Hoekom Donald Trump die verkiesing in die VSA gaan wen

Foto: www.people.com

Foto: www.people.com

Donald Trump gaan die volgende Amerikaanse president word. Hy gaan oorweldigend deur Amerikaanse kiesers op 8 November as president verkies word en in die proses Hillary Clinton ore aansit.

Is dit nie onmoontlik nie?

Ek weet hierdie is ’n baie aanvegbare standpunt en hoor reeds die kore van onmoontlik, Trump sal nooit verkies word nie. Die Spaanssprekendes sal nooit vir hom stem nie, want hy wil ʼn muur bou om die Mexikane uit te hou. Vroue sal hom nie verkies nie, want Trump is immers ʼn opperste chauvinis. Swart mense sal hom nie verkies nie, want hy is ’n rassis. In Suid-Afrika sou hy seker lankal weens haatspraak voor die Menseregtekommissie of gelykheidshof moes verskyn oor sy uitsprake!

Verder is daar nog sy bombastiese persoonlikheid, idees om Moslems die VSA te verbied, persoonlike skandale oor hofsake en saketransaksies wat skeef geloop het, politici in sy eie party (die Republikeine) wat weier om vir hom te stem, ʼn groot aantal vermaakkunstenaars wat aangedui het hulle sal landuit vlug as Trump verkies word, ensovoorts.

Die hoofstroom media (ook hier in Suid-Afrika) hou Trump al lank voor as ’n grap, ’n mal man wat ’n wêreldoorlog sal begin en ’n homofoob met ’n besonderse lagwekkende haarstyl.

Sy uitsprake word as absurd of afstootlik afgemaak. Net een kyk na kragtige nuusmedia soos CNN of The Daily Show wat deesdae deur ’n Suid-Afrikaner, Trevor Noah, aangebied word, sou vir die meeste politici ’n doodsteek gewees het. Hy word bespot, beledig en selfs as dom of gevaarlik voorgestel.

Hoe is dit dus moontlik dat Trump ’n kans het om te wen? Trump glo immers die VSA se grootste probleem tans is politieke korrektheid en spreek onderwerpe kaalvuis aan in sy besonderse bombastiese styl. Wat is sy kans teen Clinton, die vrou van ’n voormalige president, senator van formaat en lank die VSA se minister van buitelandse sake? Trump het geen rekord as verkose verteenwoordiger of politikus nie. Hy is wel ’n sakeman van formaat wat ’n eiendomsryk opgebou het en ’n paar biljoen dollar sterk is.

Kom ons fokus nie in hierdie artikel oor wat sy beleid is, of wat gaan gebeur as hy president word en so aan nie. Ons fokus net op die redes waarom hy verkies gaan word en hoekom hy alle reëls verbreek wat normaalweg in ’n VSA-verkiesing teenwoordig is.

Trump verras almal

Niemand het Trump die kans gegun om die Republikeine se presidentskandidaat te word nie. Hoewel hy voorgeloop het in meningspeilings het almal vertel dat hy vinnig sou uitsak en dat sy inkorrekte uitsprake in sy gesig sou ontplof.

Die teenoorgestelde het egter gebeur. Hoekom?

Trump was jare lank ’n bekende gesig in die media. Hy was immers een van die eerste mense wat as jong man groot eiendomstransaksies beklink het in New York, terwyl die stad destyds eerder bekend was vir misdaad. Sy sosiale lewe en egskeidings was kort-kort in die nuus. Sy jare lange betrokkenheid by ʼn realiteit-TV-program oor entrepreneurskap, The Apprentice, waarin hy week na week potensiële werksaansoekers afgedank het met die woorde “you’re fired”, was ’n reusesukses.

Trump is dus bekend én suksesvol. Hy lééf die Amerikaanse droom. Dan weet hy ook hoe om sensasioneel te wees en die media te gebruik. Toe sy veldtog om die presidentskap begin het, het hy spesifiek kontroversiële uitsprake gemaak, dat Moslems gedeporteer moet word of hy Mexiko sal laat betaal om ’n muur te bou om Mexikane uit die VSA te hou. Hy het ook gesê hy sal die wit waks uit die Islamitiese Staat (Isis) bombardeer omdat hulle die grootste terrorisme bedreiging wêreldwyd inhou.

