Hoekom ons nié die IMF nodig het nie

IMF

Die IMF. Foto: Bnr.bg

Sedert die skrywer RW Johnson ʼn ruk gelede voorspel het dat Suid-Afrika dalk geen ander keuse sal hê as om by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir ’n lening aan te klop nie, het ander ontleders of kommentators ook by die koor aangesluit.

Ek stem egter nie hiermee saam nie.

Die IMF is in 1945 gestig en sy primêre doel was aanvanklik om lande te help met die bestuur van die wisselkoers van hul geldeenhede. Daar moet egter onthou word dat die wêreld tussen 1945 en 1971 ʼn stelsel gebruik het wat die wisselkoers van geldeenhede meestal konstant gehou of teen sekere vlakke bestuur het.

Ná 1971, toe Richard Nixon besluit het om die Amerikaanse dollar nie meer aan goud te koppel nie, het die wisselkoerse meestal swewend geword. Sedertdien het die primêre funksie van die IMF verander, en verskaf die IMF lenings aan lande wat probleme met hulle betalingsbalans (BB) het.

ʼn Betalingsbalans-“probleem” onstaan tipies wanneer ʼn land ʼn lening moet terugbetaal in ʼn geldeenheid wat nie sy eie is nie, of wanneer ʼn land vir invoergoedere in ʼn buitelandse valuta, waarvan hy nie genoeg het nie, moet betaal. Die IMF kon, in sulke gevalle en onder streng voorwaardes, lenings voorsien aan lande wat daarvoor kwalifiseer.

Daar moet in gedagte gehou word dat ʼn IMF-lening nie  byvoorbeeld, vir die betaling van die salarisse van staatsamptenare gebruik kan word nie. Afgesien daarvan dat die IMF dit nie sal toelaat nie, sal die IMF (tipies) geld in Amerikaanse dollar leen en nie in die land se eie geldeenheid nie. IMF-lenings kan ook slegs vir buitelandse transaksies gebruik word, soos die afbetaling van buitelandse lenings en vir invoergoedere.

Terloops, die laaste keer wat Suid-Afrika gebruik gemaak het van ʼn IMF-lening, was toe dr. Chris Stals nog die president van die Reserwebank was. Daardie lening is gebruik vir die invoer van mielies toe Suid-Afrika se totale reserwes maar ʼn fraksie was van wat dit tans is.

Ons land is tans in ʼn diep finansiële put as gevolg van die wanbestuur deur ons regering. Die staat se skuld bestaan egter meestal uit rand, en gelukkig nie uit buitelandse valuta nie.

Die staat se totale uitstaande skuld het ʼn rekordhoogte bereik en dié berg skuld groei weekliks. Hierdie skuld beloop tans ongeveer 58% van die bruto binnelandse produk (BBP), en dit sluit nie eens die skuld van parasiet-instellings soos Eskom in nie.

Tensy daar ʼn klein wonderwerk gebeur is dit haas onmoontlik vir die staat om uit hierdie spiraal van skuld te ontsnap. Die enigste realistiese oplossing is dat die regering sy uitgawes drasties sny deur tienduisende “werkers”, af te lê of ten minste die salarisse van staatsamptenare te vries. Maar ons weet reeds hoe Cosatu sal reageer indien ʼn klomp onproduktiewe staatsamptenare afgelê gaan word.

Tog is daar ʼn klein ligpunt. Of altans, ek dink so. Die totale uitstaande bruto skuld van die staat, sonder dié van Eskom en die ander bankrot instellings, is sowat R2 800 miljard. Hiervan is R290 miljard se lenings – oftewel ʼn bietjie meer as 10% van die totale skuld – bestaan uit buitelandse valuta, meestal in Amerikaanse dollar.

Hierdie verskillende lenings moet oor die volgende 20 jaar afbetaal word, waarvan redelike groot bedrae van om en by US$2 miljard (tans gelykstaande aan sowat R30 miljard) eers in 2025/’26 en weer in 2028/’29 terugbetaal moet word. Oor die volgende paar jaar moet daar relatief klein bedrae terugbetaal word.

