Hoe sien ek ʼn tragedie kom?

Die toneel Woensdagmiddag by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Die toneel onlangs tydens ‘n gyselaarsdrama by The Meadows-veiligheidskompleks in die ooste van Pretoria. Foto: Kent Williamson

Deur Dr. Jerrie Bezuidenhout

Die onlangse gyselaarsdrama in ʼn stil woonbuurt van Pretoria het ons almal ontstel en daartoe bygedra dat ons sit met onsekerheid oor ons bure se stabiliteit. In werklikheid kom sulke voorvalle nie dikwels voor nie – die meeste daarvan in gesinne waar geweld of aggressiewe optrede ʼn gewoonte is.

Nietemin het ons in Suid-Afrika ʼn kultuur dat ons nie in ander mense se sake inmeng nie. Maar wat staan my te doen as ek bewus raak van die moontlikheid dat so iets kan gebeur met iemand in my huis of in ʼn gesin in my woonbuurt?

Die geheim lê daarin om iemand se gedrag te ken en om veranderinge in sy of haar gedrag raak te sien. Mense tree op ʼn sekere manier op en mettertyd maak dit hulle voorspelbaar. Iemand wat gewoonlik glimlaggend groet en wat een môre kop na onder loop en binnensmonds groet wys vir almal dat iets nie lekker is nie. Dit is dan dat jy vra wat verkeerd is, probeer help of die persoon ruimte gee.

Iemand wat op pad is om uitbarsting te kry se gedrag kan leidrade bied: Eers groet so ʼn persoon nie en dan begin hy of sy skoor soek of baklei. Die onmin versprei na meer mense en gaan gewoonlik oor onbenullighede. Dan begin die uitbarstings erger raak met dreigemente van geweld of fisieke geweld wat vererger. Onbeheerste uitbarstings kom met die loop van tyd voor. Die sneller van die geweld is gewoonlik nie sonder die geskiedenis duidelik nie en kan voorkom asof dit uit die bloute gebeur het.

Geweld in gesinne kan anders lyk: Die persoon wat ʼn gewoonte het om uitbarstings te kry, kry dit al hoe meer en met verhoogde intensiteit. Die fokus van die uitbarstings kan ook verander van die hele gesin na een persoon of uitbrei van een persoon na die hele gesin.

Mense sien of hoor dikwels van geweld, maar wil uit vrees nie betrokke raak nie.

Nogtans het ons die grootste kans om iemand se gedrag te verander of te beïnvloed as daar ʼn verhouding bestaan. So ʼn persoon kan ook ingelig word dat mense bewus is van sy of haar gedrag en dat dit nie aanvaarbaar is nie.

Wanneer ʼn persoon ʼn gevaar vir hom/haarself of vir die samelewing is, kan die polisie gevra word om te kom help om die risiko te verminder. Hulle kan ʼn persoon in hegtenis neem of na ʼn hospitaal neem waar hy/sy geëvalueer en behandel kan word. Sielkundiges kan ook help om so ʼn persoon te leer om sy of haar emosies en woede beter te verstaan en te bestuur.

Dikwels word so ʼn persoon verwys na ʼn program waar hy of sy leer om sy of haar woede te beheer en beter te hanteer.

Moedig die slagoffer van geweld aan om hulp te soek by familie, bure, onderwysers, ʼn maatskaplike werker of ʼn huisdokter. Hulle kan ook ʼn hofinterdik kry wat die oortreder verplig om binne sekere reëls op te tree (soos dat hy of sy nie handgemeen mag raak nie en ook nie nader as ʼn sekere afstand van jou mag kom nie). Wanneer die interdik oortree word, word die persoon in hegtenis geneem en die hof bepaal dan die verloop van sake.

Ons is mekaar se grootste hulp en ondersteuning om geweld vroeg raak te sien en te probeer hanteer in ons gemeenskappe. Die meeste mense wil graag in vrede saamleef en reageer goed op hulp wat met respek aangebied word.

  • Dr. Jerrie Bezuidenhout is die direkteur vir mediese dienste by Vista-kliniek in Centurion, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

M ·

Hofinterdik??? En wat dink jy doen die SAPD as jy hulle skakel na ‘n hofinterdik…………net mooi niks!!!! Dis hoekom daar nou onskuldige mense dood is. Di eou het op sy dat gele en die mense in die straat geskiet.

Oosie ·

Dr. wat u se is so belangrik. Ons is so geneig om onbetrokke ons gang te gaan dat ons soms die gevare (of kruitvate) miskyk. Dit is belangrik om ons te herinner hoe om tewerk te gaan wanner ons lont ruik. Dankie.

Wicus ·

Dankie Dr, hierdie is prakriese raad.

M, baie waar, maar ons moet gebruik wat ons het tot daar iets beters is, ons moet aktief daarvoor werk. Tog is daar polisie wat hulle sout werd is.

Maroele, daar is duideluk ‘n behoefte aan ‘n hofie lewensvaardighede, so-iets,

John ·

Ongelukkig pak mense dikwels saam in groepe en teiken dan so ‘n persoon op ‘n meerwaardige beterweterige wyse wat die ongelukkigheid en angs van die berdreigde verhoog. Die besture van meenthuiskomplekse is van die mees teateale hoogwaardige en teisterende ooms met baie reels en regulasies. Hulle moet ook hul hand in eie boesem steek… maar sal nooit!

SkarrelKind ·

John, ek stem saam met jou. Ek praat nie enige iemand se optrede goed nie, maar dis moeilik as mense in ‘n “laer” saam woon. Daar is baie reëls en openbare plekke word gedeel en daar is partymaal kleinlikheid oor dinge wat tot konflik lei. Foeitog, ek dink as mens klaar “issues” het dan maak die dinge dit erger.

En die polisie daag wel baie keer op vir ‘n veiligheidsbevel. Mens kan dinge ook nie los nie, gaan kry ten minste een en hou maar aan bel tot iemand uitkom, of hoe?

Agie ·

Ek is gewoonlik die koponderstebo – ene, my bure is orraait!

Wiebo ·

Twak, die polisie kan en sal nie help as iemand n gevaar vir homself of ander is nie. Ek het n beskermingsbevel teen iemand wat dreig om my en my kind dood te maak. Polisie kan niks doen of optree alvorens die persoon iets daadwerkliks doen nie. Wysig julle berig, dit is vals.

Dr Jerrie ·

Ek besef ons bly in n land waar al die dienste nie werk soos dit moet nie, maar daar is SAPD stasies en personeel wat wel probeer om hul werk te doen. As ons nie n verwagting het dat instansies hul werk moet doen en druk bly plaas op staats instansies om hul werk te doen nie gaan niks gebeur of verbeter nie.
Die gemeenskappe in meenthuis komplekse is baie interressant omdat die reels gevorm en toegepas word deur die mense wat daar bly. Ons lewenstyle wat so gefragmenteerd en besig is, maak dit moeilik om met kommunikasie probleme uit te sorteer en ons probeer dit vervang met reels. Daar was al goed gewys dat as ons slegs volgens reels leef dat niks kan werk nie. ( die “work to rules” stakings in Brittanje onder andere). Waar reels met respek en kommunikasie prosesse geinterpreteer en toegepas word, leef mense meer gemaklik met mekaar saam.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.