Hoofstroommedia: ‘Sameswering om Jan Alleman te belieg?’

Argieffoto

Argieffoto

As die jaar 2016 deur twee begrippe gekenmerk word, sal dit “fopnuus” en “leuenmedia” wees – laasgenoemde synde ʼn begrip wat in Duitsland sy intrede as Lügenpresse gedoen het.

In die sosiale media en die reaksieruimte onderaan nuusberigte en artikels op allerlei nuusmedia se webwerwe, sien jy dieselfde standpunt telkens weer terugkeer: Die “hoofstroommedia” is deel van ʼn sameswering om Jan Alleman te belieg. Dié media berig net oor dié dele van en gesigspunte in die nuus wat hul ideologie pas en verswyg of onderbeklemtoon dit wat hulle nié pas nie.

Elke groep het sy eie oortuigings oor wie agter dié sameswering sit. Vul maar self in: Die kommuniste, liberaliste, die Nuwe Wêreldorde, die Illuminati, groot kapitaal. Die skrywer van hierdie artikel, arme dwaas, is ook óf willens en wetens deel daarvan óf die nuttige idioot, wat nie eens weet hy word gemanipuleer nie.

Teen dié agtergrond het tientalle nuwe aanlyn-media hul intrede gedoen. Verskeie “hoofstroommedia” het reeds spesifieke gevalle onthul van mense, wat eenvoudig om finansiële redes allerlei skandale uit hul duim suig en met groot gedruis op die internet plaas, wat dan deur talle mense aangegryp word as “bewys” dat die gevestigde media doelbewus lieg.

Die ironie is dat dié soort oortuiging ver van nuut is; dit kom al ʼn lang tyd.

Wladimir Lenin het persvryheid in sy kapitalistiese konteks bestempel as “misleiding terwyl die beste drukperse en die grootste papiervoorrade deur die kapitaliste opgeëis word terwyl die kapitalistiese oorheersing oor die pers gehandhaaf word”. Vir die kapitaliste, het hy voortgegaan, “beteken persvryheid die vryheid van die rykes om die pers om te koop en vryheid om hul rykdom te gebruik om die sogenaamde openbare mening te vorm en fabriseer”.

Vir hom was die oplossing om die rykes te verhinder “om skrywers te huur, om uitgewers op te koop en koerante te huur. En om dit te doen, moet die kapitaliste en uitbuiters omver gewerp en hul weerstand onderdruk word.”

Soortgelyke sentimente, maar dan van die ander kant, is deur Adolf Hitler en sy Nazi’s geopper. Die begrip “Lügenpresse” was ʼn lieflingwoord van Joseph Goebbels, wat ná 1933 Hitler se minister van propaganda geword het – hy het dikwels na die “rooi”, “Marxistiese” of “Joodse Lügenpresse” verwys. En in Oos-Duitsland, weer, het die kommunistiese dikatuur se woordvoerders gereeld die “kapitalistiese Lügenpresse” aangeval.

In ons eie tyd word die woord byna by elke openbare geleentheid deur die regs-populistiese Alternative für Deutschland gebruik.

Beteken dit alle kritiek op die “hoofstroommedia” is verkeerd? Gewis nie. Om mee te begin, ʼn nuwe geslag bestuurders het die afgelope dekade of drie (dikwels sonder joernalistieke ervaring) die bedryf oorgeneem, met die idee dat die wins verdubbel kan word (ʼn proses wat al in 1993 deur Doug Underwood in sy boek When MBAs Rule the Newsroom ontleed is).

Dit het op grootskaalse besnoeiings uitgeloop, senior personeel is vroeg met pensioen gestuur, die gehalte het agteruit gegaan, wat die sirkulasie (en wins!) laat daal het, verdere besnoeiings het gevolg en so het die media in ʼn bose kringloop beland.

My teenargument is en was nee. Nuusmedia bestaan nie om wins te maak nie; hulle moet wel wins maak om te kan bestaan. Dis iets heel anders.

Hul bestaansrede is om díens te lewer. Dié diens bestaan daaruit om mense te bemagtig met kennis en insig. In die proses moet ook wins gemaak word, anders hou die onderneming op bestaan.

Nou is die vraag: Hóé word daardie diens gelewer? Die aanklag wat byna uit een mond deur Lenin, Goebbels en sommige moderne aanklaers geformuleer word, is immers dat die huidige hoofstroommedia nie objektief is nie, die wêreld met oogklappe bekyk en net sien wat hulle pas en dat hulle deur sinistêre magte agter die skerms gemanipuleer word.

Laat my begin deur skuld te beken. Ek ken geen joernalis wat altyd 100% objektief is nie en dit geld ook vir my. Maar dan moet ʼn mens onmiddellik daarby sê geen méns is ooit 100% objektief nie (dit geld ook vir die aanklaers).

Die historikus, Hermann Giliomee, gebruik die metafoor (ek vergeet van wie hy dit oorgeneem het) dat ʼn mens nie jou eie asem kan ruik nie. Net so is verreweg die meeste mense nie van hul eie bevooroordeeldheid bewus nie.

Wanneer joernaliste dus van eensydigheid en leuens aangekla word, beteken dit, op die keper beskou, die aanklaer beskou sy eie oortuigings as korrek, onbevooroordeeld en objektief. Objektiwiteit word dan gesien as ʼn oortuiging, wat grotendeels of heeltemal met dié van die klaer ooreenstem.

