Hoe ver nog na ware versoening?

reenboog-nasie

Foto: Geralt/Pixabay.com

Die ontwykende droom van ʼn kleurblinde samelewing

Deur Johann Holzapfel

Wanneer debatteer word oor waar Suid-Afrika hom ná 22 jaar van demokrasie bevind, duik een vraag gereeld op: Wat het geword van die droom van ʼn kleurblinde nasie? Van die versugting na ware versoening en verdraagsaamheid?

Die byna daaglikse berigte oor beweerde voorvalle van rassime dui enersyds op ʼn soort obsessie met pigment en velkleur, maar ook dikwels ʼn oordadige demonisering van mense wat selfs deesdae twee keer dink voor hulle selfs die woord “swart” gebruik.

Die sensitiwiteit blyk uit politiek korrekte uitsprake soos “rugbyspelers van kleur” en dat selfs nou al ʼn onderskeid getref word tussen “persone van kleur” en “etnies inheems” (swart?) wat ʼn mens laat wonder of jy darem nog na die res as wit mag verwys.

In die aanloop tot die onlangse munisipale verkiesing het hierdie aljimmerse obsessie met pigment na vore gekom in ʼn wit-haat-kampanje, uit veral ANC-geledere met die president, Jacob Zuma, aan die spits.

Die erflating van apartheid is gereeld opgehaal. Met wittes, die produkte van Europese immigrasie en koloniste, wat steeds pa moet staan vir al die vasteland se kwinte en kwale. En in stryd met die gees en letter van die Grondwet,  sonder gelykwaardige status as “ware kinders van Afrika”.

Die wit minderheid is eintlik maar net nomade wat hul plek moet leer ken en dankie moet sê vir die “swartman” se Ubuntu en geduld met “gronddiewe en moordenaars”. Wit die kleur van rassisme. Die Kaïnsmerk wat jou outomaties gespaar bly as jy swart is. En jou boonop die reg  gee om in die openbaar anti-wit emosies te stook met T-hemde wat verkondig Kill all Whites, F@#$k all whites en Afrikaans must fall. Dit agterna te verduidelik as “eintlik maar net simbolies”.

Die te-faktor wat na vore kom in die gedrag van brandstigters en beeldstormers op kampusse. Die redelose vernielsug van gewelddadige betogers wat vuisreg as wapen inspan om hul wil aan ander op te dwing. Die sito-sito etikettering van pers gesigverf as eintlik swart en kwetsend, soos op Stellenbosch en die vernedering van twee Heemstede-studente.

Die kunsmatige en kosmetiese oordadigheid van “die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdae en Haatspraak” wat “rassiste” in die tronk kan laat beland. Wat aangebied (ironies genoeg nogal ʼn inisiatief van die president homselwers, wat so gereeld die anti-wit-tamboer slaan) word as wonderkuur vir alle sosiaal-maatskaplike probleme. Die lekkergelofie dat al die mensdom se kwinte en kwale met wette reggedokter kan word, gesindhede kan verander en die pad na ons aardse utopie gelyk sal maak.

Terwyl elke wet se doeltreffendheid gemeet moet word aan die toepassing daarvan. Nie die edel oogmerke van die wetmakers nie. Suid-Afrika se misdaadstatistiek onderstreep presies dit.

Is die te-faktor uniek aan hierdie mooi suiderland met sy bonte verskeidenheid van homo sapiens? Die rassewrywing die erflating van “die sondes van die vaders” waarvoor die kinders die prys moet betaal?

Die gevolg die simplistiese en kunsmatige skeidslyn wat voortdurend getrek word om wit en swart (en tussen-in) in twee kampe te jaag sonder inagneming van taal, kultuur of ʼn swetterjoel ander onderlinge verskille wat veel dieper as velkleur lê?

Of is Suid-Afrika ook maar net ʼn spieëlbeeld van ʼn wêreldwye verskynsel wat by tussenpose ook die Amerikaners met hul slawerny-bagasie in steriele kleurkampe jaag?

Daar is slawerny (wit baas en swart Klaas) reeds in 1865 met die aanvaardiging van die Dertiende Amendement amptelike afgeskaf. Desondanks die tydsverloop, steeds die rede waarom Amerikaners mekaar steeds aan die strot beet het oor afkoms, herkoms, pigment en aandrang op regstelling. Net soos in Suid-Afrika. Met apartheid skaars 21 jaar formeel ingespit, die troostelose vooruitsig van vele meer kleurstuwings vorentoe. En nog wette by dié reeds bestaande maatreëls teen rassistiese of haatspraak en “verheerliking van apartheid”.

Dis ʼn nimmereindigende gebabbel. Met die stemme van rede en logika verswelg deur die kakofonie van emosionele skeltaal en retoriek.  Die lawaai van ʼn “is-issie-is-issie”-bekgeveg tussen kleuters in ʼn sandput oor wie se pa se kar die vinnigste is.

