Hoekom Ramaphosa regstel-wet behoort te veto

Deur Anthea Jeffery

Anthea Jeffery is hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

Die Nasionale Vergadering het verlede maand die omstrede wetswysigings oor regstellende aksie aanvaar. Daar word nou verwag dat die Nasionale Raad van Provinsies dit sal onderskryf sodat dit dan deur president Cyril Ramaphosa as wet bekragtig kan word.

Die president behoort egter te weier om dit te doen. Die wysigingswetsontwerp oor diensbillikheid (EE) van 2020 is onnodig sowel as uiters skadelik. Die werklike doel daarvan is nie om regstelling vir apartheid-ongeregtigheid te verskaf nie, maar eerder om die nasionale demokratiese revolusie (NDR) te bevorder deur die kapitalistiese ekonomie verder te verlam op pad na ʼn sosialistiese nirvana.

Kernbepalings van die wetsontwerp

Die wetsontwerp het twee kernbepalings. Die eerste bemagtig Thulas Nxesi, minister van arbeid (en nasionale adjunkvoorsitter van die SAKP), om rassekwotas vir alle sakeondernemings met 50 werknemers of meer in spesifieke sektore van die ekonomie te stel. Die tweede belet sodanige sakeondernemings om kontrakte met die regering aan te gaan tensy hulle aan die minister se kwotas voldoen het of hul versuim om dit te doen “op redelike basis geregverdig” het.

Onrealistiese EE-rassekwotas het reeds die kapasiteit van die openbare sektor belemmer, en dit met ʼn massa ongekwalifiseerde en onverantwoordbare mense gevul, van wie baie op selfverryking ingestel is. Voorkeur-SEB-bemiddeling het reeds baie van die ondernemings wat die beste tot doeltreffende en koste-effektiewe lewering in staat is, uitgesluit en die deur oopgelaat vir bedrog en opgedrewe prysstelling op ʼn massiewe skaal.

Ingevolge die wetsontwerp sal albei probleme waarskynlik baie erger raak. Sakeondernemings sal die beperkte outonomie verloor wat die EE-wet gelaat het om werkaanstellings en bevorderings op meriete, eerder as velkleur, te baseer. Oneerlike tenderpreneurskap sal toeneem namate baie meer firmas met ʼn gesonde leweringsrekord sal vind dat hulle van staatskontrakte uitgesluit word.

Wetsontwerp is onnodig

Nxesi beweer dat selfregulering ingevolge die huidige EE-wet nie gewerk het nie. Dit het eerder baie sakeondernemings toegelaat om “die implementering van diensbillikheid heimlik te beveg terwyl lippediens aan die behoefte vir transformasie bewys is”.

Is ondernemings besig om “heimlik te veg” om swart mense van senior poste uit te sluit, soos die minister beweer? En is dit bewys van sy begeerte om “werkers soos verheerlikte slawe te behandel”, soos Cosatu roerend byvoeg?

Wette behoort op feite gegrond te wees, nie propaganda nie. En die feite toon dat besigheid sterk vir swart bevordering betoog het, selfs in die apartheidsera, en veel gedoen het om dit te help bereik lank voor die EE-wet van krag geword het.

Besigheidsrol in swart opwaartse mobiliteit

Swart opwaartse mobiliteit in die apartheidstydperk het ná die laat 1960’s versnel, toe ʼn dekade van snelle groei dit duidelik gemaak het dat die wit minderheid te klein was om aan die behoeftes van die ekonomie te voldoen. Namate die vaardigheidstekort vererger het, het besigheid herhaaldelik die Nasionale Party (NP)-regering aangepor om beperkings op swart indiensneming en bevordering te versag.

In 1973 het eerste minister John Vorster uiteindelik onder hierdie druk geswig en gesê dat sy regering nie langer in die pad sou staan van die bevordering van swart mense na hoër poste nie. Dit het tot aansienlike vordering vir swart Suid-Afrikaners en ʼn beduidende vermindering van rasseongelykheid gelei.

Hierdie vaardigheidstekort het ook daartoe bygedra om die NP-regering tot ʼn reeks hervormings te motiveer. Van die vroeë 1970’s af het hy die gehalte van sogenaamde Bantoe-onderwys verbeter, swart vakbondregte uitgebrei, instromingsbeheer afgeskaf, en swart huiseienaarskap in stedelike townships aangemoedig. Hierdie beleidsverskuiwings het die toenemende ekonomiese interafhanklikheid van swart en wit Suid-Afrikaners getoon en die weg help baan vir die oorgang na swart meerderheidsregering.

Na 1994 het die privaat sektor nog meer rede gehad om swart bevordering in die werkplek te aanvaar. Teen September 1997, kort voor die aanvanklike EE-wetsontwerp gepubliseer is, het 90% van die 150 groot werkgewers wat deur ʼn menslikehulpbronne-konsultasiediens, FSA-Contact, ondersoek is, regstellende aksie-programme gebruik, selfs al was dit nie volgens wet vereis nie.

Binne hierdie firmas het die proporsie swart mense in senior bestuur reeds toegeneem van 5% in 1995 tot 12% in 1998 en daar is geprojekteer dat dit verder sou styg tot 21% in 2001 – ʼn omvattende toename van sowat 325%. Onder middelbestuurders het die proporsie swart mense van 10% tot 21% toegeneem oor dieselfde tydperk en daar is verwag dat dit teen 2001 tot 29% sou styg.

Die vaardigheidstekort was egter so akuut dat meer as 60% van maatskappye gekla het oor die “stelery” van hul swart bestuurders deur firmas wat bereid was om aansienlike belonings te betaal om hulle weg te lok. Hierdie vlak van wegrokkeling, gesteun deur die betaling van belonings ver bo normale salarisse, het gedui op ʼn enorme aanvraag waaraan nie voldoen kon word nie vir swart bestuurders in die privaat sektor nie – nie ʼn rassistiese weiering om hulle in diens te neem nie.

Daar was dus geen noodsaaklikheid vir wetgewing om die privaat sektor te dwing om swart mense in diens te neem nie, soos die IRV in 1998 uitgewys het. Die werklike struikelblok tot swart bevordering lê nie in rassediskriminasie nie, maar eerder in die reusevaardigheidstekort in die land. Die sleutelvereiste was dus om swart vaardigheid te verbeter deur uitstekende opleiding, terwyl snelle koers van ekonomiese groei aangewakker is. Hoe vinniger die ekonomie groei, hoe groter sou die aanvraag wees vir vaardige mense van alle kleure.

Swak skoolopleiding en ander hindernisse tot swart vordering

Suid-Afrika bestee omtrent 7% van BBP aan onderwys, wat hoog is volgens internasionale standaarde. Die staat se gesentraliseerde en hiërargiese leweringstelsel word egter so wanbestuur dat die uitkomste besonder swak is.

Onlangse evaluerings het getoon dat ongeveer 78% van Suid-Afrika se gr. 4-leerders nie betekenisvol kan lees in enige taal nie, terwyl 61% van gr. 5-leerders nie heelgetalle kan optel en aftrek nie. Dit help om te verduidelik waarom omtrent 60% van leerders skool staak of nie hul finale eksamens slaag nie. Van die relatief min wat dit regkry om matriek te slaag, is slegs ʼn derde se punte goed genoeg om universiteit toe te kan gaan, terwyl slegs 22% wiskunde met 50% of hoër slaag.

Voltooiing aan universiteite is ook droewig, gemiddeld slegs 17% vir voorgraadse grade in 2019. Voltooiingskoerse in STEM-vakke (d.i. wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) is besonder laag: 12% vir rekenaar- en inligtingswetenskappe in 2019, 13% vir wiskunde en statistiek, 17% vir fisiese wetenskappe, en 21% vir ingenieurswese.