Dit beteken nie die klaers het nooit ʼn punt beet nie. Jy kry goeie en slegte loodgieters, goeie en slegte artse, goeie en slegte joernaliste.

Ek ken joernaliste wat vir ʼn sensasionele vod [iets waardeloos; rommel; prul] gaan werk het omdat hulle ʼn goeie salaris sou kry. En in die proses byna elke joernalistieke etiese reël met oorgawe verkrag het.

Ek ken joernaliste met sekere politieke oortuigings wat gekonsentreer het op nuus wat hul sienings ondersteun en ander items onderbeklemtoon of selfs geïgnoreer het. Maar verreweg nie almal is só nie. Die meeste probéér – al is dit gebrekkig – hul werk gewetensvol doen.

Jy kry helaas lesers wat deesdae by voorbaat verwerp wat hulle in die “hoofstroommedia” – ʼn begrip wat byna as vloekwoord aangewend word – lees. Die digitale era maak dit vir hulle moontlik om sonder meer hul woede en frustrasie oor die sosiale media heen te spuit. Wat vroeër langs die braaivleisvuur of in die kroeg gesê is, word nou oor die hele wêreld versprei.

Die ironie is dat van die “alternatiewe media” – ʼn mens dink byvoorbeeld aan webwerwe soos die Amerikaanse Drudge Report en Breitbart News – met hul samesweringsteorieë gretig geglo word. Dat sulke media, nes dié in die hoofstroom, ook hul eie lewens- en wêreldbeskouing het en dat hul analises kragtens daardie beskouings geformuleer word, ontgaan die kritici blykbaar.

Wat ons bring by die vraag: Wie en wat kan ons dan glo?

Wel, vergeet daarvan om nuusmedia te vind wat nét die maagdelike waarheid versprei. Hulle bestaan nie, nie aan enige kant van die politieke spektrum nie en in geen enkele land nie. Die sleutel is sorgvuldigheid by die nagaan van feite, eerlikheid en volledigheid.

Die beste is om verskillende media te lees en hulle met mekaar te vergelyk. Só word jy die beste bemagtig om uiteindelik sélf te besluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Louis Marais ·

En die artikel is geskruif deur die einste persoon wat gese het hillary gaan groot wen… RIP

Woes ·

Wat presies is jou punt wat jy geskruif (sic) het, Louis? Hierdie artikel handel oor die objektiwiteit van verslaggewers en nie oor Clinton nie.

Leopold Scholtz ·

Help my bietjie, seblief: Presies waar en wanneer het ek dit “geskruif”? Gee die plek en datum. n Man moet mos sy aanklag kan staaf, of is ek dan nou onbillik?

Boerseun ·

Rapport het n verskroning gepubliseer op 13 Nov 16 (as ek die datum reg het) oor die optelfout wat begaan is in n vorige rubiek. Die fout is net so van RealClear Politics verkkeerdelik gepaste. In die rebiek is die voorspelling van Hillary se oorwinning gemaak.

John ·

Soos nooit voorheen nie kan nuus ge-‘cut’en ge-‘paste’ word en prentjies en syfers op rekenaars gedokter word. Dit word deeglik benut deur nuusdraers en boodskappers van groepe wat hul ideologiee wil uitdra. Leopold verwys na Hitler en sy ‘boys’ se taktiek, Die ou kerel se haarstyl en snor was selfs soos vir ‘n akteur in ‘n rol ontwerp. Hitler was soos Hillary ‘n baie nuttige leier op die regte tydstip op die regte plek, moenie ‘n fout maak nie. Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie. Hillary het dit nie besef nie, maar sy sou ‘n nuttige wapen gewees het sou sy gewen het, vir sekere mense met sekere sinistere oogmerke… En nou kry die VSA ‘n perd van ‘n anderste kleur… moeilik om te lees en te manipuleer…

Joerie ·

Nietzsche het twee kenmerke van die moderne tyd geïdentifiseer wat dit van ander tydsgewrigte onderskei: 1- die verafgoding van die handelaar; en 2- ‘n obsessie met die oombliklike wat deur die joernalistiek ter tafel gelê word. Dit sou naïef wees om verby die verband tussen die twee verskynsels te kyk.

Ampie ·

Na my mening moet die media alternatiewe menings duld. Met ander woorde, selfs al stem jy nie saam met Julius Malema of Steve Hofmeyr nie (jammer Steve dat ek jou naam noem saam die watsenaam), gun die alternatiewes om hul menings vrylik te lug. In ons polities-korrekte media, asook die oorsee, word die alternatiewe mening nie geduld nie. In die bree sou ek wou sien dat ‘n media-huis min of meer sy lesersgroep se waardes en idees omarm en nie die mense breinspoel met een of ander verwronge idee/ideologie nie.

Leendert ·

Dit laat my dink aan, wat is die werklike nalatenskap en die waarheid rondom Nelson Mandela? Dit wat die media aan ons voorhou, ‘n verlosser?

CJ ·

Die media hoef maar net die waarheid te publiseer, of dit hulle nou pas of nie. As hulle ongemaklike feite verswyg, dan ondermyn hulle die ware “gees” van die media. Soos die Ingelse dit sou s^e, “after all” , die media is daar om die publiek in te lig, nie om dinge te verswyg nie.

Jan ·

Buiten nou vir die joernaliste en rubriekskrywers self wat die berigte skryf, dalk die riglyne en doelstellings van die Koerant (opdragte van om uit ‘n spesifieke hoek) die berig te benader om die boodskap aan die leser oor te dra, soos dit die koerant pas, wat van die redegeerders van koerante en die media, die sogenaamde Subs, wat die redigeerwerk doen, manipuleer hulle nie ook briefskrywers se bydraes aan daardie koerante en die media nie? Dit dalk ook in opdrag. Wat van ons eie koerante en hoofstroom media?

Ek vra nie hierdie om dowe neute nie, maar mens sal verseker graag van daardie mense wil hoor wat al wel briewe sodanige briewe geskryf het, waarvan daar met die inhoud ‘gepeuter’ is om die siening van die koerant en dit wat hy sy lesers wil laat sien, weer te gee.

Leopold Scholtz ·

Beste Jan, ek kan uiteraard nie namens alle media praat nie. Maar in Media24 is lesersbriewe nooit “gedokter” om iets anders weer te gee as wat die skrywer wou kwytraak nie. Dit weet ek uit eie ervaring. As jy bewyse tot die teendeel het, kan jy dit gerus bekend maak.

Jan ·

Dankie Dr Scholtz vir jou reaksie, Ek sal eerder volstaan daarmee deur net te sê, ek was een van die briefskrywers. Dit was nou wel ‘n hele paar jaar gelede. Ek het intussen ophou bydraes lewer. Ek het ook nog ‘n persoon se naam in my kop wat ook daaroor ongelukkig was, hy het dit in ‘n kommentaar onderaan sy brief duidelik gemaak. Dit is sekerlik nou onbillik van my om te sê ek los dit liewer daar. Maar ek kan jou verseker, hierdie is nie wilde aantygings nie.

Ian ·

Alhoewel Marula se beriggewing van “beter” gehalte is, is daar ook maar sensuur betrokke. Heelwat van my kommentaar is in die verlede verwyder omdat dit nie dieselfde sienswyse as die redakteur gehandhaaf het nie. Wat almal van Naspers se is waar. Wat presies is Kopdoek se doel daar?

Johan ·

Die renons van die publiek gaan om meer as net dit wat in die artikel beweer word as sou dit ‘n blote ‘n gebrek aan objektiwiteit in die media wees. Dit gaan in die eerste plek oor blatante leuens, en verder ook oor die gebrek aan ondersoekende joernalistiek. Dan gaan dit oor “beinvloeding” van die publieke mening, en hierdie artikel van Scholtz is ‘n sprekende voorbeeld. Die ooglopende doel van die artikel was om die publieke mening oor “alternatiwe media” vs. “hoofstroommedia” sodanig te beinvloed dat die meerderheid oortuig kan word dat “alternatiewe media” verwant is aan kommunisme en “die bose Hitler”. Is dit waar? Of in die minste, is dit die enigste kant van die munt? Waarom word ander joernalistieke opinies wat nie hiermee saamstem nie, dekking geweier? Waarom mag daar oor sekere sake nie vrae gevra word in die hoofstroom media nie? As die hoofstroom media werklik onafhanklik was, sou die ondersoekende joernalis vryheid gehad het om hierdie dinge te ondersoek en daaroor aan die publiek te rapporteer. Die feit dat dit nie gebeur nie, behalwe in die alternatiewe media, is bewys dat die hoofstroom media lieg of ten minste ‘n sekere agenda stoot, en nie bloot onskuldig subjektief is nie. In hierdie artikel was die doel om te suggereer dat die probleem bloot “onskuldige menslike subjektiwiteit” van die gewone joernalis is, waaraan ons almal sogenaamd skuldig is. Let op, dit is ‘n suggestie wat ten doel het om publieke mening te beinvloed.

Johan2 ·

Die laaste sin van die artikel lees, “Die beste is om die verskillende media te lees en hulle met mekaar te vergelyk. Sò word jy die beste bemagtig om uiteindelik sèlf te besluit.”
“….. en hierdie artikel van Scholtz is ‘n sprekende voorbeeld.”
Verander die sin van dr. Scholtz na, “Die beste is om die verskillende KOMMENTARE te lees….” en te besef dat party mense nie die artikel tot die einde gelees het nie maar wel met ‘n voorafingenome oortuiging.

Leopold Scholtz ·

Beste Johan, natuurlik wil ek die openbare mening beInvloed. Daarom is hierdie ‘n meningsartikel, en noem ek myself ‘n kommentator. Wat is jou doel anders? Jy wil met jou antwoord tog ook die openbare mening beinvloed? Waarom is my poging moreel verwerplik en joune in orde? In alle vriendelikheid, kan jy jou gebrekkige logika raaksien?

gatiep ·

Johan baie mooi gestel dis maar al wat ek sal se ,dis tyd mors om lang goed te skryf en post gaan nie op.

Johan ·

My vorige repliek op Johan2 en Leopold se antwoorde, wat gestuur is voor Gatiep, Kaufman en Herman Toerie se plasings, is nie geplaas nie – ek sal dit toeskryf aan ‘n tegniese fout en nie aan sensuur nie. In elk geval, laat ek probeer onthou wat die drif van my repliek was. Ek verstaan Johan2 en Leopold se stellings, maar dit is nie die punt nie. Die kruks van die saak is dat die hoofstroom media gou is om alternatiewe sienings af te skiet as “fake news” of “conspiracy theories”. En boonop weet die hoofstroom media dat die meeste mense nie die moeite doen om self verdere ondersoek in te stel nie en maar gou is om die hoofstroom nuus te aanvaar op sigwaarde. En wanneer die hoofstroom media die alternatiewe media as “fake”verklaar, dan is daar baie mense wat dit goedsmoeds sal aanvaar as sulks. Leopold, wanneer jy en ander joernaliste daarop sal aandring dat die ander kant van sake soos Verwoerd en Kennedy se sluipmoorde en die 9/11 storie wye dekking kry en bespreek word in koerante en op TV, en nie afgeskiet word as “fake” nie, dan sal jou poging tot objektiwiteit moreel water dra en nie verwerplik wees nie.

