Hoekom nou eers, Cyril?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die een voordeel van die Covid-19-pandemie is dat president Cyril Ramaphosa nou gaan probeer om vas te skop teen die vloed van korrupsie wat al 20 jaar en langer oor die land spoel.

Hoe ver hy met sy jongste beleidstellings – hoe gebrekkig hulle ook al is – gaan kom, is nou ’n kwessie van wag en kyk. Miskien was hy bang om die woorde meriete, etiek en moraliteit hardop te sê, maar dit sal die oplossings wees.

Maar hoekom nou eers optree? Ramaphosa moes lankal besef het presies hoe sleg dit met die land gaan. Dit is egter geboekstaaf dat hy – soos Jacob Zuma voor hom – in die eerste plek die president van die ANC is en dat politieke eenheid sy eerste prioriteit is. En tog het hulle die eed afgelê dat hulle “alles sal afsweer wat die republiek kan skaad” en dan ten slotte dat “ek my aan die welsyn van die republiek en al sy mense sal wy.”

Dis dan waarskynlik die rede dat hy in sewe mosies van wantroue teen Zuma téén die mosies gestem en sy oë gesluit het vir die korrupsie wat so wyd uitgewys is. Die rede daarvoor het sy oorsprong gehad in twee van die ANC se hoofbeleidsrigtings: kaderontplooiing en diensbillikheid.

Die gevolge was dat staatsbeheerde entiteite in die grond in bestuur is deur wanbestuur, korrupsie, onkunde en onbeholpenheid: die SAL, Eskom, PetroSA, Denel, Prasa, die poskantoor en die SAUK. Haas elke munisipaliteit buite die Wes-Kaap is bankrot, onder geregtelike bestuur en kan nie dienste lewer nie.

John Steenhuisen van die DA het nie sy woorde in die parlement getel nie: “Die feit is dat Ramaphosa ’n verlamde toeskouer in sy eie party geword het – ’n party wat so deur korrupsie verrot is, dat dit nie ontwortel kan word sonder om in duie te stort nie.”

Ons weermag het verswak tot ’n geraamte, terwyl ons vloot gepak is met bevelvoerders wat nie die opleiding vir hul poste het nie, maar met rinkelende medaljes paradeer.

Daar is min regeringsinstansies – selfs in die regstelsel – wat nie vol kamerade en korruptes gepak is nie om te verseker dat die ANC in beheer is. Die galgehumor op sosiale media is dat die misdaadsyfers sal daal as die polisie ontbind word.

Voor die pandemie het 55% van die land se bevolking reeds onder die internasionale broodlyn geleef en was 30% werkloos. En toe tref Covid-19 die land en die korrupsie styg net. Minstens helfte van die R10,4 miljard wat opsygesit is vir noodverligting, het deel geword van strafregtelike ondersoeke deur komitees wat deur die ANC gelei sal word. Ramaphosa moet nog verduidelik hoe hy die “aasvoëls” aan die man gaan bring met mense soos Tony Yengeni wat nie self “hiënas” is nie.

Een van Ramaphosa se stellings is dat dit nie sy werk is om mense in hegtenis te neem nie, want dan sal daar geen meer demokrasie wees nie.

“Die taak van die president is om instellings te versterk.”

Ons wag, Meneer die President, ons wag . . .

Dis geld wat misbruik en gesteel is in kontrakte wat nie nagekom is nie en opgeblase pryse. In die Oos-Kaap is daar geen besonderhede van wat van wie aangekoop is en watter betalings gemaak is nie. In KZN is meer as 57% van die provinsie se toekenning van R2 miljard bestee aan projekte wat met infrastruktuur te doen het. Mense wat, byvoorbeeld, slaghuise het, ontdek nou skielik dat hulle tenders vir Covid-maskers gewen het sonder dat hulle daarvan geweet het.

Daar is genoeg redes vir die Wêreldgesondheidsorganisasie om te sê dat die regering strafregtelik ondersoek moet word omdat net die laagstes van die laes geld steel wat bedoel is as sorg vir mense wat siek en sterwend is.

As daar voortgegaan word om aanstellings te maak op grond van politieke lojaliteit en die vul van rassekwotas, gaan ons bly sit met ’n staatsdiens vol korrupsie en onbevoegdheid.

