Hoe ver kan borge gaan om transformasie af te dwing?

rugby-springbok-logo-groot

Argieffoto.

Dit word ʼn belangrike vraag hoe ver borge kan gaan om transformasie in Suid-Afrikaanse rugby af te dwing noudat Absa oënskynlik tou opgegooi het in sy pogings om dit reg te kry.

Die onttrekking van dié bankgroep en die motorvervaardiger BMW as sleutelborge van die SA Rugbyunie (Saru), word in die media grootliks toegeskryf aan wat “die gebrek aan transformasie” in Suid-Afrikaanse rugby genoem word.

Absa se hoofamptenaar, Maria Ramos, het dit vyf jaar gelede aan die groot klok gehang dat, soos sy dit op Engels gestel het: “Wie die fluitspeler betaal, sal die deuntjie van transformasie in rugby bepaal”.

Dit het destyds sterk reaksie van onder meer AfriForum uitgelok en daar is nie weer van haar in dié opsig gehoor nie.

Nou, vyf jaar later, het Absa sy 30 jaar lange rol as borg van die Curriebekerreeks (eers as Santambank en later Bankfin) en die meer onlangse een, as truiborg van die Springbokke, laat vaar.

Beteken dit die fluitspeler het toe nie sy (haar) sin gekry nie? Of is dit dalk  ʼn geval dat haar uitspraak teenproduktief was ten opsigte van die bemarkingsdoelwit van die borgskap?

Dinsdag, met die bekendstelling van Saru se akademiestelsel in die weelde van Sandton, sê die adjunkpresident van die organisasie, Mark Alexander, as rugby as ʼn sport in Suid-Afrika wil oorleef, moet hy sy visier op die meerderheid van die bevolking rig. Die sinspeling is daar dat transformasie te stadig geskied.

Daar is egter ‘n tragiese keersy van die situasie. Oos-Kaapland, wat die vlagskip van rugbytransformasie moet wees, is ʼn sinkende skip. Die provinsie is die natuurlike omgewing om te bewys dat transformasie kan slaag. Die oorgrote meerderheid rugbyspelers is swart. Swart rugby is in ‘n tradisie ouer as ‘n eeu gewortel. Waar wil mens (en die transformasiejagtende borge) ‘n beter vertrekpunt hê? Dis die logiese vertrekpunt van transformasie.

Maar nee, die OP se president, Cheeky Watson, moet oorsee om borgskappe gaan soebat – en daar het nog niks positiefs van gekom nie. Hy sit steeds sonder ‘n borg. Die bladmusiek is daar, maar niemand wil die fluitspeler betaal nie.

Waar is die profete van transformasie as dit by borgskappe vir die Oostelike Provinsie en die Grens kom? Hier is mos nou ‘n gulde geleentheid vir borge soos Absa.

In ‘n uiters mededingende bemarkingsomgewing is die keuse van borgskappe tot ‘n fyn wetenskap ontwikkel en gaan dit allermins om getalle – veel eerder om die besteebare inkomste en die profiel van die teikenmark – wanneer daaroor besluit word. Is dít dalk wat borge uit Oos-Kaapland hou?

Om ideologies rassekwotas op die sport af te dwing, kan dalk die kleursamestelling van die spanne verander, maar sonder ‘n natuurlike ontwikkeling van die spelerspoel is dit kortsigtig en sal dit die spel op die lang duur knou, omdat die gehalte sonder ‘n behoorlike onderbou onteenseglik sal kwyn.

Besef minstens dit: diegene wat transformasie die sterkste bepleit – en as dit daarop neerkom, dalk ook diegene wat die sterkste daarteen gekant is – het ‘n ander sakelys as die bevordering van rugby en die volhoubaarheid van die spel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Gideon Jones ·

Ek is baie lief vir rugby en ‘n getroue kyker van die sport. Slegs uitnemendheid kan sukses in hierdie komplekse, hoogs mededingende sport te weeg bring. Ek is van mening dat dit nie meer moontlik in SA is nie. Soos alle instellings van gehalte sal
dit afgebreek moet word tot op ‘n vlak waarmee die deursnee landsbewoner hom kan vereenselwig. Daar sal wel nog opflikkerings van hoop wees, maar nie konstante sukses nie. Wereldbeker 2015 was ons swanesang. Rus in Vrede.

rietrot ·

Streng gespoke is dit sport manipulasie en dit kan erge gevolge hê. Onder andere om geskors te word. As die beste spelers nie gekies word nie “vir enige rede” dan kan dit gesien word as ʼn verneuk spil. Talent en meriete is regverdig, as dit kom by sport. As dit nie geskied nie dan sal die land ʼn groot inkomste verloor en verdere verarming sal toeneem.

