Hoekom Cecil die nuus domineer en wat jy moet doen as dit jou ontstel

polisiemoorde

Grafika: Maroela Media

In die afgelope twee weke was die nuus geheel en al deur die storie van Cecil die leeu gedomineer. Ek is nie juis ’n jagter nie en ek gaan myself nie as ’n kenner op die gebied voorhou nie, maar daar is tog ’n paar belangrike afleidings wat ons uit hierdie verhaal kan maak.

Volgens ROi Africa Media Insights was die Suid-Afrikaanse nuusmedia verlede week oorstroom met nuus van Cecil die leeu. Byna twee derdes (65,67%) van die nuus het oor dié berig gehandel. Die Springbokke (die rugbyspan, nie Cecil se kos nie) was tweede met ’n skamele 6,51%. Die hutsteken #CecilTheLion het meer as die helfte (51,64%) van die nuus op Suid-Afrika se sosiale media in beslag geneem. Selfs op die internasionale forum het Cecil die eerste plek gekry met meer as ’n derde (34,02%) van die internasionale nuusdekking wat aan hom toegewy is. Cecil het in die internasionale media meer as dubbel soveel nuusdekking gekry as Donald Trump en meer as drie keer soveel dekking as ISIS se terreurdade!

Hoe op aarde is dit moontlik?

Die antwoord is eintlik lank en ingewikkeld. Aan die een kant bevat dit rolspelers vanuit verskillende uithoeke van die wêreld, wat die storie relevant maak op verskillende plekke. Aan die ander kant is dit ’n sensasionele storie, waarmee mense se emosies opgejaag word (en die feit dat die leeu ’n naam gehad het, maak die storie soveel groter). Mense is óf kwaad oor dit wat gebeur het, óf hulle is kwaad vir die mense wat nie ook só reageer op ander, groter krisisse nie.

’n Mens kan selfs argumenteer dat dit op pseudo-nuus neerkom. Dit is nie werklik groot nuus nie, maar almal praat daaroor. En omdat almal daaroor praat, is dit groot nuus. Hoe meer mense daaroor praat, hoe langer bly dit in die nuus. En hoe langer dit in die nuus bly, hoe meer praat mense daaroor.

’n Verdere element wat hierdie verhaal nuuswaardig maak is dat dit aangevuur word deur aktiviste, wat dit hulle missie maak om hierdie storie so lank as moontlik in die kollig te hou.

Laastens – en dit is die punt waarop ek wil fokus – is mense kwaad omdat die storie, volgens hulle, “abnormaal” is. Dit is nie ’n alledaagse gebeurtenis nie en daarom praat mense daaroor. Daarin lê die tragedie. Ek het baie mense hoor kla oor die feit dat iets soos plaasmoorde nie soveel publisiteit en debat ontlok soos Cecil die leeu nie. Die feit dat bykans 30 boere sedert die begin van die jaar al vermoor is, is ’n bevestiging dat plaasmoorde baie meer katastrofies is en veronderstel is om groter nuus te wees. Maar die hartseer is dat plaasmoorde nie soveel aandag kry nie, gedeeltelik omdat dit in die publiek se oë as deel van die status quo beskou word.

Dit laat my dink aan my onlangse besoek aan Australië as deel van AfriForum se veldtog om internasionale bewusmaking oor plaasmoorde te doen. Daar gekom, skakel ek die nuus aan. Hoofnuus op ABC was dat ’n man in die kop geskiet is, maar dit oorleef het (nie juis nuus as dit in Suid-Afrika gebeur nie). Destyds tydens ’n besoek aan die VN se hoofkantoor in New York was ek net so verbaas. CNN America het berig dat ’n man in hegtenis geneem is omdat hy met ʼn inkopietrollie in iemand anders vasgejaag het. Dit klink soos naweekvermaak in Suid-Afrika.

Daarteenoor vind daar amper elke dag ’n plaasaanval en amper vyf plaasmoorde elke maand in Suid-Afrika plaas. Dit gebeur al só gereeld dat dit as “normaal” in groot dele van die publiek oë beskou word.

As jy dus, soos ek, ook gefrustreerd is oor die buitensporige media-aandag wat aan die sogenaamde “moord” op Cecil die leeu gegee word, terwyl ander erger brandpunte agterweë gelaat word, moet nie die leeu en die media daarvoor blameer nie. Wat ons moet doen is om seker te maak dat dít waaroor ons ontsteld is en wat in ons opinie baie meer skreiend is as die verhaal van Cecil, nooit vir ons normaal word nie. Ons moet sorg dat ons reaksie hierop nie afneem hoe meer dit gebeur nie, want daarmee sê ons dat dit besig is om normaal te word. Ons protesaksies moet groter word, nie kleiner nie.

Mag die abnormaliteite van hierdie land nooit normaal word nie.

