Hoog tyd dat Suid-Afrika sy pandorakis aan die wêreld wys

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Eintlik hoef ’n mens nie eens te verwys na alles wat tans in ons land verkeerd is nie – Regstellende aksie volgens rigiede kwotas, korrupsie en magsmisbruik, verkragting van die minderheidstaalregte wat die Grondwet verleen (met die meeste lede van die konstitusionele regbank op die voorpunt), misdaad in die algemeen en plaasmoorde in die besonder. Ons lees elke dag in die koerante daaroor.

Die vraag is: Wat doen ons daaraan?

Twee leiers van AfriForum, Kallie Kriel en Ernst Roets, het onlangs na Amerika gereis om die bewuswording daar oor twee misstande in Suid-Afrika – plaasmoorde en onteiening van grond sonder vergoeding – te bevorder. Die strategiese doel daaragter is om internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering te laat toeneem om sy rampspoedige voorneme oor grondonteiening te laat vaar en die bestryding van misdaad en plaasmoorde tot ’n nasionale prioriteit te verhef.

Daarvoor is Kriel en Roets in sekere kringe ernstig verkwalik. Soos ook oor die dreigement om Julius Malema, die rassis aan die voorpunt van die EFF, privaat te vervolg weens sy beweerde korrupsie as die Nasionale Vervolgingsgesag dit nie wil doen nie.

Kom ons bekyk AfriForum se internasionale veldtog rustig en logies en bly weg van die soort emosionele verwyte wat ’n mens by sommige kommentators kry.

Een van die redes vir die ANC/SAKP se sukses in die stryd teen apartheid was die wyse waarop die internasionale gemeenskap teen die destydse Suid-Afrikaanse regering gemobiliseer is. Teen 1979 het die ANC/SAKP ’n gesofistikeerde vierpuntstrategie teen die regering aanvaar. Die “vier pilare” van die stryd, soos dit genoem is, was:

  • Die opbou van ondergrondse ANC-strukture;
  • Massa-aksie waarin die breeds moontlike verenigde front gebou sou word;
  • Die internasionale isolasie van die apartheidsregime; en
  • Die gewapende stryd.

Let daarop dat die gewapende stryd van Umkhonto weSizwe (MK) maar één van die vier pilare was. Minstens ewe belangrik was die derde, naamlik die internasionale isolasie van die Suid-Afrikaanse regering.

Die ANC/SAKP het destyds verskeie faktore gehad wat op dié terrein in hul guns getel het, faktore wat nie vir AfriForum se huidige veldtog geld nie.

In die eerste plek het die bondgenootskap die hulpbronne van die magtige Sowjetunie en die hele Oosblok agter die Ystergordyn tot sy beskikking gehad. Uiteraard het die kommunistiese alliansie maar ʼn fraksie van sy vermoëns tot die ANC/SAKP se beskikking gestel (die eintlike stryd was teen Amerika en Navo), maar dit was voldoende.

Ten tweede het linksgesindes destyds in Europa die politieke inisiatief gehad; konserwatiewes was bloot reaktief en moes keer vir al wat hulle werd was. Weliswaar kon egte linkse ekstremiste nêrens die mag oorneem nie, maar hulle het nietemin in groot mate daarin geslaag om die politieke agenda te bepaal (of in elk geval grootliks te beïnvloed).

Dit het beteken dat byna elke Westerse land ʼn aktiewe anti-apartheidsbeweging – sommige etlikes – gehad het wat nou met die ANC/SAKP saamgewerk het om boikotaksies op elke moontlike terrein te bevorder – van ekonomiese sanksies tot sportboikotte.

In die breë gesien, het hulle merkwaardige sukses behaal. As nagraadse Suid-Afrikaanse student in Nederland in die jare sewentig kan ek getuig hoe die linkse drukgroepe die ANC/SAKP se siening onkrities oorgeneem en daarin geslaag het om dit tot die aanvaarde narratief van die regerende klas te verhef.

