Is regstellende aksie, prestasie en minderwaardigheid verbind?

pres-thabo-mbeki-en-dr-pieter-mulder

President Thabok Mbeki en dr. Pieter Mulder. Foto: Verskaf.

In meer as een parlementêre toespraak ná 1994 moes ons hoor die grootste skade wat apartheid aangerig het, is die feit dat dit mense se waardigheid aangetas het en hulle minderwaardig laat voel het. Hul menswaardigheid (dignity) moet daarom herstel word.

As Afrikaner het ek daarvoor begrip en glo ek ons kan help. Brittanje, en baie plaaslike Engelssprekendes, het vanaf 1806 vir langer as 150 jaar uit hul pad gegaan om Afrikaners minderwaardig te laat voel en só hulle menswaardigheid aangetas. Ek was meer as een keer persoonlik aan die ontvangkant waar na Afrikaners as “Rock-spiders” en na Afrikaans as ’n “uncivilised language” verwys is.

Britse kolonialisme is in die negentiende eeu met geweld op die Afrikaner en op baie ander volke afgedwing. Dit was skaamteloos gebaseer op “Anglo-Saxon racial superiority”. Britse leiersfigure in Suid-Afrika, soos Cecil John Rhodes en Alfred Milner, het sonder om te huiwer hul meerderwaardigheid oor al die ander inwoners van Suid-Afrika uitgespel. “Home ” was nie Suid-Afrika nie, maar ‘n geromantiseerde Engeland, bewoon deur “die beste, die menslikste en die eervolste ras ter wêreld,” soos Rhodes dit beskryf het.

To be born an Englishman is to win first prize in God’s lottery,” het Rhodes blatant gespog.

Milner het homself as ’n “British Race Patriot” beskryf. “I am an Imperialist… because I am a British Race Patriot” was sy credo.

Die woord “boor[1]” is ’n erkende Engelse woord. Dit is teen hierdie agtergrond wat die begrip “Boer” geensins ’n bewonderingswoord in Engels was nie. In Engels het “boor” ’n beledigende betekenis soos die “k-woord” van vandag. In die vorige eeu en met die Anglo-Boereoorlog is dit dan ook so deur die Britte gebruik. Die Oxford Dictionary definieer “boor” as ‘n neerhalende of verkleinerende woord –  “derogatory word: a rough or rude or insensitive person, scum

Afrikaners het die Britse beledigings geïgnoreer en die woord “Boer” omskep na ’n eretitel. Eleanor Roosevelt, presidentsvrou van die VSA, het gesê: “Niemand kan jou minderwaardig laat voel sonder jou toestemming nie.”

ANC-lede kan dit gerus ook onthou.

Die ryk Sammy Marks het in Paul Kruger se tyd ’n belangrike Britse lord aan Kruger as president kom voorstel. As Engelsprekende het Sammy die gesprek getolk. Nadat Sammy die lord voorgestel het, het dit gelyk of Kruger nie met die hoë besoeker beïndruk was nie. Om groter indruk te maak, het Sammy verder opgenoem watter ampte die lord in Brittanje al beklee het en hoe belangrik sy voorvaders was. Aan die einde van die lofrede het president Kruger droogweg opgemerk: “Sê vir die meneer dat ek ’n veewagter was en my vader ‘n boer.”

In die vorige eeu het die Afrikaner rede gehad om minderwaardig teenoor die Engelse te voel.

In die dertigerjare van die vorige eeu het meer as die helfte van alle Afrikaners nie eens tot st. 6 (graad 8) geleer nie. Slegs 3% is na ʼn universiteit.

So was daar in 1937 slegs 20 Afrikaner-ondernemings in Johannesburg. In 1948, toe Afrikaners die bewind oorneem, was Afrikaners ekonomies dus nog ver agter die Engelssprekendes.

Hoewel Afrikaners byna 60% van die wit bevolking uitgemaak het, het hulle net 29% van die totale persoonlike inkomste verdien. Waar die Engelse verstedelik was, het ’n derde van Afrikaners hul inkomste op plase verdien. In die stedelike gebiede het slegs 27% Afrikaners witboordjiewerk gehad. Die res was werkersklas in ambagte of het ander vorme van handearbeid verrig. Die Engelssprekendes was die base wat die ekonomie beheer het.

Hoe lig jy jouself op uit so ’n situasie? Hoe herwin jy jou menswaardigheid en skud die gevoel van minderwaardigheid af?

Om ’n slagoffer van jou omstandighede te speel en vir hulp te wag, soos die ANC tans doen, help nie. Jy presteer jouself uit hierdie situasie uit en herwin só outomaties jou menswaardigheid.

