Hooftrekke uit die 2019-begroting

Tito Mboweni, minister van finansies, met adjunkminister Modli Gungubele en direkteur-generaal Dondi Mogajane weerskante van hom kom by die parlement aan vir die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Tito Mboweni, minister van finansies, het op 20 Februarie 2019 sy 2019-begrotingsrede gelewer. Baie is reeds daaroor gesê en Mboweni het duidelik ’n indruk op heelwat gehore gemaak. Selfs ek was beïndruk deur sy vraag oor staatsbeheerde instellings en of hulle werklik nodig is. Om so iets, so uitdruklik van iemand uit ANC-geledere te hoor, was verbasend en welkom. Ten spyte van groot reddingsboeie van R23 miljard per jaar oor die medium termyn, is daar bemoedigende planne oor Eskom in die begrotingsdokumente aangekondig.

Mboweni en die ANC?

Uiteraard plaas sulke standpunte Mboweni (en die tesourie) in stryd met faksies selfs in sy eie party, faksies wat moeilik van groot staatsbeheerde instellings sal wegdoen. Daarom kan ons verwag dat nog heelwat struwelinge op die beleidsfront die daglig gaan sien.

Eskom se hervorming, hoewel nodig, gaan riskant wees. Elektrisiteitsvoorsiening is in een groot monopolistiese staatsinstelling gesentraliseer. Hierdie instelling is deur politieke inmenging, rasse-beleid en regeringsburokrasie afgetakel. Uitermatige sentralisering van dié aard is hoogs riskant. Heelwat van Eskom se groot aanlegte nader hul laaste bene. Binne die post-1998-energiebeleidverwarring is markte nie die kans gegun om werklike privaat oplossings te bied nie.

Ons stel dan die vraag: Tot watter mate kan Eskom werklik ingrypende veranderinge en herskommeling deurstaan?

Hervorming van die elektrisiteitsmark in die vorm van privatisering en deregulering sal sterk teëgestaan word deur die meeste politieke partye en parlementslede, en die militante vakbondwese. Die uiteinde van die beoogde hervorming is gevolglik nog baie onseker en ons as verbruikers is nog lank nie uit die Eskom-knyptang nie.

Oorhoofs gesproke was Mboweni se aanbieding miskien goed gepoleer, maar ongelukkig is meer as ’n goeie voorlegging nodig om die huidige fiskale krisis hok te slaan.

Wat sê die syfers dan nou eintlik oor die begroting?

Kruks van die saak

Na ons mening sê die syfers basies dat die ANC, selfs onder sy nuwe leierskap, dit klaarblyklik onmoontlik vind om die regering na enige ware en broodnodige hervorming van sy finansies te stuur. Dit is die kruks van die saak oor die 2019-begroting.

Die “harde” syfers dui daarop dat die geleidelike fiskale agteruitgang van die afgelope jare in ’n mindere of meerdere mate sal voortduur, selfs onder president Ramaphosa en Mboweni.

Tekorte

Sien, byvoorbeeld, die volgende grafiek oor die tekort op die hoofbegroting. ’n Tekort beteken dat die regering meer spandeer as wat hy in belasting invorder. Hewige tekorte van meer as R200 miljard word steeds voorspel – dit is as’t ware petrol vir groter staatskuld.

sakeliga-begroting-2019-01

Grafika: Sakeliga.

In die drie jaar-vooruitskatting sien ons dat die tekorte as ’n proporsie van die bruto binnelandse produk (BBP) sal afneem, van 4,7% in 2019 tot 4,3% in 2021. Ons let daarop dat so ’n verbetering sal afhang van gunstige ekonomiese groeikoerse, gemeet in BBP-groei. Sakeliga meen egter dat ’n plan om die tekorte nader aan R100 miljard (dun wit lyn) te bring, nodig is om enigsins ’n kans te kan staan om die fiskus se agteruitgang te stuit.

Indien groei teleurstel weens dinge soos ongunstiger beleid, sal die tekorte, skuld en besteding gemeet teen BBP, uiteraard swakker vertoon as wat die tesourie beoog. Indien daarby ’n groot ekonomiese skok plaasvind, soos ’n globale ekonomiese krisis, kan dinge natuurlik skielik en aansienlik vererger.

Wat ons moet bekommer, is dat die regering se fiskale grondslag om sulke skokke die hoof te bied, na ons mening, grootliks uitgedien is.

Sien ook ETM-Sakeliga se projeksies oor belastinginkomstes in die fiskale stresaanwyser. Die tendens dui daarop dat die regering sal sukkel om bykomende belastings in te vorder, selfs te midde van nuwe belastingmaatreëls en hoër persoonlike inkomstebelasting weens blokkruipings.

sakeliga-begroting-2019-02

Grafika: Sakeliga.

Skuld

Skuldvlakke is al etlike jare op ’n kommerwekkend trajek. Skuld sal moet toeneem soos groot tekorte gehandhaaf word.

