Hoe vaar Brasilië onder Jair Bolsonaro?

Die regsgesinde kandidaat, Jair Bolsonaro, het beslissend gewen met 56% in die Brasiliaanse presidentsverkiesing. Foto: Jair Messias Bolsonaro/Facebook.com

Dis nou presies ’n halwe jaar sedert Jair Bolsonaro aan die begin van 2019 die president van Brasilië geword het, nadat hy verlede jaar in Oktober die verkiesing oortuigend gewen het. Die internasionale media het voor en ná die verkiesing die donkerste moontlike prentjie geskets van die “verregse, rassistiese, homofobiese” presidentskandidaat.

Dit alles klink na die opinies wat oor president Donald Trump die wêreld ingestuur word en wat ook twee en ’n halwe jaar ná sy bewindsaanvaarding niks van hulle skerpheid en histerie verloor het nie. Nogtans kan selfs polities oningeligtes hier en daar optel dat Trump dalk tog ’n paar dinge regkry, want feite kan ook nie vir altyd geïgnoreer word nie.

Anders as by Trump, hoor ’n mens sedert die verkiesing min nuus van Bolsonaro buite Suid-Amerika. Indien wel iets in die internasionale nuus beland, dan gewoonlik negatiewe nuus oor ’n toename in die vernietiging van die Amasone-reënwoud en dat hy sy eie seun as ambassadeur in die VSA wil aanstel.

Ook die ekonomie, Bolsonaro se sterk punt, is na bewering nie te rooskleurig nie. Nou is dit natuurlik geen geheim nie dat die gewone hoofstroomnuusbronne soos CNN, BBC, The New York Times, The Guardian, Der Spiegel, ensovoorts, net so min iets goeds oor Bolsonaro sal berig soos oor Trump. Die nuus oor hulle moet dus met skeptisisme benader word.

Brasilië is ná dekades van sosialistiese presidente so swak bestuur dat ’n paar maande van Bolsonaro se bewind geen wonderwerke kan bring nie. Die uitwerking van sy beleid sal eers oor ’n ruk voelbaar wees. ’n Groot land soos Brasilië is soos ’n reuseskip: om van koers te verander en spoed op te tel, neem ’n ruk. Die toestand van die wêreldekonomie beïnvloed die uitvoergedrewe land Brasilië natuurlik ook negatief.

Bolsonaro maak egter gereed om ’n ingrypende hervorming deur te voer, wat die land ’n ekonomiese hupstoot kan gee soos wat die belastingverlagings van president Trump dit vir die VSA gedoen het. Hy wil die uiters vrygewige pensioenwetgewing verander. Uit die aard van die saak is daar teenstand van die staatsdiensvakbonde, maar dit is noodsaaklik as die land nie vorentoe bankrot wil gaan nie. Die pensioene plaas ’n groot las op die staatskas en dra tot die begrotingstekort by. In Brasilië eet die pensioene ’n tamaai 45% van die begroting, wat kort vir infrastruktuur, skole, gesondheid en polisie.

Die land het van die vroegste aftreeouderdom ter wêreld, naamlik 55 jaar, en boonop is dit baie ongelyk verdeel, met veral staatsamptenare en militêre personeel wat vroeg en met volle salaris aftree, terwyl die gemiddelde werkers sukkel. Om op 55 te kan aftree, is luuks en ver onder die gewone aftreeouderdom van 60 plus. Selfs welvarende eerstewêreldlande skuif die aftreeouderdom op, van 60 na 65 en selfs 67, doodgewoon omdat mense vandag heelwat ouer word as in die verlede en nie meer gemiddeld 10 jaar pensioen trek nie, maar 20 en meer jaar. Boonop betree mense deesdae al hoe later die arbeidsmark.

Bolsonaro, wie se party geen eie meerderheid in die parlement het nie (die president word direk gekies), het reeds ’n belangrike veldslag gewen deurdat hy die huis van verteenwoordigers kon oortuig om met ’n groot meerderheid ten gunste van die hervormings te stem. Nou moet die senaat nog toestem, waar nog heelwat debat voorlê. Soos altyd sal daar heelwat uitsonderings en aanpassings wees totdat die meerderheid in die senaat ten gunste daarvan sal stem, maar as die pensioenwet deurkom, sal dit ’n deurbraak vir Brasilië en vir Bolsonaro wees.

Daar is egter nog ’n ander dimensie van Bolsonaro se beleid behalwe die ekonomie, wat dalk nog belangriker is, naamlik ’n kultuurverandering. Onder Bolsonaro word weer behoudende waardes bevorder: dissipline, waardes en nasietrots in skole en in die openbare lewe, die verwerping van sosialistiese denke, ’n bekamping van dwelmhandel en -gebruik en beter veiligheid. Brasilië is nie net ekonomies nie, maar ook sielkundig deur die lang sosialistiese bewind afgetakel en kyk nou na Bolsonaro as hul heilsbringer (en toevallig is Jair Bolsonaro se tweede naam Messias).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die inligtende artikel oor n land en omstandighede waarvan ons normaalweg min weet en hoor……en mediahuise stel seker nie veel belang in hul nuwe regering nie

Gert ·

Dankie vir die goeie nuus. Darem een ligpunt in ‘n wêreld wat al donkerder word soos dit in die moeras van sosialisme wegsink.

Liberaal ·

Die staatswerkers en veral politici verdien ewige en groot pensioen en moet nie gedruk word om te werk nie, hulle harte gaan seer kry as hulle minder kry. En wat van die dwelmhandelaars se gevoelens. Hulle is belangriker as die gewone mens in ons linkse lande.

Therese van Schalkwyk ·

As Maroela my sal vergun, wil ek graag, met hiérdie hersiene poging, waardering uitspreek vir die positiewe verslaggewing oor Brasilë en Bolsonaro.
Die skrywer se noukeurige waarneming in die inleidingsparagrawe word geesdriftig gedeel.

Con Dumpi ·

Baie interessant. Berig asseblief ook oor die suksesstories van ander lande wat, soos Brasilië, goeie betrekkinge met Israel het, bv. Azerbaijan en Rwanda. Gen 12:3 “… Ek sal dié seën wat jou seën …”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.