Intussen hou die Reserwebank ongeveer R700 miljard in buitelandse valuta as reserwe (waarvan R80 miljard in goud). Kragtens ooreenkomste tussen die Reserwebank en die tesourie kan hierdie reserwes slegs aangewend word om buitelandse lenings van die staat terug te betaal wanneer dit verval.

Dit is dus duidelik dat daar meer as genoeg reserwes in die Reserwebank is om al die lenings van die staat gelyktydig in buitelandse valuta te betaal – wat nie op die oomblik nodig is nie.

Dit is egter nie al nie. Banke is ook aktief betrokke in die neem (deposito’s) en uitleen van buitelands-gedenomineerde bates (lenings). In totaal het Suid-Afrikaanse banke sowat R200 miljard meer in buitelands-gedenomineerde bates (lenings) as in buitelands-gedenomineerde deposito’s (skuld).

In totaal het die Reserwebank en ander banke dus toegang tot ongeveer R1 000 miljard in die vorm van buitelandse valuta.

Dit beteken allermins dat Suid-Afrika eenvoudig en maklik alle moontlike kapitaaluitvloei kan finansier. Buitelanders besit heelwat likiede bates in rand, soos staatseffekte en aandele, in Suid-Afrika. Addisioneel het Suid-Afrika ʼn “chroniese” tekort op sy lopende rekening. Dit beteken dat Suid-Afrika konstant buitelandse valuta “verloor”.

Sou dit gebeur dat heelwat buitelanders besluit om hul (likiede) bates in Suid-Afrika te verkoop, sal dit ongetwyfeld baie probleme veroorsaak wanneer hierdie bates in rand na, byvoorbeeld, Amerikaanse dollar omgeskakel word. Maar omdat die Reserwebank ʼn beleid volg wat buitelanders relatiewe vryheid gee om kapitaal in en uit die land te neem, sal dit die rand-wisselkoers benadeel indien buitelanders op groot skaal sou besluit om hul rand gedenomineerde staatseffekte te verkoop – iets wat juis onlangs gebeur het.

Sou die Reserwebank wel besluit om die wisselkoers van die rand aktief te beskerm deur buitelandse reserwes te verkoop en rand te koop (wat nie tans die geval of beleid is nie) sal ʼn verswakkende rand-wisselkoers as buffer dien ten tyde van groot kapitaaluitvloei.

Ons is beslis besig om al hoe dieper in die skuldmoeras te sink, maar dit is meestal skuld in rand. Om hierdie rede kan ons belastingverhogings, voorgeskrewe bates en verdere druk op die Reserwebank verwag om die monetêre beleid te verslap.

Daar is een goeie rede waarom ’n IMF-lening handig te pas kan kom, en dit is om so ʼn lening as ʼn verskoning te gebruik om sekere politiek gemotiveerde strukturele veranderinge deur te druk. Maar wat die terugbetaling van geskeduleerde buitelande lenings of invoergoedere betref, het Suid-Afrika meer as genoeg buitelandse reserwes.

Hiermee saam kan ʼn swewende wisselkoers ons teen buitensporige kapitaalvloei op die korttermyn beskerm.

Om bogenoemde in ʼn neutedop saam te vat: Suid-Afrika het nie ʼn IMF-lening nodig nie. In elk geval nie gou nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nico K ·

‘n Interesante punt wat gemaak word (wat niks met die hoofargument te doen het nie), is dat die VSA in 1971 besluit het om nie meer die dollar aan goud te koppel nie. In my geskiedenis het ek geleer dat SA in 1931 van die goudstandaard af gestap het. Blykbaar was die 1931 depresie reeds veroorsaak omdat daar te min goud in die wêreld was, en dus te min geld. Hoe hou ons afstap van die goud standaard en die VSA se besluit in 1971 met mekaar verband?

Loeis ·

Die goudstandaard beteken dat geld nie gedruk kan word tensy daar ‘n waarborg voor in goud is nie, en ook dat banke nie geld kan uitleen wat hulle nie het nie. Beide gebeur tans wêreldwyd.

As jy bv in 1970 met ‘n miljoen rand afgetree het, was dit baie geld want jou geld was letterlik goud werd. Vandag erodeer jou geld se koopkrag voortdurend, en het jy ‘n probleem as jy met ‘n miljoen rand aftree.

Terloops, sentrale banke wêreldwyd druk geld. As ek of jy dit doen kan ons in die tronk beland. On this farm, all animals are equal. Some are more equal than others.

Mens se grootste kommoditeit is vandag jou arbeid/energie, en rande is die eenheid waarin dit verhandel word. En waarin dit uit jou uigesuig word ook.

Petrus ·

Hierdie is ‘n goeie artikel indien jy in ‘n ideale wêreld lewe. SA is polities, ekonomies en sosiaal in ‘n septiese tenk. Die ekonomie kan nie groei nie, terwyl die bevolking met 1.1 miljoen aanwas, onwettiges uitgesluit. Onrus neem toe en sal SA verder laat inplof. Kundigheid en kapitaal sal die land verlaat. Selfs kleiner firmas. Die staat sal eventueel die laaste fondse plunder, soos pensioengeld. Nie eers ‘n IMF lening sal die land dan kan red nie. Dawie se tesis is dan net van akademiese waarde, terwyl gewone mense mislei word met ‘feel good’ stories.

Wilhelm ·

Wil die regering nie juis ‘n swak rand hê nie ? Is een van die redes vir die Reserwe bank se kaping (nationalisering) nie juis dat hulle die eenheid kan beheer (verswak) en ook dat hulle dan kan geld print om skuld te betaal nie ? ‘n Swak rand maak dit vir hulle makliker om hulle skuld in Rand te betaal… en geld print maak dit natuurlik nog makliker.

Wilhelm ·

Dawie baie dankie vir die artikel, die IMF insigte is baie interesant.

Anoniem ·

Dis baie jammer dat ons nie IMF lening benodig nie….dit beteken die regering oftewel die ANC gaan voort met hulle wanbestuur

Marthinus Willemse ·

Die Russe vertrou die IMF glad nie. (Sommiges sien die Bretton Woods, waardeur die IMF gestig is, as ‘n Washington DC-boei om lande tot Amerikaanse knegte te verlaag.) President Boris Jeltisn was omring deur Amerikaners, wat die pad Kremlin toe deurgetrap het; die plek het gewemel van “raadgewers”. Hulle stel toe voor dat hy die kommunistiese ekonomie hardhandig regruk na kapitalisme toe, en dat hy `n IMF-lening kry. Selfs die IMF het Jeltsin van uiters slegte raad voorsien, maar ou Boris het hulle geglo en vertrou. Dit het daartoe gelei dat Boris se opvolger, Wladimir Poetin, hom daarvan beskuldig het dat hy die Sowjetunie in duie laat stort het, deur nie `n planmatige oorgang te volg nie. Gelukkig vir Rusland, het Poetin stabiliteit, en `n buitelandse reserwefonds van iets soos $500 biljoen oor die afgelope paar jaar geskep.)

dirk bosman ·

Indien die I.M.F. n lening toestaan sal dit die nodige briek op die Kaders plaas om roekeloos geld in die semi staats instellings te stort

aj ·

Dawie klink soos ‘n bang ou wat ‘fluit terwyl hy deur die begraafplaas stap’ … om homself te bluf …. dat hy NIE bang is nie!

Oral gaap daar oop grafte waarin die land kan val!

Miskien lê SA reeds onder in die ‘staatskaping’ graf … tussen die vrot van doodsbeendere?

Loeis ·

aj, wat Dawie skryf is maar net uit dat die meeste nasionale skuld in rande is, en dat dit dus nie in dollars betaal hoef te word nie.

Terloops, as die regering begin om note te druk om daardie skuld te betaal, kom die waarde daarvan uit ons almal se sakke. Dit is natuurlik ‘n oop graf waarin die land kan val.

