse omskep, mense wat by wyse van spreke hul tee met die pinkie in die lug sou drink.

Maar dié hoogtepunt is ná die Eerste Wêreldoorlog opgevolg met die verval van Brittanje – en Europa – se mag. En dus het ’n idee ontwaak waarvan, om Hugo en Aimard te misbruik, die tyd gekom het – die idee van vryheid en die afbraak van kolonialisme.

Regoor die wêrelddele wat deur die Europese kolonialisme onderwerp was – Asië, die Midde-Ooste, Afrika – is die koloniale juk beveg en uiteindelik afgewerp. Die Derde Wêreld, soos die grootste deel van dié gebiede bekend geword het, het sy vryheid verkry.

In Suid-Afrika het dit op ’n eiesoortige manier gebeur. Eintlik was die opkoms van die Afrikanernasionalisme deel van die wêreldwye verset teen Europa se koloniale oorheersing, maar dit het gepaard gegaan met die behoud van ’n soort interne kolonialisme van die wittes teenoor die swartes.

Talle Afrikaner-intellektuele het die dillemma besef. Hoe kan ons ons as Afrikaners teen Britse oorheersing verset en tegelykertyd voortgaan met ons eie oorheersing van die swartes? het mense soos N.P. van Wyk Louw, Johan Degenaar, Willem Landman en andere gevra.

Die antwoord het in teorie maklik gelyk: Verdeel Suid-Afrika en laat die swartes in hul eie gebiede vry word. Die praktyk was egter weerbarstig, en die apartheidskip het hom te pletter geloop op die rotse van die demografie en die ekonomie voordat hy uiteindelik in 1994 gesink het.

Jy sou kon sê die Afrikaners het die idee waarvan die tyd gekom het ná 1948 verkeerd vertolk.

Maar ten minste het Afrikaner-intellektuele dit, al was dit slegs in teorie, besef en met ’n antwoord geworstel. Ander volke het in ’n soortgelyke slaggat as ons getrap.

Ek het die laaste maande intensief navorsing vir ’n akademiese krygshistoriese studie oor die Indonesiese Vryheidsoorlog (1945-’49) gedoen en onder die indruk gekom van die mate waartoe die Nederlanders van alle volke die tydsgees ná die Tweede Wêreldoorlog verkeerd gelees het: Nederlandse dienspligtiges het hulle skuldig gemaak aan dieselfde soort oorlogsmisdade as waaronder hul eie mense in die jare 1940-’45 onder die Duitsers gebuk gegaan het.

Uiteindelik moes egter ook die Afrikaners buk onder die voortsetting van die tydsgees van ná 1948 waarvan hulle aanvanklik die golf gery het. In 1994 het die ANC die mag oorgeneem.

Soos in 1902 was die Afrikaners leierloos, reddeloos en radeloos: Sonder ’n eie gebied, in die oë van die nuwe bewindhebbers bevlek met die erfenis van apartheid en sonder ’n nuwe oorlewingsplan.

Soos dit maar dikwels in sulke gevalle gaan, het die ANC ’n narratief geskep van ’n moreelsuiwer stryd teen ’n misdaad teen die mensdom en vir ’n voorbeeldige demokrasie. Historiese navorsing vlek dit toenemend as ’n verwringing van die werklike verlede oop, en lê terselfdertyd die fondamente bloot van die morele verval van ’n beweging wat homself tٞé lank verabsoluteer het.

En dus het die ANC vasgeval in die stinkende moeras van arrogansie, magsmisbruik, diefstal en korrupsie, met president Jacob Zuma en sy luitenante wat die land soos ’n egte Mafiabaas vir eie gewin plunder. Erger nog, die ANC is omgekoop deur ’n bende vreemdelinge: Die familie Gupta wat steel en gryp waar hulle kan terwyl hulle nog kan.

Maar dit wil, baie versigtig, begin lyk of ’n nuwe idee se tyd gekom het. Ramaphosa se oorwinning kan dalk – let wel, dálk – ’n eerste swaeltjie van ’n komende lente wees.

Dit sou verkeerd wees om in Ramaphosa ’n engel van reg en geregtigheid te sien. Daarvoor is hy té medepligtig aan die brute geweldpleging waarmee die ANC Suid-Afrika in die jare 1990-’94 gegysel het. Dink ook aan die bedenklike rol wat hy in die Marikana-massamoord gespeel het.

Hy word nou bowendien die leier van ’n diep verdeelde beweging. Talle van die prominente ANC-leiers is diep in Zuma se misdadigheid ingetrek, en ’n mens moet verwag dat hulle sal klou vir al wat hulle werd is.

Dit is dus nie dat ’n mens soseer ’n dramatiese koerswysiging in die ANC self moet verwag nie. Dis eerder dat die ANC stadigaan – en dalk vinniger – sal uiteenval en verkrummel.

