Hofmakery op pad na Mangaung

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die vakbond COSATU se onlangse kritiek op President Jacob Zuma se welige woning in Nkandla is bes moontlik `n poging om oud-vakbondstryder, Kgalema Motlanthe, die hof te maak. Wat die arme sosialistiese vakbond egter nog nie geleer het nie is dat hul pogings om kandidate vir Suid-Afrika se presidentskap met vleitaal en kritiek op opponente om te koop nie veel aftrek kry sodra die verkiesing verby is nie.

`n Paar jaar gelede het hulle (moes hulle?) daardie selfde les met President Jacob Zuma leer. COSATU, en die meeste Afrikaners (ek inkluis), was vas oortuig dat Zuma die steun, wat landsbeleid betref, met `n sterk swaai na links sou beloon. Dit het egter nie gebeur nie. Daar was geen skielike inwerkingstelling van `n sosialistiese beleid of groter voordeel vir die laer-inkomste werker nie. Dalk het sy groot aantal vroue en die uitgawes wat daarmee gepaard gaan het dit verhoed.

Wat ookal die rede was, die feit bly staan dat die massas nie tevrede was met die gevolg nie. Dit het `n paar jaar geduur om tot uitbarsting te kom maar ons het onlangs die gevolg daarvan by Marikana gesien. Dit is moontlik die dryfveer agter COSATU se aanvalle op Zuma.

Intussen vry COSATU weer hard na `n nuwe potensiële kandidaat in die vorm van Motlanthe. COSATU sit met die probleem dat hulle huidige steunbasis selfs vinniger na links as hulle self beweeg en daar dus bitter vinnig inspraak verkry moet word in beleidvorming.

Daar is egter `n paar probleme met hierdie benadering. Eerstens wil dit voorkom asof presidente oor die algemeen meer kapitalisties raak sodra hulle die eerste keer die wonder van die soustrein geproe het.

Tweedens kan een persoon nie die beleid van `n hele regering bepaal nie. Met al sy gebreke is Suid-Afrika steeds `n demokrasie waar prosesse deurgaan moet word voor die beleid verander.

En derdens kan `n regering nie welvaart skep nie. Dit word gedoen deur entrepreneurs in `n stelsel waar `n vrye mark heers. Sekerlik word ekonomiese welvarendheid moontlik gemaak deur `n vrye mark, maar ‘n persoon wat ekonomies welvarend is se sukses kan nie aan `n regering toegeskryf word nie – met die uitsondering van tenderpreneurs…

Dus is beloftes van welvaartskepping deur COSATU aan hul volgelinge niks minder as blatante oneerlikheid nie.

Wat die presidentskandidate betref sal hulle persoonlike oortuigings vir `n wyle opsy geskuif moet word in aanloop tot die ‘Mangaung’ wat voorlê en sê wat nodig is ter wille van die steun.

COSATU aan die ander kant sal ook moet leer dat kandidate hulle steun voor die betrokke leiersverskiesing sal verwelkom, maar dat hulle insette nie daarna noodwendig enige steun sal geniet nie.

Miskien moet COSATU eerder kers opsteek by vakbonde soos Solidariteit wat eie geleenthede skep ongeag die regering van die dag. Miskien sal hul lede dan beter daaraan toe wees en sal hulle nie uitgelewer wees aan politici nie. Wie wil in ieder geval uitgelewer wees aan `n enkele politikus?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae