Hoekom Afrikaners nie langer verskoning vir apartheid wil vra nie

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die hantering van die apartheidsverlede is tans in die nuus weens kritiek op Kallie Kriel van AfriForum wat gesê het dit was ’n onreg, maar nie ’n misdaad nie. Verskeie kommentators het ook gevra waarom wit mense nie meer om verskoning vir apartheid vra nie. Die maklikste antwoord sou seker wees dat Afrikaners moeg is van jammer sê en nou eerder op die toekoms wil fokus en die verlede agterlaat.

George Orwell het immers gesê dat elke geslag dink hy is slimmer as die vorige geslagte en wyser is as die volgende geslag. Maar so maklik kom mens nie van die geskiedenis af weg nie. Die Harvardse politieke wetenskaplike, Samuel Huntington, het die rede vir botsende sienings oor die verlede goed opgesom: “Elke kultuurgroep sien homself as die sentrum van die wêreld, en skryf sy geskiedenis as die sentrale drama van die geskiedenis van die mensdom.”

Maar die ANC wil húl meesterverhaal die enigste weergawe van die verlede maak; dié historiese draaiboek waarvan niemand mag afwyk sonder om op die brandstapels van die openbare mening verbrand te word nie. Só word geskiedenis ʼn gevaarlike wapen in die hande van die regeerders. In Orwell se woorde: “Die doeltreffendste manier om ’n volk te vernietig is om sy eie verstaan van sy geskiedenis te ontken en te vernietig.” Die bekende Dan Brown het hierteen gewaarsku in sy treffer, die Da Vinci Code: “In ʼn botsing van kulture word die verloorder uitgewis, want die wenner skryf die geskiedenis om hul eie saak te verheerlik en die vyand s’n af te kraak. Geskiedenis is altyd eensydig.” Lees gerus enige skoolhandboek om die waarheid van Brown se stelling te toets.

Kortom beteken al hierdie stellings dat daar nie net “een” regte geskiedenis is nie en dat ons in ʼn land soos Suid-Afrika moet ruimte maak vir meer “geskiedenisse”. Demokrasie veronderstel verskille oor die hede, die toekoms én die verlede.

Daar is egter ook verskeie ander redes waarom die meeste wit mense en Afrikaners nie lus voel om verder jammer te sê oor die verlede nie.

Magspolitiek

Ten eerste meen talle dat die voortdurende verwyte oor die verlede as oorsaak van alle probleme, ʼn magspolitieke greep van die ANC is om wit mense se spraakvryheid en demokratiese inspraak in te perk. Die beste verskoning vir apartheid, is die feit dat wit mense al dekades lank herhaaldelik by die stembus daarteen gestem het.

Ten tweede klink die aanhoudende geskop aan die lyk van apartheid na ʼn doelbewuste projek om die aandag te probeer aflei van die ANC se wanbestuur en korrupsie. Wit mense word selfs verantwoordelik gehou vir wat lank voor hul geboorte gebeur het, terwyl die ANC nie aanpreeklik gehou wil word vir wat hulle vandag doen nie. Jong wit mense wat nie deur apartheid bevoordeel is nie, wil nie meer om verskoning vra vir jong swart mense wat nie deur apartheid benadeel is nie. Hulle voel dat mense se visie vir die toekoms nou sterker moet wees as hul geheue oor die verlede.

Derdens voel baie wit mense die juk van die ANC se eie rassebestel aan eie lyf en ervaar ʼn bepaalde skynheiligheid oor klagtes oor die rassewetgewing van die verlede. Die meeste Afrikaners sal toegee dat die gevolge van baie apartheidsmaatreëls steeds voortduur, maar weet dat baie van die probleme net soveel te wyte is aan die ANC se swak regering en die ontwikkelingsprobleme wat oor die hele Afrika voorkom nie.

Vierdens het wit mense se aanvanklike uitgelatenheid oor die nuwe demokratiese bedeling waarin almal welkom, vry en gelyk sou wees, plek gemaak vir ʼn groeiende ontnugtering en vervreemding. Regeringsbeleid en -praktyk wek al meer kommer dat die ANC net toegewings by Kodesa gemaak het om die mag te kry, maar nou die struggle met staatsmag voortsit. Wit mense voel taamlik magteloos en nie vreeslik opgewonde oor die langtermyn-vooruitsigte van ʼn demokratiese stelsel waarin hulle stemreg sonder genoeg “stemkrag” het om dinge by die stembus te verander nie.