Selfs mense wat dit nie vir soetkoek opgevreet het nie, moes kwaai spook om tog ʼn sekere afstand tussen hulle en die Suid-Afrikaanse regering te handhaaf uit vrees dat hulle as rassiste en apartheidsondersteuners gebrandmerk kon word. ʼn Mens moes jou keer ken.

Dat die genuanseerde waarheid oor Suid-Afrika in die slag gebly het, kon die ANC/SAKP nie skeel nie. Dit het gegaan om ʼn magstryd. En hul linkse Europese ondersteuners was só verblind deur die (onbetwisbare) onreg van apartheid dat hulle gemeen het énigiemand wat teen die beleid veg, heilig en perfek is.

Intussen het baie in die wêreld verander.

Aan die een kant het die Sowjetunie en die kommunistiese blok verbrokkel en soos mis voor die son verdwyn. Wat van die kommunisme oorgebly het, voer ʼn sukkelbestaan in Kuba en Noord-Korea.

Ook die wyse waarop die Europese linkse groepe die politieke agenda oorheers het, behoort tot die verlede. Dis nou veel eerder die regses wat daardie rol vervul.

(So tussen hakies, daardie nuwe regses se denke oor allerlei ingewikkelde vraagstukke is dikwels net so simplisties as hul linkse voorgangers, iets wat gematigde, nugter denkendes moet bekommer. Maar dit eers daar gelaat.)

Tog is die regses se dominasie glad nie so oorheersend soos dié van die linkses 40-50 jaar gelede nie, en hulle is veel minder verenig en goed georganiseerd as die linkses van destyds. Bowendien is daar geen supermoondheid wat die rol van die USSR indertyd kan vervul nie. (In alle billikheid, pres. Donald Trump weet skaars waar Suid-Afrika is; die land speel in sy wêreldbeskouing geen rol nie. Moenie hulp uit daardie rigting verwag nie.)

Maar is AfriForum dan verkeerd om die internasionale gemeenskap teen die huidige ANC-regering se uitwasse te probeer mobiliseer? Geensins. Solank dit op die regte manier gebeur.

Punt een: Besef dat die egte invloed (in elk geval in Europa) tans min of meer in die politieke middel lê, nie by regse óf linkse ekstremiste nie. Pas jou boodskap by dié werklikheid aan.

Punt twee spruit uit die eerste voort: Vermy die indruk dat dit gaan om sake soos anti-swart rassisme en die herstel van wit bevoorregting. Jou boodskap moet wees dat ons die kleurblinde en volledige toepassing van die Grondwet soek. Niks meer nie; niks minder nie.

In die proses kan jy dan klem lê op sake soos korrupsie, regstellende aksie, die diefstal van grond, misdaad, die verkragting van die regte wat die Grondwet aan minderheidstale verleen, ensovoorts. Dit gaan om dieselfde demokratiese beginsels wat in die Weste in die algemeen aanvaar word.

Punt drie: Wees baie versigtig om jou aan bewegings te bind wat in daardie lande as ekstremisties gesien word. Die harde werklikheid is dít: As jy te veel met hulle verbind word, klap honderd ander – aansienlik invloedryker – deure vir jou toe.

Vier: Wees sensitief vir die feit dat buitelandse regerings dit nie kan bekostig om wie ook al die Suid-Afrikaanse regeringsmag besit, in die tande te skop nie. Moenie te veel van hulle verwag nie.

Dus, ja, mobiliseer die internasionale gemeenskap. Versprei die waarheid oor die situasie in ons land.

Maar moenie soos ʼn bul in ʼn porseleinkas te kere gaan nie. Bly nugter en gebruik jou gesonde verstand.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Emmie Swart ·

Ek het nooit gedink dat ek met mnr Leopoldt oor iets sal saamstem nie! Ek hoop Afriforum neem kennis.

Kannaland ·

Vir die eerste keer stem ek ook heeltemal saam. Die wiel is besig om te draai onder die westerlinge, al meer se oe gaan oop.

