Hoeveel belastingbetalers is daar werklik?

In talle gesprekke en artikels oor die belastinglas in Suid-Afrika word syfers oor hoeveel belastingbetalers daar nou eintlik in Suid-Afrika is rondgeslinger. Die mees populêre getal blyk “vyf miljoen” te wees, maar is dit akkuraat? (sien grafika onderaan)

Ten einde te bepaal hoeveel wesenlike betalers van belasting daar in Suid-Afrika is, moet sekere sake eers in konteks gestel word. In die 2010/11 belastingjaar, die mees onlangse jaar waarvoor syfers beskikbaar is, het persoonlike inkomstebelasting slegs 33,7% van die staat se belastinginkomste uitgemaak. Maatskappybelasting was 19,7% en belasting op toegevoegde waarde (BTW) was vir 27% van belastinginkomste verantwoordelik. Dit laat sowat 19,6% wat van belastings soos die brandstofheffing en invoertariewe afkomstig was. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die mense wat inkomstebelasting betaal, ook tot ʼn baie groot mate verantwoordelik is vir die betaling van al die ander tipes belasting.

Maatskappybelasting is geensins ʼn belasting op maatskappye nie – dit is ʼn belasting op die eienaars van maatskappye. Die eienaars van maatskappye is individue – aandeelhouers. Tot ʼn baie groot mate presies dieselfde mense wat inkomstebelasting betaal. Dieselfde geld vir ander belastings soos tariewe op invoere en belasting op brandstof. Die mense wat die produkte waarop hierdie belasting gehef word, koop, is grootliks dieselfde mense wat inkomstebelasting betaal. By BTW hel die verspreiding waarskynlik bietjie meer na diegene wat nie genoeg geld verdien om inkomstebelasting te betaal nie oor, maar ook nie soveel soos wat daar verwag sal word nie, weens hierdie mense se lae koopkrag. Daar moet ook in gedagte gehou word dat daar geen BTW gehef word op talle basiese kosprodukte nie. Mense met ʼn lae inkomste spandeer ʼn groot deel van hul inkomste op hierdie produkte sonder BTW – dis juis die rede waarom daar geen BTW op sulke produkte gehef word nie.

Presiese berekeninge is nie moontlik nie, maar daar kan op grond van die bogenoemde redes aanvaar word dat diegene wat verantwoordelik is vir 33,7% van die staat se belastinginkomste deur inkomstebelasting, ook vir verreweg die grootste deel van die ander belasting verantwoordelik is. Anders gestel: Daar is ʼn direkte en positiewe verwantskap tussen die hoeveelheid persoonlike inkomstebelasting wat ʼn persoon betaal en die hoeveelheid ander belasting wat hy of sy betaal. Dit is dus wel relevant om ondersoek in te stel na hoeveel mense verantwoordelik is vir die betaling van inkomstebelasting.

Inkomstebelasting in 2010/11

Die eerste syfer wat teëgekom word as die jongste inkomstebelastingstatistiek ondersoek word, is die 5,9 miljoen geregistreerde belastingbetalers. In 2008 was hierdie syfer sowat 5,2 miljoen. Dit is waarskynlik waar die populêre “vyf miljoen”-syfer se oorsprong lê. Diegene wat tot dusver van “vyf miljoen belastingbetalers” gepraat het, moet dit dus nou eintlik verhoog na ses miljoen.

Hierdie syfer gee egter nie werklik die aantal mense wat belasting betaal weer nie. Net omdat iemand vir inkomstebelasting geregistreer is, beteken nie dat hy of sy noodwendig inkomstebelasting betaal het in ʼn spesifieke belastingjaar nie. In 2010/11 was daar slegs sowat 4,7 miljoen mense wat belastingopgawes moes indien. Daar was dus sowat 1,2 miljoen geregistreerde belastingbetalers wat onmiddellik buite rekening gelaat kan word wanneer daar oor die aantal mense wat werklik inkomstebelasting betaal gepraat word.

Van die 4,7 miljoen mense wat opgawes moes indien, is sowat 4,3 miljoen se belastingsake vir die jaar reeds afgehandel deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), met 8,4% wat nog afgehandel moet word. Die volgende syfers het slegs te make met die 4,3 miljoen wat reeds afgehandel is, aangesien daar uiteraard slegs oor hulle gedetailleerde data beskikbaar is.

