Hoërskool Overvaal, ʼn geleentheid om aan te gryp

ian-cameron

Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie AfriForum. Foto: Twitter.com

Deur Ian Cameron

Is gebeure in Vereeniging by die Hoërskool Overvaal die laaste twee weke slegs kommerwekkend, of eerder ʼn geleentheid? Sedert die begin van onrus by die skool was daar weens verstaanbare redes groot ongelukkigheid wat heers oor die omstrede aantygings, uitsprake en optredes vanuit betogingskringe oor ʼn skool wat sonder opset in die spervuur beland het.

Ek glo egter dat dit juis vir veral minderheidsgemeenskappe ʼn geleentheid is om aan te gryp, om ʼn nuwe alternatief vir die toekoms te kan skep – ʼn  toekoms uit konstruktiewe gemeenskapsinisiatiewe wat ook ʼn leidende rol kan speel in die ontlonting van só konflik. Dit is ook juis wat, volgens my, die situasie wat dalk op tye aan die buitekant van die skool se mure plofbaar was, help ontlont en bedaar het. ʼn Geleentheid waar, nie net die plaaslike gemeenskap nie, maar gemeenskappe van oor die Gauteng-provinsie en selfs die hele land, kan saamwerk om te sorg dat kinders wat in hulle moedertaal wil leer, dit sonder vrees kan doen.

Wat leer ons uit die afgelope twee weke? Volgens my is die grootste les dat ons hoop het vir die toekoms. Ná die eerste dag se betogings met die skiet van rubberkoeëls, gooi van skokgranate en talle arrestasies, het ʼn stil gemeenskap, sonder enige sensasie, saam die strate begin skoonmaak. Elke band wat aan die brand gesteek is, elke merk op die pad, elke klip, bottel en stuk rommel is verwyder. Dieselfde gemeenskap het kort daarna begin om die gebied te patrolleer sodat die nou skoon skool, veilig sal bly sodat kinders die volgende dag met vreugde kan terugkeer om te kan leer.

Hierdie stil maar doeltreffende optrede het in hierdie moeilike tyd ʼn boodskap van trots, orde en omgee vir die gemeenskap deur die gemeenskap uitgestraal. Behalwe vir die positiewe invloed op bystanders, het dit ook ʼn bepaalde boodskap van, “ons sal aanhou bou ondanks julle optrede”, vir die betogers gestuur. Betogers was teen dag twee al moeg gebreek, omdat dit wat gebreek is, so vinnig deur ouers en die gemeenskap skoongemaak is, dat al die harde, “breekwerk” weer van voor af moes begin. Hulle kon eenvoudig nie voorbly met die tempo waarteen ʼn trotse gemeenskap bou nie.

Ons leer dat daar so ver as moontlik saamgewerk moet word met owerhede, nie noodwendig uit vertroue in die regering se moontlike optrede nie, maar die goue driehoek van veiligheid wat gevestig is om die kinders kans te gee om in vrede te leer. Samewerking met owerhede moet egter nie die bouwerk, wat aan die buitekant gebeur, enigsins verswak of stadiger maak nie. Hierdie driehoek is ʼn gemeenskapsbastion wat gekomplimenteer word deur privaat sekuriteit en natuurlik die polisie.  Dit skep dus vir die gemeenskap ʼn geleentheid om georden, binne die raamwerk van die wet, te kan optree en te kan mobiliseer om weer hoop te skep dat niemand hoef terug te staan of afhanklik is van iemand anders vir ʼn toekoms nie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die Overvaal situasie relatief goed hanteer en ʼn kans gebied vir gemeenskapslede om ook saam met hulle die omgewing te kan dien. Hierdie hantering deur die polisie en skakeling met die gemeenskap het beteken dat kinders in vrede kon skoolgaan. Dit beteken ook dat terwyl die skool voortgaan, kon daar terselfdertyd gepoog word om die situasie te ontlont.

Die kinders in Hoërskool Overvaal was egter die voorloper hoopskeppers tydens die ongemaklike eerste twee akademiese weke terug by die skool. Elke oggend doen hulle saam lofprysing en sê met trots ʼn eed op wat nie net geluister kan word nie maar gevoel kon word in die atmosfeer. Die kinders het ouers help bedaar, die kinders het onderwysers ondersteun en ondanks dreigemente, met ʼn glimlag water en kos vir die polisie aangedra. Hierdie is kinders wat wil leer en bou, kinders wat uiters trots op hulleself en hulle skool kan wees. Ondanks die feit dat die graad 8’s seker ná die twee weke die beroemdste graad 8’s in die land is, het hulle elke dag vir hulle eerste week by ʼn nuwe skool opgedaag, party bietjie skrikkerig vir die hoërskool, maar meeste uit hulle velle om deel te kan word van hierdie instelling. Ek kan werklik getuig dat daar nie ʼn oomblik op daardie skoolgronde was waar ek ʼn druppel vrees of angs by die kinders of personeel kon aanvoel nie.

Ek het al talle mense hoor sê, “ai, die jongmense van vandag”, maar na hierdie tyd kan ons sê, “dankie vir die jongmense van vandag”. Hierdie klein groep skoolkinders het met mannemoed hulle week aangepak, ongeag die hope sensasie wat dinge uiters gevaarlik op tye laat lyk het.

Deur geordende gemeenskapsmobilisasie bly ons op die voorpunt, ons behou die morele hoë grond en kan groei uit ʼn mate van ʼn traumatiese gebeurtenis, ongeag hoe erg of minder ernstig verskillende mense dit dalk ag.

Ek het onlangs gelees van die oud-Amerikaanse generaal, James Mattis, wat gesê het: “For whatever trauma came with service in tough circumstances, we should take what we learned – take our post-traumatic growth – and, like past generations coming home, bring our sharpened strengths to bear, bring our attitude of gratitude to bear. And most important, we should deny cynicism a role in our view of the world.”