Ná die Ekonomiese Volkskongres van 1939 was daar ’n skerp toename in Afrikaner-sakeondernemings en -ondernemingsgees. Volkskas wat in 1937 as Afrikanerbank begin is, en Santam en Sanlam wat sedert 1917 bestaan, het vinniger begin groei. Afrikanertrots het begin terugkom.

As ’n belangrike verdere stap het Afrikaners ná die 1948-bewindsaanvaarding aangedring op moedertaalonderwys.

Met die oog op Afrikaanse onderwys is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir, byvoorbeeld, die mediese-, tegniese- en sakewêreld, die ruimte en vele ander gebiede. Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste taalvlak, naamlik, Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.

Die aantal Afrikaanse skole het vinnig toegeneem. Waar in die middelvyftigerjare slegs 16% van die Afrikaners verder as st. 8 (graad 10) geleer het, was hierdie syfer tien jaar later 38%. Die Engelssprekendes se syfer was 43%.

Afrikaners het die Randse Afrikaanse Universiteit vier kilometer vanaf die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gebou en só simbolies alle tekens van minderwaardigheid afgeskud. Anders as die ANC, het Afrikaners ná 1948 nie die regeringsmag gebruik om Wits van ’n Engelssprekende universiteit na ’n Afrikaanse een te “transformeer” nie. Dit is wat die ANC sedert 1994 doen.

’n Paar maande ná die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 het Arthur Keppel-Jones, ’n geskiedenisdosent aan Wits, massiewe Engelse emigrasie, grootskaalse swart opstande en die induiestorting van alles voorspel.

In die staatsdiens, wat moes dienste lewer, was byna 80% van die senior staatsamptenare by die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 Engelssprekend. Dit terwyl Engelssprekendes slegs ongeveer 40% van die wit bevolking uitgemaak het. Hulle was dus heeltemal oorverteenwoordig in die staatsdiens.

Daar was geen massiewe “suiwering” van Engelssprekende staatsamptenare ná 1948 soos dikwels beweer word nie. (Hermann Giliomee, Die Afrikaners, p. 444). Engelssprekendes het nog ’n dekade lank oorverteenwoordig gebly in die hoër range van die staatsdiens. Met ’n geleidelike oorname is verseker dat kundigheid en ervaring nie verlore gaan nie en dat daar nie ’n grootskaalse induiestorting van alle dienste was nie. Hiermee is Arthur Keppel-Jones verkeerd bewys. Eers in 1960 het die amptenare in hierdie hoër range die wit bevolkingsamestelling weerspieël.

By ’n skemerkelkfunksie kort ná 1994 gesels ons as parlementslede met Thabo Mbeki. Hy kla, as nuwe adjunkpresident, oor sekere regeringsprobleme wat hulle ondervind.

Ek reageer deur te sê dat hulle nie van hul senior staatsamptenare moet ontslae raak nie. Daardie senior staatsamptenare se kennis en ervaring kan nie gekoop of oorgedra word nie. Hulle bepaal grootliks of ’n minister of president suksesvol is.

Mbeki reageer deur te sê dat die meeste amptenare Afrikaners is. “Hulle is nie ANC-ondersteuners nie en sal ons saboteer.”

Ek verskil van hom en verduidelik waarom.

“Hulle is staatsamptenare. Hulle is geleer om die regering van die dag te dien – of dit nou ’n Nasionale Party- of ANC-regering is. Daardie staatsamptenare gaan eerder vir my as opposisielid kwaad maak omdat hulle ANC-opdragte so stiptelik gaan uitvoer,” reageer ek.

Mbeki verstaan duidelik nie wat ek probeer oordra nie. Ek het nie eens bygevoeg dat die meeste van daardie Afrikaner-staatsamptenare nie die moed gaan hê om die nuwe regering te saboteer nie. Hulle het elkeen ’n huissubsidie en ’n pensioen by aftrede wat hulle beslis nie nou wil verloor nie.

In opdrag van Mbeki moes elke staatsdepartement en alle staatsondernemings, soos Eskom, jaarliks aan die parlementêre portefeuljekomitees kom verslag doen oor hoe hulle met transformasie vorder. Hier is hulle jaarliks berispe en teruggestuur om hul personeel se rassesamestelling te gaan verbeter. Volgens hierdie Mbeki-transformasie-ideologie was rasseverteenwoordiging baie belangriker as doeltreffendheid.

