Hoekom vier ons ’n PUK 150-fees?

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

In die 1860’s het die Gereformeerde Kerk (toe slegs ’n paar jaar oud en ’n paar gemeentes sterk) die behoefte gehad om sy eie predikante op te lei en dit nie noodwendig by Nederlandse universiteite te laat doen nie. Daarom is daar in 1869 op Burgersdorp in die Oos-Kaap ’n teologiese skool begin, met ’n “literariese afdeling” vir die onderrig van, onder meer, Grieks en Hebreeus, die tale waarin die Ou en Nuwe Testament oorspronklik geskryf is.

In die vroeë 1900’s is die instelling na Potchefstroom verskuif en daar het dit gegroei tot wat in 1951 die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), en in 2004 die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus geword het. Die jaar 1869 word dus algemeen as die ontstaansjaar van dié universiteit beskou en tot vandag toe staan dit bekend as die “Puk” (selfs as deel van die NWU)

’n Groep alumni het besluit om ’n geleentheid te reël wat hierdie 150 jaar kan gedenk. Dit het daartoe gelei dat ’n feeskomitee vir die “PUK 150” gestig is, onder leiding van die SR-voorsitter in die jaar toe die eeufees van die PU vir CHO in 1969 gevier is, naamlik prof. Callie Coetzee.

Ongelukkig het die huidige NWU-bestuur, ten spyte van pogings om hulle te betrek, nie kans gesien om die 150-jarige bestaan van een van die NWU-kampusse te vier nie. Hulle fokus slegs op die nuwe NWU se ontstaan in 2004 en nie op die geskiedenis van die onderskeie kampusse nie. Hulle het wel die dekaan van die Fakulteit Teologie afgevaardig om die geleentheid by te woon.

In vandag se Suid-Afrika, waar ’n groot deel van die geskiedenis van minderhede (en veral die Afrikaners) misken en geminag word, kan die vraag tereg gevra word: hoekom is dit nodig om die 150-jarige bestaan van ’n universiteit (universiteitskampus) te vier? Beteken dit nie ons leef in die verlede of ons hunker daarna nie? Is dit nie onsensitief teenoor ander nie?

Alumni van enige skool of universiteit sal getuig dat hulle sulke herdenkingsdae bywoon omdat hulle wil dankie sê vir wat die instellings in hul vormingsjare vir hulle beteken het. Baie erken dat hulle nie vandag sou wees waar hulle is, as dit nie vir die PU vir CHO was nie. Nog ’n rede is dat dit ’n herdenking is van die “goeie ou dae” omdat my studentejare as Puk die lekkerste van my lewe was. Baie ander reünies word presies om daardie redes gehou.

Maar daar is ander belangriker redes hoekom die alumni van die NWU die 150-jarige bestaan van hierdie instelling kan en moet gedenk. En hierdie redes geld ten spyte van (en dalk as gevolg van) die feit dat die Potchefstroom-kampus nou slegs een kampus van die groter NWU is.

Tot 2004 het die Potchefstroomse Universiteit ’n “van” gehad: “vir Christelike Hoër Onderwys”. Hierdie “van” het baie moeite geverg om erken te word – ook deur die apartheidstaat, wat “neutrale” universiteite voorgestaan het. Dit het ook tot baie spot en selfs hoon gelei: baie alumni onthou nog hoe studente van ander Afrikaanse universiteite gepraat het van “Coke, Hamburgers en Oude Meester”. Maar die NWU het deur die jare vasgestaan by waardegedrewe hoër onderwys. Ook die beoefening van wetenskap word deur ’n mens se lewens- en wêreldbeskouing of paradigma, jou denkraamwerk beïnvloed, só is geglo. En só is duisende graduandi die lewe ingestuur, beter toegerus met prinsipiële denke oor die lewe, en nie maar soos prof. Tjaart van der Walt, rektor van die sewentigs, dikwels gesê het, as “eenogige vakidiote” nie.

Ten spyte van spot, en soms naywer, het die oorspronklike PU vir CHO wyd teensinnige respek afgedwing. In die laat vyftigs het ’n groep akademici aan die PU vir CHO die verwerping van die Tomlinson-verslag deur eerste minister Hendrik Verwoerd sterk gekritiseer.

Daarin is aanbeveel dat as die tuislandbeleid enige kans kon hê om te slaag, toegelaat moes word dat sogenaamde “wit kapitaal” in die tuislande belê kon word.

In die sewentigerjare was die reformatoriese stem van Potchefstroom deur ’n organisasie soos Rebsa (die Reformatoriese Beweging van Suid-Afrika) en publikasies soos Woord en Daad, baie krities oor apartheid en sy gevolge en oor die onwilligheid van die destydse NP-regering om hervormings deur te voer. Potchefstroom se beginselvaste stem was só sterk dat eerste minister John Vorster in 1977 die verwyt uitgespreek het dat die “Stem van Potchefstroom” (volgens hom die stem wat die NP ondersteun het), “stil geword het”. Maar bekende alumni sou uiteindelik aan die voorpunt van die historiese grondwetlike veranderinge en die ontwikkeling van Suid-Afrika se demokrasie en ekonomie staan.

Die punt is: die oorspronklike Potchefstroom-Universiteit het gewys hoe belangrik beginseldenke ten opsigte van die ekonomie, die politiek en ander samelewingsvraagstukke is. Dit is vandag nog waar.

In die tweede plek het dié universiteit (baie maal onder druk by ’n gebrek aan finansies) gewys hoe belangrik innoverende en entrepreneuriese denke by ’n universiteit is, tesame met gehalte-onderrig en -navorsing. Dit het saamgegaan (en is dikwels gedryf deur) professionalisering van bestuur – iets wat in die vorige eeu by universiteite skaars was. Veral Carolus (Carools) Reinecke (rektor van 1989-2001) het aan die voorpunt hiervan gestaan.

Prestasiemeting vir bestuurders (tot op dekaansvlak) is ingebring lank voor ander dit gedoen het, finansiële bestuur is verbeter en goeie administrasie het voorrang geniet. Unieke inisiatiewe soos akademiese skole wat ook inkomste gegenereer het, ’n afstandsonderrigprogram vir die verdere opleiding van onderwysers, die bekende Puk Rugby-Instituut en die Kultuurburo was maar enkele gevolge hiervan. En in die laat 1990’s en die vroeë 2000’s het die PU sy plek langs ander universiteite met onderrig en navorsing begin volstaan. Voor die gedwonge samesmelting van 2004, was die Potchefstroom-Universiteit se voltydse studentegetalle oor die 20 000, met addisionele 20 000 afstandsonderrigstudente.

Dit is duidelik dat die PU gewys het hoe belangrik professionele bestuur, innoverende en entrepreneuriese denke en ’n kultuur van “kan doen” in die universiteitsomgewing is. Akademia (waar ook ’n paar oud-Pukke betrokke is) kan met vrug hiervan praat.

dr-theuns-eloff

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting en ook die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Foto: Theuns Eloff/Facebook.

In die derde plek, en miskien deesdae die mees sigbare nalatenskap van die PU, is die manier waarop die PU (en later die NWU) die kwessie van taaldiversiteit en spesifiek Afrikaans hanteer het. Gedrewe deur die beginsel van grondwetlike taalregte en funksionele meertaligheid, het die PU besluit om (selfs voor die samesmelting van 2004) die universiteit meer toeganklik vir nie-Afrikaanssprekers te maak, deur simultane tolking (gelyktydige vertaling) van lesings in sekere fakulteite toe te pas.

Ná die 2004-samesmelting het dit daartoe gelei dat die Potchefstroom-kampus Afrikaans as onderrigtaal kon behou en ook gehelp om die onafwendbare politieke druk te hanteer. Tolking as internasionale beste praktyk by die Verenigde Nasies en die Europese Unie, is dus vir die eerste keer op universiteitsvlak met groot sukses deur die PU toegepas.

En ten spyte van die huidige NWU-bestuur se duidelike strategie om die Potchefstroom-kampus na net nog ’n Engelssprekende kampus te transformeer deur al hoe meer nie-Afrikaanssprekende studente te werf en sulke personeellede aan te stel, is hierdie kampus tans (nog) die enigste in die land (en die wêreld) waar ’n eerste graad ten volle in Afrikaans verwerf kan word.

Dit is duidelik dat die PU die afgelope 25 jaar aan die voorpunt gestaan het om Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal te probeer bewaar. En al is hierdie oortuiging nie meer sterk onder die huidige NWU-bestuur nie, gee die momentum van PU-denke Afrikaans nog ’n plek in die openbare universiteitswese – en kan waardevolle lesse daaruit geleer word.

Ten slotte kan elke Afrikaner en Afrikaanssprekende gelowige uit die PU se nederige begin en geskiedenis leer dat mens nie die “dag van klein dinge moet minag nie”.

Die Potchefstroom-Universiteit het op Burgersdorp met nege studente begin. Tans studeer daar (residensieel en privaat) meer as 60 000 studente op die Potchefstroomkampus. Miskien meer as enige ander sogenaamde histories bevoordeelde universiteit, is die PU vir CHO deur sy gemeenskap gebou – bees vir bees, koeksister vir koeksister – en aanvanklik sonder enige staatsubsidie. As gelowiges kan en moet ons ook die seënende hand van die Here in die ontstaan en groei van hierdie besondere instelling raaksien – en Hom daarvoor dank.