Hiermee het hy verwoord wat die meeste Republikeinse ondersteuners glo, maar weens die politiek korrekte samelewing nooit deur enige politikus durf uitgespreek word nie. Waar ander kandidate soos Jeb Bush dus $160 miljoen bestee het om hul boodskap oor te dra deur advertensies in die media, het Trump gratis en verniet mediadekking in oorvloed gekry. Hy het nie omgegee om Mexikane en Moslems te vervreem nie, want sy eerste oogmerk was om die Republikeinse kandidatuurskap te verkry.

Dit het uiteraard goed gewerk. Sy gewildheid het met elke uitspraak verder toegeneem.

Dan dra hy ’n eenvoudige boodskap oor. Sy slagspreuk is “Make America Great Again”. Dit is dieselfde slagspreuk wat Ronald Reagan, ʼn akteur, 36 jaar gelede as buitestander gebruik het om hom as president te laat verkies. Eenvoudig, maar kragtig. Almal verstaan dat hy Amerika wil versterk deur maatskappye (soos Apple) te dwing om hul produkte in die VSA te vervaardig, eerder as byvoorbeeld China, of ongewilde handelsooreenkomste wil afskaf wat Amerikaners hul werk kos. Soos alle lande het die VSA een ding bowneal nodig: meer werksgeleenthede.

Sy opponente vir die Republikeinse benoeming het hy maklik afgeskiet – deur hulle vermoëns in twyfel te trek. Dit het hy gedoen deur eenvoudige name uit te dink wat met hulle geassosieer word, byvoorbeeld “Lying Ted” vir Ted Cruz, of “Little Marco” vir Marco Rubio. Hy het ook gespot met ander, soos Jeb Bush se “lae energievlakke”.

Hierdie persoonlike veldtogte het enersyds sy opponente stomgeslaan, maar was uiters suksesvol. Ten spyte van hul jare lange ondervinding as politici, het hulle geen antwoord gehad nie. Trump het dit eenvoudig oor en oor herhaal totdat die kandidaat eenvoudig uitgeval het. Hulle het Trump in ’n swak lig probeer stel en sy tekortkominge of weerbarstige uitsprake uitgewys, maar dit was soos water van ’n eend se rug – vir Trump én sy ondersteuners.

Aangesien almal Donald Trump ken deur sy mediapersoonlikheid het nie een van die aantygings teen hom saak gemaak vir sy ondersteuners nie. Hy het ook nie, soos baie politici, homself probeer regverdig nie. Hy het eenvoudig die aantygings afgemaak as absurd, jaloesie of strooihalms en sy boodskap herhaal, wat hom nog sterker gemaak het.

Trump het nog ’n mediatruuk gebruik, veral in onderhoude met hom of tydens debatte met ander kandidate: Hy het sy boodskap oor en oor herhaal. Selfs tot ’n dosyn keer in dieselfde paar sinne, amper soos in ’n TV-info-advertensie. Hy het eenvoudig al die sakevaardighede en sy TV-ondervinding, wat hy oor die jare aangeleer het, in die politieke wêreld toegepas.

Trump het eenvoudige boodskappe wat die meeste Amerikaners verstaan en nie lang, gekompliseerde verduidelikings nie. Stem vir my en ek sal vir julle werk gee. Moslems is verantwoordelik vir al die terrorisme van ons tyd en ek sal hulle uitsorteer, ensovoorts.

Trump deel ook nie noodwendig sy eie party, die Republikeine, se beleid en belange nie en is ’n buitestander. Die swaargewigte in die Republikeinse Party het alles in hul vermoë gedoen om Trump uit te stoot deur ander kandidate te bevoordeel of Trump selfs as rassis of ongeskik as president voor te stel. Alles sonder sukses. Met die Republikeine se pasafgelope konvensie, waar Trump amptelik as kandidaat aangewys is, het Trump wel probeer om alle Republikeine om sy kandidatuur te verenig.

Clinton is nie opgewasse nie

Terug by die stryd teen Hillary Clinton. Trump se grootste agterstand word gesien dat enkellopende vroue, Spaanssprekendes (Hispanics), swart Amerikaners en homoseksuele Amerikaners tradisioneel nie in groot getalle die Republikeine ondersteun nie en veroorsaak dat die Republikeinse kandidaat (soos George Bush jr. gedoen het) na minderhede soos die Spaanssprekendes moet uitreik om ’n kans te staan om te wen.

Baie het gevolglik verwag dat Trump sal probeer om ’n vrou of ’n Spaanssprekende as vise-president kandidaat te benoem. Trump benoem egter ’n konserwatiewe wit man, Mike Pence, die goewerneur van Indiana, as sy kiesmaat. Eerder om die minderhede te probeer akkommodeer of te probeer meeding met ’n vrou soos Clinton, probeer hy die Republikeine om hom te verenig deur ’n gesoute Republikeinse politikus te betrek en sy konserwatiewe boodskap verder uit te dra.

Hillary Clinton is egter glad nie opgewasse teen Trump nie. Trump het haar reeds “Crooked Hillary” gedoop, weens haar en Bill Clinton se verdagte gebruik van hul politieke konneksies in die verlede, en natuurlik Hillary se onwettige gebruik van oop e-pos-kanale as buitelandse minister, wat indirek tot ’n aanval op die Amerikaanse konsulaat in Libië gelei het. Hieroor het sy keer op keer leuens vertel en daarmee weggekom.

Clinton probeer nou haarself beroep dat sy self ’n buitestander is, en dat sy as ’n vrou tot die Withuis verkies kan word en daarom nie die gevestigde belange se kandidaat in die verkiesing is nie. Niemand is egter meer deur die “stelsel” bevoordeel as Hillary nie. Sy probeer Trump dus aanvat op een van sy sterk punte, maar misluk en Clinton se ongewildheid onder die meeste Amerikaners, selfs Demokrate, neem verder toe.

Trump en die Republikeine wys toenemend op haar swak bewese rekord, foute en die gemors in die Midde-Ooste wat tydens haar ampstyd as buitelandse minister veroorsaak is.

Hillary Clinton en die massamedia glo steeds die Demokrate se kandidaat gaan Trump maklik afskud. Die Clinton verkiesings-veldtog het meer as $330 miljoen van skenkers ontvang (teenoor Trump se $60 miljoen wat hy grootliks uit eie sak gefinansier het) en gaan nou ’n reuseveldtog teen Trump in die media voer en hom as ’n bekrompe rassis verder verdag maak. Soos met sy Republikeinse teenstanders gaan dit nie werk nie.

Clinton is ook tans nog voor in die meeste meningspeilings as presidentskandidaat. Die meningspeilings is gewoonlik redelik akkuraat en daarom glo die Hillary-kant dat hulle Trump met negatiewe publisiteit finaal gaan uitstof.

TV-debatte gaan skaal swaai

Clinton se grootste uitdaging wat voorlê, is dat sy nog in drie lewendige TV-debatte teen Trump sal moet voer. Clinton hou nie baie van TV-debatte nie en dink nie vinnig genoeg op haar voete nie. Sy kom ook nie vreeslik goed oor nie, teenoor iemand soos pres. Barack Obama wat ’n oortuigende spreker is. Dan weerspreek sy maklik haarself en verander haar standpunte. Sy het byvoorbeeld jare gelede erg standpunt teen gay huwelike ingeneem, maar haar standpunt radikaal verander nadat dit “modieus” geword het om sulke troues te ondersteun.

Aan die ander kant verpes Trump om toesprake af te lees. Hy praat eerder graag uit die vuis en die debatte sal hom soos ’n handskoen pas.

Trump gaan haar oordonder in die TV-debatte (geskeduleer vanaf einde September tot middel Oktober) en die skaal finaal in sy guns swaai. Vir kiesers kom hy voor asof hy weet wat hy wil doen en die regte ding wil doen. Clinton (oftewel “Crooked Hillary”) kom voor as die gevestigde orde se kandidaat wat net lui werkloses en liberales wil bevoordeel ten koste van die meeste Amerikaners en voortploeter op dieselfde pad wat Obama se presidentstermyn middelmatig tot swak gemaak het.

Ons weet egter almal, selfs hier in Suid-Afrika, wat Trump se boodskap is. Dis eenvoudig: Amerika eerste. Hy gaan sorg dat daar werklike voordele vir Amerikaners gaan wees. Hy word nie gekniehalter deur die “politieke stelsel” wat Washington beheer nie en hy het sy geloofsbriewe in die sakewêreld opgebou wat bewys hy het die vermoë om dinge te verander. Clinton, in teenstelling, het geen antwoord op Trump se boodskap nie. Haar enigste boodskap is: Verkies my want julle wil nie Donald Trump as president hê nie.

Die Amerikaanse kieskollege

Die Amerikaanse kiesstelsel is gekompliseerd deurdat ʼn direkte 50% plus een meerderheid stemme nie die president verkies nie.