Drie uit ’n hele magdom gevalle hiervan kan as voorbeelde dien. In 2014 het die grondwethof besluit dat kaptein Renate Barnard nie promosie mag kry nie omdat sy wit is, hoewel daar geen swart persoon vir die pos beskikbaar was nie. Die pos is toe nie gevul nie. Meer onlangs was daar die geval van Zandile Gumede wat in die provinsiale wetgewer heraangestel is nadat sy in ’n demokratiese stemming weens korrupsie uitgeskop is. Sy ontvang steeds haar volle salaris.

En nog varser in die geheue is Tony Yengeni wat aangestel is as hoof van die komitee wat misdaad en korrupsie moet ondersoek. Hy het ’n geskiedenis van korrupsie en dronkbestuur en was tot vier jaar tronkstraf gevonnis waarvan hy net vier maande uitgedien het. Jeff Radebe, die ANC se beleidshoof, het gesê die aanstelling is nie ongewoon nie omdat Yengeni lid is van die nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Daar is tekens dat die Covid-19-pandemie se rug ondanks al die korrupsie gebreek word. Die land wag nou om meer as dit te sien.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Robbie ·

Hy is miskien lamsakkig, maar hy is al wat staan tussen ons en Idi Amin Junior.

Persheks Adri ·

Julle korrupsie maak ons naar! Jy neem patetiese besluite rondom als en GEEN kader is in ‘n oranje pakkie nie. Stel mense aan wat eintlik weet wat om te doen. Ons moet betaal en betaal vir julle en julle lewe soos konings. Alles is ‘n gemors vandat julle aan die stuur van die land is. Eskom, polisie, kaders en almal is pateties verby! Begin by jou kopdoek kaders en wys ons jy’s ernstig oor korrupsie en betaal julle bietjie die geld terug dan voel julle hoe ons voel! Die nuwe vertraagde wette is ook ‘n pot snot gaan lees ons petisies.

Heinrich ·

Vir ‘n ANC president om ‘n eed af te lê en daarby te hou om om die land en AL sy burgers se belange te beskerm gaan gewoonweg nie gebeur nie. Die probleem is die ANC kultuur, wat deurgewortel is tot in die stembasis. Vir die persoon wat vir die ANC stem is dit ‘n status simbool om te sien hoe ‘magtig’ die persone is vir wie hulle gestem het sulke mense is hulle rolmodelle want hulle ‘have arrived’. Die stemgeregtigdes het nog baie om te leer, maar word goed onnosel gehou deur die leerinhoud en gebroke onderwysstelsel van die land, dus om opvoeding en kultuur te wil verander gaan nie gebeur nie.

Piet parys ·

Ek kan nie verstaan as Cyril sê nou gaan hy korrupsie uitroei dan glo doe memse hom . Hys net n peanut in die pakkie en beslis nie die main peaunut nie . Hyt vandat hy in die warm stoel is hoeveel keer gese dat verskeie misdade aangepak en uitgeroei gaan word. Wat hy gaan doen is om die klein misdade en klein onbelangrike kader s aan die pen te laat ry wat die deur ooplaat sodat die groot kriminele vry kan wees en so die publiek te sus in die proses. Nie een van die onaantasbares sal gevonnis word nie

Adam Adriaan ·

Korrupsie is die bloed en die asem wat die korrupte liggaam van die ANC voed en aan die lewe hou. Daarsonder is hulle kapoet.

Niklaas ·

Eintlik moet hy tjoepstil bly oor korrupsie , want sodra hy op tone gaan trap , maak hy vyande , dosyne prominente ampsdraers wat lang dolke in sy rug ook gaan indryf. Daar is diegene wat nie uit die soustrein wil klim nie. Die moontlikheid bestaan natuurlik dat hyself beskuldig sal word van onreelmatighede of dit waar of vals is. So , hy moet ter wille van sy toekoms as leier , geen vingers wys nie . Dis nie wys om invloedryke vyande te hê nie , want hul sal vergelding wil soek.

Adam Adriaan ·

Ja as ou CR sou deelneem aan ‘n honde skou sal hy beslis die prys wen vir die een wat die beste ge=Bek Lek en Stert geswaai het.

annie ·

Cyril sè dat misdadigheid by wit setlaars begjn het en dat Afrika by hulle die slegte gewoontes aangeleer het en belowe dat ‘ons’ van nou af die probleem gaan takel. Wat nie beteken nie dat die verlore geld terugverhaal sal word nie, maar dat die regering dinge beter sal probeer doen. Maar onthou die wittes se (glo) slegte invloed is steeds in ons midde (die lekker verskoning). Moenie asem ophou nie.

Pietertjie ·

Hoekom nou eers? Omdat die vuur té naby aan sy eie gesig begin brand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.