Hoeveel is ’n lewe werd?

Daniel du Plessis.

Deur Daniel du Plessis

Dit is ’n goeie beleid om dankbaar te wees vir enigiets wat jy kan.

So, byvoorbeeld, leef ons in omstandighede waar die regering meer mag as ooit vantevore kan uitoefen in die kleinste, mees banale alledaagse aspekte van ons lewe.

Maar – blink kant bo – soos jou gunstelingrestaurant of jou kind se skool, stuur die presidensie darem deesdae ’n weeklikse nuusbrief uit, sodat jy kan weet hoe hy hierdie vermoëns wil gebruik.

In sy jongste nuusbrief, met ’n spesiale fokus op Jeugdag, maak die president spesifiek melding van die rol wat die jeug tans speel in bewegings soos Black Lives Matter en hul pogings om talle standbeelde van vergange tye te verwyder.

Dit is interessant om te let op die feit dat die president besluit het om hom uit te laat oor gebeure oorsee en in die verre verlede. As pres. Cyril Ramaphosa wou kapsie maak teen die vermorsing van swart lewens, is daar baie geleenthede om dit op eie bodem te doen.

Hierdie tendens is egter nie net beperk tot Suid-Afrika nie. So het die Afrika-Unie ook sy misnoeë te kenne gegee met polisiebrutaliteit in Amerika. Dit, ten spyte van die feit dat jy sal sukkel om enigiemand te kry wat meer swart lewens geëis het as die lidlande van hierdie organisasie.

So, byvoorbeeld, het die dood van Collins Khosa en andere aan die hand van Suid-Afrikaanse wetstoepassers grootliks ongemerk verbygegaan, veral in vergelyking met die reaksie op die dood van George Floyd.

Dit kan dus nie ontken word dat die lewe van swart Suid-Afrikaners nie besonder hoog geag word nie. President Ramaphosa vergeet egter gerieflik dat dit sy eie regering was wat hierdie lewens van so ’n geringe waarde geskat het.

Lewens word op ander plekke ook verspil: Swak ekonomiese ontwikkeling beteken dat mense in Suid-Afrika bitter min ekonomiese veerkragtigheid het – en daarom baie kwesbaar is.

Hoeveel mense sal nie omkom as gevolg die strengste inperking ter wêreld nie? En hoeveel as gevolg van die ekonomiese en sosiaal-maatskaplike skade aangerig deur staatskaping en meer alledaagse korrupsie?

Die lewe van die 143 slagoffers van die Life Esidimeni-tragedie was duidelik nie vir die Gautengse regering genoeg werd om vir behoorlike oorsig te sorg nie. Selfs vandag nog is hierdie lewens nie genoeg werd om die politieke ongerief te loop om die verantwoordelike partye voor stok te kry nie.

Al hierdie lewens, oorweldigend arm en oorweldigend swart, het net waarde gehad in soverre hulle geruil kon word. Sommige vir politieke guns, sommige vir geld – maar altyd sonder die slagoffer se inspraak.

Die implikasie hiervan is so afgryslik as wat dit voor die hand liggend is: George Floyd se dood is net waardevol vir die Suid-Afrikaanse regering oor die politieke geleentheid wat dit skep. As dit nie daarvoor was nie, was dit net soveel werd as die talle mense wat die regering, direk of indirek, elke dag in Suid-Afrika opoffer.

Wanneer lewens deur die regering geweeg kan word, sal hulle altyd onderworpe wees aan hierdie kille politieke algebra.

Wil ons die waarde van hierdie menselewens verhoog? Wel, dan is die antwoord taamlik eenvoudig. Wie is beter toegerus om die waarde van hierdie mense se lewens te bepaal as daardie mense self en hul naaste?

Dit beteken, aan die een kant, dat ons die ekonomie moet bou om vir mense die middele te gee om onafhanklik van die regering se besluite te leef, maar ook dat ons sterk gemeenskappe moet bou wat hul lede waardevol ag.

Die bepaal van ’n waarde is altyd ’n subjektiewe besluit – of dit nou is van ’n produk in die supermark, of die waarde van iemand se lewe. Al keuse wat ons het, is wie ons daardie besluit laat neem.

  • Daniel du Plessis is ’n regsontleder by Sakeliga, ’n onafhanklike sakegemeenskap.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam Adriaan ·

As jy self geen positiewe waardes in die lewe kan toevoeg nie(soos die ANC/EFF en hul kaders), dan pak jy alle blaam op andere, om jou eie swakheid te verbloem.

Vrijburger ·

Cyril – ons het nie van Marikana vergeet nie. #blacklivesmatter.

Francois ·

As ons president black lives so belangrik ag waarom skenk hy nie ook van sy klomp grond wat hy besit aan minder bevooregres

Adam ·

Jare gelede het die buiteland gereeld baie advies aan SA gelewer en nou dat skoen bietjie aan die ander voet is, het hulle nie antwoorde op hul eie probleme nie. CR deel nou raad aan die buiteland het terwyl hy op sy beurt nie SA se stturwiel behoorlik kan vashou nie. Ons regering wys elke dag hoekom hulle nie eens nodig het om die Grondwet te verander nie aangesien hulle dit bloot ignoreer. CR praat ook van ‘n inklusiewe ekonomie wat geskep moet word en indien hy sy oordeel behoorlik inspan sal hy besef dat ‘n inklusiewe ekonomie voortaan die “default position” gaan wees omrede daar sulke groot skade aan die bestaande ekonomie aangerig is. Diet dat hy propageer dat die staat die projek moet dryf val vreemd op teen die agtergrond van die verwoesting van staatsbeheerde instellings en trouens alles waaraan die regering raak. ” Time to smell the coffee Mr President” !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.