Hoekom slaag revolusies nie meer nie?

Protesaksies in Hongkong. (Foto: Kin Cheung, AP)

In die vorige deel het ons oor die historiese golwe en teengolwe van demokrasie sedert die 19de eeu gepraat. Daar is vasgestel dat daar suksesvol in die laaste sowat twee jaar massabetogings vir vryheid en demokrasie in outokrasieë en diktatorskappe onderdruk is. Ons kan hier dink aan China, spesifiek Hongkong, Mianmar, Thailand en Iran in Asië, Venezuela, Nicaragua en Kuba in Latyns-Amerika, Wit-Rusland en in ʼn mate Rusland en Turkye in Europa. Die lys is nie volledig nie en daar is ’n verskil tussen protesbewegings oor spesifieke griewe en ander protesbewegings wat die outokratiese of diktatoriale stelsel in sy geheel wil verander. Ons kyk hier na laasgenoemde, alhoewel die twee soorte protesbewegings nie altyd so maklik van mekaar geskei kan word nie.

Die vraag is hoekom nie een van die talle massaproteste in verskeie vastelande in die laaste paar jaar geslaag het nie, terwyl daar tye was waar regerings reeds deur veel kleiner en minder ingrypende proteste weggevee is. ʼn Deel van die antwoord lê in die verskyning van die koronavirus, asook in tegnologie, naamlik die internet en sosiale media.

Dit is nie toevallig dat die Hongkong-betogings suksesvol onderdruk kon word in dieselfde tyd waarin die nuwe koronavirus begin posvat het nie (die begin van 2020). Betogings kon nou weens die beweerde verspreiding van die virus verbied word en die hele demokrasiebeweging in Hongkong het platgeval. In die nadraai is die aktiviste in hegtenis geneem, terwyl die wêreld se fokus op die koronapandemie was en demokrasie tweede viool gespeel het. Dit beteken egter nie in die omgekeerde gevolgtrekking dat China die virus geskep het om die demokrasiebeweging te onderdruk nie. Niks is onmoontlik in die politiek en geskiedenis nie, maar tot daar geen bewyse is nie, moet dit as ‘n samesweringsteorie behandel word.

Ook in ander outokratiese state, selfs in demokrasieë, was die koronavirus ʼn geskenk vir die regerings om mag te konsolideer en die opposisie te verlam. Dit het dieselfde uitwerking as oorloë in ander tye gehad: dit bind die hele volk teen die gemeenskaplike vyand saam en laat maatskaplike en politieke griewe minder belangrik lyk.

Verder het die sosiale media, wat tydens die Arabiese Lente en ook in Soedan ʼn wesenlike instrument was om vinnig massabetogings te reël en om inligting verby die staatlike media te versprei, intussen sy doeltreffendheid verloor. Die regerings het ingehaal en gebruik die sosiale media suksesvol om hulle standpunte te kommunikeer en om die opposisie verdag te maak. Boonop is die sosiale media intussen deur samewerking van die groot internetkonglomerate nie meer vry en neutraal nie, maar toenemend gedienstig aan die regerings, dra amptelike standpunte oor en verban kritiese opinies. Spesifiek in China is talle internetmaatskappye sterk aan bande gelê, maar ook in die Weste het Google, Facebook en ander vir die gesagdraers kant gekies. As jy eers oor die vingers getik is, volg daar dikwels selfsensuur, wat opposisie en vrye uitruil van gedagtes bemoeilik.

Laastens bied tegnologie intussen veel meer moontlikhede om mense se doen en late te kontroleer en daarmee saam ook die opposisie doeltreffend aan bande te lê. Dis nie net kameras om elke hoek en draai nie, maar ook gesofistikeerde soekenjins om jou volgens jou internetgedrag te kan kategoriseer, programme wat ontwerp is om data te steel, loerprogramme (spyware) en vele meer. Ook hier is China aan die voorpunt en rig ’n soort Orwelliaanse stelsel op met belonings en voordele vir getroue onderdane en sanksies en strawwe vir ongehoorsames.

In minder ontwikkelde state soos Kuba, Mianmar, Wit-Rusland en Venezuela is dit egter nog steeds die brutale wapengeweld van die staat eerder as tegnologie waarmee enige weerstand brutaal neergewerp word. Omdat die Weste tans besig is met die koronapandemie en sy selfrespek en waardes danksy radikaal linkse ideologieë verloor het, is daar ook geen gemeenskaplike stem en optrede meer nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werner ·

N betoging is nie n rewolusie nie.Wag tot n regte rewolusie uitbteek dan praat ons weer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.