Hoekom die gebeure in Hongkong saak maak

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Die meeste lande gaan nog sekerlik jare geraak word deur koronavirus se impak. Die wêreld word deur ’n ernstige resessie en selfs depressie in die gesig gestaar. Vir China is die onsekerheid ’n enorme geleentheid.

Die VSA word soos SA

Terselfdertyd is die geopolitieke prentjie in die wêreld besig om te verskuif. Die VSA se oorheersende wêreldrol is besig om vinnig te verswak. Die Amerikaners se veelrassige eksperiment blyk nou om dieselfde pad as Suid-Afrika se gebroke reënboognasie te volg. Die volgende klompie jare gaan sekerlik lei tot regeringsoptredes wat, soos in Suid-Afrika, tot rassebevoordeling en verhoogde sosialisme aanleiding gaan gee, wat daaropvolgend die VSA se regstaat kan beïnvloed. Tonele van vandalisme, afbrand van infrastruktuur en selfs die ontbinding van polisie-eenhede – in die naam van “geregtigheid” – sal sekerlik, soos in Suid-Afrika, eersdaags ’n alledaagse verskynsel word.

Die een moondheid wat reg staan om die leemte te vul, is natuurlik China.

‘Big Brother’ hou die Chinese dop

Betogers skeur ʼn banier waarop pres. Xi Jinping van China se gesig pryk middeldeur. (Foto: Ajit Solanki, AP)

China volg onder hul president, Xi Jinping, ’n aggressiewe veldtog om die VSA uit te daag. Xi het sy mag oor die jare uitgebrei en beskik tans oor alleenseggenskap in China. Om hierdie rede is die Chinese se onlangse (nominale) opheffing van Hongkong se spesiale status as onafhanklike stadstaat iets wat ons almal in die afsienbare toekoms gaan raak.

Onder president Xi het China binnelandse beheer vervolmaak. Die Kommunistiese Party van China (KPC) het homself oudergewoonte ten koste van sy burgers versterk. Met nuwe tegnologie soos, onder meer, gesigsherkenning kan hulle enige burger wat om welke rede ook al die staat nie welgeval nie, maklik opspoor en sy regte ontneem, byvoorbeeld om eiendom te huur of te reis. Daar is alreeds grootskaalse gebruik van tegnologie om die ongehoorsames te “straf” vir oortredings soos om op die verkeerde plek oor ’n straat te stap of die regime se optrede op sosiale media te kritiseer.

China is dus nie ver van ’n tipe “Big Brother” wat nóg meer beheer oor al sy burgers gaan hê nie en gaan vereis dat lojaliteit aan die KPC volledig moet wees. Daar is blykbaar reeds ’n miljoen van China se Moslem-minderheid, die Oeigoers, wat in straf- of konsentrasiekampe aangehou word en “heroriënteer” word om eerder soos die Han Chinese-meerderheid op te tree. Dit volg ná ’n paar bomaanvalle deur Oeigoer radikales in 2013, gemik teen Chinese miskenning van die Oeigoer-kultuur in die provinsie Xinjiang.

Dis egter op die internasionale terrein wat China groot oorwinnings behaal.

In China se sakkie

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

China het deesdae ’n groter inspraak in internasionale organisasies soos die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) en die ongeaffilieerde Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), soos onlangs bewys met die Covid-19-pandemie. Dan het Xi ’n ambisieuse plan, die Belt-en-Pad-inisiatief (BPI), van stapel gestuur. Die BPI word beskryf as ’n nuwe “syroete” waarmee China Asië met Afrika en Europa wil verbind; en land- en seehandel wil domineer van China tot in Europa. China wil tientalle lande in Asië, die Midde-Ooste, Rusland en Europa verbind tot ’n vervaardigings- en handelstelsel waarin hulle afhanklik van China sal wees. Dit sal die VSA se gevestigde belange in Asië, die Midde-Ooste en Europa erg benadeel.