Ons moet onder geen omstandighede die rol van die gemeenskap onderskat nie. Mattis meen hierbo dat ons juis nie net sinies moet wees nie, maar vanuit hierdie krisisse geleenthede moet kry om hoop te kan skep en om te kan bou. Deur die ervarings bou ons beter aan ons sterkpunte, ontwikkel ons swakpunte en vestig ʼn vermoë om elke toekomstige situasie beter te kan hanteer. Ons fokus om die situasie verder te ontlont moet op die kinders bly. Wanneer dit by hulle kom, kan ons sonder twyfel nie toelaat dat individuele oortuigings of onnodige konflik in die pad kom nie. Die kinders moet kan leer.

Vrywilligers het die vermoë om só krisis te kan ontlont. Buurtwagte, plaaswagte, sekuriteitsmaatskappye en talle ander rolspelers het die afgelope paar weke saam met AfriForum deur proaktiewe optredes die situasie op so wyse hanteer dat die kinders, wat die kern prioriteit was, veilig kon skoolgaan. Moet nooit twyfel in vrywilligers nie, daar is niks sterker as die hart van een nie.

  • Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Eish ·

Pragtige artikel van hoop.
Sonder die angel van kritiek, geregverdig of nie, spreek dit tot n mens.
” By fighting you never get enough, but by yielding you get more than you expect.”

JC ·

Wonderlik!
Alle lof kom ons beskermheer, God van alle Nasies toe, wat met die Afrikanervolk was in hierdie toetsagtige tye.
Dankie aan Afriforum.

Disselboom ·

Mmmmm…. ja. Met respek aan die gemeenskap rondom Hoërskool Overvaal, wat die spesifieke situasie inderdaad verstandig en met eer hanteer het. Laerskool Nelspruit het besluit om vandag liewer toe te maak. En Hoërskool Overvaal was ook al ‘n dag gesluit. En die 1976-opstande wat bekend geword het, het ook nie as groot byeenkomste begin nie, en het voorlopers gehad, nog voor die groot redes voorgehou is. Die EFF net nie eens respek vir die hoogste sitting in die land, naamlik die parlement nie. Die spesifieke saak is puik hanteer, maar mens wil aanneem daar is ‘n bewustheid dat die aanslag gaan verhewig.

Jerry ·

Baie geluk Ian. Afri-Forum het meer mense soos jy nodig. Dit is absoluut die denkwyse en insig van jou wat voorspoed kan bewerkstellig. Jy sal op die regte pad bly solank as wat jy inisiatiewe loods wat konflik vermy of ontlont.

leon ·

Groot lof aan die bestuur, onderwysers, ouers, kinders van Overvaal. Julle het ons saak uitstekend gedien. Dit gaan as voorbeeld in ons geskiedenis opgeteken word. Dankie aan die ondersteuning van Ian en Afriforum.

Maar die stryd le nog voor.

MvS ·

Puik artikel! Ek was reg om voor te veg sou enige aksie by my kinders se skool geloods word, maar hierdie artikel het my oë net weer oopgemaak vir wat vermag kan word as ons kies om reg op te tree in baie uitdagende omstandighede. Dankie vir die mooi voorbeeld Overvaal-gemeenskap!

John ·

…. maar ‘n hofsaak kom en die woede duur voort… Om idealisties-onrealisties te wees en die leerders aan gevare bloot te stel terwyl blitse slaan en donderweer bulder, is nie slim nie. Doen reg ja, maar weet die skool en Afrikaans is onder beleg. Ons kan nie met oogklappe loop en sypaadjies vee nie. Daar is mense wat hierdie optrede as uitdagende meerderwaardigheid interpreteer. Moenie die’ waarskuwing afskiet nie. Afrikaans en Afrikaners is nie gister gebore nie… SA het ook ‘dreamers’ en alles-wil-he-ers… Dink mense… dink meneer… en hou dominee weg… Ons soek nie begrafnisse nie…

Johan Neuteman ·

Die draai die ander wang om dinge te laat bedaar idee is seker goed, maar die lees van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en Afrika-magsgryp manier van doen, en minister Angie Motshega wat omtrent net ‘n uur nodig gehad het om om te swaai van haar Afrikaans-mag-bly-standpunt na ondersteuning van Lesufi se hofplanne, laat mens wonder of die aanslag regtig in sy volle omvang en sy volle geweld reg verstaan word.

Merkur ·

Sekerlik is dit moontlik om die regte ding te doen en jou eie kant skoon te hou sonder om naief te wees en die eie weerhaftigheid prys te gee. Dit is defnitief noodsaaklik om ook fisies op alles voorbereid te wees en weerhaftig te wees en nie net geestelik voorbereid te wees nie. Die twee gaan hand in hand en moet liewer nie geskei word nie.

Gerhard ·

Die skrywer het sekerlik die beste bedoeling, maar ek voel tog dit mag dalk net effens te vroeg geskryf wees. Die “oorlog” by Overvaal is nie verby nie en wat die mense daar doen kan net die onvermydelike uitstel. Binnekort gaan draai die saak in ‘n hof wat nie juis ooghare het vir Afrikaans nie en ek sien min kans vir dit om in die guns van Afrikaans beslis te word. Uiteindelik maak dit ook nie saak nie. Binne 20 jaar van nou sal daardie skool tenvolle Engels wees en daar is niks wat Afrikaners daaraan kan doen nie. Hou op met onwerkbare planne, die antwoord is iewers anders. Begin daarmee voor dit ook onwerkbaar is. Daarmee bedoel ek ware selfbeskikking.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.