Johan ·

Aan Johan2 en Leopold. Ek verstaan julle punte. Dit is egter nie waaroor dit gaan nie. Om voor te stel dat mense verskillende media lees en self hul mening vorm, maar dan daarby te suggereer dat die alternatiewe media “fake” is, en dit terwyl die hoofstroom media nie onafhanklik ondersoek instel na sake soos Verwoerd en Kennedy se sluipmoorde of die korrektheuid van die 9/11 storie nie, of om enige poging daartoe te verkleineer as “fake media” of “conspiracy theory”, is mos in sigself vals. Leopold, jou poging sou moreel aanvaarbaar wees as jy ‘n advokaat sou wees dat sake soos hierdie openlik bespreek word – in koerante en op TV, sodat mense werklik die twee of meer kante van ‘n saak kon opweeg en dan vir hulself besluit. Meeste mense doen nie die moeite om ondersoek in te stel nie, want die hoofstroom media verklaar mos sommer self dat die “ander kant” vals is. Dit is makliker om net die koerant te glo, en die media weet dit. Nou dat meer en meer mense begin wakker word a.g.v. sosiale media, nou skielik is julle voorstanders van “totale ondersoek”. Dit flous my nie.

Leopold Scholtz ·

Johan, klaarblyklik is jy dus een van diegene wat glo 9/11 is deur die Amerikaanse regering self uitgevoer en dat daar ‘n bose sameswering agter die moord op Verwoerd sit. Nou ja, niks wat ek skryf, sal jou van die teendeel oortuig nie; ek is mos deel van die sameswering. Wat wel waar is, is dat hierdie soort oortuigings reeds herhaaldelik deur onafhanklike navorsers ondersoek is, en geen bewyse hoegenaamd is daarvoor gevind nie. Wat hedendaagse fopnuus betref, kan ek die oortuiging noem dat Obama eintlik ‘n Moslem is en in Kenia gebore is – ‘n bewysbaar valse stelling wat geesdriftig deur Trump versprei is. Dis ‘n goeie voorbeeld van fopnuus. Wat die hoofstroom-media betref, jy moet onthou dat wat jy in die koerant lees, deur ‘n kenner beskryf is as “the first draft of history”. Dit beteken dat dit noodwendig onvolkome en onvolledig is. Dit geld ook vir jou alternatiewe media. Maar nou ja, ek aanvaar jy is basies onoortuigbaar. Wat ek skryf, is gebaseer op my ervaring in ‘n loopbaan van byna 42 jaar. En natuurlik beteken dit volgens jou niks. OK, kom ons kom ooreen om met wedersydse respek te verskil. Lekker dag vir jou!

gatiep ·

Hehe groot skok wag nog vir die mense wat so glo dat die US goverment niks te doen gehad het met 911 nie en dat oubama n engeljie is.
Ons gesels binnekort weer Leopold.
Groot dinge is op pad en die mense wat dit nie raak sien nie wil niks anders sien as waarvoor hulle geprogrameer is nie.

Kaufman ·

Uit persoonlike ervaring kan ek getuig dat meeste hoofstroom media stories lelik verdraai. Vra maar vir mense wat betrokke was by dinge wat die nuus gehaal het.

Kaufman ·

Om n saak eensydig te dek, net een kant te stel is niks anders as vals nuus nie. Kyk hoe hanteer hoofstroom media die rassisme issue. Gevolgtrekking is dat hoofstroommedia beslis skuldig is aan reuse leuns.

Herman Toerien ·

Die beeld van die hoofstroommedia het enorme skade gely deur die aanstelling van ‘n jong omstrede redakteur wat toe in ‘n oorlog met sy lesers betrokke geraak het. Na ‘n hopelose te lang tyd is die betrokke redakteur geskuif en weer geskuif en nou al ‘n ruk stil. Vir die betrokke koerant is toe ‘n uitstekende, ervare persoon aangestel wat ‘n mens amper wi laat opmerk: “En hy was al die tyd daar en hulle gaan flankeer eers met iemand wat amper die koerant se se einde was.” Elders in die groep is ook met redakteurs misgetas. Ek dink die skade word vererger deurdat nie erken word daar is misgetas nie.

Rupert Ashford ·

Jy praat waar Herman, hoewel hierdie stuk deur Leopold sekerlik baie wyer strek as die Suid-Afrikaanse konteks. Herman verwys ook na die MBA storie wat myns insiens ‘n voortvloeisel is van die wyer tendens so 20 jaar gelede toe gereken is enige jong outjie met ‘n MBA is slimmer as ouer manne met jare se ervaring en in die proses is ten minste ‘n hele generasie uit bestuursposte gedruk. Toe dit begin het het dit my gepas – ons was immers toe almal jonk en vol wysheid en kennis. Die geskiedenis het ons egter ‘n paar lesse geleer wat hopelik nie gou vergeet sal word nie, maar mens kan seker nie te veel vertroue in die mensdom stel nie – dieselfde foute sal seker weer herhaal word as mens kyk na die Occupy beweging, Feesmustfall ens. Sterkte vir ons almal…

Therese van Schalkwyk ·

Samesweringsteorieë kan gewoonlik maklik herken en met ‘n knippie sout gelees en vergeet word.