Afrikapad

Vyfdens laat die politieke onstuimigheid en ekonomiese rommelstatus baie wit mense vra of Suid-Afrika nie maar dieselfde afdraande pad as die meeste postkoloniale Afrikalande loop nie. Baie wit mense koop nie meer die ANC se meesterverhaal oor die verlede nie en vermoed dat dit eensydig geskryf word om twyfelagtige ANC-beleidsrigtings te regverdig en wit mense onderdanig “op hul plek” te hou.

Die verval van talle staatsinstellings; rassisme teen wit mense; onveiligheid; en dreigemente van onteiening en radikale ekonomiese transformasie herinner Afrikaners dat die vyf Mandela-jare miskien die uitsondering op die ANC se eeu lange geskiedenis is. Talle voel dat wit mense voorheen hewig teen ʼn ANC-bewind geveg het omdat die ANC van die verlede nog erger was as die huidige ANC. Was die ANC nie dalk ʼn rede vir apartheid nie? Al meer begin onthou dat die ANC nie vir ʼn liberale demokrasie geveg het nie, maar om ʼn kommunistiese bestel deur ʼn gewelddadige omverwerping van die vorige regering te vestig. Terselfdertyd dink hulle daaraan dat die meeste wit mense sedert 1981 mnr. PW Botha se hervormingsbeleid gesteun het om apartheid stelselmatig af te skaf; swart mense ekonomies op te hef; en planne gemaak het om swart groepe wat tot vreedsame verandering verbind was, in die regering te betrek.

Die heropkoms van Rusland laat baie wit mense terugdink aan die Koue Oorlog wat die politieke bewegingsruimte in Suid-Afrika tot 1990 grootliks gevries het. Die feit dat die ANC nog glad nie sy eie foute om die demokratiese oorgang te vertraag, erken het nie, demp die geesdrif onder Afrikaners om deurentyd aan hul ouers se foute herinner te word. Dit beteken nie dat wit mense terugverlang na die verlede onder apartheid nie, maar wel dat hulle nie uitsien na die toekoms onder die ANC nie. PW Botha was beslis nie die enigste krokodil nie!

Geweldsmisdaad

 Die sewende rede is die plaag van geweld wat die land teister. Mnr. Buthelezi het die ANC al in 1987 gewaarsku dat ʼn strategie om die land onregeerbaar te maak, Suid-Afrika ná hul magsoorname steeds onregeerbaar sal laat. Daar is wel ook sosiale en demografiese oorsake vir die geweld, maar die ANC-in-regering sit nou opgeskeep met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het.

Die agtste rede is dat baie Afrikaners meen die ANC het die demokratiese skikking van 1994 verbreek. Meerderheidsregering het ontaard in meerderheidsoorheersing en mnr. Zuma en sy span het gemaak wat hulle wil. Versoening is verskraal tot inlywing by die meerderheid en demokratiese grondwetlike ruimtes vir kulturele vryheid word met politieke mag toegestop.

Die negende rede is dat baie wit mense in die nuwe bedeling nie meer vry voel nie. Die ANC se rasgebaseerde transformasieformule van 80 swart, 9 bruin, 9 wit en 2 Indiërs waarborg dat elke deel van minderhede se lewens deur die meerderheid beheer word danksy “verteenwoordigendheid”. Daardeur het “dekolonisasie” ʼn nuwe kolonisasieprojek geword.

Laastens het talle wit mense die Zuma-presidentskap as die verpersoonliking van hul historiese vrese vir die gevolge van ʼn ANC-bewind ervaar. Dieselfde wit mense wat die eerste swart president in 1995 toegejuig het, het ʼn weersin in die korrupte Zuma gehad, en president Ramaphosa het nog nie hul vertroue teruggewen nie. Waar apartheid vroeër die skuld vir alles gekry het, het Jacob Zuma die gesig geword van wat verkeerd geloop het in die land. Maar hoewel Zuma die gesig van vrot regering was, is die ANC die lyf wie se swak regering landwyd vir almal duidelik is. Die werklikheid is dat die ANC se regeringsrekord die grootste struikelblok in die pad van ʼn normale geskiedenis is – ʼn nuwe, ewewigtige meesterverhaal oor die land se verlede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jerry ·