As lid van die PUK 150-fees se reëlingskomitee, nooi ek dus graag alle oud-Pukke om op 30 November in Potchefstroom saam te kom feesvier, om saam te kom dankie sê vir wat hierdie universiteit in ons lewens beteken het en om saam te kom dink wat hierdie instelling vir ons land en al sy mense beteken het – en hopelik nog kan beteken.

  • Theuns Eloff was rektor van die Potchefstroom-Universiteit vir CHO van 2002-2003, en visekanselier van die NWU van 2004-2014.

Die PUK 150-fees se webwerf, waar meer inligting beskikbaar en kaartjies te koop is, is http://puk150.co.za/. Kaartjies is ook aanlyn te koop by: https://tickets.tixsa.co.za/event/puk-150-fees of skakel 087 087 7464. Onthou, sonder ’n vooraf gekoopte kaartjie, kan jy nie die groot middagete bywoon nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Niel Mare ·

Ek is baie trots om te se dat drie geslagte Mare’s aan die Puk studeer het . My vader Beyers 1936 tot 1939 . Heimatinwoner , Theos skrumskakel in die 1938 intervarsity teen Kovsies , ek , Niel , gepukte Poot van Huis Izak Meyer ( nou De Wilgers ) met Johan Claassen as koshuisvader , eb dan my twee dogters , Nialette en Beyera in die 2007//9 “s. Ons bring hulde aan n Universiteit wat talryke leiers gevorm het .

Gerhardt O ·

Ja wel, Theuns het ook maar weggehardloop toe dinge warm raak. Lekker wildsplaas en miljoene uit sy konneksies en direkteurskappe gemaak, Dakar-kapitaal.

B ·

Insiggewend dog hartseer – NWU bestuur en die 2004 opm. Dit spreek boekdele :(

Dankie Dr Eloff, jou betrokkenheid word wel ten seerste waardeer deur baie van ons.

Boerseun ·

Geld mors nonsense, kan eerder geld op groei van ander nuwe Afrikaanse leer sentrums spandeer. Als wat bereik was is tot nuut. Christelike onderwys bestaan nie meer nie en een van die dae sal net oud leerders die woord puk gebruik.

John ·

… en binnekort sal die mooi boomlanings ook waai… blou koeltes wat nie destyds kollektes geìn het nie.

Vaalseun ·

Baie dankie, Theuns, vir die baie belangrike inisiatief, ‘n 150-jarige bestaansherdenking van een van die waardevolste bates wat ‘n land kan hê, naamlik ‘n internasionaal erkende, funksionerende, hoër akademiese, opvoedkundige instelling. Dié instelling wat ononderbroke kennis, kundigheid en navorsing oordra na elke nuwe geslag.

Niemand het beloof dat die pad met rose besaai, of altyd, tot vandag, sou verloop soos wat ek of jy of enige ander kommentator dit sou wou gehad het nie.
Trouens, van die belangrikste (in)direkte rolspelers in ons land en die PUK se geskiedenis, naamlik Christus, Piet Retief en Hendrik Verwoerd, is almal vermoor – die aardse loon op hulle opregte en toegewyde diens om net die beste vir elkeen te skep.
Ons behoort baie dankbaar wees vir wat Suid-Afrika vandag is, ons verhoudinge koester, en deelneem aan die beskikbare inisiatiewe. Dit kon ‘n duisendmaal slegter gewees het. Ons toekoms hang van ons eie ingesteldheid en deelname af.

Stephan de S ·

Hoewel ek n Kovsie was, kan ek elke woord v Theuns hier onderskrywe as waar. Soveel waardering het ek vir die nalatenskap v Pukke dat ek amper lus het om die rëunie by te woon. Die wil om iets te doen, sien n mens nou in die leierskap v Solidariteit en AF….sover my begrip strek, grootliks gedryf deur oud-Pukke. Ek het die heerlikste tye deur gemaak met die intervarsities tussen Pukke en Kovsies…….ek dink nie daar was beter en prettiger intervarsities in die land nie. Ek eer die nalatenskap v hd wonderlike instelling in die geskiedenis vd Afrikanerdom en mag dit nooit stop nie…….op hd tydelike aardse lewe.

Hans ·

Hoekom het die “Pukke” met die Universiteit te Mahikeng saamgesmelt,honderde kilometers van mekaar terwyl die Universiteite van Limpopo en Venda ,ook n dieselfde provinsie en ook honderde kilometers van mekaar, toegelaat is om as selfstandige uiniversiteite voort te bestaan. Na my mening was die samesmelting onnodig.

Fanie ·

Baie dankie aan Dr Theuns en andere wat die herdenking reël. Kom ons neem die beste uit die 150 jaar en pas dit nou toe by Akademia!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.