Die Amerikaanse kieskollege-stelsel beteken dat elke deelstaat ʼn sekere aantal stemme ontvang wat bereken word op die aantal inwoners, en die kandidaat wat ʼn meerderheid van hierdie stemme ontvang sal die volgende president word. Daarom het deelstate met groot bevolkings soos New York (29 kies stemme) en Kalifornië (55) baie meer stemme as byvoorbeeld deelstate soos Suid-Dakota (3) of Mississippi (6). In totaal moet ’n kandidaat 270 uit 538 stemme van die verskillende deelstate op hom/haar verenig vir ’n oorwinning.

Tradisioneel is die meeste deelstate langs die Oos- en Weskus van die VSA Demokraties-gesind en die meeste deelstate in die middel en suide Republikeins. Dit is al dekades die groot skeidslyn tussen liberale en konserwatiewe Amerika.

Daar is egter ook ’n klompie deelstate met gelyke konserwatiewe en liberale bevolkings wat maar verkiesing na verkiesing die uitslag bepaal, die sogenaamde “swaai-state”. Dit sluit in deelstate soos Ohio (20 kies stemme), Virginia (13) en Florida (29). Daarom bring kandidate die meeste tyd deur in hierdie deelstate, want hul voel die ander state is veilig – hetsy vir die Demokrate of Republikeine.

[’n Grafiese voorstelling van Barack Obama (Demokrate – blou) se oorwinning oor Mitt Romney (Republikeinse kandidaat -rooi) in 2012. Obama het 332 kies stemme op hom verenig teenoor Romney se 206. Met erkenning aan cnn.com]

Vir Trump om te wen, moet hy of die meeste swaai-state wen (wat George Bush jr. in 2000 gedoen het), of hulle moet tradisioneel-Demokrate se deelstate oorneem. Die laaste keer wat meeste van die Demokrate se deelstate Republikeins was, was net na Ronald Reagan se uittrede (in 1988!)

Trump gaan albei doen. Daar is reeds aanduidings dat hy besig is om veld te wen in Florida en Ohio, maar ook dat hy vinnig opgang maak in tradisioneel Demokratiese vestings soos Michigan, Pennsilvanië en Maine.

Trump sal in die proses nie net wit stemme wen nie, maar ook van dié swart mense en Spaanssprekendes. Swart Amerikaners is stadig maar seker besig om Trump te begin ondersteun deur sy beloftes van werkskepping. Spaanssprekendes hou ook van sy konserwatiewe benadering en werkskeppingsbeloftes. (In die vorige verkiesing in 2012 het die Republikeinse kandidaat, Mitt Romney, net 6% swart en 27% Spaanssprekende stemme om hom verenig. Trump het reeds heelwat meer steun onder minderhede).

Trump gaan dalk sukkel om Spaanssprekendes van Mexikaanse afkoms aan sy kant te kry, omdat hulle glo hy gaan hulle deporteer of hul familie verhoed om na die VSA te kom. Deelstate met groot Mexikaanse bevolkings, soos Kalifornië en Nieu-Mexiko, is dus ’n probleem vir Trump.

[Geprojekteerde stemme in die kieskollege vir Donald Trump (301 kies stemme - rooi) as hy die meeste “swaai-state” kan verower teenoor Clinton (237 stemme - blou). Hierdie is egter ʼn konserwatiewe berekening. Trump kan verder wen.]

[Geprojekteerde stemme in die kieskollege vir Donald Trump (301 kies stemme – rooi) as hy die meeste “swaai-state” kan verower teenoor Clinton (237 stemme – blou). Hierdie is egter ʼn konserwatiewe berekening. Trump kan verder wen.]

Florida is egter sy primêre teiken, aangesien Florida ’n groot aantal stemme (29) in die kieskollege het, hoewel daar heelwat Spaanssprekendes is. Die voordeel is dat hulle eerder vlugtelinge uit Kuba is en nie Mexikane nie. Die aanval van Moslem-radikale in Europa en eweneens op ’n gay-kuierplek in Florida het eweneens die Amerikaanse publiek gewys dat Trump se idees rondom nasionale veiligheid wel in die kol is.

As Trump dus state soos Ohio, Florida en Iowa kan voeg by tradisionele Republikeinsgesinde state, plus nog ’n paar Demokratiese vestings afneem, kan Trump ’n oorweldigende meerderheid verkry, soos hieronder uiteengesit.

Klink dit steeds vêrgesog dat Trump die volgende Amerikaanse president gaan word?