Die meningsvormers van die hoofstroommedia wat dwars in die krop steek is dié wat hul lesers breinspoel om almal dieselfde te dink anders is hulle “rassiste” wanneer hul eie mense eerste gestel word, “nasionalistiese regse ekstremiste” wanneer hul eie kultuur as bedreig beskou word, “homofobe” wanneer hul ‘n gesin beskou as bestaande uit ‘n Pa, Ma en kinders en so kan ‘n mens aangaan.

Die skrywer het bv. by herhaling Trump-ondersteuners deur die bank as die armer, laer opgeleide lede van die samelewing beskryf wat nie ‘n “ploert” kan herken as hulle hom sien nie. Die implisering dat Trump nie regtig gewen het nie omdat Clinton die steun van die ‘popular vote’ het, is al male sonder tal opgemerk by meer as een meningsvormer.

Stem saam, gelukkig kan daar wyd gelees en sélf besluit word oor sake.

Leopold Scholtz ·

Beste Therese, jy vat darem kwaai kortpad. Wat ek oor Trump se ondersteuners geskryf het, was (a) baie genuanseerder as wat jy beweer, en (b) gebaseer op akademiese peilings en ondersoeke. Ek het wel reguit geskryf Trump is ‘n ploert, nie oor sy politieke oortuigings nie, maar oor die manier waarop hy homself op die politieke verhoog gedra het. Ek is grootgemaak met sekere morele waardes, en ek neem aan jy ook. Dus kan jy my nie die “ploert”-stelling kwalik neem nie. Ten slotte, betwis jy dat Clinton meer stemme as Trump gekry het? Tog seker nie? (Net om misverstande te voorkom, hierdie stelling beteken nie dat ek ‘n bewonderaar van Clinton is nie.) Groetnis.

Rupert Ashford ·

Meestal goed gese Therese.

Dr Leopold, wat Therese se oor die etikettering van mense is absoluut waar en een van die redes vir Donald Trump se oorwinning. Daar is ‘n geneigdheid in die liberale geledere (en kom ons wees eerlik “hulle” oorheers die joernalistiek) om mense te etiketteer. Hulle reken hulle het die “cultural war” gewen in die 80’s en 90’s (van die val van die Berlynse muur en kommunisme) en baie reken meerderwaardig dat hulle superieure debatteerders is en duld nie enige debatvoering oor dinge nie. As ons sg westerse spraakvryheid nie gaan toelaat dat daar regtig oop en robuuste debatvoering kan/mag plaasvind oor dinge nie (feminisme, homoseksuele troues en regte, klimaatsverandering om maar ‘n paar te noem) gaan die Trump-verskynsel oor en oor gebeur want dan het mense geen uitlaatklep om te praat nie behalwe die privaatheid van die stembus. En as jy as politikus mense beledig (deplorables) is jy of uiters arrogant of redelik dom as jy verwag hulle moet nogsteeds vir jou stem. Oor die “popular vote” van Hillary net dit: Die Amerikaanse stelsel (en daar is nog sulkes in die Westerse demokrasiee) berus nie op “popular vote” nie so die storie is irrelevant en ek dink dit is die punt wat Therese probeer maak.

Ons stem saam oor Hillary lyk dit vir my…

Jan ·

Ek het na my ondervinding, soos hier bo genoem, ‘n paar jaar gelede dit verder gevat en persoonlik met ‘n betrokke persoon wat oor die etiese werksaamhede van die koerantwese ‘n ogie hou en na wie mens sodanige aangeleenthede na kon verwys, mee oor die telefoon gesels. Die antwoord wat ek gekry het, het my toe laat besef dat dit wat ek aan geglo het, nie noodwendig dit is wat in die praktyk gebeur nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Johan, as ek jou reg verstaan, beweer jy dus ‘n lesersbrief wat jy vir publikasie in ‘n Media24-koerant geskryf het, is sonder jou toestemming sodanig verander dat die gepubliseerde weergawe ‘n ander mening weergee as wat jou oorspronklike bedoeling was. Kan jy my help om hierna ondersoek in te stel, asseblief. Gee volledige besonderhede van wanneer dit gebeur, het, watter koerant dit was, hoedanig die brief verander is, ensovoorts. Stuur dit aan die redaksie van Maroelamedia, wat dit dan aan my kan deurstuur. As dit waar is, en dit moet nog blyk, verdien die betrokke brieweredakteur om afgedank te word. Daardie soort optrede druis in elk geval volledig in teen die kultuur wat ek oor dekades by Media24 ondervind het. Ek hoor dan van jou.

SB ·

Die oorspronklike artikel van Leopold Scholtz vind ek goed en ewewigtig. Baie mense sal egter heelwat meer skepties staan teenoor die hoofstroommedia. Negatiewe woorde word gebruik om ‘n atmosfeer te skep. Die gevaar skuil daarin dat mense glo dat die media die eerbare meerderheid verteenwoordig, en omdat gewone mense nie daarvan hou om uitgesluit te word nie, word hulle deel van die stroom. Uiteindelik word al die valse beelde wat geskep is eenvoudig aanvaar as die waarheid; “verkramp”, “taalbul”, “populis” ens. Daar hoef geen sameswering te wees nie. Die golf sleur mense, selfs gewone joernaliste, eenvoudig mee. Dit dui op ‘n groot swakheid van demokrasie want daar is wel belangegroepe wat die media misbruik. Dit vind egter eerder op ‘n soort ad hoc wyse plaas en nie ‘n “Illuminati”-agtige sameswering nie. En die gevaar was lankal uitgewys: “What is called public opinion, instead of being the united opinion of the whole community, is, usually nothing more than the opinion or voice of the strongest interest . . . . . . ; and the press instead of being the organ of the whole, is usually but the organ of these (interests)” en “If newspapers are useful in overthrowing tyrants, it is only to establish a tyranny of their own.” Uitgespreek deur twee behoudende denkers: Calhoun (1780 tot 1850) en Cooper (1789 tot 1851). Die alternatiewe media is ook nie onskuldig nie. Ons enigste uitweg is om kennis in te samel, omsigtig te lees en ‘n bereidheid om teen die stroom in te swem as dit nodig blyk.

Johann ·

Ek glo nie dat daar in die wereld, en Suid Afrika regverdig media verslae gedoen word nie

Danie ·

Verskeie media wêreldwyd het om kommentaar te lewer op berigte weggeneem. Hoekom is nodig was kan ons seker ure oor debatteer word. Maar uit ondervinding het dit geblyk dat hulle juis die alternatiewe mening wou onderdruk. Dit het mense gedwing om na sosiale media te gaan en ‘n skakel na die oorspronklike berig in te sluit (soms ook nie). Dit was seker ook net ‘n kwessie van tyd voor dit in elk geval sou gebeur. Daardeur egter, het die hoofstroom hulle “beheer” oor die nuus verloor. En op die ou end van die sosiale media die plek gemaak om jou nuus van te kry. Goeie voorbeeld van hoe om jou eie voete af te skiet.

DewaldS ·

Baie goeie opsomming, Danie. Waar daar werklik spraakvryheid heers sal die waarheid die langste bene hê. ‘n Nuus-kanaal soos Russia Today het dit lank reeds besef en hulle strategie aangepas. Die tyd van die marionette-neesters se drog-media is verby. Elke dag Kersfees vir ‘n baie lang tyd wag vir waarheid-soekers. En helse paniek en pogings tot verontskuldiging is die leuenmakers se onmiddelike voorland..

Henry ·

Gelukkig het tye verander. Ons is nie meer soos ‘n vorige geslag slegs op ‘n beperkte aantal nuusberigte en kommentare aangewese nie. Internet, groot verskeidenheid tv nuuskanale, Gevreetboek, Tweet ens ens ens het gehelp om ons aan bykans onbeperkte bronne van inligting bloot te stel.

Dankie tog daarvoor!!!

Nou is ons nie meer soos ‘n vorige geslag afhanklik van ‘n baie beperkte en subjektiewe bron van inligting nie. Trouens, ooms soos oorle’ oom Albert Hertzog het tot iewers in die sewentiger jare verhoed dat ons ou landjie aan die “verderflike” invloed van TV blootgestel word.

My ouers was vir nuuskommentare oa afhanklik van ‘Ridders van die Mielieblaarklub’, oorle’ oompie AM Van Schoor, SAUK se daaglikse 5 minuut kommentare wat volgens die politieke teenstanders as Goebels se 5 minute berugtheid verwerf het.

Alzo- moenounie jou op slegs een of twee se gorrels verlaat wanneer jy probeer om tussen perdekuttels en vye te onderskei nie.
QED

Leopold Scholtz ·

Beste Henry, goeie bydrae. Dis presies my mening ook.

Cilliers van Niekerk ·

Watter verskil maak dit eerstens vir die gebruiker dat hoofstroommediaverdraaiïngs en -vervalsings uit gewone vooroordeel eerder as sameswering spruit, Leopold?

En as “menslike” “vooroordeel” ‘n joernalis (soos jyself) eenvoudig ‘n aanhaling of feit onakkuraat laat weergee, en dan soms nog verder “ontleed”, watter nut het só ‘n skrywe hoegenaamd, op sigself of in vergelyking? Gepraat daarvan, waar presies is Drudge en Breitbart se “samesweringsteorieë” te vind?

Leopold Scholtz ·

Beste Cilliers, as wat jy meen korrek is, kan ons netsowel alle nuusmedia toemaak. Dan is niks meer publiseerbaar nie. Wat Drudge en Breitbart betref, die volgende: Op 25 November verlede jaar het Drudge beweer dat CNN pornografie uitgesaai het. Na die televisiedebatte tussen Trump en Clinton het Drudge telkens beweer dat die kykers Trump groot laat wen het, maar dit onderbeklemtoon dat slegs sy eie lesers aan die opname deelgeneem het. Op 18 September verlede jaar het Breitbart se Joel Pollak geskryf oor “Obama se eienaardige vooroordeel teen die Christendom en ten gunste van die Islam”. Breitbart het deur die jare heen ruimte gebied vir mense om valslik te beweer dat Obama in Kenia gebore is. Ten slotte: In Maart verlede jaar het ‘n groep joernaliste by Breitbart bedank omdat die medium na hul mening “in Trump se persoonlike Prawda omgeskep is”. Is dit genoeg voorbeelde? Dankie vir jou bydrae – dis reg dat ook my stukke krities beoordeel word. Geniet die dag verder.

Cilliers van Niekerk ·

Beste Leopold

Ek gaan half teen my beterwete in nog een slag probeer:

1. Beweer jy rêrig blote akkurate verslag van feit en woord is onmoontlik (sien skakel onder)? Indien wel, verdoem jy jouself saam met die res van die hoofstroommedia welverdiend. Want die publiek is met uitstekende rede sielsaliglik sat vir sulke skreiende en beledigende manipulasie.