Ander hindernisse tot opwaartse mobiliteit vir swart Suid-Afrikaners wissel van anemiese groei en toenemende werkloosheid tot:

  • hoë koerse van dikwels gewelddadige misdaad;
  • ʼn toenemende afhanklikheid van maatskaplike welsyn;
  • Die verwering van gesinslewe en ʼn oormaat van afwesige vaders;
  • ʼn foutiewe vertroue in EE en SEB, wat ʼn relatiewe elite bevoordeel terwyl dit die groot meerderheid benadeel; en
  • Die ANC se gebrekkige bewering dat “demografiese verteenwoordiging” die norm is in alle heterogene samelewings en dat dit in Suid-Afrika ook duidelik sou wees indien dit nie vir rassisme in die privaat sektor en elders was nie.

Demografiese verteenwoordiging nooit ‘die norm’ nie

Thomas Sowell van Stanford Universiteit se Hoover Institution sê in sy 1994-boek Race and Culture: “Die eweredige verspreiding of proporsionele verteenwoordiging van groepe in beroepe of instellings [is] ʼn intellektuele konstruk uitgedaag deur realiteit in samelewing na samelewing.”

Verder kan die duidelike “wanbalanse” nie toegeskryf word aan “werkgewer-diskriminasie” nie, aangesien dit “die onmiskenbare uitwerking van verskille in opvoedkundige prestasie, gesinsopvoeding, kulturele tradisies [en] huwelikspatrone” ignoreer.

Ouderdom is ook ʼn sleutelveranderlike, sê prof. Sowell, aangesien die mense wat in senior bestuursposte aangestel word, gewoonlik kwalifikasies sowel as lang jare van ondervinding vereis. Waar lede van ʼn groep meestal jonk is – en ruweg die helfte van swart Suid-Afrikaners is onder die ouderdom van 25 – is demografiese verteenwoordiging selfs moeiliker om te bereik.

Die onderliggende realiteit is dat mense nie “onbeskrewe leie” is nie. Aangesien hulle essensieel nie almal dieselfde is nie, kan hulle eenvoudig nie, ongeag ouderdom, onderrig, aanleg, ondervinding, en kapasiteit vir leierskap, in enige posisie ingeprop word nie.

Die Amerikaanse analis Samuel Kronen sê: “Feitlik geen twee etniese groepe in die geskiedenis het nog ooit op enige plek gelyke uitkomste volgens alle maatstawwe bereik nie. Gelyke uitkomste en proporsionele verteenwoordiging is die uitsondering, nie die reël nie.”

Groot skade aan die openbare sektor

Volgens die Diensbillikheidskommissie wat ingevolge die EE-wet gevestig is, het swart mense in Maart 2021 ongeveer 79% van topbestuurders in die nasionale regering uitgemaak. Swart verteenwoordiging op ander vlakke is ook soortgelyk sodat demografiese verteenwoordiging in ʼn groot mate reeds bereik is. Die uiteinde is egter – in die lig van die ouderdom en vaardigheidsprofiel van die swart bevolking – ʼn verlammende gebrek aan kennis en kapasiteit.

Die gevolglike onbehae is oral duidelik. Die voorsiening van private laekoste-behuising het dramaties verlangsaam omdat burokrate drie tot 10 jaar neem om sogenaamde land-to-stand-prosedures afgehandel te kry. In die openbare gesondheidsorg word die meeste hospitale en klinieke so swak geadministreer dat slegs omtrent 15% aan die minimum standaarde voldoen vir noodsaaklikhede soos infeksiebeheer en die beskikbaarheid van medisyne.

Die negatiewe effek op ondernemings in staatsbesit (SOE’s) is ook akuut. By Eskom, byvoorbeeld – wat die publiek voortdurend aan kragonderbrekings blootstel om te voorkom dat die netwerk in duie stort – is menslike foute vir omtrent 40% van die onderbrekings verantwoordelik. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het erken dat baie van die probleme van hierdie semistaatsinstelling die gevolg is daarvan dat “goeie mense verloor is en onbevoegde mense in hul plek aangestel is”.

Op die munisipale vlak het ʼn EE-veroorsaakte uittog van ingenieurs van vele munisipaliteite hul kapasiteit om hul rioolwater-installasies te bestuur in duie laat stort. Honderde van hierdie installasies het onklaar geraak, terwyl omtrent vier miljard liter rou of gedeeltelik behandelde rioolvuil elke dag in die land se riviere en damme gestort word. Langs die Vaalrivier word rioolvuil “teen rekordvlakke in townships, voorstede, sentrale sakedistrikte, skole, klinieke, raadsgeboue, by woonstelblokke en in paaie gestort”, volgens die kommentaar van ʼn plaaslike sakekamer.

Hierdie selfde fenomeen geld dwarsdeur die sukkelende staatsdiens – en dit is arm swart mense wat die spit hiervan moet afbyt. Die meerderheid van swart Suid-Afrikaners kan nie na privaatsektor-omstandighede ontsnap nie; dus het hulle geen ander keuse as om te vertrou op agteruitgaande staatskole, staatshospitale, staatselektrisiteit, staatsbehuising, staatsanitasie, staatspolisiëring, ens. nie. EE in die staatsdiens het hulle dus verder benadeel, en hulle nie gehelp om vorentoe te gaan nie.

Besigheid het baie om te vrees

Anders as die staatsdiens en SOE’s, kan besigheid nie op belastinginkomste staatmaak om hulle uit die moeilikheid te help terwyl hul doeltreffendheid agteruit gaan nie. Ingevolge die wetsontwerp kom hulle ook voor swaar boetes te staan indien hulle nie aan die minister se rassekwotas (of “teikens” soos Nxesi verkies om daarna te verwys) voldoen nie. Boetes begin by R1,5 miljoen of 2% van die jaarlikse omset vir ʼn eerste “oortreding” – en kan tot R2,7 miljoen of 10% van die omset (wat ook al die grootste) styg vir ʼn vyfde soortgelyke oortreding binne drie jaar. Boetes van hierdie omvang kan baie firmas bankrot maak.

Georganiseerde besigheid was nogtans huiwerig om die wetsontwerp teen te staan – miskien omdat hulle bang is vir die rassistiese blaam. Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het dit eerder onderskryf, hoewel hy wil hê dat die bedryf betrokke moet wees by die stel van teikens vir verskillende sektore. Maar banke en ander groot besighede sal konsultante, prokureurs en groot hulpbronne hê om die verhoogde las te help dra, waaroor klein en gesinsondernemings nie beskik nie.

Die wetsontwerp sal die reeds sukkelende ekonomie nog verder skaad. BBP het in 2020 met 6,4% gekrimp en meer as ʼn miljoen werkgeleenthede is verloor. Verbruikersbesteding bly in die algemeen onder druk en inflasie is aan die styg. Die Julie-onluste het besigheidsvertroue in die regering se kapasiteit om verdere onrus teen te werk, ernstig gekrenk. Korrupsie het volgens algemene beskouing in die afgelope drie jaar vererger, en ʼn drastiese daling in kapitaal en vaardighede is in die vooruitsig. Vaste belegging het tot ʼn niksbeduidende 12% van BBP gedaal en openbare skuld sal (ondanks ʼn myninkomste-meevaller) waarskynlik nie onder beheer gebring kan word nie.

Waarom Ramaphosa die wetsontwerp behoort te ‘veto’

Die feit dat die wetsontwerp onnodig en nadelig is, is nie genoeg rede vir die president om dit te “veto” deur te weier om dit as wet te onderteken nie. Ingevolge die Grondwet kan hy dit slegs doen indien hy “voorbehoude het omtrent die grondwetlikheid daarvan”. Gelukkig voldoen die wetsontwerp ruim aan hierdie kriterium.