Eish ·

Uiteindelik, n artikel uit een van my gunstelingskrywers se pen op MM! Genade, al die artikels onder kommentaar/ debat het hul vervaldatum bereik.
Weereens dankie vir die nugterheid en insig waarmee die artikel omgaan.
Hierdie Afriforum inisiatief gaan nog baie beteken vir ons vorentoe.

Steun ·

In my mening sal AfriForum baat om fondsinsameing onder gewone mense daar soortgelyk aan hier te doen. Fondse stel ons instaat om onsself te beskerm met privaat sekuriteit om op te maak vir die polisie en regsisteem wat nie hul werk doen nie.

Lukie Carelsen ·

Soos gewoonlik ‘n uitstekende artikel deur Leopold Scholtz!
Kan Maroela nie meer van hom gebruik maak nie?

Casper Labuschagne ·

Die populêre opinie is vandag dat die ANC vir die val van Apartheid verantwoordelik was met die gewapende stryd, interne onluste asook buitelandse boikotte, sanksies en disinvestering as onderdele van die ANC se triomf. Die werklik is dat Apartheid net so min deur enige instansie van buite verslaan is, as wat die Sowjet Unie van buite af verslaan is. Beide die Sowjet Unie asook die Apartheidsbewind het tot ‘n val gekom uitsluitlik omdat diegene in die binnekringe al vir etlike dekades besef het dat die stelsel in die geheel onwerkbaar is.

Dit is eers toe die Sowjet Unie tot ‘n val gekom het en waarna die ANC toe sonder sy militêre borg gestaan het terwyl daar tussen 1960 en 1990 slegs minimale militêre suksesse deur die ANC behaal is, waar die NP regering self die Apartheidsbewind kon beëindig. Dit was ‘n oomblik waar die ANC sy enigste kans vir bewindsoorname kon aangryp asook die enigste kans vir die regerende Nasionale Party om af te sien van die meulsteen van ‘n onwerkbare Apartheidsideologie.

Dat die NP regering by die onderhandelingstafel oorweldig is en tot ‘n uiters swak uitkoms ingestem het is ‘n heel ander debat. Die werklike effek van die ANC se bydrae tot die val van die Apartheidsbewind was egter netelig en dit is ‘n geskiedkundige feit.

Casper Labuschagne ·

Die beeld van deure wat toeklap omdat jy eerstens met die ekstreme groepe praat het ‘n parallel in die boek “The Boer War” van Martin Bossenbroek waar ‘n groot deel van die boek afgestaan is aan die Nederlander Willem Leyds. Leyds het voor die uitbreek van die oorlog verskeie poste in die ZAR beklee, en was na die uitbreek van die oorlog die hoofsaaklike diplomaat van die ZAR in Europa.

Die saak van die Boererepublieke het die populêre steun in Europa geniet, maar geen staatshoof wou Brittanje opponeer nie. Kruger het ‘n afvaardiging onder Fischer, Wessels, Wolmerans en de Bruijn na Europa gestuur, wat nie met diplomasie of die Europese toestand vertroud was nie, en wat nie na Leyds se advies geluister het nie, en op ‘n golf van populêre steun na McKinley in die VSA gegaan het in plaas daarvan om met die Russiese Tsar te onderhandel. Op daardie kritieke tydstip was daar die geleentheid vir Rusland om druk op die grens met Afganistan te plaas wat sou beteken dat Brittanje eerder troepe na Afganistan sou moes verplaas en ook dat druk so op Brittanje uitgeoefen sou word om die Boererepublieke te erken. Die verkeerde vriende van daardie onderhandelingspan het gevolglik die geleentheid gekos om die uiteindelike uitkoms vir die Boererepublieke te kon verander.

Hendrik ·

Ek dink ons het nou na 24 jaar geleer om nie naief na enige iemand te luister en hulle te vertou nie. Vir ons Afrikaners se oorlewing moet ons nou volwasse optree en alle stappe oording en nie ons volgende skuif uit basuin nie!

Jerry ·

Die skrywer som sy hele skrywe op met n uiters gepaste waarskuwing aan Afri-Forum. “Moet nie soos n bul tekere gaan in n porseleinkas”. Dit, komende van die agbare skrywer vertel eintlik die verhaal van n forum wat besig is om heeltemal die pad byster te raak.

Etienne Prinsloo ·

So, Jerry wat doen jy positief andres as leuenstoel virtue signalling? Het jy al ieand attent gemaak op die hel wat die boeregemeenskap deurgaan? Klink my jy is viervoet in die Huffpost se joernalistiek vasgevang?

Appel ·

Jerry, ons beweeg nou desparate tye in want die land is besig om in anargie te verval. Desparate tye regverdig sterk reaksie, anders gaan ons nie oorleef nie. Ons mag nou nie eers meer insself verdedig nie of betogers kom dreig jou en jou kinders. Die tyd het gekom om die regering se beplande volksmoord en stroping bloot te lê.

Casper Labuschagne ·

Dit wil voorkom dat feitlik enigiets wat Afriforum doen hewige reaksie uit seker swart geledere ontlok hetsy dit die regerende party of die revolusionêre linkses is. Daarna word Afriforum so gereeld soos klokslag venynig in die pers gekasty, vreemd genoeg altyd deur dieselfde handjievol persone betrokke by media verwant aan dieselfde groep. Dit is tekenend dat ander media eerder vir Afriforum se verteenwoordigers uitnooi om hul saak te stel as om dieselfde knieskopreaksie van hul kollegas uit te voer. As sulke kritiek deur die bank soortgelyk was, het dit dalk getoon dat Afriforum fouteer, maar as een groep se kritiek altyd soortgelyk is en van die res van die media verskil, dan is daar eerder ‘n bepaalde agenda wat ter sake is, en dit blyk ook duidelik die geval te wees.

Dus wil ek die vraag vra, dat gegewe dat Afriforum ‘n siviele drukgroep is met die bepalende mandaat om die minderheidsregte van hul lede te beskerm en op te hou spesifiek volgens die bepalings van die grondwet van Suid Afrika, is Afriforum nie juis besig om hul funksie te vervul nie?

Waaroor Afriforum agiteer is dat die bepalings van die grondwet van 1994 moet geld, hulle vra allermins nie vir enigiets anders wat buite die bepalings van die grondwet val nie. Sulke aansprake in terme van die grondwet het klaarblyklik nou vir sommiges onaanvaarbaar geword en word nou ook deur sulke persone en groepe as rassisme asook voortsetting van Apartheid beskou.

John ·

…. nee alles is waar en ons moet weer vir De Klerk & kie kry om eerder ons saak te gaan stel in Europa soos Leopold se. Wees versigtig en vra altyd eers vir Leopold wat nou veilig in Nederland woon en die beste weet aangesien hy ‘n toekomskenner is. Of nog beter bly hier en shut up, soos die prez se, want doen, doen die Afrikaners altyd verkeerd. En veral: Hou die Pandora-kis toe, want dit is die regte ding om te doen want waar sal ons dit tog vir die wereld kan gaan wys met die wereld vol van eie kissies vol van eie Pandoriaanse gedrogte.

Ou Vrydenker Vlakvark ·

Baie dankie vir die deel van hierdie denke met die lesers. Dit word hoog aangeslaan.
Die doeltreffende en effektiewe bestuur van persepsies is waarskynlik belangriker as ‘n fisiese stryd. Ons moet die kuns van netwerking bemeester.

Appel ·

Jy stel dit baie goed, die kuns van tetwerking. Dit, insluitend sosiale mediagebruik vir bewusmaking, is dalk nog die belangrikste vaardigheid wat ons kan aanleer.

Pietman ·

O wee. Nog so bitterlik naïef. ‘n Desperate geskarrel vir denkbeeldige strooihalms. Maak beter planne.

rollie ·

Die skrywer is korrek dat pogings soos Afriforum se kla-toere nie rasgemotiveerd met verskuilde agendas moet wees nie. Daarom moet valse bewerings soos wit genocide onmiddellik in die kiem gesmoor word.