Frans ·

As dit na 20 jaar nog nie duidelik is nie sal dit nooit duidelik wees nie.Die ANC kies kwantiteit bo kwaliteit op alle gebiede en meet dit bv ‘uitnemendheid ‘ aan die getal matrikulante wat slaag eerder as die gehalte van onderrig. wat hul ontvang het.

Emile ·

In lig van al die pro-aktiewe en positiewe ondernemings van Solidarideit om die Afrikaner weer te selfstandig en onafhanklik van Engels(e oorheersing) te maak, kan ons nie asb ‘n eie Afrikaanse bank kry soos Volkskas eers was nie?

ABSA het hul Afrikaanse klientebasis al so vervreem dat ek oortuig is ‘n Afrikaanse alternatief sal goed ondersteun word. Ek is juis vandag weer telefonies in Engels bedien nadat ek die Afrikaanse skakelopsie gekies het. ABSA buig bv baie ver agteroor om sharia-wet voldoenend te wees om die 1.5% Moslem bevolking van die land te akkommodeer, maar behandel hul baie groot Afrikaanse blanke klientebasis soos tweedeklas burgers.

Basta daarmee, gee vir ons ‘n eie bank wat ons belange dien.

Dalk kan dit

Koos ·

Ek sal ook ‘n volkseie bank ondersteun. Dis eintlik ironies dat die borge juis nou ontrek omdat hulle mos groot transformasie vir die volgende vier jaar beplan.SARU het dan ingestem tot ten minste 50% gekleurd by die volgende wêreldbeker? Die borge is dus eintlik anti-transformasie.

Koos ·

‘n Eie bank, ‘n eie dit ‘n eie dat – ‘n eie mishoop om op te kraai. Volkseie? Watse loutere twak!
Suid-Afrika gaan nooit, nooit die mas opkom as elkeen in sy eie rigting neuk nie. Jammer dat Madiba nie nog leef nie, dan kon julle iewers op ‘n eiland (Kanoneiland?) gaan sit het met ‘n swart president wat die regte geluide maak, met ‘n eie bank (geld onder die matras) met ‘n eie poskantoor (posduif) en ‘n eie winkeltjie (die token Griek). En Steve kan julle burgemeester wees met sy eie vlag en volkslied. Sterkte.

alida ·

Die afrikaner se geld is goed genoeg maar die taal nie !!! De hel met ABSA. Ek is nog altyd vriendelik in afrikaans bedien by CAPITEC indien ek daarvoor vra. Kies die beste speler ongeag van kleur.

André du Toit ·

Plek vir nog ‘n All Black span in die Wêreld van Rugby? Het al 1995 opgehou om na alle sport te kyk.

arie plaasboer ·

Poplap,
Dink jy regtig dat Andre du Toit die enigste is wat nie meer kyk nie?
Onthou dat as een persoon iets op hierdie FORUM meld dat hy waarskynlik `n onderbou van der duisende ander enersdenkendes het wat NIE op hierdie form kommentaar lewer nie.
Vir myself is dit so hittete of ek ontrek my ook daarvan om `n ondersteuner van SA sportspanne te wees.
Dit gaan die laaste strooitjie wees wat binnekort die kameel se rug gaan breek, dit verseker ek jou.

Koos ·

Het ek wakker geword in ‘n totale gekkeparadys?! Wat gaan aan met julle?? Geen swart speler in die Springbokspan hoef terug te staan vir ‘n witte nie. Hulle bring hulle kant dubbel en dwars – dit geld ook vir die gekleurde afrigter van die Stormers wat nou ‘moontlik’ oorweeg word om die Springbokke af te rig. Sommige Afrikaners en wittes leef nog steeds onder die illusie dat sake maar kan voortgaan soos voor onafhanklikheid. Ek kan soms nie my ore en oge glo as ek sien wat kwytgeraak word nie. Leer julle mense dan nooit nie!! Die RSA het ‘n meerderheidsregering wat demokraties verkies is – hou op kerm en kla en kyk hoe julle kan bydra tot ‘n beter toekoms.

marietjie ·

Haai Koos, ek stem 100% saam met jou. Ek dink egter mense verwys na spelers wat op grond van hul kleur aangestel word, en nie op grond van hul prestasie nie. Dis tyd dat ons (almal) in Suid-Afrika op ‘n plek moet kom waar kleur nie meer hoegenaamd ‘n faktor is nie: die BESTE ou word gekies vir die span, die BESTE ou word gekies vir die werk, die BESTE ou word gekies vir bevordering. Dan sal ons uiteindelik die Suid-Afrika wees wat ons KAN wees.