Bruto skuld, volgens hierdie begroting, gaan oor die medium termyn tot naby 60% van BBP styg. Hou in gedagte dat dit waarskynlik steeds ’n optimistiese vooruitskatting is, wat, soos met die vorige aanwysers wat genoem is, van ekonomiese groei afhanklik is. Die trajek waarteen skuld gaan groei, lyk sekerder as die trajek waarteen die BBP sal groei.

Dan is die bruto skuld nie die einde van die storie nie – daar is heelwat voorwaardelike laste (contingent liabilities) wat deurgaans sirkel en ’n spreekwoordelike “landingsplek” op die regering se skuldboeke soek – soos, byvoorbeeld, Eskom se skuld van meer as R400 miljard.

Mboweni kon die Eskom-skuld vir eers van die regering se eie skuldboeke afhou, hoewel hy oënskynlik die rente daarvan dek. Maar vir hoe lank? Veral gegewe die uitdagings met Eskom wat hom in die gesig staar.

sakeliga-begroting-2019-03

Grafika: Sakeliga.

Staatsdiensbesoldiging

Veral die gekonsolideerde besoldiging van staatsamptenare is insiggewend. Dít sal steeds vinniger as verbruikersprysinflasie toeneem, ten spyte van die betaalstaatbesnoeiings wat aangekondig is.

Vanaf die 2019- tot die 2022-boekjaar sal besoldiging nominaal toeneem van sowat R585 miljard tot ’n geskatte R713 miljard. Die volgende grafiek gee die besoldiging as ’n proporsie van besteding en BBP aan. Die oranje lyn dui daarop dat besoldiging as ’n proporsie van BBP histories by ’n hoogtepunt bly. Verder sal die effense verwagte verbetering in dié BBP-verhouding oor die drie jaar-vooruitskatting ook hoofsaaklik daarvan afhang of die vooruitskatting vir ekonomiese groei realiseer.

sakeliga-begroting-2019-04

Grafika: Sakeliga.

In die volgende grafiek oor die groei in besoldiging, wys ons daarop dat die huidige betalings aan besoldiging al vir geruime jare steeds vinniger as VPI-inflasie toeneem. Dinge lyk darem effe beter as vir die tydperk vanaf 2008 tot 2012, maar van werklike (reële) besnoeiings is daar nog nie sprake nie. Wat juis onrusbarend is, is dat besoldiging as ’n hoofarea vir uitdruklike besnoeiing in die begroting genoem is.

sakeliga-begroting-2019-05

Grafika: Sakeliga.

Hoe dan nou?

Duidelik gaan die nodige besnoeiings en inperking van die nasionale begroting moeilik plaasvind.  Die trajek van die begroting is nie gesond nie. Die meeste van ons, onder meer, die Maroela Media-lesers, weet dit sekerlik eintlik al ’n geruime tyd – dit is nie nuwe nuus nie.

Die gevolg is druk op belastingbetalers en ’n regering wat groot hoeveelhede hulpbronne uit die privaat sektor opeis en aanwend op bedenklike en ondoelmatige wyses. Die gevolg daarvan is dat die privaat sektor, die oorsprong van welvaart, werk en koopkrag, verswak word. Hierdie verswakking lei daartoe dat veral arm mense in Suid-Afrika besig is om agteruit te boer.

Die vraag is nou hoe families, gemeenskappe, ondernemings, hierop moet reageer. Ons meen dat net omdat die Suid-Afrikaanse regering se begroting in die knyp is, dit nie beteken dat sakeondernemings en individue, hulpeloos daaraan uitgelewer is nie.

Sakeliga sal oor die komende tydperk ’n proses met sy raadgewers, ontleders en lede van stapel stuur om insette en voorstelle oor die begroting en sy risiko’s te ontwikkel.

Die toedrag van sake met die regering se begroting skets duidelike risiko’s en gevolge wat oorweeg moet word, maar daarby bied die huidige sakeomgewing nuwe moontlikhede en geleenthede. En dit is in ’n sterk gemeenskap van sakelui, entrepreneurs en innoveerders waar hierdie moontlikhede en geleenthede ten beste ontgin kan word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Afrikaner ·

Soos met Pravin Gordhan, hulle stap altyd in ‘n linie die voorste lyn weerskante van die minister met die gevolg vol in die kamera agterna.

Afrikaner ·

Voorspoed en determinasie word geprojekteer, soos in “hier kom ‘n ding”, net om ‘n maand of so daarna plat op die gesig te val.

Dries du Toit ·

Vanoggend gehoor as n huis se mure begin verbrokkel. Help dit nie om net n verflaag op te sit nie. Sloop hom en begin van vooraf. Eskom kry verf laag na verflaag.

Henry ·

Ek’s bevrees dat verf nie eers aan Eskom en al die gekorrupteerde sogenaamde staatsinstellings se uitgeholde pondokke sal kleef nie.

Om nie eers te praaaaat van die staatsdepartemente en veral die plaaslike owerhede, munisipaliteite ens nie. Bouvalle wat so gekaderifiseer* is met die regime se siele, dat g’n mens of dier naby dit wil kom nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.