Voorkomend ·

As dit nie reeds as volksmoord geklassifiseerd kan word nie, en volgens standaarde wat omgee vir menselewens kan dit, sal dit binnekort wel so geklassifiseer kan word volgens alle standaarde want volgens sosiale teorie is dit wat nou gebeur sterk aanduidings dat so iets beplan word en gaan gebeur. Daarom moet ons vroegtydig optree om dit te probeer voorkom.

Casper Labuschagne ·

Dit gaan oor die beskerming van minderheidsregte. Die realiteit is dat daar ‘n swart meerderheid bestaan asook ‘n wit minderheid. Met die onderhandelinge oor die oorgawe na ‘n universele demokrasie het die minderheid (wat die regerende wit bevolking was) beskerming van hul minderheidsregte verkry sodat hulle taal en kultuur, vryheid van assosiasie asook ekonomiese voortbestaan nie deur die meerderheid (wat swart is) oorweldig sou word nie. Dit is juis die huidige ontkenning van daardie minderheidsregte wat nou die bestaan, funksie en werkswyse van Afriforum regverdig. Dus is wit en swart waaroor dit hier gaan en niks anders nie, dit is wensdenkery om te dink dat dit oor enigiets anders gaan.

Waar die swart meerderheid presies verstaan dat dit gaan oor swart teenoor wit, het ‘n idealistiese groepering wittes ingekoop in ‘n ideaal van ‘n nie-rassige demokrasie – die konsep van Nelson Mandela se rëenboognasie. Maar dit is die swart meerderheid wat die hef in die hand het en beleid sowel as die heersende diskoers bepaal. Huidiglik is daar nouliks enige beduidende groepering binne die regerende party of hetsy hul linkervleuel of enige ander partye links van die regerende party wat enige waarde heg aan Mandela self, of sy visie van ‘n nierassige samelewing. Dit is vandag se realiteit en daar lê ‘n ontnugtering voor vir die idealiste wat dink dat dit nie oor ras gaan nie.

Therese van Schalkwyk ·

Casper verwoord die situasie puik.

Geen mate van ontkenning kan hoegenaamd verander aan die féit dat dit swart misdaadbendes is wat die minderheidsgroepe in SA terroriseer nie.
‘n Welbekende groepie hoofstroom-joernaliste, almal toevallig met Franse Hugenoot-vanne, is besig met die konstante verdagmaking van AfriForum en Solidariteit.
Dus, geen vryheid van spraak of eie menings nie. Om die waarheid te sê, die wyse waarop hul losbrand op enige aksie van Afrikaners grens aan teistering.

‘n ANC-minister skree in die parlement n.a.v. plaasaanvalle: “bury them alive!”, en niemand knip ‘n ooglid. Wanneer AfriForum die veilige voortbestaan van die bedreigde minderheidsgroep probeer verseker, raak mense histeries.
Iewers is ‘n groot skroef los.

Jerry ·

Kan nie anders as om saam met rollie te stem dat die forum “wit” uit hulle klaagliedere moet verwyder! Soos die skrywer ook tereg opmerk het dit tyd geword vir die forum om verstandig op te tree.

Fanie Kemp ·

Baie dankie Dr. Scholtz vir insiggewende artikel.

Baie dankie Solidariteit en AfriForum vir jul onvermoeide ywer om vir ons en ander minderheidsgroepe in die bres te tree en te poog om die Grondwet waaroor so hoog opgegee word tot sy reg te laat kom.

Almal wat so gou is om kritiek te lewer op hierdie organisasies van ons, moet net onthou: Dit is net diegene wat niks doen wat nooit foute maak nie. Fanie kemp

Zachrys ·

Ek dink die forum is meer volwasse as wat leopoldt, se aanname hierbo is. En om waarskuwings nou te wil besig is bietjie laat… Die ouens is al klaar daar.. Die wiel rol en in elk geval daardie regering weet waar SA is want nommer 1 se seun het so paar bokkies hier kom jag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.