  • Lees al Maroela Media se berigte oor Cecil die leeu hier.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Leon ·

Hoekom gee ons vir leeus die name van oorlede boere en ander slagoffers van moord en adverteer dit in die wêreld dat hulle ook op die boere se naam genote ‘n trofee jagtog kan aanpak. Ja twee verkeerd maak nie 1 reg nie, maar daar is wel jagters wat eties optree. Ons kan dit juis op daardie manier doen en saam met dit, die saak as goeie doel adverteer en as bewusmaking gebruik. Sou mense soos die anti-jag aktiviste mens daaroor veroordeel, dan sê mens net dat vir elke boer wat vermoor word, daar minder omgewingsbewustes oorbly om na die natuur om te sien, en dat daar maar ook jag gemaak word op mense. Ja daar is minder leeus as mense, so sit naar dringendheid in die saak…

Robyn Jonker ·

Daar word daagliks derduisende beeste ge(skiet) geslag vir ons etenstafels baie van hulle het ook name gehad Poena, Rooirok, Keiser is maar n paar van ons gestorwe beeste se name hulle was vredeliewende diere, daar is geen verskil tussen die skiet van n bees en n leeu nie. Dit is n dag om te treur as die dood van n siellose dier belangrikker is as die sterwe van iemand se geliefde

Hendrik ·

Skitterende artikel deur Ernst, soos gewoonlik. Is dit dalk in Engels ook beskikbaar?

Liezel Lüneburg ·

Ek gaan nou ook ‘n eier in die pan gooi. Ernst het een van my frustrasies rondom Suid-Afrikaners se reaksie op Cecil Die Leeu baie raak bewoord. Maar ek dink nie daar is salf aan te smeer nie. Ek dink dit is ‘n simptoom van die typ en plek waarin ons onsself bevind.

In SA staar ons daagliks geweld, korrupsie, moord, rassehaat en -spanning, armoede, eknomiese krisis en onbevoegheid in die gesig – om maar ‘n paar krisispunte te noem. Alle vorme van media loop oor van negatiewe berigte en woedende reaksies daarop. Mense is letterlik die hel in. Frustrasievlakke het die hoogte ingeskiet. Ons kry ‘n oordosis van aaklighede wat ‘n “realistiese bedreiging” vir ons en ons gesinne inhou: Dinge soos werkloosheid, moord, roof en verkragting.

Dalk het ons, soos Ernst tereg opmerk, doodeenvoudig afgestomp geraak vir hierdie meer realistiese bedreigings. Ons kan nie en wil nie meer daaroor dink of tob nie. Dalk is deelname aan die media-herrie rondom Cecil Die Leeu ‘n ontvlugting van daardie verskríklike dinge wat net ‘n oomblik weg is. Daardie dinge wat ons en ons gesin kan seermaak. Cecil het aan mense ‘n ander “rede” gegee om hul woedende frustrasies te lig.

Maar ek stem saam met Ernst as hy sê: “Ons moet seker maak dat dit waaroor ons ontsteld is, nooit vir ons normaal word nie. Ons moet nooit ophou om daaroor te praat en te protesteer nie. Ons moet sorg dat ons reaksie nie afneem hoe meer dit gebeur nie. Ons protesaksie moet groter word, nie kleiner nie.”

THEO COETZER ·

Liezel slaan vir my die spyker op sy kop. In ons samelewing hoor ons daagliks van al die moorde, verkragting, ens en NIKS word daaraan gedoen nie. Mense praat vir ‘n uur of ‘n dag daaroor en dan is dit verby. Slegs diegene wie se naasbestaandes betrokke is onthou en leef saammet dit vir jare en jare.

Cecil op die anderkant het mense woedend gehad vir dae aaneen en is mense nogsteeds daarby betrokke. Miskien is dit omdat ons reaksie kry oor hierdie gebeurtenis dat ons daarmee aanhou.

Dus dink ek die antwoord le dat ons mense moet herinner aan dit wat met ons medemens gebeur en dit langer in die nuus probeer hou, miskien met REAKSIE uit alle geledere, dan sal mense dit meer onthou en daarteen veg vir langer.

Chivago ·

Ek is meer frustreerd met ander dinge as die ophef oor Cecil. Die woorde apartheid & rassisme, die frase “die wittes se skuld” is dinge wat my meer irriteer as wat woorde kan beskryf.

Herman ·

Leon. Ek dink jy het n briljante plan daar beet.
Verder wil ek ook weet hoekom betoog ons nie ook in ander lande voor die ambasades nie.? Kan ons nie werklose jongmense finansieel ondersteen om met borde in new york en london voor die amabasades te gaan sit vir weke en maande elke dag nie? Dis hoe die ANC die wereld bewus gemaak het van apartheid.
Ek het dit baie sterk oorweeg om dit te doen toe ek in Amerika gewerk het, maar ek kon dit eenvoudig nie bekostig nie.

