Is regstellende aksie, prestasie en minderwaardigheid verbind?

pres-thabo-mbeki-en-dr-pieter-mulder

President Thabok Mbeki en dr. Pieter Mulder. Foto: Verskaf.

In meer as een parlementêre toespraak ná 1994 moes ons hoor die grootste skade wat apartheid aangerig het, is die feit dat dit mense se waardigheid aangetas het en hulle minderwaardig laat voel het. Hul menswaardigheid (dignity) moet daarom herstel word.

As Afrikaner het ek daarvoor begrip en glo ek ons kan help. Brittanje, en baie plaaslike Engelssprekendes, het vanaf 1806 vir langer as 150 jaar uit hul pad gegaan om Afrikaners minderwaardig te laat voel en só hulle menswaardigheid aangetas. Ek was meer as een keer persoonlik aan die ontvangkant waar na Afrikaners as “Rock-spiders” en na Afrikaans as ’n “uncivilised language” verwys is.

Britse kolonialisme is in die negentiende eeu met geweld op die Afrikaner en op baie ander volke afgedwing. Dit was skaamteloos gebaseer op “Anglo-Saxon racial superiority”. Britse leiersfigure in Suid-Afrika, soos Cecil John Rhodes en Alfred Milner, het sonder om te huiwer hul meerderwaardigheid oor al die ander inwoners van Suid-Afrika uitgespel. “Home ” was nie Suid-Afrika nie, maar ‘n geromantiseerde Engeland, bewoon deur “die beste, die menslikste en die eervolste ras ter wêreld,” soos Rhodes dit beskryf het.

To be born an Englishman is to win first prize in God’s lottery,” het Rhodes blatant gespog.

Milner het homself as ’n “British Race Patriot” beskryf. “I am an Imperialist… because I am a British Race Patriot” was sy credo.

Die woord “boor[1]” is ’n erkende Engelse woord. Dit is teen hierdie agtergrond wat die begrip “Boer” geensins ’n bewonderingswoord in Engels was nie. In Engels het “boor” ’n beledigende betekenis soos die “k-woord” van vandag. In die vorige eeu en met die Anglo-Boereoorlog is dit dan ook so deur die Britte gebruik. Die Oxford Dictionary definieer “boor” as ‘n neerhalende of verkleinerende woord –  “derogatory word: a rough or rude or insensitive person, scum

Afrikaners het die Britse beledigings geïgnoreer en die woord “Boer” omskep na ’n eretitel. Eleanor Roosevelt, presidentsvrou van die VSA, het gesê: “Niemand kan jou minderwaardig laat voel sonder jou toestemming nie.”

ANC-lede kan dit gerus ook onthou.

Die ryk Sammy Marks het in Paul Kruger se tyd ’n belangrike Britse lord aan Kruger as president kom voorstel. As Engelsprekende het Sammy die gesprek getolk. Nadat Sammy die lord voorgestel het, het dit gelyk of Kruger nie met die hoë besoeker beïndruk was nie. Om groter indruk te maak, het Sammy verder opgenoem watter ampte die lord in Brittanje al beklee het en hoe belangrik sy voorvaders was. Aan die einde van die lofrede het president Kruger droogweg opgemerk: “Sê vir die meneer dat ek ’n veewagter was en my vader ‘n boer.”

In die vorige eeu het die Afrikaner rede gehad om minderwaardig teenoor die Engelse te voel.

In die dertigerjare van die vorige eeu het meer as die helfte van alle Afrikaners nie eens tot st. 6 (graad 8) geleer nie. Slegs 3% is na ʼn universiteit.

So was daar in 1937 slegs 20 Afrikaner-ondernemings in Johannesburg. In 1948, toe Afrikaners die bewind oorneem, was Afrikaners ekonomies dus nog ver agter die Engelssprekendes.

Hoewel Afrikaners byna 60% van die wit bevolking uitgemaak het, het hulle net 29% van die totale persoonlike inkomste verdien. Waar die Engelse verstedelik was, het ’n derde van Afrikaners hul inkomste op plase verdien. In die stedelike gebiede het slegs 27% Afrikaners witboordjiewerk gehad. Die res was werkersklas in ambagte of het ander vorme van handearbeid verrig. Die Engelssprekendes was die base wat die ekonomie beheer het.