Met menings soos hierdie kan niemand jou beskuldig van eensydigheid nie. Ek stem saam met al tien redes wat jy aanvoer om die eenvoudige rede dat jou stellings ten minste poog om beide kante van die muntstuk te dek. Dit is denkrigtings soos hierdie wat ons nader sal bring aan meer sinvolle dialoog en ontledings in ons strewe na beter oplossings vir alle Suid Afrikaners. Jy is hierdie keer dus reg om die aanname te maak dat Afrikaners nie langer om verskoning wil vra vir apartheid nie. Wat jy egter nie se nie, is dat ten spyte van dit alles, is Afrikaners steeds bereid om CR n kans te gee.

christa ·

ek vra vir niks verskoning nie. Behandel my met respek en ek behandel jou met respek. Ek distansieer my van mense wat heeldag wil gepaai word en ‘n suigstokkie vir elke eina te wil he. Altyd bakhand wil staan en nie daarvoor werk nie en afbrand wat nie aan hulle behoort nie. Ek het hard gewerk vir wat ek wil he en het daarvoor betaal nadat ek gesorg het dat ek geleerdheid kry en ‘n werk gekry wat my kwalifikasies regverdig. Ek is geen bakhand geval nie.

Prioriteit ·

Jy het my emosie en denkwyse baie goed georganiseer. Het begin wonder of ek die enigste burger is wat so voel. Baie dankie Mr. Buys

Casper Labuschagne ·

Laat staan nog “nie verskoning vir Apartheid wil vra nie,” ek daag daagliks mense om my dan te vervolg vanweë my aandeel in ‘n misdaad teen die mensdom genaamd Apartheid. As ek vervolg sou word kan ek dan ten minste my saak stel, maar soos dit nou staan word ek net konstant beskuldig, aangekla, afgejak en uitgekryt vir my verlede. En as hulle my dan in die tronk stop, dan moet hulle vir vier miljoen ander soos ek ook in die tronk stop en dan sal ons van die tronk ‘n baie beter en veiliger wêreld maak as die gemeenskap buite die tronk wat dan juis op ‘n vorm van Apartheid sal neerkom.

Deon Meyer ·

Die tyd het aangebreek dat die wit mense van SA alle uitreikaksies (aan Swart mense)aan die “Groot Klok” hang en vir ‘n slag erkenning daarvoor kry.Daar is weining uitreik aksies, indien enige, vanuit swart geledere teenoor wit mense.
(By uitreik aksies tel sopkombuise,klerebanke,komberse,opvoeding ens.)
Dalk moet ons as wit mense ‘n radikale skuif maak en ons uitreik aksies na ander behoeftige witmense kanaliseer.

Trots Afrikaner Vlaktevark van Vlakte-en-Berge-Uitsig ·

Puik gestel. Dankie Flip.
‘n Enkele geskiedenisboek vir alle Suid-Afrikaanse skoolgaande leerlinge is in elk geval ‘n indoktrinasie-gereedskap. Skaf geskiedenis as vak op skool af. Ons kinders moet eerder tuis hul familiegeskiedenis, wêreld- en SA geskiedenis uit verskillende publikasies bestudeer en hul eie afleidings daaruit maak asook lesse uit die foute van die verlede identifiseer. Ouma’s kan help. Ons is moeg vir ANC-indoktrinasie.

W Kruger ·

Flip, kom ons aanvaar vir die oomblik dat al 10 jou redes 100% feitelik korrek en nie aanvegbaar is nie – terloops, dit is beslis nie. Dis in elke geval nie werklik ter sake of blankes goeie redes het om moeg te wees vir jammer sê nie – so ‘n vertrekpunt sal nie stabiliteit en verdraagsaamheid in die land bevorder nie en is ‘n luuksheid wat ons nie kan bekostig nie.
Wat my werklik interesseer is waarheen julle dink dat die huidige ras polariserende benadering van Afriforum sal lei. Ek kan my kwalik indink dat om by te dra tot verdere rasse onverdraagsaamheid en polarisasie na ‘n veiliger plek in Suid Afrika vir blankes in die algemeen, en Afrikaners spesifiek sal lei. Duidelik verstaan ek nie die Afriforum meesterplan nie. Wat is die plan?