2. Die voorbeelde t.o.v. Drudge en Breitbart wat jy noem het alger met sameswering min uit te waai, en is andersins óf interpretatief en gespieël met opponerende interpretasie (of peiling) in die linkse media, óf selfs huidiglik eenvoudig onuitgemaak (cf. Sherrif Arpaio se onlangse nuuskonferensie oor die verdagte “lang vorm” Obama-geboortesertifikaat). Jy hóú dalk nie daarvan nie, maar dit maak nie daarvan ‘n leuen of ‘n samesweringsteorie nie.

3. Wat Trump betref, het jyself en die res van die hoofstroommedia aan die een kant die man (en sy ondersteuners!) met uiterste kwaadwilligheid aan wan- en valse voorstelling onderwerp, aangeval en gedemoniseer, en aan die ander kant beide sy wesenlike en selfs potensiëel epogmakende beleidsvoorstelle doodgeswyg of verdraai saam met sy welslae en opgang. Dié spoeg- en smeerdery gaan nou m.b.t. sy presidensiële oorgangs- en voorbereidingsproses onverpoosd en skaamteloos voort. Kortsigtiglik, want dusver en steeds kos dit julle geweldig aan onherwinbare agting en vertroue. Trump se ondersteuners, wat sal aangroei soos wat hy sy beloftes gestand doen, sal julle dit nie vergewe nie. …….

Leopold Scholtz ·

Aan Boerseun: Inderdaad, daardie rekenfout het ek van RealClearPolitics oorgeneem, en daarvoor het ek die slae gevat wat ek gekry het. Ek het, anders as wat Louis beweer, nooit geskryf dat Hillary “groot gaan wen nie”; ek was deurgaans baie meer genuanseerd as dit. Dis hoekom ek vir bewyse gevra het. Ek het my op RealClearPolitics se gemiddelde van alle peilings gebaseer en op grond daarvan gemeen die kans is goed dat sy kan wen. Volgens daardie gemiddelde het sy op die vooraand van die verkiesing met 3,2 persentasiepunte voorgeloop. Uiteindelik het sy Trump met ‘n voorsprong van byna 3 miljoen stemme, oftewel 2,1 persentasiepunte, geklop. Deur die eienaardighede van die Amerikaanse stelsel is dit egter Trump wat tot wenner uitgeroep is. Was RealClearPolitics – en ek – so verkeerd?

Jan Els ·

Dit is wel so dat Hillary meer stemme as Trump gekry het, maar Trump se strategie was om die meeste state te wen. Trump het byna geen aandag aan die liberale state gegee nie, hierdie state het die meeste mense.
Indien Trump wel op die liberale state sou fokus, sou hy dalk naby aan Hillary kon eindig. Hy sou egter sy tyd gemors het, die doel is mos om as President verkies te word.

chrisp ·

Die foute wat deur dien hoofstroommedia en hul skrywers gemaak word lees jy meestal in kommentaar en die alternatiewe media .
Dankie tog daarvoor anders sal die gewone persoon nooit van die foute bewus word nie.

Dat ek as konserwatiewe persoon geen stem kry in die hoofstroommedia nie is ‘n duidelike bewys van die bestaan van ‘n media wat uit een mond skree. Verder is dit verblydend en leersaam om veral die kommentaar van lesers te herkou waar die onderokke van skrywers en sogenaamde “meningsvormers” duidelik uitgewys word.Om hierdie rede is my bede dat Maroela minder die sker sal inle die jaar.

Soos reeds bo vermeld word kommentaar juis gesluit of gesensor om die gewone man se bek toe te maak. Tye het verander so veel so dat Trump vyf jaar gelede geen kans sou staan nie. Die alternatiewe media is grootliks verantwoordelik vir die val van Hilary deur al haar leuns en swakhede uit te wys.Iets wat jy nerens in die hoofstroommedia gevind het nie. Indien ‘n persoon ‘n stelling vandag maak dat die media nie ‘n agenda dryf nie,is so persoon totaal blind as hy dit nie na die VSA verkiesing besef nie.

Henry ·

Wat sommige aangeleenthede soos die behoud en uitbreiding van Afrikaans en Afrikaner-wees betref, is ek konserwatief. Terselfdertyd het ek ook ‘n liberale ingesteldheid wanneer vryheid van spraak en respek vir verskillende persoonlike oortuiginge ter sprake kom.

Daarom het ek groot waardering – vir wat dit ookal werd mag wees – vir Chrisp se standpunte hierbo.

Ek het eweneens ‘n afkeer aan publikasies en webwerwe wat alternatiewe standpunte wat op beskaafde wyse aangebied word, op klakkelose wyse sensureer. Bloot omdat so ‘n standpunt nie met die betrokke medium/skrywer s’n ooreenstem nie Ek is ook oortuig daarvan dat sulke media se leeftyd en geloofwaardigheid oor die langtermyn, geen kans op oorlewing het nie. In die nuwe kleinerwordende wêreld waarin ons onsself bevind, is sulke benepenheid/kleinsieligheid laaaankal nie meer aanvaarbaar nie.
Mag diesulkes hulle onderskeie eindes veel gouer – eerder as later – tegemoetgaan.