Koos die 2de ·

Indien spanne van laerskoolvlak af al op kwotas funksioneer, beteken dit dat vele spelers op verdienste oorgesien gaan word. So jy mag dalk ‘n situasie hê waar die beste spelers per provinsie gekies word ongeag kleur, maar die poel waaruit spelers gekies word word erg verswak weens kwotas op laer vlakke. Niemand is gek nie, ons weet watter swart spelers vir die wêreldbekergroep was gekies gegrond op kleur. Gelukkig het hul nie te veel speelkans gekry nie.

Pieter V ·

Koos blykbaar verstaan jy nie wat transformasie vir die regerende party beteken nie,dit beteken dat dit nie op meriete geskied nie maar dat alles volgens hulle idiologie geskied,sonder dat hulle n vinger verroer en die blankes moet alles prys gee,ek se laatalle sport spanne op meriete gekies word nie deur transformasie af gedwing word nie.

arie plaasboer ·

Koos,
Ongeveer in 1994 (die presiese tyd het my ontgaan) het die aanstaande regering tw die ANC allerlei beloftes teenoor die inwoners van die land gemaak (kyk veral na die President wse verpligte eed van getrouheid soos opgeneem in die Grondwet en vergelyk dit met die werklikheid van vandag.
As dit daar so gaan, waarom sal die “demokraties” verkose regering dan hulle beloftes hou op enige ander gebied – ook op die gebied van sport?

Bloues ·

As Heyneke sy verstand gebruik het en wel die beste spelers gekies het sou die volgende posisies met swart spelers gevul kon word.
Skrumskakel, Losskakel,Senter, Hakker en flank,
Tel dit by die wat reeds daar is en siedaar, die span sou BAIE beter gevaar het as die crocks wat so drooggemaak het.
Absa ondersteun die transformasie en daar hoef glad nie standaarde te velaag nie. Ons het swart spelers wat stukke beter is as van die wittes, so kies hulle.

Hendrik ·

Noem hulle name Bloues. Ek kan nie wag vir jou antwoord nie. ‘n Beter skrumskakel as Fourie is daar nie in SA nie. Wat was fout met Pollard? Hoe kan jy dink daar is ‘n beter senter as Jessie. Watse haker is beter as enige van die twee wat gespeel het? As jy aan die los voorspelers wil karring wat gespeel het weet jy glad nie wat in rugby aangaan nie. Groete.

Nico ·

Dit gaan nie oor of hulle die reg het nie hulle moet ook byuig voor die regering. Punt. Regering gee hulle die opdragte. Punt

Rietrot ·

Na 21 jr het sokker nog nie verder gekom nie. Met borge en al…

Tjaart ·

Transformasie is ‘n vloekwoord! Daar is huidiglik baie goeie swart rugby spelers, maar as jy wil vertel dat Oupa van die Cheetahs beter is as Schalk Burger of F. Louw, ken jy nie rugby nie.
Transformasie moet op skoolvlak begin. Ongelukkig word leerlinge in swart skole nie in sokker of rugby afgerig nie, daarom dat sokker so pateties is, en daar so min swart rugby spelers is. Dit is vernederend om die woord swart hier te gebruik, maar dis waaroor almal kla.
Daar word wel baie gedoen om rugby by swart gemeenskappe af te rig, maar baie leerlinge sien dit as ‘n geleentheid om snaaks te wees en miskien wedstryde te speel, maar neem dit nie ernstig op nie. By baie skole waar rugby afgerig word, neem swart leerlinge nie aan sport deel nie, en speel hul eerder sokker. Dus, hou om om rugby te blameer vir konsuis niks doen vir transformasie nie, en blameer die regering wat niks doen om sport op skoolvlak af te rig nie. Swart ondewysers daag nie eens by skole op vir onderrig nie, hoekom sal hulle sport afrig? Los rugby, en hou op om rassisme in sport aan te wakker. Kies die beste spelers, en maak nog baie Habana’s en Beasts groot!

