Hoe voorspel mens Noord-Korea se spel met vuur?

missiel

Noord-Korea beweer hulle het die eerste interkontinentale ballistiese missiel (langafstandmissiel) ooit op ʼn toetslopie gelanseer. Die foto is deur die regering van Noord-Korea uitgereik. (Foto: Korea News service via AP)

In Oos-Asië pak donker oorlogswolke saam namate Noord-Korea toenemend sy middelvinger vir die internasionale gemeenskap wys. Die land het sy program om interkontinentale missiele met kernkoppe te ontwikkel teen ’n verbysterende tempo versnel, en die wêreld sit nou met die probleem dat daar agter ’n reeks vinnige veranderings aangehol word.

Hier is sprake van ’n klassieke driehoeksverhouding wat maklik kan handuit ruk as dit nie verstandig bestuur word nie. Die drie hoeke is eerstens Noord-Korea self, dan China en Rusland saam, en ten slotte Amerika, Suid-Korea en Japan.

Kom ons kyk na al drie en probeer dan ’n gevolgtrekking maak.

Die groot nadeel wat ’n mens het wanneer jy oor Noord-Korea skryf, is dat niemand – selfs nie die supermoondhede se inligtingsdienste – presies weet wat agter die skerms in Pjongjang gebeur nie.

Byvoorbeeld: Wie slaan die kitaar daar – diktator Kim Jong-oen of sy generaals? Wat is die strategiese doel van die kernwapenprogram – selfverdediging of aggressie? Is die maghebbers rasioneel (kan jy met hulle onderhandel), of is hulle só magsdronk dat hulle reken hulle kan Amerika intimideer of selfs vernietig?

Die antwoorde op dié vrae is belangrik vir die formulering van ’n strategie om met Noord-Korea om te gaan. Maar omdat niemand werklik weet wat in die binnekring van dié geslote diktatuur gebeur nie, is alles wat nou gedoen word, op gissings gegrond.

Wat ’n mens wel van die land weet, is dat hy in staat is om kernkoppe vele male kragtiger as die Hirosjima-bom te laat ontplof. En dat hy tans hard besig is om interkontinentale ballistiese missiele te ontwikkel waarmee groot dele van Amerika (en selfs Europa) getref kan word.

Dié kombinasie – gebrek aan insig en die wete waartoe hy waarskynlik binne enkele maande in staat kan wees – bring ’n uiters onstabiele situasie mee wat besonder gevaarlik is.

Dan, die tweede hoek, te wete China en Rusland. Veral China, synde Noord-Korea se enigste bondgenoot, is in staat om ’n sleutelrol te speel om die Noord-Koreaanse regime tot sy sinne te bring.

Maar China bekyk die situasie – só is die internasionale politiek nou eenmaal – deur die bril van eiebelang. En soos Beijing sake bekyk, is behoud van die status quo in sy belang.

China is bang dat die regime daar in duie kan stort as hy Pjongjang, soos Amerika eis, te hard druk. Dit sal ’n magsvakuum skep wat slegs deur Suid-Korea – en dus Amerika – gevul kan word, en daarvoor is die Chinese nie te vinde nie.

Dus, al is hulle glad nie gelukkig met die Noord-Koreaanse uitdagende houding nie, is ’n land mét kernwapens vir hulle minder erg as ’n bondgenoot wat heeltemal in duie stort. Vandaar dat die Chinese uit hul eie oogpunt meen hulle is eenvoudig nie in staat om pres. Donald Trump sy sin te gee en die Noord-Koreane deur streng ekonomiese sanksies te dwing om hul kernprogram te staak nie.

Bowendien lyk dit of Beijing se vermoë om Pjongjang se arm te draai maar beperk is. Die middelvinger wat laasgenoemde in die rigting van Washington wys, is ook aan Beijing gerig.

Ten slotte Amerika, Suid-Korea en Japan. Dié drie se belange stem deels ooreen, maar verskil ook.

Amerika sien hoe ’n onvoorspelbare en ondeurgrondelike skurkstaat wapens ontwikkel waarmee stede tot diep in die VSA met die grond gelyk gevee kan word en miljoene mense kan laat sterf. Geen enkele Amerikaanse president – of sy naam nou Donald Trump of Barack Obama is – kan daarmee saamleef nie.

Wat Amerika en die wêreld hier nodig het, is ’n president in die Withuis wat weldeurdag en verstandig reageer. Helaas is Trump self onvoorspelbaar en impulsief.

In sy twiets val hy nou selfs die Suid-Koreane aan, die mense wie se belange dikteer dat hulle sy stewigste bondgenote is. Hy het onlangs selfs gedreig om die vryhandelsakkoord met Suid-Korea op te skort omdat Seoel daarop aandring om Pjongjang eers op diplomatieke vlak aan te pak.

Bowendien praat sy administrasie – hy self, minister van buitelandse sake Rex Tillerson en minister van verdediging James Mattis – uit verskillende monde. ’n Mens kan nie agterkom dat die regering binnenskamers tot ’n enkele, oorkoepelende strategie besluit het en wat dit is nie. Trump se storie verander self daagliks.

Dis nie dat Suid-Korea en Japan minder bang vir Noord-Korea se verwoestingskrag is nie. Immers, hulle lê voor in die verdedigingslinie, en as die bloed êrens begin vloei, sal húlle dit eerste stort.

Die probleem is dat militêre optrede katastrofaal vir veral Suid-Korea (en in mindere mate ook Japan) kan wees. Afgesien van sy kernwapens, het Noord-Korea duisende artilleriestukke langs die grens in bunkers gekonsentreer waarmee dele van Seoel en die dig bevolkte grensstreek in puin gelê kan word.

Kenners skat dat ’n konvensionele oorlog tot 10 miljoen slagoffers kan eis. Dis uiteraard ’n prys wat die bewindhebbers in Seoel sal wil vermy as dit enigsins kan.

Tog wys die geskiedenis dat wanneer internasionale spanning begin eskaleer, dit soms buite beheer kan raak en soos ’n sneeubal onkeerbaar rol.

Byvoorbeeld, toe die Serwiese student Gavrilo Princip die Oostenryks-Hongaarse troonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, op 28 Junie 1914 in Sarajevo doodskiet, was niemand regtig ernstig ingestel op oorlog nie. Nietemin, skaars ses weke later was die hele Europa in die bloedigste oorlog tot in daardie stadium gewikkel.

En toe die kanonne meer as vier jaar later, op 11 November 1918, stil word, was sowat 10 miljoen soldate se lewe vroegtydig beëindig. In ’n oorlog wat niemand wou hê nie, maar eenvoudig gebéúr het.

Die glybaan na die massamoord van 1914-’18 het gekom deur ’n kombinasie van misverstande, verkeerde inskattings, ’n oormaat aan testosteroon en onstabiliteit. Dis dieselfde kombinasie wat tans grotendeels ook in Oos-Asië aanwesig is.

In Washington is daar ten minste ’n aantal verstandige mense – Tillerson, Mattis, Withuis-stafhoof John Kelly en veiligheidsraadgewer H.R. McMaster – wat ’n teenwig vir die kortgebakerde Trump vorm. Ook in Beijing, Moskou, Seoel en Tokio is daar niemand wat eskalerend wil optree nie.

Wat egter oorbly, is die bewind in Pjongjang. Die dikatuur van wie niemand weet wat hy wil hê en hoe ver hy sal gaan om dit te kry nie.

Dis van daardie diktatuur dat die lewe van miljoene mense in Asië – en dalk ook in die VSA – afhang.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Kom Ons boks ·

Goeie artikel. Ek dink China is die grootste rolspeler wat moontlik alle belanghebbendes om ‘n tafel kan kry en hierdie DPRK skoorsoekery te stop voordat miljoene mense omkom. Om olie oor sy grens heen te stop sal nie noodwendig die DPRK se ekonomie onmiddelik laat inval nie en ‘n gevreesde vakuum vorm nie – net lank genoeg om te byt is nodig sodat wapen ontwikkeling stopgesit word. Is dit nie presies wat Trump/Haley deur die VN besig is om te vra nie? China (asook Rusland wat meer en meer invloed wil bekom) het nog tyd om aan die regte kant van die geskiedenis te wees. Niemand wil regtig oorlog he nie (buite die kamikaze DPRK natuurlik).

Nico K ·

Ek glo Cjina besef dat ‘n oorlog ook vir hom ekonomiese verliese sal bring, en spesifiek kernoorlog vir almal nadelig sal wees. Die Koreas is net te naby sonder dat hy skade sal kry. En die Chinese regering wat so stil-stil kapitalisties geword het, besef watter ekonomiese skade ‘n wêreld oorlog vir die hele wêreld bring.

Boerseun ·

??? Wat se oorlog? Korea hou oog weg van Chinese besetting van asiese see.

Vermeende ·

Leopold, wat in gedagte gehou moet word.
Ekonomies is die wereld in n krieses, die Dollar het die jaar al 20% in waarde verloor, beurse wys die een rekord na die ander.
Elke dag hoor ons van n bubbel hier en n bubbel daar.
Amerika het nog altyd sy ekonomie met n oorlog ge-kick start. Wat ons nie moet vergeet nie is dat oorlogtuig die duurste produk is wat n land kan vervaarig en die vervaardiging van die tye sit mense aan die werk en geld in omloop.
Doen gerus self die toets, na/met elke finansieele krieses het Amerika in oorlog gegaan.

John ·

Trumo is impulsief… soos waar? Waar en wanneer het hy die VSA of die werekd in gevaar gestel? Wie het die probleme in Afganistan, Irak en Syria begin? Trump? Wie het vir N-Korea met planne vir ‘n waterstofbom gehelp? Trump? Die CNN-vals-wysie raak afgesaag…

Boerseun ·

Stem, maar jy kan sien hoekom die westerse wereld in kriesis is. Tot die taliban maar o hete net nie n wit man nie. Wonder of wereld so tekere sou gaan as trump nie wit en manlik was nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.