Wat het geword van gesonde verstand? Van die Desmond Tutu-droom van ʼn ware “reënboognasie van God”? Van ruimheid van gees, verdraagsaamheid en gewoon ouwêreldse ordentlikheid wat steeds deur miljoene, die “swyende meerderheid”, in hul daaglikse omgang met ander, wit, swart en bruin geleef word. Van openhartigheid. Onbesmet deur die virus van “politieke korrektheid” wat te gereeld ʼn kortsluiting veroorsaak tussen wat gedink en  gesê word.

En die ironie dat dit daardie einste, geduldige en swyende meerderheid is wat elke slag die nate moet probeer las wat in elke harlaboerla oor “rassisme” lostorring. Die gom van ʼn nasie wat in elke konflik moet hou en moet red.

Hoe nou vorentoe? Is daar ʼn oplossing?

Aan die vredesfront word wel gewoel. Met amptelike verklarings, treffende KLEUR-MOET-ONS-NIE-VERDEEL-NIE-advertensies, saamtrekke, grys armbande en plakkate en selfs ʼn verklaarde anti-rassisme-week is “oorlog” verklaar teen hierdie euwels des euwels.

Mense draf en ry fiets teen rassisme. Hulle marsjeer. Oorhandig petisies. Swart en wit maak kringetjie, vat hande en vra God se hulp in “ons uur van nood”. Van kansels af word die liefdesboodskap elke Sondag verkondig. Vedraagsaamheid, omgee en uitreik…

Hoe eg is hierdie kollektiewe en sigbare vertoon van die afkeer van rassisme?

Kom dit uit die hart? Is dit spontaan? Of is dit kunsmatig en vals? Terapie vir die kollektiewe gewete en skuldlas oor die verlede: “Dit laat my goed voel. Ek het darem iets gedoen!”

En môreoggend staan ons op. En niks het verander nie. Die Rubicon van ras is nog nie oorgesteek nie. Damaskus lê nog ver. Tyd vir nog ʼn verklaring, nog ʼn petisie. En nog ʼn wet.

Is daar ʼn ander manier om die ideaal van n “kleurblinde” samelewing werklikheid te maak? Om persoonlike vooroordele af te sweer en vrees en onderlinge wantroue te oorkom? Is dit die Bybelse oordra van sondes van die vaders aan die nageslagte?

Die teoloog en eertydse moderator van die NG Kerk, prof. Johan Heyns, is in 1994 (die jaar van die demokratiese oorgang in Suid-Afrika)  in sy huis in Waterkloof deur ʼn steeds onbekende sluipmoordenaar doodgeskiet.  Kort voor sy dood is hy om kommmentaar gevra op die hemelhoë verwagtinge van “die nuwe Suid-Afrika” en die geboorte van “die reënboognasie van God” uit die puin en smart van apartheid.

Sy reaksie (saamgevat) was: Wanneer ons die oggend ná die simboliese middernagtelike oorgang  wakker word, sal ons agterkom dat niks eintlik verander het nie. Want dieselfde mense wat die vorige aand gaan slaap het, sal die volgende dag opstaan. Met hul vrese en voorbehoude, drome, verwagtinge, haat, wrokke en verwyte. En met hul hoop.

“Die skep van ʼn werklik nuwe Suid-Afrika waar elke mens, ongeag sy velkleur, kultuur, geloof, herkoms en taal homself as net so uniek en met dieselfde regte as sy medemens sal beskou en respekteer, moet begin by die individu. Met ʼn ware persoonlike hartsverandering. En die praktiese uitleef daarvan .”

Min gevra? Of straks te veel gevra? En is so ʼn gesindheidsverandering dan nie ook ʼn tweerigtingstraat nie? Die vermoë om met ʼn oop gemoed na almal te kan luister. En die voorreg om self ook in die gesprek gehoor te word.

Wat het geword van al die goeie voornemens? Die drome vir môre? ʼn Beter toekoms vir al ons kinders?

Lê die fout straks by die individu? By die ego waaroor gesonde verstand so gereeld struikel? Want die fout lê mos elders. By die ander. Jy moet verander. Nie ek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Basson ·

Wedersydse respek en erkenning vir mekaar en mekaar se geskiedenis sal ons ver bring.

Absoluut ·

jou kort sin sê presies alles. Wens almal kon net ‘n dag in Rio deurgebring het, Brazil is absoluut multiracial, hul respekteer mekaar, kuier met mekaar, is lief vir mekaar en ‘n goeie voorbeeld vir ons! Hulle is net so vriendelik soos ons, help waar hul kan. Daar is ook elemente, maar hulle is in die valleie en bly daar. Glo my daardie Weermag en Polisie beweeg te voet en vat GEEN streke, inteendeel die gewere is oorgehaal en vinger langs die sneller. Moenie dink jy kan met ‘n kind of vrou lol nie, jy beland in die tronk die oomblik wat daar sexual intent is, so ‘n verkragter sal onmiddelik uitgesorteer word. Hier kan ‘n ouma nie eens gou haar 11 jarige klein dogter by die huis los en ‘n dorpsaak afhandel nie en sy word verkrag, in Rio sou jy mince gewees het om dit aan ‘n dogtertjie te doen!!!!!

abba ·

Gaan nie gebeur nie – want die verskillende rasse respekteer mekaar nie. Die eeen ras wil die ander ras met klippe gooi en haat spuug uit hulle oe en die ander ras onttrek hulle net doodeenvoudig. Hoe gaan jy nou dit bymekaar bring? Gaan nie gebeur nie.