Gou het dit in die Mbeki-, maar veral in die Zuma-tydperk, verder verskuif van rasseverteenwoordiging na kaderontplooiing. Dit het beteken dat slegs ANC-lojaliste nou aangestel is, ongeag hul kennis of ervaring. Nie-ANC swart persone se werk het nou ook in die slag gebly. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van ondoeltreffendheid getransformeer is. Ons sien dit in die getuienis voor die Zondo-kommissie en in die krisisse by Eskom en ander staatsinstellings.

Mbeki was bang vir Afrikaner-sabotasie. Toe saboteer sý transformasieproses die staatsdiens en staatsinstellings ernstig. Miskien onbedoeld, maar hy was kortsigtig. Ek wonder of Mbeki dit vandag so insien?

Van 1994 tot 2002 het 10 200 wit mense Eskom verlaat. In antwoord op ’n vraag van dr. Pieter Groenewald (VF Plus-leier) in die parlement, het die minister geantwoord dat vanaf 2008 tot Maart 2011, nóg 455 ingenieurs, waarvan 110 wit mense, by Eskom bedank het. As gevolg van kaderontplooiing sien die opgeleides (wit of swart) nie kans om in so ’n atmosfeer te werk nie. In dieselfde tydperk het 342 tegnici bedank. Dit alles terwyl Eskom se personeelkorps oorweldigend toegeneem het.

Die ongelooflikheid hiervan is dat hierdie proses steeds voortgaan. Volgens Eskom se jongste regstellendeaksieplan moet ʼn verdere 1 308 gekwalifiseerde wit werknemers teen Maart 2020 uit die diens wees.

Geen organisasie kan so ’n groot verlies aan institusionele geheue en vaardighede bekostig nie. En dit is allermins ’n politieke- of rasse-argument – bloot ’n eenvoudige bestuursbeginsel wat in Japan en Nigerië ook geld.

Eleanor Roosevelt is reg dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming nie. Sukses en prestasie is egter net so belangrik. Afrikaners het met harde werk en prestasie hul waardigheid herwin en die gevoel van minderwaardigheid oorkom.

Prof. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat het gesê Afrika se grootste stryd is ‘n stryd om sy selfrespek te herwin.

Ek stem daarmee saam. Sukses en prestasie sal hiermee help. Ongelukkig lei mislukking daartoe dat die gevoel van minderwaardigheid versterk word en nie afgeskud word nie. As president Cyril Ramaphosa lesse uit die Afrikanergeskiedenis leer, mag hy slaag waar Mbeki en sy voorgangers duidelik misluk het.

Maar dan moet hy presteer en die Eskom-krisis en ander probleme suksesvol oplos.

Voetnota:

[1] Volgens Pharos beteken “boor” die volgende:
boor, n. lomperd, lummel, (gom)tor, onbeskofte vent, buffel, ghwar, hierjy, rouriem
boor·ish agterlik, boers, ongepoets, onopgevoed, onbeskof, kru, torrerig

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
marco polo

Dankie Pieter, jou artikel laat mens weer trots voel om ‘n Afrikaner en Boer te wees. Ek was een van Mbeki se transformasieslagoffers in die negentigerjare en beskou dit as een van die beste dinge wat ooit met my gebeur het, want dit het my loopbaan dramaties en met groot sukses verander.

Veritas

Vir die eerste keer stem ek met dr Mulder saam. Daar is geen rede dat ‘ n Boer, minderwaardig moet voel nie. Ons is ‘n nasie wat, in die verlede, groot hoogtes bereik het en moet nie toelaat dat die huidige aanslag teen ons, ons van ons selfversekerheid ontneem nie. Wees trots op jou Christelike agtergrond, taal en kultuur en bou aan ‘n toekoms hier in Afrika waar ons hoort. Die Boerevolk is hier gebore en sal hier bly ten spyte van die aanslag teen hom . Hou in gedagte dat daar ‘n rede is waarom ons nie welkom hier… Lees meer »

Stephan de S

Dankie, dit was nou lekker en insiggewend om diè artikel , gestaaf met feite , en geskryf deur n ervare en bewese persoon, te lees. Het onlangs sy nuwe boek gelees en het veel daaruit geput.

Anneli

Absoluut in die kol artikel! Dankie Pieter.

Gert

Onbeskryflik goed!
Baie van hierdie dinge het ek self beleef. Toe ek meer as 40 jaar gelede as ‘n jong ingenieur ‘n lesing by die Spoorweghoofkantoor gelewer het, het ek na die tyd gehoor een van die Engelse ingenieurs sê vir die baas; “And you said no Afrikaner will ever become an engineer” .
Ons het op ‘n eerbare manier onsself verbeter, en dis rede om trots te wees.