Hoe lig jy jouself op uit so ’n situasie? Hoe herwin jy jou menswaardigheid en skud die gevoel van minderwaardigheid af?

Om ’n slagoffer van jou omstandighede te speel en vir hulp te wag, soos die ANC tans doen, help nie. Jy presteer jouself uit hierdie situasie uit en herwin só outomaties jou menswaardigheid.

Ná die Ekonomiese Volkskongres van 1939 was daar ’n skerp toename in Afrikaner-sakeondernemings en -ondernemingsgees. Volkskas wat in 1937 as Afrikanerbank begin is, en Santam en Sanlam wat sedert 1917 bestaan, het vinniger begin groei. Afrikanertrots het begin terugkom.

As ’n belangrike verdere stap het Afrikaners ná die 1948-bewindsaanvaarding aangedring op moedertaalonderwys.

Met die oog op Afrikaanse onderwys is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir, byvoorbeeld, die mediese-, tegniese- en sakewêreld, die ruimte en vele ander gebiede. Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste taalvlak, naamlik, Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.

Die aantal Afrikaanse skole het vinnig toegeneem. Waar in die middelvyftigerjare slegs 16% van die Afrikaners verder as st. 8 (graad 10) geleer het, was hierdie syfer tien jaar later 38%. Die Engelssprekendes se syfer was 43%.

Afrikaners het die Randse Afrikaanse Universiteit vier kilometer vanaf die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gebou en só simbolies alle tekens van minderwaardigheid afgeskud. Anders as die ANC, het Afrikaners ná 1948 nie die regeringsmag gebruik om Wits van ’n Engelssprekende universiteit na ’n Afrikaanse een te “transformeer” nie. Dit is wat die ANC sedert 1994 doen.

’n Paar maande ná die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 het Arthur Keppel-Jones, ’n geskiedenisdosent aan Wits, massiewe Engelse emigrasie, grootskaalse swart opstande en die induiestorting van alles voorspel.

In die staatsdiens, wat moes dienste lewer, was byna 80% van die senior staatsamptenare by die Afrikaner-bewindsoorname in 1948 Engelssprekend. Dit terwyl Engelssprekendes slegs ongeveer 40% van die wit bevolking uitgemaak het. Hulle was dus heeltemal oorverteenwoordig in die staatsdiens.

Daar was geen massiewe “suiwering” van Engelssprekende staatsamptenare ná 1948 soos dikwels beweer word nie. (Hermann Giliomee, Die Afrikaners, p. 444). Engelssprekendes het nog ’n dekade lank oorverteenwoordig gebly in die hoër range van die staatsdiens. Met ’n geleidelike oorname is verseker dat kundigheid en ervaring nie verlore gaan nie en dat daar nie ’n grootskaalse induiestorting van alle dienste was nie. Hiermee is Arthur Keppel-Jones verkeerd bewys. Eers in 1960 het die amptenare in hierdie hoër range die wit bevolkingsamestelling weerspieël.

By ’n skemerkelkfunksie kort ná 1994 gesels ons as parlementslede met Thabo Mbeki. Hy kla, as nuwe adjunkpresident, oor sekere regeringsprobleme wat hulle ondervind.

Ek reageer deur te sê dat hulle nie van hul senior staatsamptenare moet ontslae raak nie. Daardie senior staatsamptenare se kennis en ervaring kan nie gekoop of oorgedra word nie. Hulle bepaal grootliks of ’n minister of president suksesvol is.

Mbeki reageer deur te sê dat die meeste amptenare Afrikaners is. “Hulle is nie ANC-ondersteuners nie en sal ons saboteer.”

Ek verskil van hom en verduidelik waarom.

“Hulle is staatsamptenare. Hulle is geleer om die regering van die dag te dien – of dit nou ’n Nasionale Party- of ANC-regering is. Daardie staatsamptenare gaan eerder vir my as opposisielid kwaad maak omdat hulle ANC-opdragte so stiptelik gaan uitvoer,” reageer ek.