John ·

Het die ideaal van ‘n kamtige een-heid nie ook maar ‘n verskuilde agenda nie? Soos gekleurde blokkies wat opmekaar gestapel staan met die swartblokkie wat nou bo sit. Dis lekker bo en die wit of ander blokkies moet nie nou wil staan en rondskuif nie. Dis net die swart bokkie se reg. Hierdie ideaal is ‘n Hollywoodagtige te-te. In die VSA doen elke groep sy eie ding. Die Duitsers of Italianers het steeds hul eie uithangplekke. Swartmense regoor die wereld tree dieselfde op ooreenkomstig hul eie aard. Ons saamdoen hier in SA vra eintlik ‘n kniebuig en kruip, dws diensdoen vir die meerderheid. Hoekom wil almal hierdie idee van eenwording tussen verskillende kulture so graag sien, soos een volkslied uit een volle bors. Hoekom? Die vraag moet eerder wees: hoe kan al die kulture in vrede saamwoon? Eerwaarde Tutu word ook nie deur almal gesien as die’ vreeslike edele en onaantasbare godsdiensleier nie. Hy verteenwoordig net sy eie godsdiensinstansie en sy eie politieke party se beleid.

Frederik ·

Ek is nie bereid om vriende te wees met mense wat alles vernietig nie. As ek hul net so dophou in hul daaglikse handel en wandel, skaam ek my om ‘n Suid Afrikaner te wees.

popeye ·

Ek begin te dink dis te veel gevra van Homo Sapiens. Dis soos om ‘n vark te vra om te vlieg. Ons kan in ‘n groot mate al hemelliggame in ander sterrestelsels waarneem en beskryf maar dis fisies onmoontlik om oor daardie 100 ligjare te kom.

HEVW ·

Christus het ons die weg tot versoening bekend gemaak:” As iemand agter My wil aankom. moet hy homself VERLOEN, dIie KRUIS OPNEEM en My VOLG. Die weg tot versoening le dus alleen in die gehoorssaamheid aan God opgesluit. Soos Heyns dit stel in n totale hartsverandering. Of dit in hierdie onvolmaakte bedeling vir die gevalle sondaarmens haalbaar is, bly n ope vraag. Die ander vraag is is hierdie gevalle mens temidde van n gebroke werklikheid realisties in die skep van n identiteitslose gryse massa?

Bruno Stef ·

Die vereiste van die massas is dat die blanke en veral die Afrikaner moet geassimileer word met die res van die bevolking .Dit beteken afstand doen van sy Kultuur/Taal/Tradisies en in een groot mengelmoes moet bly voortbestaan en dat hy/sy sonder enige seggenskap oor homself die agtersitplek moet inneem en stilbly in die toekoms.Die alternatief is volgens diesulkes om dan net eenvoudig te verdwyn en te emigreer as dit jou nie pas nie.

Jeanne ·

Versoening gaan nooit gebeur solank die ANC en protesmaker rassehaat aanblaas nie. Dit gaan nooit gebeur solank net een etniese groep van rassisme beskuldig kan word en ander se blatante rassisme as deel van die ‘struggle’ verskoon word nie . Daar is GEEN versoening in SA moontlik sonder dat die regering hulleself uitspreek teenoor alle rassisme en nie saam dans en sing “umshini wam” nie. Daar is geen versoening moontlik solank een groep se regte ‘n ander een se regte inperk nie. Daar word vreeslik selektief na die grondwet gekyk, wat vandag nie eers die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Na 20 jaar brand (dieselfde) mense steeds universiteite en skole af, WAT het verander?

Theuns ·

Die skrywer is reg met sy aanames! Behalwe die woord wit wat jy nie moet noem nie moet jy ook nie probeer om ‘n probleem dieper te omskryf met ‘n ander woord soos sige nie! Kom ek gee jou ‘n voorbeeld ” Die tronke is vol van die meerderheid in Suid Afrika terwyl die tronke in Amerika vol is van die minderheid!” Nou ‘n afleiding, wat logies so wees is dat daar iets in die sige van die selfde soort mense is wat veroorsaak dat die tronke vol is? Groete.

Therese van Schalkwyk ·

Die treurende families van duisende wat die hoogste prys betaal het vir die nuwe Suid-Afrika sal dalk nie met wyle prof. Johan Heyns saam stem dat “niks verander” het nie. Altyd baie mooi woorde …

“Kleurblindheid, nie-rassigheid, diversiteit, multi-kulturalisme” en soortgelyke belaglikhede help minder as niks om die wêreld vreedsaam te maak. Inteendeel.

Verskillende groepe van alle kleure en nasionaliteite bestáán en hoe gouer hierdie eenvoudige feit wêreldwyd erken word, hoe beter.

Pietman ·

En ek dog Mandela het alreeds in 1995 versoening gebring? … of was dit ‘n Hollywood film?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.