Verskeie Afrika- en Suid-Amerikaanse lande is reeds ná jare se verskaffing van sagte lenings basies vasale van China. Hulle is lankal afhanklik van Chinese lenings, infrastruktuur-ontwikkeling, aankope van grondstowwe, ensovoorts. So is China reeds die grootste “vennoot” van lande in Suidelike Afrika soos Suid-Afrika, Namibië, Angola, Zambië en Zimbabwe. Hierdie afhanklikheid gaan verder uitbrei soos in die geval van Suid-Afrika, wat China volledig in die VN Veiligheidsraad (waarin SA tans dien) steun, meestal ten koste van die VSA.

Aggressiewe buitelandse beleid

ʼn Protesoptog teen China in Ahmedabad, Indië. (Foto: Ajit Solanki, AP)

China is militêr nog glad nie die VSA se gelyke nie. Nietemin het China in die laaste tyd sy spiere gebult oor die olieryke Suid-Chinese see, wat baie nader is aan lande soos die Filippyne, Maleisië en Indonesië. Die dag is nie ver dat China eenvoudig die eilande gaan annekseer nie. Die VSA gaan egter militêr verswak weens ’n interne politieke stryd oor rassisme en geslagsidentiteit in komende jare, en selfs die besit van die beste tegnologie ter wêreld kan dit nie keer nie. China het bitter min verdelings in sy samelewing en is in elk geval meer as 90% homogeen.

Inmiddels het daar ook in Julie skermutselinge tussen China en Indië op hul grens uitgebreek, en 20 Indiese soldate is in die proses in Mei 2020 doodgeskiet. Dit het gelei tot spanning en oorlogspraatjies van beide lande. Indië was al daaroor in ’n oorlog met China gewikkel in die 1960’s en is self besig om in ’n nuwe supermoondheid te ontwikkel. Sy nasionalistiese eerste minister, Narendra Modi, is pro-VSA en daar is stadig maar seker besig om ’n VSA-Indië strategiese bondgenootskap te ontwikkel om die Chinese teen te staan.

Hongkong: China verbreek ooreenkoms

Veiligheidsmagte staan gereed tydens betogings in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Die grootste aanduiding van China se aggressiewe opgang is sekerlik sy optrede in Hongkong. In Hongkong het China, teenstrydig met ’n ooreenkoms met Brittanje, basies Hongkong se onafhanklike status opgehef. Dit volg na maande lange betogings waarin Hongkong se inwoners die strate ingevaar het om te keer dat Hongkong ’n wet aanvaar waarin Hongkongse burgers in hegtenis geneem en aan China uitgelewer kan word. Brittanje het in 1997 sy seggenskap van Hongkong opgegee ten gunste van China, maar die ooreenkoms was dat China vir 50 jaar (tot 2046) Hongkong se (relatiewe) vrye, demokratiese stelsel sou behou – die Chinese noem dit “een land, twee stelsels”. Tot nou toe het hulle hul woord gehou, maar met die uitbreking van die koronavirus die geleentheid gebruik om alle protes te verbied en ’n omvattende wet uitgevaardig wat alle vorme van protes of subversie teen China in Hongkong verbied.

Die gevolg is dat inwoners van Hongkong hul spraakvryheid en ander vryhede verloor en nou indirek deur Beijing beheer word. In reaksie het internasionale persgroepe uit Hongkong onttrek en die Weste ’n proses begin om Hongkong van sy status as outonome handelsgebied te ontneem. Daar behoort eersdaags ’n reuse-uittog van prodemokratiese inwoners uit Hongkong te wees. Westerse lande soos die VSA, Brittanje, die EU en Australië gaan honderdduisende mense as politieke vlugtelinge moet inneem.

Voeg daarby nuwe dreigemente van China teenoor die eilandstaat Taiwan. Taiwan het ontstaan ná die KPC in 1949 in China oorgeneem het en is sedertdien ’n pyn in die nek vir China aangesien die eiland hulself as onafhanklik sien. China wil graag ook Taiwan (soos Hongkong) weer deel van China maak. Die VSA se magsprojeksie het dit nog altyd verhoed, maar ’n Chinese anneksasie van Taiwan is nie vergesog nie.