Van hierdie 4,3 miljoen kan onmiddellik 0,24 miljoen (5,7% van die 4,3 miljoen) afgetrek word, omdat hulle geen belasbare inkomste gehad het in die betrokke tydperk nie. Daar bly dan 4,0 miljoen oor. Van hierdie vier miljoen was daar ongeveer 1,1 miljoen met inkomste van R1 tot R90 000 in die belastingjaar. Hierdie kwart van die belastingbetalers het slegs 1,1% van die totale inkomstebelasting vir die jaar bygedra – gemiddeld slegs 3,1% van hul belasbare inkomste. Hierdie 1,1 miljoen mense kan kwalik belastingbetalers genoem word. As hulle almal van inkomstebelasting vrygestel was, sou die effek op die fiskus skaars merkbaar gewees het. Daar bly dan sowat 2,9 miljoen mense oor wat nagenoeg 99% van alle inkomstebelasting betaal het.

Ingesluit by hierdie 2,9 miljoen is daar ʼn volgende groep van ongeveer ʼn miljoen mense in die inkomstegroepe van R90 000 tot R150 000 wat gesamentlik ʼn addisionele 7,2% van inkomstebelasting bygedra het. Hulle staan gemiddeld byna 10% van hul inkomste aan inkomstebelasting af. Dit sou ietwat onakkuraat en ondankbaar wees om hierdie miljoen mense nie as “belastingbetalers” te ag nie – 10% van iemand se inkomste is nie onbeduidend nie. Vir die doel van die artikel is dit tog insiggewend om hierdie miljoen mense uit die totaal te verwyder. Daar bly dan 1,9 miljoen belastingbetalers oor wat verantwoordelik was vir byna 92% van alle inkomstebelasting wat in 2010/11 ingevorder is.

Hierdie 1,9 miljoen kan nog ʼn laaste keer verklein word deur diegene wat R150 000 tot R200 000 verdien het, uit te sluit. Daar bly dan 1,25 miljoen mense oor wat verantwoordelik was vir nagenoeg 82% van alle inkomstebelasting wat ingevorder is. Tegnies sou daar nog verder gegaan kon word deur ʼn aantal staatswerkers van die totale af te trek, maar dit sou ʼn subjektiewe oordeel oor hoeveel waarde staatswerkers werklik toevoeg verg wat buite die bestek van hierdie artikel val.

Een laaste aanpassing

Aangesien die bogenoemde syfers slegs op die 4,3 miljoen wie se belastingsake reeds afgehandel is, gebaseer is, moet die syfers nog aangepas word om vir die totale 4,7 miljoen belastingbetalers wat opgawes moet indien, voorsiening te maak. Met ander woorde, die 0,5 miljoen mense wat wel belasting moes betaal, maar wie se sake nog nie afgehandel is nie, moet iewers ingedeel word. Vergelykings van historiese syfers toon dat die meeste van dié mense gewoonlik in die laer inkomstekategorieë val. Met hierdie aanpassing word die voordeel van die twyfel egter aan diegene in die laer kategorieë gegee, en die 0,5 miljoen mense word proporsioneel ingedeel tussen al die inkomstekategorieë. Dit wil sê, al die groepe se totale word met 9,2% verhoog.

Dit gee dan sowat 3,2 miljoen mense wat verantwoordelik was vir 99% van alle inkomstebelasting in 2010/11. Sowat 2,1 miljoen was verantwoordelik vir 92% van alle inkomstebelasting en laastens word die 1,25 miljoen aangepas tot 1,4 miljoen wat 82% van alle inkomstebelasting betaal het.

Daar is dus ʼn baie groter wanbalans tussen die aantal mense wat belasting betaal en die totale bevolking as wat met die eerste oogopslag sigbaar is. Eintlik is daar slegs ongeveer 3,2 miljoen belastingbetalers en streng gesproke slegs 2,1 miljoen of 1,4 miljoen wat enigsins beduidende bedrae belasting betaal. Diegene wat met groot kommer daarop wys dat daar slegs vyf miljoen belastingbetalers in Suid-Afrika is, is dus verkeerd, maar die ware syfers gee eintlik nog meer rede tot kommer.

1,4m mense betaal 82% van SA-inkomstebelasting

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Paul Joubert

Paul is 'n senior-navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

butch ·

En dan kla die amerikaners omdat daar 10milj mense by hulle is wat toelaes ontvang

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.