Mbeki verstaan duidelik nie wat ek probeer oordra nie. Ek het nie eens bygevoeg dat die meeste van daardie Afrikaner-staatsamptenare nie die moed gaan hê om die nuwe regering te saboteer nie. Hulle het elkeen ’n huissubsidie en ’n pensioen by aftrede wat hulle beslis nie nou wil verloor nie.

In opdrag van Mbeki moes elke staatsdepartement en alle staatsondernemings, soos Eskom, jaarliks aan die parlementêre portefeuljekomitees kom verslag doen oor hoe hulle met transformasie vorder. Hier is hulle jaarliks berispe en teruggestuur om hul personeel se rassesamestelling te gaan verbeter. Volgens hierdie Mbeki-transformasie-ideologie was rasseverteenwoordiging baie belangriker as doeltreffendheid.

Gou het dit in die Mbeki-, maar veral in die Zuma-tydperk, verder verskuif van rasseverteenwoordiging na kaderontplooiing. Dit het beteken dat slegs ANC-lojaliste nou aangestel is, ongeag hul kennis of ervaring. Nie-ANC swart persone se werk het nou ook in die slag gebly. Die logiese gevolg was dat al hierdie instellings tot op ’n punt van ondoeltreffendheid getransformeer is. Ons sien dit in die getuienis voor die Zondo-kommissie en in die krisisse by Eskom en ander staatsinstellings.

Mbeki was bang vir Afrikaner-sabotasie. Toe saboteer sý transformasieproses die staatsdiens en staatsinstellings ernstig. Miskien onbedoeld, maar hy was kortsigtig. Ek wonder of Mbeki dit vandag so insien?

Van 1994 tot 2002 het 10 200 wit mense Eskom verlaat. In antwoord op ’n vraag van dr. Pieter Groenewald (VF Plus-leier) in die parlement, het die minister geantwoord dat vanaf 2008 tot Maart 2011, nóg 455 ingenieurs, waarvan 110 wit mense, by Eskom bedank het. As gevolg van kaderontplooiing sien die opgeleides (wit of swart) nie kans om in so ’n atmosfeer te werk nie. In dieselfde tydperk het 342 tegnici bedank. Dit alles terwyl Eskom se personeelkorps oorweldigend toegeneem het.

Die ongelooflikheid hiervan is dat hierdie proses steeds voortgaan. Volgens Eskom se jongste regstellendeaksieplan moet ʼn verdere 1 308 gekwalifiseerde wit werknemers teen Maart 2020 uit die diens wees.

Geen organisasie kan so ’n groot verlies aan institusionele geheue en vaardighede bekostig nie. En dit is allermins ’n politieke- of rasse-argument – bloot ’n eenvoudige bestuursbeginsel wat in Japan en Nigerië ook geld.

Eleanor Roosevelt is reg dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming nie. Sukses en prestasie is egter net so belangrik. Afrikaners het met harde werk en prestasie hul waardigheid herwin en die gevoel van minderwaardigheid oorkom.

Prof. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat het gesê Afrika se grootste stryd is ‘n stryd om sy selfrespek te herwin.

Ek stem daarmee saam. Sukses en prestasie sal hiermee help. Ongelukkig lei mislukking daartoe dat die gevoel van minderwaardigheid versterk word en nie afgeskud word nie. As president Cyril Ramaphosa lesse uit die Afrikanergeskiedenis leer, mag hy slaag waar Mbeki en sy voorgangers duidelik misluk het.

Maar dan moet hy presteer en die Eskom-krisis en ander probleme suksesvol oplos.

Voetnota:

[1] Volgens Pharos beteken “boor” die volgende:
boor, n. lomperd, lummel, (gom)tor, onbeskofte vent, buffel, ghwar, hierjy, rouriem
boor·ish agterlik, boers, ongepoets, onopgevoed, onbeskof, kru, torrerig

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

marco polo ·

Dankie Pieter, jou artikel laat mens weer trots voel om ‘n Afrikaner en Boer te wees. Ek was een van Mbeki se transformasieslagoffers in die negentigerjare en beskou dit as een van die beste dinge wat ooit met my gebeur het, want dit het my loopbaan dramaties en met groot sukses verander.

Gemsbok ·

Interessant marco, ek sou graag wou hoor hoe jou loopbaan verander het.

marco polo ·

Gemsbok, ek was n staatsamptenaar met twee grade en 16 jaar ondervinding, maar my pos is afgeskaf en ek moes n pakket neem. Ek het my eie konsultasiefirma begin en finansiele dienste gelewer aan munisipaliteite. Later het ek aangesluit by een van die groot vier ouditmaatskappye en het as bestuurskonsultant in verskeie lande in die wereld gewerk. Ek het so vier jaar gelede uit daardie beroep getree, semi afgetree en bied nou besigheids Engelse klasse aan in China. Ek is nie een dag spyt nie.

Deon ·

Marco Polo, volgende jaar gaan SARS Suid Afrikaners wat in die buiteland werk begin melk vir inkomstebelasting. Wees voorbereid.

johanII ·

Mooi geslryf Dr…ons is almal slagoffers van die ANC se rassisme. As jy mense op grond van hul ras anders behandel is jy eenvoudig n rassis….Sasol is volgende…hou maar dop.

Veritas ·

Vir die eerste keer stem ek met dr Mulder saam.
Daar is geen rede dat ‘ n Boer, minderwaardig moet voel nie. Ons is ‘n nasie wat, in die verlede, groot hoogtes bereik het en moet nie toelaat dat die huidige aanslag teen ons, ons van ons selfversekerheid ontneem nie. Wees trots op jou Christelike agtergrond, taal en kultuur en bou aan ‘n toekoms hier in Afrika waar ons hoort. Die Boerevolk is hier gebore en sal hier bly ten spyte van die aanslag teen hom .
Hou in gedagte dat daar ‘n rede is waarom ons nie welkom hier is nie en dit is omdat ander volke afgunstig is op die Boer en wat hulle as volk vermag het. Ons moet net nie dink dat ons beter as ander is nie maar God loof vir dít wat Hy vir ons gegee het.
Sterkte vorentoe.

1+1 ·

Veritas, Ek stem met jou saam, maar ons kon meer gedoen het vir hulle opleiding om die land te bestuur. Ons het geweet waarheen SA oppad was.

Dries du Toit ·

Veritas vir die eerste keer stem jy saam met dr. Mulder. Mooi man jy kom reg. As jy met die hele berig saamstem dan stem jy met vreeslik baie belangrike dinge saam. Graag wil ek weet waaroor jy met hom verskil. Pasop net vir n groot pakslae

Stephan de S ·

Dankie, dit was nou lekker en insiggewend om diè artikel , gestaaf met feite , en geskryf deur n ervare en bewese persoon, te lees. Het onlangs sy nuwe boek gelees en het veel daaruit geput.

Gert ·

Onbeskryflik goed!
Baie van hierdie dinge het ek self beleef. Toe ek meer as 40 jaar gelede as ‘n jong ingenieur ‘n lesing by die Spoorweghoofkantoor gelewer het, het ek na die tyd gehoor een van die Engelse ingenieurs sê vir die baas; “And you said no Afrikaner will ever become an engineer” .
Ons het op ‘n eerbare manier onsself verbeter, en dis rede om trots te wees.

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir hierdie insiggewende artikel.
Het al so dikwels gewonder waarom ons verteenwoordigers by Kodesa die ‘gebruiksaanwysigings’ vergeet het met die oorhandiging van die land op ‘n skinkbord.
Dr. Mulder se vertelling van sy skemerkelkgesprek met Thabo Mbeki in 1994 is ‘n aanduiding dat daar ten minste probéér is om raad en leiding te verskaf.
Hoe anders kon dinge nie moontlik verloop het as daar aangedring is op ‘n behóórlike oorgangstydperk en -regering voor die ANC in SA losgelaat is nie.