Neels ·

Indien die skuld in rande terugbetaal word beteken dit tog dat SA se staatseffekte en skuld eintlik waardeloos word vir buitelanders. Wie gaan dan verdere lenings toestaan en staatseffekte koop.

Gert ·

Goeie punt, Neels.

Selfde beginsel geld vir pensioenfondse. Baie van daardie geld is in maatskappye bele wat geld maak (groei op jou pensioen is tog die doel). So as die regering pensioenfondse dwing om in bv Eskom te bele, haal hulle geld uit die winsgewende besighede uit, en val daardie maatskappye se aandeel pryse, en dus ook hul groei, en gevolglik hulle wins. Dit beteken ook dat hulle minder belasting betaal. Dit terwyl regering sy lippe aflek om die ganse wat die goue eiers le, te slag. En daarmee ook dalk jou aftrede in armoede dompel.

In kort het ons nie ‘n ekonomiese probleem in Suid-Afrika nie. Ons het ‘n drie letter politieke probleem. Die ekonomiese probleem is net die simptoom.

Ernst Maraisp ·

Suid Afrika het dalk nie die IMF se geld nodig nie maar wel die IMF se disipline

J van Rensburg ·

As die oor grote meerderheid van SA se skuld in Rande is, dan is dit ń redelike maklike probleem om op tel los. Druk net nog buffels en betaal die mense. Die probleem met die plan is natuurlik inflasie wat die hoogte sal in skiet, soos in Zim. R1 is R1, maak nie saak wat hy werd is teen die $ nie. Die ander probleem is dat hierdie plan net een keer gaan werk, want as daar weer skuld gemaak word kan jy maar weet dit gaan terug betaal word in Dollars, of in die land wat vir ons geld leen se geld eenheid.

Neels ·

Ek stem saam. Oor die lang termyntermyn gaan ons suidwaarts.

Jerry ·

Die feit dat die ANC hulle hande op fondse en pensioenfondse wil kry terwyl hulle reeds die belastingbetalers verarm en gyselaar hou is tog n duidelike aanduiding dat die ANC na staatskaping nog geld vir die ANC elite en kaderstrukture soek met die verskoning dat dit is om die skade van staatskaping te herstel, wat in elk geval doelbewus deur die ANC as n kollektief veroorsaak was. Wat nou gaan gebeur is voor die hand liggend dat die ANC die belastingbetalers se fondse gaan plunder om hulle beloftes aan kaderstrukture na te kom en nog verder uit te brei en te verryk, dit is beslis nie om die skade van staatskaping te herstel nie. Wanneer belastingbetalersfondse uitgeput raak gaan die ekonomie in nog n swakker toestand wees as nou en eers dan gaan die ANC die IMF nader vir geld vir die ANC om die ekonomie te herstel. Dan gaan China wat reeds regstaan, baie geld in SA bele en dan gaan die ANC eers die ekonomie heropbou vir die ANC en vir China, want teen daai tyd is kolonialistiese instansies en stelsels reeds vervang met kapitalistiese sosialistiese instansies en stelsels! Dit is die plan van die ANC. Opposisie politici, westerse denkers en ekonome weet tog dat die ANC net een doel voor oe het en dit is om nou met spoed te de-koloniseer en om dit te kan doen, moet koloniale weerstand leeg gemelk word. Eers daarna sal die skatryk ANC die ekonomie herstel vir die ANC!

Kerneels ·

Die ANC het nie die vermoë om die ekonomie op te bou nie. Hulle kon nie eers ‘n suksesvolle ontwikkelde ekonomie oorneem en verder uitbou nie. Die kaders sal oorsee verhuis en SA sal in ‘n wettelose anargie ontaard, soortgelyk aan Somalië. China sal nie onder sulke omstandighede belê nie. Hulle is te slim daarvoor. Hulle kan dalk SA oorneem, maar dit kan in ‘n Vietnam ontwikkel. Dit sal iets nuuts wees vir die Chinese, want hulle het nog nooit vreemde lande aangeval en oorgeneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.