Hongarye: Besoek by die Duitse minderheid

(Foto: Sebastiaan Biehl)

Oos-Europa was in die 18de eeu en daarna as die “last frontier” van Europa, die oop pioniersland met ʼn wankelrige en dikwels veranderende politieke orde en met veel spasie vir nedersettings, terwyl die weste en suide reeds gevestigde en redelik digbevolkte state gehad het. Veral die Duitsers, as sentraal-Europese volk sonder ʼn eie staat, was geneig om as ʼn soort Europese Voortrekker-beweging die groot ruimtes van Oos-Europa te bevolk. Hulle was gewild weens hul vaardighede en dissipline en het orde in ʼn dikwels nog ongevestigde samelewing gebring. Rusland, die Baltiese state, Roemenië, Pole en Hongarye was die hoofbestemmings vir Duitse emigrante na Oos-Europa.

Die oorgrote meerderheid is na die Eerste en Tweede Wêreldoorlog uit Oos-Europa verdryf, en van dié wat oorgebly het, het nog heelwat ná die val van die muur in die laat 20ste eeu na Duitsland verhuis. Ten spyte daarvan is daar nog oorblyfsels van die Duitse minderhede in verskillende stadiums van assimilasie. Van al die Oos-Europese lande is Hongarye seker die land wat sy Duitse minderheid die beste hanteer. Die situasie van die Duitse minderheid laat ʼn mens natuurlik onwillekeurig ook aan die situasie van die Afrikaner-minderheid, sowel in Suid-Afrika as in die buiteland, dink.

(Foto: Sebastiaan Biehl)

Hongarye het vandag sowat 200 000 Duitsers wat al vir generasies daar woon. Talle Hongaarse dorpe is eintlik Duitse stigtings. Duitsers is egter oor die hele Hongarye versprei, alhoewel hulle in sekere dele gekonsentreerd is, soos rondom Pecs, Boedapest en die Balatonmeer. Daar is egter geen streek of selfs dorp waar die Duitsers ʼn meerderheid vorm nie. Hulle geniet wel in die dele waar hulle ʼn aansienlike meerderheid vorm (ten minste 10% van die bevolking) “selbstverwaltung”, wat op kulturele outonomie neerkom. Dit word selfs deur die Hongaarse regering befonds, en die Duitse regering het ook nog ou ooreenkomste waardeur hulle sekere finansiële ondersteuning aan hulle minderhede gee.

Dat daar na sowat 350 jaar en talle pogings tot vernietiging nog hoegenaamd iets van die Duitse kultuur oor is, is op sigself merkwaardig. Mense identifiseer hulle egter self en is daar ʼn groei in getalle te bespeur,  waarskynlik omdat mense na vele jare hulle Duitse identiteit herontdek, al praat hulle Duits foutief en met ’n swaar aksent. Die rede is nie natuurlike aanwas nie, maar veral omdat meer mense wat hulself vroeër as Hongare geklassifiseer het – hulle het nadele as etniese minderheid gevrees en ook ervaar – hulle vandag weer as Duitssprekend klassifiseer.

Die hoofstraat van St. Martin. (Foto: Sebastiaan Biehl)

Ons het die dorpie St. Martin, sowat ʼn uur per trein van Boedapest, besoek waar mense van Duitse afkoms ons die talle aspekte van die Duitse kultuur gewys het. Die skool speel natuurlik ʼn rol waar Duits as vak aan almal geleer word, met Duitse kultuur as nog ʼn vak. Die skoolkinders is sowel Duits as Hongaars en die twee groepe is vandag moeilik onderskeibaar. Daar is natuurlik ook veel ondertrouery, wat altyd kultureel ten nadeel van die minderheidsvolk geskied. Verder is die talle monumente, soos die begraafplase en gedenktekens ter herinnering aan die Duitse nedersetting in die 18de eeu en aan die uitdrywing van die 20ste eeu, belangrik om die nalatenskap van die Duitsers te wys. Daar is ook ʼn gemeenskapsaal met tipiese kultuuraktiwiteite soos Duitse sang, danse en ʼn blaasorkes.

Die Duitsers het destyds hoofsaaklik per huisboot met die Donaurivier, wat in die Duitse streek Schwaben (vandag deel van Baden-Württemberg) ontstaan, tot in Hongarye gevaar en hulle ook hoofsaaklik langs die Donau in ʼn gebied gevestig wat destyds weens die talle oorloë wat die Hongare teen die Turkse veroweraars moes voer, dun bevolk was. Die setlaars staan dus ook bekend as Donauschwaben (van die ouer generasie praat soms nog die Swabiese dialek) en hulle huisbote het die naam “Schwabenschachtel” (Swabiese kardoes) gekry. Hulle was as hardwerkende landbouers en ambagsmanne gewild. Dit het egter nie verhoed dat talle setlaars kort na die Tweede Wêreldoorlog (soos oral in Oos-Europa) uitgedryf of gedwonge geassimileer is nie.

Afgesien van die Duitse minderheid wat al geslagte lank daar woon, is daar ʼn klein trekbeweging van meer onlangse “Merkel-Flüchtlinge”, mense vir wie die huidige hiperliberale en multikulturele Duitsland nie meer aanstaan nie en wat in die meer homogene en konserwatief-Christelike Hongarye tuis voel. Daar is reeds ʼn Duitse koerant in Boedapest vir hulle belange, asook verskeie klubs.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.