Snowball ·

Die artikel maak my trots om Afrikaner te wees, om weereens te besef hoe baie ons moes oorkom om sukses as ‘n nasie te bereik en dan maak dit my terselftertyd diep teneergedruk dat ons as ‘n nasie so in die verdrukking staan ten spyte van wat ons voorheen vermag het. Wat bly eintlik oor vir Afrikaner kinders in ‘n land uitmekaar geskeur deur rasgedrewe politiek en met integriteitslose leiers wat òf te kortsigtig òf gemanipuleerd is om hulle foute reg te maak? Om te hoop dat enige ANC leier tot ander insigte sal kom en sal leer uit die Afrikaner se geskiedenis, òf van rigting sal verander omdat alles reeds sienderoë inmekaar val, is om te hoop daar is kaas op die maan…

Deon ·

Die huidige geslag ANC leiers gee nie ‘n flenter om vir die Afrikaners nie, behalwe vir belastinggeld natuurlik. Oor die langer termyn sal dit erger gaan, want die swart jeug raak ongeduldig en gaan revolusionêre despote en “war lords” begin volg. Dan sal dit ook te laat wees vir die ANC om Afrikaners in te trek.

OWO ·

Baie insiggewende skrywe wat die kern van SA se probleme 100% saamvat.Daar is te gou van kundigheid na 1994 ontslae geraak.Die bestuurstelsels wat bestaan het is eenvoudig afgeskaf en van die tafel afgevee.Dit maak ook nou vir my sin,hoekom Tony Leon,nooit ‘n afspraak by Thabo Mbeki kon kry nie.Ek stem met jou Therese dat die skinkbord aangegee is,maar redelik vining die grond getref het.Uitstekende skrywe Dr Mulder.

Leon ·

Die klok is 100 jaar teruggedraai en dus moet die Afrikaners weer van vooraf strategies beplan. Ongelukkig het elkeen sy eie span osse.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die ge-oor en weer “helpery” en so is nou baie mooi en prysenswaardig, maar in my lewe het ek ‘n baie belangrike ding op die harde manier geleer: EK HELP NET DIE WAT BEREID IS OM TE VERANDER!!!…..As jy bereid is om te verander nie, sal my hulp niks aan jou situasie doen nie….

Rasper ·

Lekker om dit te lees. Die gesprek tussen dr. Mulder, en Thabo Mbeki het gewys dat daar ‘n baie groot kulturele kommunikasie “gap” was, en nogsteeds is. Ek het al baie hieraan gedink, en vir my is die politieke klimaat tans, die beste wat dit nog ooit was sodat ons vir iets meer as kulturele vryheid kan beding. Afrikaner selfbeskikking is ‘n oplossing vir so baie probleme. Al wat dit keer is “fiktiewe” probleme geskep dit “kulturele” misverstande. Solank as wat ons en hulle alles wil hê, sal ons en hulle eendag met niks sit. Verkoop selbeskikking as ‘n oplossing vir grondonteining, regstellende aksie, Afrikaanse universiteite, ens.

Heinrich ·

Ek stem Rasper. As apartheid dan so sleg was, straf ons met ons eie apartheid sodat ons kan voel hoe dit voel. Straf ons met ons eie gebied, universiteite ens.

bolla ·

Boor se gebruik kom al van die 16 de eeu af. Die woord verwys nie spesifiek na Afrikaanse wit boere in SA nie. Boorish is ook in algemene gebruik en verwys nie na die gedrag van ‘n spesifieke groep mense nie. Ek dink ook daar is ‘n verskil tussen die gebruik van (B)boer en (B)boor.

Iemand ·

Dieselfde kan gesê word van die ka woord, dit kom van ‘n Arabiese woord vir ongelowige of so iets. Selfde met die N woord in Engels wat sy afkoms van die woord vir swart het. Woorde en hoe hul bedoel word kan wapens word.

@Bolla ·

Gaan soek die woord ‘Etimologie’ op. Woorde verander van betekenis met tyd en het ook sekere gelaaide konnotasie/s binne seker tydvakke…..

Afrikaner ·

Jip, hulle is self daarvoor verantwoordelik dat hulle nie meer selfrespek het nie. Do so voort, want ander het lankal nie meer respek vir hulle nie.

humor ·

“Respek moet herwin word” Die vraag hang maar in die lug watter respek moet herwin word. Miskien kan die volkekundiges hierop antwoord.