SA wil ontwikkel op die Chinese model

Pres. Ramaphosa en pres. Xi Jinping. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Vir Suid-Afrikaners is die aggressiewe buitelandse beleid van China saakmakend. Die ANC-regime is ’n gedweë bondgenoot van die KPC en ten spyte van eersgenoemde se onbeholpenheid en korrupsie, skoei die ANC sy model van ekonomiese groei op China. Dit verklaar die ANC se obsessie om bankrot staatsondernemings ten alle koste te laat voortleef; en het hulle selfs planne om ’n nasionale staatsgesondheidstelsel in te stel ten spyte van hul klaaglike mislukkings met gesondheidsorg.

Daar was oor die laaste 25 jaar letterlik honderde regeringsafvaardigings wat China se drumpel gaan deurtrap het om te “leer” by die Chinese. Wat die SA afvaardigings egter blykbaar nie kon verstaan nie, is dat Chinese staatsondernemings kompeteer teen mekaar (byvoorbeeld om elektrisiteit te lewer) en kundige persone in diens neem. Hulle het dus die kuns vervolmaak om sulke ondernemings in die belang van die Chinese bevolkings te laat optree, eerder as vir selfverryking soos in Suid-Afrika. Nietemin glo die ANC-regering steeds dat hulle die Chinese se voorbeeld gaan volg.

Suid-Afrikaners kan sake doen met wie hulle wil en dis natuurlik logies om eerder produkte by China aan te koop omdat dit goedkoper is as elders. Nietemin is daar ’n onderliggende aggressie wat uit die Chinese staat voortspruit wat Suid-Afrikaners noodwendig gaan beïnvloed weens die ANC se obsessie met politieke steun aan China. Wat vandag in Hongkong gebeur, en môre dalk in Taiwan of Indië, gaan ’n direkte impak op ons in Suid-Afrika hê.

China is besig met ’n berekende spel om die VSA van sy troon af te stoot. Covid-19 en die toenemende identiteitspolitiek in die VSA, wat weer lei tot die konstante groei van sosialistiese hulpprogramme, maak dit vir China makliker om die VSA se magsposisie te ondergrawe.

Die VSA se oorheersing van wêreldpolitiek is besig om vinnig te taan.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
JJ

Nico, jy loop maar ligvoet om die probleem. Die RSA regering hou hulle bekke dig toe oor die vergrype wat nou in Hing Kong plaasvind. Ook kyk hulle ander pad oor die vervolging van minderhede in China waar sekere groepe eenvoudig in konsentrasiekampe gehou word en hulle organe lewendig geoes word. Die Belt & Road inisiatief stuur op ‘n katestrofe af vir baie lande en dit het ook hier plaaslik ‘n invloed. As die skuld nie terugbetaal word nie, is dit nie lank voordat ons in hulpbronne betaal nie of die “bates” aan die Chinese oordra nie. In ons eie… Lees meer »

Kokerboom

Die vrye wêreld moet NIE toe oë slaap. Die wêreldorde staar ‘n groot bedreiging in die gesig

Therese

Ironies dat die Wuhan-virus vir China ‘n “enorme geleentheid” bied om hul greep op die wêreld te verstewig. Covid-19 moes na regte ‘n enorme ‘verleentheid’ vir president Xi Jinping en sy Kommunistiese Party wees, maar nie ‘n greintjie erkenning of berou tot dusver.
Eerder onverbiddelike arrogansie en dreigemente.
Westerse staatshoofde en sakemagnate moet versigtig wees dat hul renons in president Trump hul nie kortsigtig en traag maak om totale Chinese oorheersing ten minste te probéér stuit nie.

Lukas

Hi Nico, ongelukkig stem ek met jou saam. Langsaam maar seker word ons opgesluk deur China. Daarmee sal die ANC sy kommunistiese plan volledig kan uitvoer wat myns insiens reeds in volle gang is.Wat hulle (die regering) nie verstaan nie dat hulle ook opgesluk word en net nou niets meer te see het nie.Het blyk uit alle akties van China dat hulle niet te vertrou is nie. Wat is die gevolge wanneer China oorvat, alle eiendomme word staatsbesit ,besighede word staats bedrywe . Nico kan jy miskien een redelik realistiese toekoms scenario vir ons gee .??Myn sorg is, en dit… Lees meer »

Piet

Na 4 jaar van Trump en die VSA is soos SA.