Hoekom verskille tussen Afrikaanse standpunte: noord versus suid?

verhaal-schrijven-kompas“Hoe verklaar ek die psige van die Afrikaners in die noordelike provinsies?” vra ʼn Kaapstadse joernalis aan my.

Daarna is sy baie snedig en beledigend oor hoe Afrikaners in die noordelike provinsies “agter” en “agterlik” is in hulle denke. Sy tel die Wes-Kaap en Noord-Kaap as suidelike provinsies.

“Afrikaners verskil baie van mekaar en laat hulle nie sommer in kategorieë indeel nie. Dit is ook altyd gevaarlik om te veralgemeen,” berispe ek haar.

Die joernalis laat my tog nadink oor die verskille in benadering en standpunte tussen Afrikaners in die noorde en diegene in die suide. As parlementslid beweeg ek op ʼn gereelde basis tussen die parlement in Kaapstad en my huis in die noorde. Ek slaap oor by mense, kuier met kiesers en hou baie vergaderings oral in die land. As adjunkminister die afgelope vyf jaar het ek samesprekings met mense van alle groepe, tale en streke gevoer.

Waarom die verskille tussen noord en suid? My gevolgtrekking: Die verskil tussen die huidige Zuma-ANC en die 1994 Mandela-ANC moet eers verstaan word. Daarna moet na die effek hiervan op die mense in die verskillende provinsies gekyk word. Die bevolkingsamestelling in die noordelike provinsies teenoor die suide kan dan ook nie geïgnoreer word nie. (In Limpopo is 97% van die bevolking swart, in Mpumalanga is die syfer 91% met meeste ander noordelike provinsies meer as 85%. Daarteenoor vorm die bruin en wit bevolking van die Wes-Kaap steeds 64% van die bevolking in daardie provinsie en is Afrikaans steeds die meerderheidstaal in die Noord-Kaap.)

1. Zuma-ANC versus Mandela-ANC
Die huidige Zuma-ANC, wat van die Mandela-ANC onderskei moet word, se arrogante regeringstyl en optrede lei onafwendbaar daartoe dat die Suid-Afrikaanse pendulum in reaksie tans na groter polarisasie in plaas van versoening swaai.
Dit sien jy uit die skielike sukses van die EFF aan die een kant en ʼn teen reaksie aan wit – maar veral Afrikaner – kant.
Enkele voorbeelde:

1.1 Begrip vir Afrikaanse knelpunte (“issues”)
MANDELA-ANC: Mnr. Mandela het moeite gedoen om op Robbeneiland Afrikaans te leer ten einde die Afrikaner te verstaan. Hy het aan my persoonlik tydens ʼn ontbyt vertel hoe hy in die oggende Monitor oor die Afrikaanse radio geluister het om die debatte en politieke argumente van Afrikaners te verstaan. Hy het ook by ander ANC-leiers aangedring daarop dat hulle Afrikaans leer.

ZUMA-ANC: In die Zuma kabinet, terwyl ek die afgelope vyf jaar daar was, het geen minister moeite gedoen om Afrikaanse koerante of tydskrifte te lees nie. Afrikaanse knelpunte “issues” is nie meer vir hulle belangrik nie. Waar ek in die kabinet oor ʼn debat of twisgesprek in die Afrikaanse media wou praat, moes ek telkens eers verduidelik waaroor dit gaan omdat niemand dit gelees of daarvan geweet het nie. (Minister Trevor Manuel het wel Afrikaanse koerante gelees maar dit was meer omdat sy seuns rugby speel en hy daarin belangstel!)

1.2 Kompromieë en akkommodering van alle Suid-Afrikaners
MANDELA-ANC: Ek was deel van die onderhandelinge oor die name van ons damme en lughawens in die Mandela-tydperk. In die gees van versoening en kompromie is ooreengekom om nie politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. Jan Smuts-lughawe is na Johannesburg Internasionaal verander; JBM Hertzog na Bloemfontein-lughawe; en DF Malan na Kaapstad Internasionaal ens. verander.

ZUMA-ANC: Die Mbeki- en Zuma-ANC het nieteenstaande ons beroepe dat by die oorspronklike ooreenkomste gehou moet word, dit verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar net van die ander kant af. Johannesburg het OR Tambo geword; Bloemfontein, Braam Fischer; ens. Kaapstad is natuurlik nog ʼn neutrale Kaapstad Internasionale Lughawe en George is George-lughawe.

1.3 Taal en Afrikaans
MANDELA-ANC: In sy tyd word in die grondwet (Artikel 6(4)) bepaal dat daar ʼn Taalwet gemaak moet word om te verseker dat alle tale billik hanteer word. President Mandela gaan ook uit sy pad om met talle voorbeelde die Afrikaanse gemeenskap erkenning te gee. So woon hy die KKNK-fees in Oudshoorn by en praat oor hoe belangrik Afrikaans is. Met so ʼn gebaar wen hy vir etlike jare die goedgesindheid van alle Afrikaansprekendes.

ZUMA-ANC: Nieteenstaande my en ander se uitnodigings aan president Zuma na sulke geleenthede, het hy nie daarop gereageer nie. Daar was ʼn byeenkoms van Afrikaanse leiers gereël kort voor die 2014-verkiesing maar laasgenoemde was deursigtig gemik slegs op stemme.
Wat Mandela se beloofde Taalwet betref, het beide die Mbeki- en Zuma-ANC dit geïgnoreer. Dit het ʼn hofsaak gekos, byna twintig jaar later, om die ANC-regering te forseer om die wet te maak. Nieteenstaande die hof se voorskrif dat alle departemente op 1 November 2014 hierdie wet moes implementeer, het meeste departemente dit geïgnoreer. Die betrokke minister het nou weer uitstel vir ses maande moes gegee.

2. Suid teenoor noord
Die reaksie van mense op die Zuma-ANC verskil grootliks soos jy van suid na noord deur die land beweeg.

In die Wes-Kaap en gedeeltes van die Noord-Kaap, heers daar veral onder Afrikaners nog grootliks die versoeningswittebroodbenadering uit die Mandela-ANC-tydperk. As hierdie mense die nuus en koerante se inligting ignoreer, het by baie van hulle min in hulle alledaagse lewe verander.

In die noorde is dit grootliks anders. Elkeen het iewers iets persoonlik ervaar waardeur die wittebroodbenadering vervang is met ontnugtering, frustrasie en woede teenoor die ANC. Onthou die volgende paar feite:

2.1 Die ANC regeer oral
NOORD: Alle dorpe in die noordelike provinsies, naamlik die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng (behalwe 1% in Midvaal) word reeds vir 20 jaar sedert 1994 deur die ANC regeer.

SUID: Die ANC het nog nie werklik oor die Wes-Kaap regeer nie. Die kort tydjie wat dit gebeur het, was dit met behulp van die NP en Marthinus van Schalkwyk se oorloop na die ANC na die verkiesing. In slegs enkele dorpe in die Wes-Kaap regeer die ANC of is die dorp in die nuus oor ʼn samewerkingskoalisie wat nie werk nie.

2.2 Naamsverandering
Naamsverandering is hoofsaaklik ʼn simboliese gebaar. Tog stuur die ANC daarmee ʼn duidelike boodskap van beheer en subtiele wraak aan veral Afrikaners omdat baie min Engelse name nog verander is (Queenstown, Oos-Londen, Kimberley, ens. bly onaangetas).
As jy al as ʼn individu deur ʼn adresverandering met kennisgewings aan alle maatskappye, mediese fonds, vriende, ens. gegaan het, besef jy die frustrasies daarvan. In die geval van besighede het dit baie groot finansiële implikasies ten opsigte van alle gedrukte materiaal, advertensies, buitelandse klante, ens.

NOORD: In Limpopo is alle groot dorpe se name verander en in Mpumalanga meeste dorpe se name. Daar is nie ʼn dorp of stad, Pretoria ingesluit, wat nie groot straatnaamveranderinge gehad het nie. (Waar ons nog in Potchefstroom in die nadraai van die Mandela-tydperk ʼn kompromie kon onderhandel met Potchefstroom en Tlokwe wat albei erken word, is die huidige ANC onverbiddelik oor byvoorbeeld Louis Trichardt na Makhado; Nelspruit na Mbombela; ens.

SUID: Ek is nie bewus van een dorp in die Wes-Kaap wat ʼn naamsverandering ondergaan het nie. Die enkele straatnaamveranderinge waar byvoorbeeld president Mandela erkenning gekry het, was dit nie ten koste van ʼn gevestigde naam soos Kruger of Kerkstraat soos in die noorde nie. (Ek bly nuuskierig hoe Kapenaars gaan reageer as Stellenbosch, Paarl en Kaapstad Khoi-name kry soos dit volgens die ANC behoort te wees.)

2.3 Platteland en Landbou
NOORD: As ek in Limpopo of Mpumalanga ʼn vergadering toespreek, begin die vergadering dikwels met ʼn mosie van roubeklag oor iemand wat aan almal bekend is en wat in ʼn plaasaanval dood is. Meeste mense in die gehoor ken iemand wat in ʼn plaasaanval dood is en meeste het ʼn grondeis op hulle plaas.

SUID: Ek hou ʼn landbou-toespraak by Vredendal aan die Weskus. Hulle sê ek moet nie oor plaasmoorde of grondhervorming praat nie want hulle het geen plaasmoorde tot op datum gehad nie en het ook geen eise op grond nie. Alkoholisme is wel ʼn probleem.

2.4 Afrikaanse Skole
NOORD: Op die platteland in die noorde is meeste Afrikaanse skole tot niet. Kindertjies in graad een, ses jaar oud, is in die koshuis 200 km van die huis in groter sentra soos Bloemfontein, Potchefstroom of Polokwane.
(Departementele syfers: Die afgelope 11 jaar het 25% van die Afrikaanse skole in Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga na dubbelmedium of Engels verander. Die syfer vir Limpopo is 38% en vir Gauteng 50%. Die ervaring wys dat ʼn dubbelmediumskool, veral op die platteland, nie lank in die noorde dubbel bly nie. Vanweë die getalle eindig dit binne enkele jare as Engels enkelmedium.)

SUID: Danksy die oorwegend Afrikaanssprekende bruingemeenskap in die Wes-Kaap en Noord-Kaap is daar steeds oral Afrikaanse skole. (Die afgelope 11 jaar het slegs 8% skole in die Wes-Kaap en 9% in Noord-Kaap na dubbelmedium of Engels alleen verander).

2.5 Water en dienslewering
NOORD: Talle dorpe in die noorde het gereeld tydperke van een tot twee weke sonder water. (Ek kan voorbeelde en dorpe se name gee). Waar ʼn huishouding nog sonder krag kan klaarkom, is dit baie ernstig sonder water. Omdat my eie huishouding in Potchefstroom al deur so ʼn tydperk is, besef ek die probleme van geen badwater vir ʼn week of geen water om vir ʼn week toilette te kan spoel nie! Ek het op uitnodiging reeds talle dorpe in die noorde besoek waar riool letterlik in die strate afloop en in waterbronne in.

SUID: Watertekorte is nie ʼn groot probleem in dorpe in die suide nie en ek is nie bewus van dorpe waar riool in strate afloop nie.

2.6 Regstellende aksie
NOORD: In die totale staatsdiens is wit en bruin amptenare tans onderverteenwoordig teenoor swart. By die departement van binnelandse sake is byvoorbeeld tans meer as 90% swart staatsdiensamptenare teenoor die demografiese 80% swartes in Suid-Afrika. Tog word regstelling nie in die staatsdiens gestaak nie en word daar nie na meriete-aanstellings en bevorderings teruggekeer nie. Onthou die meerderheid ou staatsdiensamptenare was en is in Pretoria woonagtig.

SUID: Regstellende aksie is ʼn baie minder ernstige probleem in die Wes-Kaap. Toe daar gepoog is om by korrektiewe dienste in die Wes-Kaap die nasionale demografie toe te pas, was daar ʼn reuse reaksie.

3. Slot
Ek is geïrriteerd met individue van die suide wat allerlei slim menings oor Suid-Afrika op ons almal afdwing sonder enige werklike begrip vir toestande orals in die land. Dit is veral die aanmatigende manier waarop sommige joernaliste en meningsleiers, wat dikwels veilig in Stellenbosch of in ʼn Weskusdorpie vir die werklikhede van Suid-Afrika wegkruip, hulle oor alles uitspreek wat my irriteer. Ek is meer as bereid om in debat te tree met iemand wat weet wat in Limpopo, Mpumalanga en die Weskus aangaan en dan van my verskil oor minderheidsregte of oor my oortuiging dat dit nodig is om die Verenigde Nasies in te lig oor toestande in Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kobus ·

Die spyker is nie alleen op die kop geslaan nie, maar is ‘n uitklophou geplant. Nader aan die waarheid en manier van stel kon Dr Mulder dit nie doen nie.

Kobus ·

Die spyker is nie alleen op die kop geslaan nie, maar is ‘n uitklophou geplant. Nader aan die waarheid en manier van stel kon Dr Mulder dit nie doen nie.

Hanno Visagie ·

As leeftydse Kaapse Afrikaner-Christen is dit my weloorwoë indruk dat Weskaapse Afrikaanse akademici, professionele en sakemense in ‘n veel groter mate die polities korrekte Mammon van verengelsing met taal- en kultuurverskuiwing dien.

Philip Appelgrein ·

Geagte Pieter,

Ek kan nie met jou verskil nie. Ek wil ook byvoeg dat dit ‘n uitstekende uiteensetting is. Ek is ‘ DA lid in plaaslike regering en hier by ons is die passie om nog doeltreffend uit te voer nog hoog op die lys. Ek is van mening dat vele eksterne en geskiedkundige faktore nog nie werklik sinvol beredeneer is nie. Alles is mos nou die Nasionale. DEMOKRATIESE REWOLLUSIE!

Chris van Zyl ·

Dit is ‘n baie goeie uiteensetting waarmee ek volmondig saamstem, maar dalk is dit laat genoeg in die dag om te vra waarom dit so moeilik is om selfs binne ‘n nouer oortuigingsverband saam te werk? Ek kry die indruk dat dit eerder ‘n kwessie is van “my wa is die regte een en as jy nie op hom is nie, steur ek my nie aan jou nie”

Hermanus Potgieter ·

Mnr. Mulder dit is met groot gevoel dat ek u artilkel gelees het. Ek wil met u saamstem dat daar wel ‘n groot verskil bestaan tussen die sienings tussen noord en suid. As ‘n boorling van Potgietersrus (Mokopane) in die Noord-Transvaal (Limpopo) was daar baie kritiek in 1992 se referendum teenoor ons sogenaamde verkramptes wat die enigste streek was waar die “nee” stem geseëvier het. Net daarna is Potgietersrus Laerskool, alombekend in daardie jare as ‘n KP-skool beset deur die gepeupel juis omdat hulle afrikaans en wit wou bly en is alreeds sedert daardie tyd slegs ‘n engelse skool en dus ook slegs swart. In die noorde het ons met onluste en ‘n vertrapping deur pro-kommunistiese swartmense in die strate te doen gekry vandat ek kan onthou. In die suide het hulle te doen gekry met bruinmense wat eerstens dieselfde taal gepraat het sowel as christelike agtergronde gehad het en soos die wittes meesal nie te militant was nie, en veel hoër intillegensievlakke as ons arbeidmag in die noorde het. Dieselfde het gegeld in die stede. Daarom is die suide en stede meer links as ons op die platteland gewees omdat hulle nie so direk in die gesig van die militantes was nie. Intussen het nie te veel in die suide verander nie, maar in die stede het baie verander a.g.v misdaad en regstellend aksie onder andere, en daarom het Pretoria, wat ook “ja” gestem het se deuntjie intussen bietjie verander. Omstandighede noop mense om anders te begin dink. Dankie vir ‘n wel deurdagte en uiters goed gestelde artikel. Ek wil ook net tong in die kies byvoeg dat die sogenaamde verligtes deesdae al meer ontnugterdes word. Potgietersrusgroete, Hermanus Potgieter

Eerstens het ek die artikel van Dr. Mulder geweldig geniet en tweedens wil ek net elkeen herinner dat hierdie tipe van joernalistiek reeds van die begin af ingespan is om afrikaners van mekaar te vervreem en tweespalt onder ons geledere te saai. Ek stem volmondig saam met die inhoud van die artikel. Daar is redes hoekom sommiges ons as agterlik wil beskou, en ons mense van die noorde altyd as rassisties wil uitkryt, nie omdat ons noodwendig is nie, maar omdat ons traditsoneel meer konserwatief is Ons in die ou Noord Transvaal was per slot van rekening die enigste streek wat nee gestem het in die 1992 referendum (persentasiegewys per streek) nl. 57%. Selfs Pretoria as stad het ja gestem met bietjie oor die 57%. Dit is 22 jaar gelede Dis 8 jaar langer as wat Jan Smuts (SAP)in sy twee termyne saam Eerste Minister was nl. 14 jaar! Nou tot die punt: Wanneer ek kommentare lees wat absoluut afwyk van die besprekingspunt, en dan dikwels in beledigings en vuisgevegte ontaard wil ek my ook distansieer en anderpad kyk en soms wonder wat het van opvoeding geword. Terug na die punt. Noord en die Suid sal altyd bietjie verskil in sienswyse, maar ons het baie meer gemeenskaplike gronde en vyande as wat ons verskille het. Kom ons verenig net eers rondom daardie punte, dan kan ons later oor ideologie bekommerd raak.

Henry ·

Ek is ‘n gebore en getoë Pretorianer wat reeds 22 jaar in die Wes Kaap woon en my bloed sal altyd blou bly.
Het Ja gestem en is nie eers amper spyt daaroor nie. Om die eenvoudige rede dat ek indertyd die woord, vermoëns en integriteit van ons leiers as geloofwaardig aanvaar het. En waarom nie?
Terugskouend was ek en my pelle waarskynlik naïef gewees, maar gegewe die omstandighede en die versekeringe wat destyds verskaf is, was ons bereid om hierdie uitweg te volg. Waarom kan en mag ek nie my “leiers” se woord aanvaar nie?
Terselfdertyd het ons ook besef dat ‘n klein minderheid nooit daarin sal slaag om ‘n reusagtige meerderheid vir ‘n onbepaalde tyd te regeer en/of te oorheers nie. Makiesakie hoeveel wette en regulasies jy sou inspan om dit te doen nie.
Dat die leiers wat deur my as Ja stemmer vertrou is om ‘n beter produk te onderhandel, jammerlik misluk het, is ook ‘n feit. Maar dit is water onder die brug…
Dit is geskiedenis en nou moet daar ander oplossings gevind word. Steeds teen die agtergrond van die realiteite – 5 miljoen wit siele en 45 miljoen swart siele. Ander werkswyses as dit wat voor 1994 moontlik was, moet nou gebruik word.
Moeilik!!!
Tog dink ek dat my/ons voorouers selfs groter bedreigings en pyne te bowe gekom het na die ABO, as dit wat ons vandag ervaar.
Dieselfde verdeeldheid wat destyds bestaan het tussen Suid en Noord, is steeds daar. Hopelik het die geskiedenis vir ons genoeg rigtingwysers gegee, om die foute van voor 1994 te herhaal.

Dries van der Merwe ·

Ek het die artikel baie geniet. Ek bly met my familie in ‘n munisipale area van 647 vierkante km, 160 000 lewende siele, ons is een van drie Afrikaanse gesinne. Ons speel ‘n rol in skole, kerkgroepe, belasting betalers vereniging, jeugsentrums en so meer. My kleinkinders het eerste Xhosa en Engels leer praat. Maar ons word in ons gemeenskap gerespekteer as Afrikaners. En ons is en bly trotse Afrikaners. Dit is wat ons Afrikaner volkie moet na streef: Trotse Afrikaners.

Laaste sin moet natuurlik lees: “…om NIE die foute van voor 1994 te herhaal NIE”

Henry ·

Laaste sin moet natuurlik lees: “…om NIE die foute van voor 1994 te herhaal NIE”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.