Henry ·

Innie kol Chrisp!
My eerste poging om jou te ondersteun is gesensureer.
Foeitoggies…

Sebastiaan ·

Dit is alles reg wat in die artikel geskryf word en gee goeie perspektief. 100% objektiwiteit bestaan inderdaad nie, MAAR vandag se media onderskei nie meer tussen nuus (weergee van feite) en opinies nie. ‘n Goeie koerant moet neutraal nuus deurgee en so veel as moontlik relevante inligting in een paragraaf inpas. Vir opinies is daar die kommentaarbladsy. Vandag se media verwar egter die twee en sensuur reeds die nuusberig of gee op subtiele of minder subtiele manier opinies saam met die feite, of los bewustelik sekere belangrike feite uit. Daarom word in byvoorbeeld Duitsland ook gepraat van “Lueckenpresse” (pers met gapings) eerder as Luegenpresse. Byvoorbeeld word by berigte oor misdaad net gepraat van “persone” en nie genoem dat by ‘n misdaad dit nogal relevant is watter tipe “persoon” dit was.

Leopold Scholtz ·

Beste Sebastiaan, ek lees daagliks onder meer Die Welt, die Frankfurter Allgemeine Zeitung en die Suddeutsche Zeitung, en ek sien gereeld hoe hulle misdadigers se etniese agtergrond noem. Dalk lees jy ander koerante as ek.

Therese van Schalkwyk ·

Sebastiaan,
Vir wat dit werd is, ek stem volkome saam met jou. Nuus word op subtiele wyse gemanipuleer of mense dit nou wil erken/glo of nie.
Totdat hoofstroom-joernaliste nie hieroor hand in eie boesem steek en erkén dat daar báie ruimte vir verandering/verbetering is nie, hoop gefrustreerde lesers tevergeefs.

Ou Vuilvark ·

Mag Maroela Media vroeg in 2017 ‘n satirikus aanstel om spotprente, humor en satire in Maroela Nuus in te werk. Zapiro is vir my ‘n rolmodel by uitnemendheid.

Ek lees tans Robert Hughes se “The Fatal Shore – The epic of Australia’s founding”. Skrikwekkend hoe mense gemanipuleer kan word onder verskeie vaendels van “reg en geregtigheid”. Geen wonder Ou Bosvark vra “Wat is reg, geregtigheid, objektiwiteit, demokrasie en vryheid, gelykheid, en broederskap.” Jammer Ou Bosvark, jou gepubliseerde kommentaar is verlore tussen die hoofstrome en alternatiewe media.

emiel ·

Die pers in die weste bestaan basies uit ‘n handvol media groeperings wat die elite sowel as die beherende besigheids oligargie se twak aan die publiek probeer verkoop. Dit is duidelik dat hul invloed die afgelope jaar of wat in Europa en die VSA uitgeput is. Regtig ‘n jammerte dat daar nie ‘n alternatiewe media twintig jaar terug vit Afrikaners was nie. Dit was een van die groot redes vir ons ondergang.

Rupert Ashford ·

Emiel, daar was ‘n alternatiewe pers vir Afrikaners 20 jaar gelede (wel meer na die 30 jaar merk toe om eerlik te wees – ons raak oud), maar dit was ongelukkig aan die verkeerde kant van die politieke spektrum (die ou voorboksiel wandel nog tussen ons rond, jy ken sy naam) en is mooi gerugsteun deur die agente van verandering wat die politieke gebeurlikhede gemanipuleer het. Die groot gevaar was dat die konserwatiewe stem te sterk sou word onder die wit ouens in SA voor die oorgang sou plaasvind so alles is gedoen om die “verligte” siening te ondersteun selfs al sou dit beteken steun en geld moes aan die duiwel gegee word. Die res is geskiedenis. Punt wat ek probeer maak is: Geniet die alternatiewe media wat tans gedy, maar wees ook maar weer op jou hoede en neem alles met ten minste ‘n knippie sout. Ons ouens aan die suidpunt van Afrika is al eenkeer deur hierdie meul gemaal so ons moet eintlik ‘n voorsprong he op die res van die wereld in ons onderskeidingsvermoe. Shalom.

Pieta ·

Agge nee wat, die konserwatiewe stem waarna hier verwys word, was in ieder geval veels te klein om enige verskil aan Suid Afrikaanse realiteite te maak.
50 miljoen wat deur 5 miljoen regeer word???
Asseblief!!!

Rupert Ashford ·

Die konserwatiewe stem het presies meeste dinge wat sou verkeerd gaan voorspel (en letwel ek is/was geen ondersteuner nie). Hulle oplossing naamlik om voort te gaan met die status quo was nie haalbaar nie en is nogsteeds nie. Hiermee bedoel ek wit oorheersing van die hele RSA maw jou 5 vs 50. Maar die huidige toedrag van sake is ook geen oplossing nie. Oom Boshoff-hulle se Volkstaat idee was dalk die beste voorstel.

Pieta ·

Dankie vir jou toeligting Rupert.
Stem saam met jou oor die konserwatiewes se korrekte voorspellinge. Dit was nie die ingewikkkelde gedeelte nie.
Die afwesigheid van bekwame leiers en bevoegde onderhandelaars was die oorsaak van ons probleme.

Leopold Scholtz ·

Vir Cilliers van Niekerk: My vriend, ek dink die fundamentele verskil tussen ons twee is dit: Jy meen klaarblyklik die waarheid is absoluut, en jy het dit. Ek is meer beskeie. Ek soek maar met ‘n flou kersliggie daarna. Maar ek is bly dat jy klaarblyklik die volle wysheid in pag het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.