Dit kan ander politieke kragte in staat stel om ’n eerliker staat te skep. Ofskoon, ook dan sal die leiers van welke party(e) ook al aan bewind is, met arendsoë dopgehou moet word.

In Suid-Afrika is die tyd ryp vir ’n nuwe idee. Uiteindelik hang dit af van die publiek of daardie nuwe idee – egte demokrasie en integriteit – ingang kan vind of nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Veritas ·

Rerig Leopold? ‘Resente’? Is ‘onlangse’ nie ‘n beter woord om te gebruik nie?

Ou Ware Demokrasie Integriteit Erfvark van Droomland ·

Die nosie (denkbeeld) van “ware demokrasie en integriteit” is ‘n onhaalbare nosie of drogbeeld. In die hart van elke mens is die saad van alle en verskillende soorte sondes. Afhangende die regte tyd en omstandighede kan van daardie saad ontkiem. Dan is daar ook die natuurwet van oorlewing, veral in ‘n multikulturele omgewing: mense skaar hulle by hul “soort” in ‘n poging om hul kans op oorlewing en ‘n beter lewe te verhoog. Daar is net één aardse oplossing: elke mens moet ‘n eerbare volhoubare werk (loopbaan) hê om sy lewensbrood op ‘n eerbare wyse te verdien. Ongelukkig het almal nie dieselfde talente ontvang nie. Miskien moet die gebruik van vererwing afgeskaf word sodat almal by geboorte vanaf dieselfde wegspringstreep die lewe ingaan.

Jerry ·

Die nuwe idee met of sonder Ramaphosa is n sosialistiese, kapitalistiese demokrasie. Die enigste integriteit tans in Suid-Afrika is die grondwet en die howe wat die brose demokrasie beskerm. Sou die ANC vir NDZ as president verkies het sou eers die howe en dan die grondwet gesneuwel het. Gelukkig vir die Afrikaner is n ANC leier gekies wat dit nie gaan toelaat nie. Wanneer Ramaphosa se termyn as president verstryk sal die Afrikaner weer hoop en bid op n leier wat die grondwet sal eer en beskerm. Die Afrikaner sal wys wees om vriende te maak met n ANC leier wat die grondwet eer en beskerm. Met die skrywer se verwysing na die Afrikaner as leierloos en sonder n eie grondgebied lewer ek graag die volgende kommentaar: Die Afrikaner is nie leierloos nie, wel in die minderheid. Ons leier is Jesus en omdat Jesus ons leier is, is elke Afrikaner n leier in eie reg tot dit waarvoor elkeen van ons geroepe is. Suid-Afrika is die Afrikaner se geboorte land, maar die wereld is ons oester. Met Jesus as ons leidsman het die Afrikaner ongelooflik baie opsies. Inisiatiewe in Suid-Afrika en in die buiteland om n toekoms te skep vir die Afrikaner nageslagte is n voorvereiste. Ons moet nie in hierdie tyd net diep spore in Suid-Afrika trap nie. Dit kan die Afrikaner wat dit doen duur te staan kom.

Britte vs ANC ·

Ek stem saam met jou opmerking dat die Britte nie soseer die Afrikaner dood wou hê nie . . . maar eerder wou Angliseer.

Feit is dat die Afrikaner nog NOOIT in sy geskiedenis, te kampe gehad met ʼn georkestreerde aanslag om hom totaal uit te wis nie.
Dís die verskil tussen die Brit se onderdrukking & die ANC/EFF stilswyende goedkeuring vir die afgryslikste & brutaalste plaasmoorde.
Nuutste geval is Riaan Scheepers wat brutaal aangerand is, terwyl sy plaashulp net vas gemaak is. Riaan is so pas oorlede

Ek is nie bewus daarvan dat Ramaphosa hom ooit uitgespreek het teen plaasmoorde soos Mosiuoa Lekota of Mangosuthu Buthelezi nie . . . wél dat hy die blanke stadig soos ʼn padda in ʼn pot wil kook

Ja né ·

Ek het sopas besef: die 2 de aanvaller was die plaashulp self. Hy was nooit vasgemaak nie!

Jacques venter ·

Baie geluk Dr Leopold Scholtz.
Wat n deurdagte objektiewe beeld van die Suid Afikaanse situasie.

Dis verblywend om te sien dat iemand die waarheid voor opstel nieteenstaande populêre sentente

alwyn burger ·

Veritas hallo!
Resente is in die haak
Die woord het sy oorsprong in Latyn…..soos die meeste sg. Engelse woorde. Engeland was vir eeue ñ Romeise kolonie en talle sg. Engelse is van Romeinse afkoms(baster Italianers as jy wil!)