Daar is nog baie water wat in die see moet loop tot die verkiesing in November. Die anti-Trump-massamedia en linksgesindes gaan hom ook nie maklik toelaat om demokraties verkies te word nie. Betogings word reeds landwyd gereël om kiesers teen Trump te beïnvloed.

Desnieteenstaande is Trump onstuitbaar op pad na die Withuis.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tiger ·

Baie insiggewende artikel!Dankie!Ons is VIR Donald Trump as die volgende president van Amerika!GO TRUMP!!

Koos1 ·

Nico, ek is geneig om saam te stem, maar vir ‘n heel ander rede. Ek dink kiesers (nie net in USA nie maar orals) is G@tvol vir lee kiesings beloftes en die groot “oe aah’ wat daarmee saam gaan, en soek iets anders. Elke soveel jaar word vir die kiesers belowe, en niks gebeur nie. Die bekendse leuns is huise, werkskepping, diens lewering….. so kan ons maar aangaan. Trump noem die probleme op die naam en ook sy oplosings daarvoor. Dink net as Zuma nou aankondig: “As ek weer aan bewind kom is alle onwettige imigrante uit SA uit en ek sal die grense beveilig om hulle uit te hou!” Mensig man, tot ek sal oorweeg om vir hom te stem.

Bruno Stef ·

Hillary Clinton sal met ontsaglike groot bedrae geld dalk miskien die Presidents verkiesing net-net wen sy is in vergelyking met Donald Trump n swak kandidaat.Obama het haar in die vorige verkiesing ore aangesit en sy moes toe maar met die “Booby Prize” tevrede wees daarom moet sy ophou om Bill die leunaar saam met haar op die verhoog te laat verskyn dit sit die kiesers af. Donald Trump is n sterk besigheidsman wat die ekonomie van Amerika met beslisheid vorentoe kan neem en die kaf van die koring behoorlik sal skei.

Braam van Deventer ·

Stem saam. Donald Trump is n fenomeen. Hoe meer die hoofstroom media hom afmaak as grap hoe sterker kom hy terug. Jou artikel verduidelik dit baie goed. Dankie

chris ·

goeie artikel, dankie! vir my is die belangrikste gevolg van sg trumpisme dat die misleiding en wanvoorstelling deur die politieke elite en hoofstroommedia ‘n stewige oorveeg toegedien word. die massas se idees word skaamteloos beinvloed deur grootskaalse manipulering van hul inligting. die groot kanonne sweer byna almal saam om trump vit ‘n aap uit te maak. vra jouself af wie bevorder die bestaande stelsel, wie put voordeel daaruit? globalisme begin uiteindelik ‘n bietjie teenstand te kry. vir te lank reeds word diegene wat pro- eie gemeenskap, pro- eie kultuur is, as agterlik uitgekryt en word hule onregverdige brandmerke soos ‘rassiste’, ‘fasciste’, ens toegesnou. ‘regs’ is ‘n skande. politieke korrektheid het ‘n siekte geword wat ‘n groter deug soos vryheid van spraak soos ‘n kanker wegvreet. dis hierdie diskoers wat nou ‘n dringende terugslag moet beleef en trump, reg of verkeerd, is ‘n belangrike vonk vir daardie kruitvat. ek dink nie ons betree ‘n nuwe utopiaanse era van ‘n ontwaakte mensdom nie, maar ek verwelkom ‘n les in beskeidenheid vir die arrogante bestaande orde.

Ebert Terblanche ·

Dankie Nico, wat oortuig jou dat Trump se strategie om Republikeinse kompetisie uit te knikker ewe effektief sal werk op Neutrale en Demokratiese kiesers om Hillary uit te oorlê?

Paul Van Noordwyk ·

As jy een van daai is wat sê “Trump is ‘n idioot”, “Trump is gevaarlik” en ek vra jou hoekom en jy antwoord “dis in die media. Hoor wat hy sê” is jy ‘n liberale skaap verslaaf aan mainstream media en is dus deel van die probleem wat die wêreld nou ondervind. Daar is nie plek vir liberale nie… Elke ras/volk staan bank vas agter homself behalwe wit mense… Dis asof wit mense lief en haat om wit te wees… Daar is ‘n oop en blote oorlog teen wit konserwatiewe waardes en Christenskap in die wêreld en Trump staan op en sê genoeg is genoeg! Eks bank vas agter die man.

Rupert Ashford ·

Was onlangs in die VSA. ‘n Stoere Amerikaner het vir my gese “we will have to choose between a criminal and a fool in this election”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.