Hongkong-betogings: Steeds duur die onrus voort

Betogers met sambrele hardloop vroeër vanjaar weg nadat traangas in Hongkong afgevuur is. Die polisie het ʼn betoger raakgeskiet toe betogers treinspore en paaie versper het. (Foto: Vincent Yu, AP)

ʼn Mens kan deesdae nie jou televisie aanskakel nie of jy sien die een of ander betoging met buitebande wat brand, die polisie wat met voorwerpe bestook word en voertuie wat aan die brand gesteek word. As dit nie Chili is nie, is dit Frankryk, Libanon, Sirië, Hongkong of Johannesburg. Dienslewering, ontevredenheid met of verandering van regering word dikwels as rede aangegee.

Dit is hiermee in gedagte dat ek onlangs huiwerig die pad Hongkong toe aangepak het. Dit is immers daar dat die televisie gewys het hoe ʼn polisieman ’n gemaskerde betoger doodskiet toe dié op hom afstorm en hoe ʼn man doodgesteek of erger nog, aan die brand gesteek word omdat hulle die betogers gekonfronteer het. Dit is ook hier dat meer as 4 000 petrolbomme gekry is nadat die studentebetogers hul laaste vesting, die tegniese universiteit, verlaat het.

Die probleme het begin omdat betogers beswaar gemaak het dat Hongkong se owerheid onder die leiding van Carrie Lam wetgewing wou deurvoer wat die uitlewering van misdadigers aan China moontlik sou maak. Die planne is gou laat vaar, maar toe wou die betogers van Lam ontslae raak. Sy is nog daar, maar die betogings gaan nou daaroor dat Hongkong algehele onafhanklikheid van China moet kry. Op die oomblik is dit ʼn selfregerende gebied in terme van ʼn ooreenkoms wat China en Brittanje, die kolonialiseerder, in die negentigerjare gesluit het.

Nietemin, by my aankoms ʼn week of wat gelede in Hongkong het ek aanvanklik gevrees dat ʼn mens nie eens van die lughawe af by die hotel sou kon kom nie. Verre daarvan: Die bus het my voor die hotel in Kowloon, een van die gebiede wat die ergste deur betogers ontwrig is, afgelaai. Nie ʼn betoger was in sig nie, maar die hotel was taamlik leeg.

Polisiebeamptes vertoon hul wapens tydens ʼn protesoptog in Hongkong. Betogers neem die strate in die Tsuen Wan-distrik op horings, waar polisie vir die eerste keer tydens dié protes watertenks ontbied het. (Foto: Vincent Yu, AP)

Die vrou agter die ontvangstoonbank het sonder probleme oor die betogings gepraat. Sy was aan die betogers se kant en wil nie hê Hongkong moet soos China word nie … waar media- en persoonlike vryheid ingekort word.

Die taxibestuurder wat ons die volgende dag lughawe toe geneem het, was aan die ouer kant. Daar is nog geen teken dat Hongkong deur China ingesluk sou word nie. Waarom nou die ekonomie skade aandoen? En skade is daar gewis: Hong Kong Airlines, die gebied se tweede grootste lugdiens, is net voor ons aankoms in sakeredding geplaas. Cathay Pacific, die wêreldbekende lugredery, het gewaarsku dat sy passasierstal met 48% afgeneem het en, tensy dit verbeter, sakeredding ook sy voorland is.

Maar steeds duur die onrus voort. Dit word egter fyn beplan: Inwoners en veral die media word vooraf ingelig waar betogings in ʼn beperkte gebied gehou gaan word … reg vir die kameras en spesiaal vir die internasionale mark bedoel. Voor sulke betogings het die deelnemers reeds by die Amerikaanse ambassade aangedoen waar hulle die Amerikaners bedank het vir “hul steun”. Van die betogers het die Amerikaanse vlag of reuse-foto’s van pres. Donald Trump rondgeswaai.

Ook is daar reeds vreedsame plaaslike verkiesings gehou waartydens die opposisie ʼn weghol-oorwinning behaal het.

Maar na Hongkong is ek China toe, ʼn land waar ek tien jaar lank gewerk, maar ses jaar laas gesien het. Die verskil was opmerklik: Toe ek in 2000 die eerste keer daar aangekom en in 2004 daar begin werk het, kon ek nog by Facebook aansluit. Daar was geen probleme om internasionale webwerwe soos CNN en die BBC te besoek of internasionale koerante te lees nie. Daar is sedertdien ʼn elektroniese muur groter as die Chinese muur om die hele China gebou wat ten doel het om die reusebevolking in die duister te hou oor sake wat die samelewing kan ontstig. Die Chinese regering is doodbang vir nog ʼn Tiananmen-burgeropstand waar tenks in 1989 gebruik is om die orde te herstel. Party ander lande sal egter wat wou gee om onrus te bewerkstellig … moenie vergeet dat lande soos die VSA ʼn kwalik bedekte veldtog teen ʼn opkomende China voer nie.

Onlustepolisie trek vroeër vanjaar met traangas los op betogers wat in openbare parke en pleine in verskillende dele van Hongkong byeengekom het ná ʼn algemene staking. Betogers het daarop aangedring dat die semi-outonome leier van dié Chinese stad moet bedank. (Foto: Kin Cheung, AP)

Die gevolg is dat Chinese burgers op die vasteland nie eers weet van die betogings in Hongkong nie.  Die meeste gee ook nie om nie; die deursnee Chinees wil net hê wat lankal binne Westerlinge se bereik is: genoeg kos, mooi klere, ʼn gerieflike huis toegerus met moderne huishoudelike toestelle, ʼn weeldemotor en geld om die wêreld te sien. Die Chinese regering roem hom juis daarop dat hy die afgelope paar jaar meer as 400 miljoen mense uit armoede opgehef het. Die meeste van die 1,4 miljard Chinese is ontsaglik lojaal teenoor hul regering en wil niks weet van enigiets wat hul nuutgewonne ekonomiese geleenthede in gevaar kan stel nie.

Maar intussen bly daar die probleem vir die Chinese regering. Hy sê Hongkong is deel van China, net soos Taiwan en Macao. Al het die VSA missiele in Taiwan wat op China gerig is.

En, terloops, Macao wat eers ʼn Portugese kolonie was, is heeltemal tevrede met die toedrag van sake. Die selfregerende gebied is nou die dobbelhoofstad van die wêreld en het geruime tyd al Las Vegas onttroon.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae