Hofsake oor skoolonderwys

skoolskoene-2

Argieffoto.

Langenhoven het gesê ‘n hond wat gewys het hy kan byt, hoef volgende keer net te knor.

Hofsake oor onderwys is maar altyd groot nuus, veral as daar ʼn stukkie emosie of omstredenheid betrokke is. Dit is helaas merendeels net die opspraakwekkende sake wat die nuus haal, veral dié wat uiteindelik in die Grondwethof beland. Dus is dit maar die puntjie van die spreekwoordelike ysberg waarvan Jan Alleman kennis neem, hoe opspraakwekkend dit ook al mag wees.

Ek was al in verskillende hoedanighede, aanvanklik as prokureur en later as uitvoerende hoof van FEDSAS, betrokke in ʼn geskatte driehonderd hofsake oor onderwys.  Ek het nooit daaraan gedink om rekord te hou van die aantal sake nie, vandaar die skatting.  Boonop het ek nie behoefte daaraan om akkurate rekord te hou nie, buiten natuurlik vir daardie sake wat kragtens ons presedentestelsel uitsprake oplewer wat wel presedente skep.

Hoekom hofsake?  Hoekom probeer jy nie eerder op vriendskaplike wyse die probleme beredder nie?  Hoekom praat jy nie liewer nie, eerder as om dadelik die spreekwoordelike kanon nader te trek nie?

Dit is die vrae wat baie aan my gevra word.

Die antwoord is eenvoudig: in verreweg die meeste van hierdie dispute is gepraat, gesmeek en selfs gedreig alvorens tot regsaksie oorgegaan is.  Dit is bitter selde dat ek, FEDSAS of een van ons lidskole hof toe is sonder dat daar vooraf gesprekvoering of debat was.  Eintlik is dit net die werklike dringende sake waar gesprekvoering of onderhandeling fatale gevolge vir dringendheid sou hê, waar regsaksie uit die staanspoor onafwendbaar is.  En dit gebeur inderdaad selde.

Hier is egter ʼn belangrike beginsel ter sprake.  Ons is in ʼn grondwetlike regstaat en om die regstaat in stand te hou en behoorlik te laat funksioneer, is dit nodig dat die regsmeganismes – die howe – wat daargestel is om mense en instellings se regte te bevorder en te beskerm, benut moet word. Behoed ons daarvan dat ons oorgelewer moet word aan die nukke of grille van die burokrasie of die owerheid om beginsellose skikkings te bereik om ons sin te kry.

Waaroor gaan hierdie hofsake?

Dit gaan in wese oor die bevordering van regte aan die een kant en beskerming van regte aan die ander kant.  Beide die Grondwet en die Skolewet skep vir skole en hul beheerliggame ruimte om die howe te nader om regte te bevorder of te beskerm.

Verreweg die meeste van die hofsake waarby ek direk, as prokureur, of indirek, as FEDSAS-werknemer, betrokke was, het tot dusver gehandel oor die aanstelling, oorplasing of bevordering van onderwysers.  Die wetgewing oor die aanstelling van onderwysers en hul bevordering by skole maak voorsiening daarvoor dat geen aanstelling of bevordering sonder die aanbeveling van die beheerliggaam van die skool kan geskied nie.  Amptenare ignoreer dikwels net eenvoudig hierdie regsvoorskrif, maar in baie gevalle word die voorskrif ook bloot geïgnoreer om ʼn duistere of onregmatige motief van die amptenaar of betrokke provinsiale onderwysdepartement te bevorder.  Op een uitsondering na het ons al hierdie sake gewen.  Dikwels is dit ook in die skool se guns geskik sonder dat ʼn uitspraak van ʼn hof daaroor nodig was.

Dit ironies dat daar pogings aan die gang is om die wetgewing te wysig om beheerliggame se bevoegdheid om aanbevelings vir aanstellings, oorplasings en bevorderings in te kort, terwyl die suksesvolle hofsake juis die beste bewys is van die feit is dat dit amptenary se vooroordeel of onbekwaamheid is wat tot onreëlmatighede aanleiding gee.

Die Oos-Kaap is berug vir sy onderwysprobleme en daardie onderwysdepartement se onvermoë om sake reg te ruk en te voldoen aan regsvoorskrifte, veral betreffende personeelverskaffing aan skole.  Hier is dit nie net individuele skole wie se regte en belange op die spel is nie, maar alle skole in die provinsie.  Verskeie hofsake hieroor moes gevoer word en nuwe sake dreig steeds.  Die ongeërgdheid oor die gesag van die howe in daardie provinsie is een van die ernstigste bedreigings vir ʼn grondwetlike regstaat. As staatdepartemente en amptenary net eenvoudig kan kies watter hofbevele hulle sal nakom en watter nie, is ons baie naby aan anargie.

Taal en taalbeleid is van die meer opspraakwekkende sake wat howe toe is.  Die bekendste voorbeeld daarvan is natuurlik die saak van Hoërskool Ermelo wat uiteindelik in die Grondwethof besleg moes word.  Dit het egter daar oor meer as net taal gehandel.  Die primêre geskil was die misbruik van mag aan die onderwyshoof se kant om die magte van die beheerliggaam terug te trek om sy eie doel – verandering van die skool se taalbeleid – te bereik. Daardie deel van die geskil is in die guns van die beheerliggaam beslis, maar die hof het tog gelas dat die beheerliggaam die taalbeleid van die skool moet hersien.

In vele ander soortgelyke sake het onderwysdepartemente egter eenvoudig probeer om Engelse leerders in Afrikaansmedium skole in te dwing.  Daardie stryd duur van tyd tot tyd voort, want amptenare neem nie kennis van die howe se uitsprake nie, ignoreer dit bloot, of haal net selektief uit die uitsprake aan.

Die toelating van leerders tot voorkeurskole is natuurlik ook ʼn drukgang wat konflik veroorsaak en wat dikwels met die howe se tussenkoms besleg moet word.  Die probleem is dat ons ʼn onderwysstelsel het waarin ongeveer 80% van die openbare skole disfunksioneel is.  Natuurlik sal alle ouers, wat die beste vir hul kinders nastreef, net die beste skool vir hul kinders wil hê.  Dis tog by uitstek verstaanbaar.  Maar die individuele skole is magteloos om die stelsel te verander en gevolglik word hulle gedwing om hulself te beskerm teen oorstroming en uiteindelike ineenstorting vanweë oorvol klasse in beperkte ruimtes en fasiliteite.  Die probleem is besonder akuut in Gauteng.  Daar is eenvoudig te min skole en die gemiddelde grootte van skole in die provinsie is reeds meer as dubbeld dié van die res van die land.  Dit is broeiplek vir konflik.

My hele eerste hofsaak in onderwys (1995) het gehandel oor die onregmatige skorsing van ʼn skoolhoof en presies 20 jaar later herhaal die proses hom weer.  Die keer is twee skoolhoofde geskors vanweë beweerde rassisme – maar die onderrok van rassisme het sterk by die skorsers self uitgehang.

Een van die heel vroegste sake waarby ek betrokke was, was die onsmaaklikhede by die Hoërskool Vryburg, wat ook ondermeer met skorsing te doen gehad het.  Dié keer was dit egter die skorsing van ʼn leerder na aanleiding van die berugte skêr-steekvoorval.  Beheerliggame sukkel om dissipline te handhaaf en daarin kry hulle gans te dikwels nie die ondersteuning van onderwysowerhede nie.  Dit is net die onderwyshoof van ʼn provinsie wat, op aanbeveling van ʼn beheerliggaam, ʼn leerder uit ʼn skool kan skors.  Die besluit van die onderwyshoof moet binne 14 dae na ontvangs van die aanbeveling geneem word, maar dikwels is daar geen reaksie nie, selfs nadat herhaalde keer navraag gedoen is.  Dan is dit maar hof toe om ʼn bevel te kry om die onderwyshoof te dwing om sy werk te doen.

Hierdie is maar net enkele voorbeelde van hofsake oor onderwys.  Daar is nog vele ander wat meer of minder opspraakwekkend is.

Eintlik is hierdie hofsake nie noodwendig slegte nuus vir ons land nie.  Daar is ook ʼn stukkie goeie nuus en daardie nuus is dat ons Grondwet sterk en lewenskragtig is om mense en instellings se regte en regmatige belange te bevorder en beskerm.  Dis ʼn teken dat ons Grondwet werk.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Paul Colditz

Meer oor die skrywer: Paul Colditz

Paul Colditz is die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas)

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Francois ·

Dankie vir ‘n insiggewende perspektief op ‘n interessante kwessie, Paul. Jou slotopmerking dat die SA Grondwet ‘werk’, is egter myns insiens ‘n growwe veralgemening. Die Grondwet ‘werk’ wel vir sekere mense in sekere omstandighede, maar daar is ook diegene wat die Grondwet blatant minag (dink maar aan die Gupta-sage) en dan boonop skotvry daarvan afkom; daar is diegene wie se legitieme en meriete-gebaseerde aansprake op aanstelling of bevordering in die werkplek deur die Grondwet se bepalings oor regstellende aksie ondermyn word; en dan is daar ‘n sekere onagbare president wat uitdruklik erken dat hy die belange van sy vrot politieke party bo dié van die Grondwet stel. In hierdie gevalle ‘werk’ die Grondwet derhalwe glad nie.

Fanie ·

Dankie wat julle vir ons Afrikaanse skole doen. Dis jammer dat die Regsprekende gesag heeltyd gebruik moet word omdat die Uitvoerende gesag (staatsdepartemente) onbevoeg of verpolitiseerd is. Die vraag is of die Hofstrategie oor die langtermyn dus volhoubaar is as dit so aangaan? Bv as Gauteng nie genoeg skole bou nie, gaan die Departement die 3%(goeie) skole dwing om die res se probleem op te los. Die gevaar is ook dat die Wetgewende gesag sy mag gaan misbruik soos Paul uitgewys het. Sterkte vir jul werk, en mag alle skole jul steun!

DPJ ·

Ek is baie bly dat daar nog so ‘n geloof onder ons mense destaan. Maar heel laas dreig die politesie en die maghebers om ons demokrasie en grondwet om ver te werp met hulle uitsprake en wetswysigings.
Sodra dit gebeur is ons ‘n Sosidlistiese/komministiese staat bedeling en help die GRONDWET ons veinig of niks.

Leonard van der Dussen ·

Hofsake is ‘n middel om onderwysverwante onregte aan te spreek. Vir die oomblik, soos Afriforum ten minste nou en hier munisipaliteite tot dienslewering dwing. Hofsake is egter reaktief en pleisters opplak op ‘n dingetjie hier en dan daar.

In Centurion is meer as ‘n kwarteeu laas ‘n staatskool gebou (behalwe so flourige poging vir ‘n Engelse skool in Wierdapark ‘n jaar gelede), terwyl die stad groot uitgebrei en verdig het. Ons kan aanhou wag vir regering tot daar glad nie meer plek is nie, of hulle versuim en geleentheid omskep en na die Christelik-Afrikaanse privaatskole beweeg en self beheer neem vir nou en veral vir die toekoms, want die regering en die gepeupel gaan nie die Afrikaanse staatskole uitlos nie; en dan gaan die hofsake heeltyd pleisters opplak, maar nie die uiteindelike ver-Engelsing en oorspoeling keer nie.

In parallel met diegene wat self skole opbou, kan FEDSAS wel oorweeg om ‘n bevel te vra dat die regering die 3,9ha leë skoolerf in Zwartkop nou na dekades van ‘n skool begin voorsien.

Johann Marx ·

Dis tragies dat blanke Afrikaner ouers, onderwysers en leerders hulle tot onderlinge hofsake moet wen om eenvoudige goed soos ‘n skolewet toegepas te kry. Ons voormalige Model C skole het ontaard in rykes teen armes………waar die meeste mense wat skoolfonds kan bekostig NIE betaal nie, en diegene wat sukkel met wetgewing gedreig word om te betaal (en ek weet, want ek was self daar….waar skole se skoolfonds met tot 122% oor vyf jaar styg…..en my inkomste met ongeveer 20% oor dieselfde tydperk). Beheerliggame se kennis van die skolewet is skrikwekkende gebrekkig…..en daar’s hopeloos teveel van hulle wat die skool gebruik asof dit “hulle skool” is. Bitter min bestuursliggame sal bv die Dept van Onderwys takel met die onregverdigheid van byvoorbeeld elektrisiteits en water tariewe wat aan korrupte munisipaliteite betaal word, met ouers se skoolfonds. Dieselfde ouers wat hulle eie krag en water rekeninge betaal, wie se belasting aangewend word om “geen fooie” skole se rekeninge te betaal……..en dan hulle eie skole s’n ook moet betaal. Dis tyd dat Mnr Colditz en Fedsas begin om die “ouers” te verteenwoordig…..in plaas van onderwysers teen die Dept van Onderwys.

Marius ·

Onthou tog asb. dat daar baie skole is wat tot 80% swart is wat ook tel onder die top 3% skole in Suid Afrika. Dis nie net Afrikaanse skole wat deurloop nie maar top Engelse skole waarvan die meerderheid leerders swart is. Die regering wil hulle kloue ook in hierdie skole inkry. Die punt is hierdie ouers is ook besorgd oor wat die regering wil doen om toegang te kry tot hierdie skole se bronne.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.