Bruno Stef ·

In die daaglikse gesprek met mense in die Blanke gemeenskap sal jy in baie gevalle waarneem dat mense miskien kennis dra van misdade maar as dit bespreek word gou die onderwerp van bespreking verander.Ek wil nie veralgemeen nie maar dit lyk vir my asof dit Polities Inkorrek is om sulke misdade te bespreek of te noem .Die houding is solank dit nie met my en my gesin gebeur nie en my daaglikse lewe onverstoord kan voortgaan het ek vrede wat om my aangaan .Mense veral in die Afrikaner gemeenskap moet hulle prioriteite begin regkry en nie net saamsleep omdat daar ander is wat kan protestreer en hulle nie betrokke hoef te wees nie omdat hulle self te gemaksugtig is.

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekende waarnemings, Ernst Roets!

Mense wat sê daar word “niks” gedoen om plaasmoorde aan die groot klok te hang nie praat onsin. Wanneer daar optogte gereël word om die tragedie met groot geskal onder die wêreld se aandag te bring, het almal iets belangriker om te doen en is vol verskonings. Dit wissel van “ons Afrikaners is nie so nie” tot “kan nie afvat by die werk” vir ‘n paar uur nie. Dan die mees belaglike verskoning: “Ek hou nie van die ‘verregse’ Sunette Bridges, Steve Hofmeyr” of wie ookal nie. Vir wie word daar gewag wat geskik genoeg geag gaan word om dit te doen? Die vermoorde slagoffers gee seer sekerlik nie om wie dit reël nie, solank dit net gedoen word!

Nee, ek is bevrees die status quo is vir die meederheid al lankal normaal. En net dáár verskil die Afrikaner hemelsbreed van enige ander Westerse nasie wat ek van weet. (die Aussies, waar ek my op die oomblik bevind, sou een helse lawaai opskop in dieselfde situasie, daarvan is ek seker.)

faith ·

stem saam met berig oor cecil. dit is jammer dat hy op daardie manier van kant gemaak is maar wat val al die vroue en kinders en boere wat elke dag ook op daardie manier vermoor word. die ophef van sulke gevalle moet sterker wees van die gevalle hoor ons nie eers van nie want dit is dalk ‘n onbekende persoon. soos tereg gese boer word uitgemoor (wit, swart wat kleur ookal) waar gaan ons kos kry as boer so vermoor word of die plaasaanvalle. kyk vir zimbabwe al hoe meer mense ly honger SA is volgende

Betsie ·

ek glo dit is omdat leeus aan die uitsterf is, mense nie.
ons is hier om na diereryk om te sien nie te vernietig nie.
ons kan onsself verdedig help maar diere nie.
Wittes het nog nooit nodig gehad om te betoog nie so miskien kan ons nie.
niemand anders gaan dit vir ons doen nie as ons plaasmoorde wil betoog sal ons dit moet doen soos in die verlede gedoen was deur ander landsburgers
sal ons weet waar om te begin as ons wil betoog
dit is nie die leeu se skuld dat hy aandag kry en plaasmoorde nie, kom ons doen iets en praat nie net nie ons is baie goed met artikels woorde woede maar geen aksie

Swani ·

Miskien moet ons die vermoorde boere NAME gee. Daarmee bedoel ek dat ons, hoe hard en hartseer dit ookal is, die detail van die moorde, sowel as die naasbestaandes agter die statistiek onder die land en wêreld se aandag gebring moet word.

George ·

Ekself is nie ‘n jagter nie maar het geen probleem met jag nie. Ek dink mense moet begin besef dat die diereryk ondergeskik aan die mend gestel is. Wat ek probeer sê is dat ons verantwoordelik en menslik met diere moet werk. Dit is ‘n onbetwisbare feit dat jag ook die grootste bydrae lewer tot natuurbewaring. Wat baie tragies is, is dat mense skynbaar feitlik niks vir ‘n mens se lewe omgee. ‘n Moordsaak sukkel om die voorblad van ‘n koerant te haal veral as die slagoffer nie beroemd of bekend is nie. Ek wil nie eers aan plaasmoorde dink nie, want dit laat my bloed kook. Ons samelewing is besig om op te vrot as ons nie baie vinnig ons prioriteite regkry nie.

Jax van Niekerk ·

Cecil die leeu
was ‘n leeu van faam
sonder ‘n wapen , net met sy tande
moes hy sy man staan.
Die ou wat hom geskiet het,
met n pyl en boog,
en die man wat dit gereël het
lieg dalk laag en hoog.
So wat maak dit saak
vra iedereen homself
as ons toe oë deur die lewe loop
en nie dieper delf.
Ons praat eerder oor n leeu
as mense wat sterf
dis die nuwe beloop van leef
op die Afrika-wef

Takkie Takuuza ·

Goeie berig en ek hou van die kommentaar. Ek jag self, maar nie goed wat ek nie eet nie. Maar gun elke ou sy plêk in die son. Leeus is nie aan die uitsterf nie, daar word meer geteel as gejag. Ek wonder net wat sou nou die gevolg gewees het as die leeu nie “n naam gehad het nie. Jy sien daar word jaarliks klomp van daai no-name leeus gejag. Dis seker nie so erg as jy nie ‘n “celebrity” is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.