Hoekom beelde?

Deur Daniël Goosen

Die FAK het onlangs aangekondig dat ons die Kruger-beeldegroep op Kerkplein weer van die grond af gaan opbou. Daarmee neem die FAK ons erfenis in eie hande, sodat nóg die regering nóg politieke vandale hierdie kultuurskatte kan beskadig. Die vraag is, wel, hoekom beelde? Gegewe die toestand waarin ons land tans is, hoekom fokus die FAK nie eerder op infrastruktuur nie? Behalwe dat die FAK eerstens ’n kultuurorganisasie is en tweedens dat organisasies soos AfriForum bestaan, is daar iets diepers hier aan die werk.

Goeie volkskuns maak ’n appèl op iets wat ’n inherente verlange in die mens wakkermaak. ’n Verlange na skoonheid. Ons moet egter bietjie teoreties raak om te bepaal wat skoonheid is. Eerstens kan ons sê dat skoonheid een van die drie transendentale is, naas goedheid en waarheid. Teologies word hierdie drie eienskappe aan God self toegeskryf. God beskik nie oor iets goeds nie, Hy is goedheid self. God is nie net deels waar nie, Hy is die waarheid self. In dieselfde asem neem God nie deel aan skoonheid nie, Hy is die skoonheid self. Verder kan ons ook sê dat die mens nie genoeg van hierdie drie eienskappe kan kry nie.

Niemand wil die waarheid slegs vandag hoor, maar nie môre nie. Niemand wil hê dit moet deels goed met hom gaan nie, dit moet altyd konstant goed gaan. Ons het presies dieselfde verhouding met skoonheid.

As ons nou nader aan skoonheid self beweeg, kan ons sê dat skoonheid die ontmoetingsplek van drie dinge is: heelheid (integritas), harmonie (consonantia) en helderheid (claritas). Iets het heelheid as dit oor een “ding” gaan, met die byskryf dat daar nie iets in homself tekort skiet wat hom verhinder om sy doel te verwesenlik nie. Iets beskik oor harmonie as al sy verskillende elemente saamgespan word om ’n enkele doel te verrig. Daaruit vloei ’n vurigheid, ’n suiwerheid, soos wat die som van die dele meer word as die dele self.

’n Baie praktiese voorbeeld van hierdie driemanskap kan mens in iets so eenvoudig soos ’n krieketspeler sien. Mens kan duidelik sien as ’n bouler ’n amateur- of ’n professionele speler is. As ’n amateur boul, is sy lyf nie een met die taak nie. Die verskillende liggaamsdele is strydig met mekaar en werk nie perfek in gelid saam om die doel te verrig nie. Die resultaat is nie ’n skitterende boul nie, maar iets ondergeskik aan die ideaal. As Dale Steyn egter boul, gebeur iets heeltemal anders. Sy lyf is al só gedissiplineer dat die verskillende dele perfek saamwerk om die taak te verrig. Elke spier en beweging is in harmonie met mekaar en die resultaat is ’n goeie boul. Dit is vurig en aanskoulik soos wat dit sy doel verwesenlik. Ons wat kyk, beskryf dit kollektief as “mooi”.

Wat doen skoonheid? Dit wakker in ons ’n wil aan om deel te neem. As mens vir ’n kind wil leer om krieket te speel of selfs net te waardeer, begin mens nie dadelik met die reëls nie. Jy begin deur vir die kind te wys wat goeie krieket is – op die hoogste vlak waar die spel tot sy vervolmaking kom. Die kind kyk na iemand soos Dale Steyn en sê vir homself: “Ek wil só kan boul.” Daarna maak die reëls van die spel ook baie meer sin, want die reëls is juis daar om ’n mooi spel moontlik te maak.

Kyk ons na die Kruger-beeldegroep, sien ons presies dieselfde. Deur mens dadelik met feite en geskiedkundige kennis te bestorm, kan oorweldigend wees. Die oorloë, politieke omstandighede en geskiedenis wat hierdie beelde voorafgegaan het, is kompleks. Dit voel ver en ontoepaslik, gegewe hoe die land verander het. Die goeie ideale soos vryheid en selfbeskikking wat hierdie figure voorgestaan het, kan deur die oorvertel van geskiedkundige feite as’t ware verberg word.

Dit is presies hoekom daar ’n beeldegroep op Kerkplein staan en nie ’n geskiedenisboek nie. Hierdie beelde – deur middel van uitstekende vakmanskap, die nakoming van kunsbeginsels en simboliese beliggaming van die ideale van ’n seker tydperk – maak ’n deur oop. Dit is ’n toegangsroete vir die Afrikaner om te verstaan waar hy vandaan kom – deur juis nie eers met die reëls te begin nie, maar om te begin om te kyk, te sien en verstaan.

Tog is hierdie beeldegroep meer as net ’n toegangsroete tot ons geskiedenis. Ten diepste is hierdie beelde nie bloot net ’n visuele voorstelling van ons geskiedenis nie, maar eerder ’n praktiese uiting van inherente Afrikanerideale. Die ideale van vryheid en selfbeskikking. Daarom is die beelde ook tydloos, want hierdie ideale het die gees van die Afrikaner oor die eeue heen gevorm. Dit is hierdie ideale wat die Groot Trek onderlê het, asook die twee Vryheidsoorloë.

Dit is ook presies hierdie ideale wat die Afrikaner vandag najaag elke keer as ’n pad reggemaak word, as watertoevoer herstel word of as ’n kultuurnetwerk ’n monument skoonmaak. Dit is hierdie ideale wat iets soos Sol-Tech of Akademia onderlê en moontlik maak. Die beelde op Kerkplein roep ons dus op om deel te neem. Nie net om op ’n kreatiewe manier met ons geskiedenis om te gaan nie, maar ook om aktief met ons ideale te werk te gaan. Op ’n praktiese en doelgerigte wyse.

As die beeldegroep op Kerkplein so gelees word – as ’n koersaanwyser en ’n versinnebeelding van ons ideale, maar ook as ’n toegangsroete tot ons kulturele herkoms – is hierdie beelde (en vele ander soos dié groep) van onskatbare waarde. ’n Gemeenskap kan nie van brood alleen leef nie en dis juis beelde soos dié wat die gees van ’n gemeenskap kan voed.

  • Daniël Goosen doen vanjaar ’n internskap by die FAK. Hy beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies.

Lees meer hier oor die FAK se nuwe projek. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Alles mooi en edel gestel, maar soos gister was, is beelde in gister gegiet en dien net ‘n doel om die verlede duideliker te verbeeld vir die oningelyfdes/oningeligtes. Om aanhoudend bedreigd te moet voel dat sulke beelde vernietig kan word so asof die verlede dan uitgewus word, is onnodige pyn en lyding. Beelde maak nie beter Afrikaners van Afrikaners nie. Lewendige Afrikaners wat doen/leef soos Afrikaners is Afrikaners.