Demokratiese Regte Bosvark van Regteheuwel ·

Bestudeer gerus die Burgerrregtemanifes te
https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/Burgerregtemanifes.pdf
Geen meerderheidsregering kan ‘n onreg regmaak deur die “legitimering van ‘n nuwe onreg onder die vaendel van ‘demokrasie’ of meerderheidsbesluit nie.”
Die buitewêreld hou die ANC-leierskap se respek vir demokratiese waardes fyn dop. In 1961 was net R0.71 nodig om ‘n USD te koop. Nou het ons as Suid-Afrikaners vandag, 21 Mei 2018, R12.27 nodig om net één USD te kan aankoop. Buitelandse geldmagte en regerings kan ons oornag kreupel maak. SA kan gerus leer uit Zimbabwe en Noord Korea se seerkry.

Henry ·

W Kruger, van meesterplanne gepraat..
Wat het van die reënboogland se meesterplan(ne) geword wat soveel wonderlike voorspoed, beloftes en vooruitsigte vir AL die burgers en burgeresse sedert 1994 se Nuwe Wonderlike Verbeterde Demokratiese Suid Afrika (NWVDSA) onder die leiding van die on-vryheidsvegters van die ANC, sou bied?

Na 24 jaar se korrupsie, vernietiging, ingeplofte en ekonomie, afgraderings, daaglikse moord en rooftogte ens ens, blyk dit dat die “broad church” se pypdroom – ‘skies bedrogspul – uiteindelik ‘n terug-gryp stuiptrekking na ‘n uitgediende marxistiese patronaat trogspul – ‘skies bedrogspul is.

Afgesien van die grondgryp triek, wat is die nuutste plan?

Flip Raath ·

‘n Afrikanertuisland. Ons moet net ruimte skep vir swart of gekleurde Afrikaner. Dit gaan nie oor jou velkleur nie maar wat in jou kop en hart aangaan.

W Kruger ·

Henry & Tamboti,
Alles wat julle sê mag so wees, maar dit sê nog steeds nie vir my wat Afriforum se plan is nie…of het julle eenvoudig aanvaar dat Suid Afrika gedoem is nieteenstaande die beste werke van Afriforum?

Henry ·

W Kruger, om meer van Afriforum se “planne” – meester en andersins – tewete te kom, hoef jy bloot jou oë op te slaan en die bydraes van Flip, Kallie, Ernst, Eugene, Alana ens wat onder die debat afdeling van MM verskyn, te lees.

Ek is/was nog nooit ‘n slaaf van sogenaamde meester-planne, bloudrukke, ideologieë en wat ookalle nie. Die geskiedenis van die planeet is vrot van elke Tom, Wladimir, Idi en Adolf wat biljoene muise oor die afgrond gelei het, met meesterplanne en al.

Ek ondersteun Afriforum en vennote omdat hulle mynsinsiens besig is om minderhede se belange in die algemeen en Afrikaner belange in besonder, ondersteun en beskerm teen die vergrype van Tom, Wladimir, Idi en Adolf se sotlikhede.

Indien jy nog meer wil weet, moet jy maar aan’t lees raak. Flip en vennote se werksaamhede en planne word deurlopend in heel duidelike en beskaafde taal op MM se gratis(!) werf beskryf. Ontdaan van die vervelige temerasies van ou bekende Jeremia’s wie se asem en krabbels steeds van Afrikaner “bashing” afhanklik is.
:-)

Oom Kalahari ·

Dankie Flip, goeie en waarderende skrywe en punte uitwysinge.
Ek vra geensins onverskoning, want ek het geen kwade in my tyd as kind gedoen of weet van iemand nie en of was nie enigsins bewus watter verskil daar was behalwe dat elkeen op sy eie gebied alle selfde erkenning gehad het. Ons het respek vir alle rasse gehad, maar vandag is dit erger as in die sogenaamde tydperk.

John Samuel ·

Mnr. Buys, Solidariteit – RESPEK..

Deurdunkte menings skrywe soos hierdie maak my a Trotse Afriforum & Solidariteit’ ondersteuner.

