Hoogdrama kan in departement van finansies afspeel

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Die ink waarmee Pravin Gordhan, minister van finansies, sy begrotingsrede verlede week geskryf het, was skaars droog toe die vlymskerp messe die een ná die ander weer uitgepluk is.

Die hele land wonder al geruime tyd hoe lank Gordhan se posisie as minister van finansies nog veilig is.

In dieselfde week wat hy sy begrotingsrede gelewer het, wat oorwegend positiewe reaksie in ekonomiese kringe ontlok het, het Brian Molefe, omstrede voormalige uitvoerende hoof van Eskom, sy sitplek in die parlement ingeneem. Daar word wyd bespiegel dat Molefe een van die poste in die departement van finansies kan inneem, sou pres. Jacob Zuma binnekort die kabinet skommel.

Molefe word gesien as iemand wat na aan Zuma en sy binnekring beweeg. Hy is ook vroeër deur adv. Thuli Madonsela, vorige openbare beskermer, by die staatskapingsdebakel betrek en uitgewys as iemand wat gereeld kontak met die omstrede Gupta-familie gehad het. Die Guptas word van grootskaalse staatsplundering beskuldig en verdink.

Die vermoede dat Gordhan se uurglas as minister van finansies besig is om uit te loop, is in die naweek versterk met die nuus dat sy adjunk, Mcebisi Jonas, deur die Valke ondersoek word vir beweerde korrupsie by South African Airways Technical (SAAT), die instandhoudingsfiliaal van die SAL. Dit is dan ook Jonas wat in die staatskapingsverslag onthul het dat die Guptas hóm die pos van minister van finansies aangebied het asook ’n omkoopsom van R600 miljoen as hy met hulle sou saamwerk.

Intussen het die SAKP, waarvan Gordhan ook lid is, gedreig dat daar ’n uittog van SAKP-ministers kan wees as die aanslag teen Gordhan voortgaan en hy die trekpas kry.

Die groot vraag is egter of Zuma hom aan dié dreigement gaan steur en of hy eenvoudig gaan voortgaan om uitgesoekte individue aan te stel wat sy posisie nou en in die toekoms vir oulaas kan versterk en beskerm.

Hoewel Gordhan wel verlede week gesê het dat hy nie “onvervangbaar” is nie en ’n pos soos enige staatsdiensamptenaar beklee, het hy as kommunis so reg in die kraal van Zuma gepraat en dié se retoriek oor “radikale ekonomiese bemagtiging” ’n paar keer herhaal.

Gewone Suid-Afrikaners het dit eens dat Gordhan geen maklike taak gehad het om ’n redelik aanvaarbare begrotingsrede te lewer nie.

Hy het egter ’n paar foute gemaak. Hy het geen duidelike maatreëls aangekondig of in die vooruitsig gestel oor hoe sukkelende staatsdiensinstellings soos Eksom, SAL, Prasa en die SAUK, in wese eintlik totaal korrup en wanfunksioneel, kortgevat en tot groter verantwoording geroep gaan word nie.

Suid-Afrika se skuldlas beloop reeds R2 200 miljard met die rente hierop wat vanjaar alleen R169 miljard sal wees. Tog word begroot vir verdere toenames in staatsbesteding. Dit is niks anders as die voortgesette inwerkingstelling van die sogenaamde “radikale ekonomiese transformasie” nie.

Die dilemma is egter dat iemand hiervoor moet opdok. En hoe dan nou anders as die middelklas wat verder gestraf word deur die verhoging van persoonlike belasting. Soos een kommentator tereg opgemerk het: “Die middelklas moet weer kompenseer vir die ANC se uiters beperkende arbeidsbeleidstellings, die korrupte en oordrewe lewenstyle van die politici én die regering se wanbesteding in die algemeen.”

Verskeie opposisiepartye het daarop gewys dat die voortdurende verhoging van persoonlike belasting reeds ernstige skade aan die ekonomie aanrig.

Volgens die ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Groep betaal net 256 000 individue (uit ’n belastingpoel van amper 14 miljoen individue) 38% van die totale persoonlike inkomstebelasting. Daar is geen manier hoe dit volhoubaar kan wees nie.

Nog ’n fout wat Gordhan gemaak het, was om nie BTW te verhoog nie. BTW is laas in 1993 van 10% tot 14% verhoog. In verskeie Afrika-lande en in Europa is die BTW-koers baie hoër as 14%. Die argument dat ’n verhoging van BTW die armstes van die armes verder negatief sou raak, hou egter nie water nie omdat belasting in elk geval nie op van dié lewensnoodsaaklike middele gehef word nie. Indien BTW met net 0,5 persentasiepunte verhoog is, kon dit ’n verdere R10 miljard tot die staat se inkomste bygedra het.

Gordhan het verkies om nie té polities sensitiewe aankondigings in sy begrotingsrede te maak nie. Dit kan beteken dat sy posisie in die kort termyn dalk nog veilig is.

Aan die ander kant kan en moet gevra word: Wil Gordhan tot elke prys minister van finansies bly as hy toegang tot ’n magdom direkteurskappe en hope ander geleenthede in die privaat sektor het?

Hoekom sal hy met ’n swaard oor sy kop leef en voortgaan om die een balanseertoertjie ná die ander te doen om te verhoed dat die ekonomie verder agteruitgaan en Suid-Afrika vanjaar wel tot  rommelstatus afgegradeer word? Net Gordhan sal weet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pieter ·

GORDHAN KAN NIE BTW VERHOOG NIE WANT DIE ANC VEG VIR STEMME

John ·

Hierdie gebeure dui net op een ding en dit is dat die staatskaping reeds ‘n voldonge feit is en dat die kapers regeer. Gordhan is ‘n gemerkte man. Die verhoging van btw sou ook erge betogings tot gevolg he, want nie net sou besighede soos destyds toe dit ingestel/verhoog is die kans gebruik om pryse erg op te skuif nie, maar omdat die sg armes ook ander items koop, nie net mieliemeel nie, eise vir salarisverhogings aan die orde van die dag wees.

Alida ·

Wat soek die walglike Guptas nog in die land? Pravin KAN nie nou afgedank word nie. Dit sal chaos wees. Maar nou-ja Zuma wil nie leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.