TJ Potgieter ·

Rugby is Nou ‘n beroepsport! Afrigters van beroep spanne word betaal om te wen. Hoe gaan hulle ooit wen met kwotas? Om nie eers te dink aan die stigma wat aan spelers van kleur hang wat goeie spelers is nie. Los die afrigters dat hulle die beste spelers kies. As die gekleurde speler die beste speler is sal die afrigter hom kies want hy moet wen. Mense wat nie kan verstaan dat kwotas sleg is vir sport, soos in alle fasette van die SA samelewing nie het bymotiewe.

Bloubefoeterd ·

Dis tyd vir HARS. HALT ALL RACIST SPORT

Kwotas is noks anders as rassisme nie.

Die ANC wil almal laat glo dat een of ander sameswering sorg dat geen swartes vir die Bokke speel nie. Tjol mense. Die spelers wat goed genoeg is is reed daar.

Ek reken dis beter om rugby krieket sokker rolbal by die internasionale federasies te verkla en te laat skors totdat sport op meriete geskied. Tydens die 2010 wereld beker was daar nie juis wit spelers in die sokkerspan nie.

Ek kyk eerder geen springbkrugby nie as om week na week te kyk hoe die ouens 90-0 verloor maar dat die span darem aan Zuma en sy buddytjompelle se kleurkwotas voldoen. Afrikaners is die mees ” gullible” nasie op aarde. Ons is die hofnarre van ouds wat deur hoepels spring en vooroor buig agteroor buig sydelings buig en mense lag en lag en lag vir ons verspotte toertjies in die vae hoop dat ons darem die meesters tevrede stel.

Slegte nuus vriende dit gaan nie gebeur nie. Ons is maar net die grootste bron van vermaak.

Bloues ·

Hendrik jammer ek antwoord so laat, was bietjie uithuisig.
Jaa jy is reg, miskien weet ek nie genoeg van rugby af nie, al het ek hom op provinsiale vlak gespeel.
Maar kom ek begin. Skrumskakel, wat het Ruan Pienaar in die span gesoek? Hy het ook speelkans gekry. Baie stadig skoon gemaak, nie sterk met albei kante se uitgee nie, swak oordeel en swak skopwerk…. Loskakel, war het Morne in die span gesoek , geen leiding neem nie, swak taktiese skoppe, swak aangee,ten koste van Jantjies wat in die Super reeks homself bewys het as die beste. Senter. Wat het Jean daar gesoek, huppel kruppel basng om te verdedig en geen planmaker nie…ooo jaa dit was vir sy wondelikke kapteinskap. Hierdie wonderlikke kaptein kon nie sy span bymekaartrek nie en toe verloor ons teen Japan.
Losvoorspelers. Die wat op die veld was, is die beste. Die wat as impak gespeel het was nie. Oupa Jannie op stut is lankal verby sy sell by date.Swak onvettige bind by skrums, wil net “bully” by die vaste los , swak bal hanteerderAag moet ek verder gaan. Seker nie want eintlik weet ek niks van rugby nie. Volgens jou.

Rooijan ·

Bloues jy dink regtigwaar Jantjies het homself in die super reeks van 2015 bewys as die beste huidige loskakel in Suid Afrika? En jy skryf Morne af wat n fantastiese seisoen in Europa beleef het. Ek dink coach se fout was juis om Morne nie meer speelkans te gee in Engeland nie. Weet nie vir wie jy provinsiaal gespeel het nie maar dit wys jou net ń goeie speler maak nie noodwendig ń goeie afrigter nie. En ek weet nie of jy huidiglik betrokke is by rugby nie ek het toevallig so ń bietjie tweede handse kontak met een van die provisies en laat ek jou sê een van die afrigters se grootste frustrasies is juis die kwota stelsel, waar hulle elke week moet keuses maak om beter spelers uit te laat om aan die kwota te kan voldoen.

Fanie Geldenhuys ·

Ek dink nie ABSA het sy borgskap laat vaar omdat transformasie in sport te stadig geskiet nie. Watter groot maatskappy sal nou ‘n kwotaspan wil borg. Dit sal vir enige maatskappy in die toekoms tot groot nadeel wees. ABSA besef dit terdeë.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.