Josef ·

Leopold, jy sê tereg dat die idee om SA op te deel en die swartes in hul eie gebiede vry te laat word toe nie gewerk nie. Ek sal regtig graag wil weet waarom Lesotho tot op hede ‘n onafhanklike land mag wees maar die Transkei, reg langsaan , dit nie mag wees nie? Ek sal dit werklik waardeer indien Leopold, of ‘n ander persoon, hierdie vraag kan beantwoord. Dit pla my al vir jare.

Eish ·

Lesotho het sy onafhanklikheid van Brittanje gekry.
Die grondgebied is nooit deur of die Boere of die Britte in geheel verower nie. Daarvoor was Mosheshwe te uitgelsape. Dit was nooit deel van Suid Afrika nie, daarom het die vorige regering en die huidige geen seggenskap daaroor nie. Dit was aanvanklik baie groter, tot by die Vaalrivier, maar die dele het in die slag gebly.

Leopold Scholtz ·

Josef, Eish se antwoord is korrek en ek kan my daarmee vereenselwig.

Rupert Ashford ·

Leopold, om nou ‘n ander “groot Afrikaner” aan te haal: Aan die einde van die dag gaan dit nie oor die ANC of hulle kleptokratiese leier nie, maar wel oor die menigtes wat bereid was om vir daardie organisasie/persoon te stem en gemaklik was daarmee om daardie organisasie/persoon as hulle verteenwoordigers aan te stel. Jou “nuwe idee” gaan min of meer soos Zimbabwe uitdraai – ten minste helfte van die verloopte ANC ondersteuners gaan na ‘n selfs meer ekstreme groepie (die rooi overalls) gaan en met die geweldig jong bevolking in SA en waar jongeres gewoonlik meer vatbaar is vir ekstreme idees wat selfs met geweld afgedwing kan word gaan die nuwe idee nie ‘n goeie een wees nie. Afrika draai homself nie om as hy eers op hierdie paadjie van selfvernietiging is nie.

Boy van die Suburbs ·

Ekonomiese & Sosiale verval is en bly ons voorland! Punt!

Eish ·

Tydens n onderhoud op TV tussen Hannalie Retief en Dave Pepler, die befaamde natuurkundige, het hy die volgende te sê gehad oor Afrika en Suid Afrika.
Gedagtes en denkvermoë word gestuur vanuit die denker se woordeskat, dus hoe meer woorde in n taal, hoe beter die denkvermoë.
Geen ontdekking uit Afrika dié afgelope paar eeue nie, nie eens n ritssluiter nie.
Hy het nie veel hoop vir Suid Afrika se politieke situasie nie.
Dit is n geleerde en berese man. Wetenskaplik in sy aanslag en ontleding en eerlik in sy assessering sonder verwatering van die feite deur politieke korrektheid.
In Afrika, is nuwe idees n konsep met dodelike gevolge vir die draer.
Afrika is n status quo kontinent. Waar die meerderheid die rigting bepaal en die minderheid die struikelblok is.
Selfs Mbeki met sy Engelse skoling kon nie die tydstoets oorleef nie.
Ons as blanke Afrikaansprekendes, is in ons tyd van verdrukking.
Net n Goddelike ingryping kan ons red.

Nouja ·

Eish, jy klink amper soos Wittgenstein en die gebruik van die woord om jou uit te druk. Hoe ons hierdie onderdrukkende gemors moet hanteer waarin ons ons tans bevind, vind ek Seneca nogal heel bruikbaar: Moenie jou opwerk oor goed waaroor jy geen beheer het nie; draai die wang vir nog ‘n klap en vat jou pak en aanvaar jou lot met waardigheid.

Marthinus Willemse ·

Eish, “Geen ontdekking uit Afrika”? Net so vinnig, `n paar. Dolosse word sover as die Oekraïne gebruik. Amerikaanse populêre musiek, soos jazz, rock, soul, gospel, blues, het almal `n genetiese oorsprong in slawemusiek – van die slawe wat van Afrika oorgevat is. Die banjo het in Afrika ontstaan. Mark Shuttleworth het briljante sagteware geskryf. Wie het die eerste hartoorplanting gedoen? Wie het die “gatsometer” (tellerometer) ontwerp? Sonder om vervelig te wees, sluit ek af: dit word wetenskaplik aanvaar dat die mens, homo sapiens, in Afrika ontstaan het, en toe regoor die aardbol versprei het. Bietjie tong in die kies kan ons spog dat die moderne mens `n Afrika-uitvinding was. En soos my gunsteling Jedi, Qui-Gon Jinn altyd gesê het, “The ability to speak does not make you intelligent”.
Oor goddelike ingryping: God het deur Adam en Eva aan ons die mag gegee om die aarde te bestuur. Ons kannie vir God sit en wag nie; ons moet doen wat hy ons opdrag gegee het om te doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.