Doen so voort, want die Vader weet niemand anders doen vir ons nie…

Lerato ·

Die hede is die gevolg van die verlede. Al sê George Orwill IMMERS wat ook al.

Fanie ·

Beste Lerato, as als die verlede se skuld is, hoekom is armoede ‘n wêreldwye verskynsel? SA sit mos maar met dieselfde ontwikkelingsprobleme as die hele Afrika.

Mike Stander ·

@Lerato – so wat voorspel dit vir die huidige anc regering se optrede…?

Vra maar net….

jan ·

ek dink ook ons het niks meer om oor jammer te se. my kleinkinders wat na 1994 gebore
is verstaan nie wat aangaan. en as ek kyk hoeveel jong swart mense betrokke is by die daaglikse optogte en vernielsugtigheid in DA beheerde dorpe en stede dan verstaan ek nie , al wat ek dink is dat hul in hordes na die plekke aangery word ….eis vir huise sodat hulle permanente adres kan kry om in volgende jaar se verkiesing die DA te ontroon . stratigie van ANC en CR is tevrede daar mee .. dan saal daar weer stabiliteit kom ha ha

TM ·

Flip Buys se 10-puntplan het nie baie diepte nie, maar som darem die situasie redelik goed op. Die meeste mense wat ‘n min of meer nugtere en gebalanseerde beeld van die geskiedenis het, weet van dié dinge.
Wat egter jammer is , is dat hy Apartheid sonder meer afskryf en hom daarmee eintlik aan die kant van diegene skaar wat aan die Afrikaner of selfs net die ‘Europeër in Afrika’, geen plek gun nie.
As hy die geskiedenis objektief/nugter kan/wil beskou – en dr Verwoerd probeer verstaan het, sal hy weet dat Apartheid net ‘n noodsaaklike tussenstadium na Selfstandige Ontwikkeling was. Dié oplossing wat daarop gemik was om wrywingsvlakke tussen volke en kultuurgroepe, so ver moontlik, uit te skakel, is egter internasionaal – om egoïsties- materialistiese redes gekelder. Selfs vir iemand soos Van Wyk Louw was daar geen twyfel nie. In sy kommentaar op die destydse Tomlinsonverslag verklaar hy onomwonde: ‘Geen oplossing [sal] deur die wêreld of deur ons eie gewete aanvaar word wat nie uiteindelik volkome vryheid aan Wit en Swart sal bied nie’.
‘n Ander geleerde, die taalkundige prof HJJM v/d Merwe, sê dieselfde. Reeds al in die titel van sy baie lesenswaardige boek: Segregeer of Sterf.
Intussen wag die volk biddend[?] op leiers met visie…

Erika ·

Rassisme & diskrimenasie teen oor wittes gebeur nog steeds onder radar..terwyl openlik Ontken word.. ( Al verskil jy kan nie 0penlik praat daar oor nie jy word gebrandmerk want jy is in minderheid ,,want die tipe mentaliteit aanvaar doodeenvoudig nie acountability nie . selfs wittes steek mekaar in rug hier -jy is nie populer as jy anders dink nie en waarheid uitlig nie Punt ) en .terwyl hulle publieke beeld blink gevryf word ..korrupsie is algemeen mags misbruik intimidasie ..as jy te veel vrae vra word dit issue Black against white Bende mentaliteit terwyl Rassism doent discrimenate .. Neither does crime.. Ja wat gebeur het was nie noodwendig reg nie.. Maar as Kolonisasie nie gebeur het nie sou daar nie ontwikkeling plaas gevind het nie..en was Ons en hulle nie vandag hier nie Ek het reg om hier te wees niemand het die reg om te verwag ek moet my waardes /Identiteit prysgee ter wille van politie korrekte populistiese meerdereid se mentaliteit wat hulle wil he nie

Essie ·

Dis fantasties gestel. Ek was nie deel van apartheid nie en word steeds aangeval oor iets wat niks met my te doen het nie, en dit juis oor politiese aanhitsing. Ek is trots om ‘n “boer” te wees oor die besonderse waardes en geleerdheid wat ek ontvang het en ek gaan nie verskoning maak vir my afkoms nie. As almal ook net besef alle nasies is een onder God sou dit elkeen se uniekheid kon waardeer ipv afbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.