Die wetsontwerp weerspreek onder andere Artikel 1 van die Grondwet, wat spesifiek “nie-rassigheid” as ʼn kernwaarde van na-apartheid-Suid-Afrika identifiseer. Dit skend ook die gelykheidsklousule (Artikel 9), wat onregverdige diskriminasie op rasse- (en ander gelyste) grondslae verbied en verklaar dat enige diskriminasie op ʼn gelyste grondslag “onregverdig is” tensy die teendeel bewys word.

Die wetsontwerp is ook teenstrydig met Artikel 195 van die Grondwet, wat aandring op ʼn openbare administrasie wat “breedweg verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse mense”. Die “demografiese verteenwoordiging” wat deur die wetsontwerp vereis word, is baie meer rigied as die “breë verteenwoordiging” wat op dié manier gesanksioneer word. Hierbenewens vereis die Grondwet dat “breë verteenwoordiging spesifiek beperk word tot die openbare administrasie” en dit regverdig nie die minister se oplegging van rassekwotas op die privaat sektor, soos die wetsontwerp in die vooruitsig stel, nie.

Wat ook relevant is, is Artikel 9(2) se “wetgewende …. maatreëls om … [diegene] wat deur onregverdige diskriminasie benadeel word te bevorder” en sodoende “die bereiking van gelykheid deurvoer”. Hierdie klousule maak geen melding van rasseteikens of die rasseklassifikasie wat dit noodwendig vereis nie. Dit bevestig ook nie die gebrekkige doelstelling van demografiese verteenwoordiging nie.

Wat vereis Artikel 9(2) dan? Volgens die Konstitusionele Hof in die Van Heerden-saak in 2004 moet die maatreëls wat dit in die vooruitsig stel aan drie toetse voldoen: hulle moet (1) die veronregtes teiken, (2) ingestel wees om hulle te bevorder, en (3) die bereiking van gelykheid begunstig. Hoe voldoen die wetsontwerp aan die laaste van hierdie drie toetse, om as een voorbeeld te dien? Die EE-Wet, wat aansienlik strenger gemaak sal word deur die wetsontwerp, was langer as 20 jaar van krag, maar het min gedoen om “die bereiking van gelykheid te begunstig”.

Inkomste-ongelykheid – soos op die Gini-koëffisiënt gemeet – het, inteendeel, in hierdie tydperk toegeneem. Dit is oorwegend omdat EE-reëls ongelykheid binne die swart meerderheid verbreed het deur ʼn klein groep te help om vooruit te streef, selfs terwyl 10,7 miljoen swart mense werkloos bly en in armoede rondploeter.

Die wetsontwerp is nie net ongrondwetlik nie, maar ook uiters skadelik vir die meeste Suid-Afrikaners. Eerder as om dit toe te laat om voort te gaan, behoort die president te weier om dit as wet te onderteken. Onderwys, belegging, groei en werkgeleenthede is die sleutels tot opwaartse mobiliteit en moet gekoester word – nie verder ondermyn word nie.

  • Anthea Jeffery is hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lian

Daar is net een wenresep : Die beste persoon vir die posisie .

Julius

Hy gaan die wet teken want dis sy voorstel.

casper

Kommuniste sal Suid Afrika afbreek todat NIKS meer werk nie en dan sal almal maar ewe tenagekom wees !!

Heinrich

Ons weet waar Ramaphosa staan t.o.v. ‘our people’, sal nie my asem ophou dat hy dit sal veto nie. Hy is ten eerste die president van die ANC, die land kom tweede.

Andre

BEE werk nie, dit is moes nou al 1000000 keer bewys.
Maar die ANC moet our people eerste sit so dit sal goed gekeur word.