Jerry ·

Die ANC sal slegs presteer en die ANC probleme oplos vir die ANC revolusioneres, maar met die hulp van die teenrevolusioneres en die buiteland. Die ANC se sosialistiese denkwyse laat hulle nie toe om te presteer vir teenrevolusioneres nie, die ANC gebruik net die goedgelowigheid, kennis, hulp en die geld van teenrevolusioneres. Enige optredes soos misleiding, moord, diefstal, plundering, uitsluiting, intimidasie, besetting, OSV ens. teen die teenrevolusioneres is volgens ANC revolusionere denke geregverdig in die “struggle for liberation”! Die ANC sosialistiese denke is daarop geskoei dat die “struggle for liberation” nie kan eindig voordat die Afrikaner nie vernietig is nie. Dit is hoekom Mbeki presies die teenoorgestelde gedoen het as wat Pieter Mulder gese het gedoen moet word. Dit vervang ook sommer dadelik die gevoel van minderwaardigheid na n gevoel van meerderwaardigheid, want die persoon wat reg is, is nou eintlik verkeerd en visa versa.

Annette ·

Baie dankie aan Dr Pieter Mulder vir `n puik artikel. Dit was voorwaar lekker om te lees.

George van Bloem ·

Baie dankie vir ‘n baie goeie,insiggewende en lekker leesstuk waaruit mens iets kan leer en sommer weer trots kan voel op ons eie mense en ons trotse geskiedenis in hierdie land asook die Afrikaner se vermoe om uit die as op te staan,maak nie saak wat nie,met die Hulp van ons Vader. Net jammer die spul in beheer van die land wat soveel meer kan baat by die wyshede vervat in die stuk sal dit tien teen een nooit lees nie en selfs al sou hulle dit dalk te lese kry ,sal hulle dit nie op enige vlak mooi verstaan nie want die bakhand staan en “demand” en blameer die blanke vir net mooi alles is al wat hulle lekker verstaan en goed kan doen.

John ·

Nee wat, minderwaardigheid… Moenie namens alle Afrikaners praat nie. Pieter Mulder moet eerder sielkunde gaan studeer het voor hy uitsprake maak. Die siel van die Afrikaner is bo sy vuurmaakplek. Waar kom Christenskap in. As ‘n Afrikaner dit of dat doen is hy nie lief vir sy naaste nie of ly hy dan aan ‘n minderwaardigheidsgevoel? Mulder en die VF+ het geen bydrae gemaak tot die Afrikanerdom nie, net lekker pay getrek eers onder apartheid en toe onder die ANC.

Piet ·

Stem saam. Plaas hy die brief aan Julias, Blf ens stuur en kyk of hulle n veer voel. Hulle sal vir hom lag. Om dit hier te plaas gaan niks verander.

Frik Lotz ·

Dis tyd dat ons as Afrikaners saamstaan.en in ons duisende VF Plus stem. Saam is ons sterker!

Afrikaner ·

John en Piet,
Pieter Mulder WEET waarvan hy praat…hy het nie nodig om sielkunde te studeer nie. Die VF+ maak elke dag ‘n positiewe bydrae in ons land – ons MOET verteenwoordig word in die parlement anders sal ons mooi land ten gronde gaan. VF+ LP’s hou ons ingelig en baklei op ‘n opgevoede wyse vir ons voortbestaan. Die minste wat ons Afrikaners kan doen, is om jou kruisie langs VF+ te maak met die verkiesing. Om dit hier te plaas verander beslis ‘n hele paar mense se siening. Ek stem saam met Frik.

lewies ·

Gemaskerde Sopbeen.
Solank daar nie ‘n milti-dissiplinere span oor verskille, maar ook ooreenkomste tussen mense in SA gepraat word nie, sal ons nie verstaan nie. Die politieke leiers is nie opgewasse of gekwalifiseer om so’n gesprek te voer nie.

Dries du Toit ·

Ja nee kom n lang pad saam met Dr Mulder. Nie net n uitstekende redenaar wat met insig en feite omgaan. Nooit het ek gesien dat as hy in die parlement opstaan dat enige iemand met breins nie aandagtig na hom luister nie. Selfs die liberaalste van die liberales het hom gerespekteer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.