Hoogtepunte op Die Groot Debat, 2011: Is jy ‘n Breivik?

Hierdie artikel is oorspronklik op Maroela Media gepubliseer op 3 Augustus 2011.

Liberaliste is geskok dat slegs 12% van Beeld-lesers die Suid-Afrikaanse grondwet gunstig vind. Tog looi hierdie koerante hul behoudende lesers pal met linkse propaganda. Asof ons ander keuses het, asof daar kompeterende nuus of alternatiewe pers in ons taal is, verwar hierdie media sy lesers met ideologiese dissipels.

Wat is jou keuses op Sondae as jy wêreldnuus in jou eie taal wil lees? Rapport? En haar siek kleintjie Sondag? En moenie begin glo een koerant is genoeg nie. Vergewis jou van die parallelle heelal waarin een land kan verkeer deur op een Sondag die menigte Engelse koerante te lees langs die enigste Afrikaanse koerant.

In die Afrikaanse pers se eie meningspeilings is dit lank reeds duidelik dat redaksies en lesers op verskillende kontinente woon. Redaksie peper ons met linkse propaganda. Ons reageer behoudend. Redaksie spandeer soveel moontlik spasie om ons verkeerd te probeer bewys. Ons bly behoudend. Redaksie sluit kommentaar.

Kyk na Beeld se By van Saterdag 23 Julie 2011 en oordeel vir jouself.

  • Die bylaag skop af met ʼn volbladartikel aan Eusebius McKaiser oor wit skaamte (met gratis sushi by The Fishmonger).
  • Dit word gevolg deur ʼn volbladartikel gewy aan Karen Zoid.
  • Dan is daar ʼn volbladartikel deur Wilhelm Jordaan wat verduidelik dat swart agterstand onder wit regerings ontstaan het.
  • Hierna volg die gebruiklike artikel wat die SAW in die verleentheid stel.
  • Volgende is ʼn dubbelbladartikel oor Afrika-literatuur. (Word die Liberiese skrywer Hawa Golakai enigsins in Afrikaans vertaal?)
  • Hierna lees ek ʼn redelik interessante artikel oor die leemtes van swart rugby.
  • Daar word afgesluit met ʼn volbladartikel oor die swak musieksmaak van Abel Malan en sy VVK.

En ek vind Beeld die mees gebalanseerd van alle Afrikaanse koerante!

Anders Behring Breivik

In Amerika word die Demokrate en Republikeine vet gevoer met media, pers en veral keuses. Ons is nie so gelukkig nie. Ons sit en wag vir ʼn skaars meningspeiling om te dien as die Suid-Afrikaanse redaksionele weergawe van objektiewe kennisname. Hulle maak almal regs van hul beleid af as mamparras en tjank dan as iemand 76 mense afmaai met ʼn arsenaal wat hy op eBay aangekoop het. “Open societies” en so. En kyk die wonderlike versoeking van liberale redaksies om die 32-jarige Anders Behring Breivik uit te maak as geestelik versteurd.

Ek self word gereeld “roekeloos” genoem deur mense wat te lafhartig is om te erken dat dit eintlik my denke of ideologie is wat hulle nie aanstaan nie. Hierdie minagting is ek al gewoond. “Jy moet dink voor jy praat, Steve,” ensovoorts. “Jy en Dan Roodt klink soos daai bomplanter van Oslo,” sê iemand anders.

Goeie vraag: Het ek “the makings of an Anders Behring Breivik?” soos een twiet dit stel? Die antwoord: Beslis. Maar daar is een groot verskil: Ek beveg sterftesyfers. Ek verkies meer mense lewend as dood.

Vir weke is Noorweë die “hot topic” op CNN. Een van die opskrifte lees: “Prime minister: Norway still ‘an open society’ despite ‘the horror’”. En daar lê sy antwoord. Soos die res van Europa sal Noorweë eersdaags met hulle stemme wys dat die gaping van daardie “oopte” weer gemeet moet word. Want die ongewenste glip al weer deur.

Suid-Afrika het twee probleme na aanleiding van die afskuwelike gebeure in Noorweë: Ons pas die profiel vierkantig. Ons het ʼn vetgesmeerde liberale grondwet wat hierdie ‘ooptes’ afforseer op ʼn versameling van die mees konserwatiewe stamme in die wêreld. Die Breiviks loop in hul hordes tussen ons rond. En voor die lont van die tragedie staan die Afrikaanse redakteur met ʼn minagtende glimlag en flikkerende vuurhoutjie.

— Luister hier na ‘n insetsel wat op RSG se program Spektrum uitgesaai is oor Steve se bydrae:

[soundcloud url=”http://api.soundcloud.com/tracks/20421041″]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr is onder meer skrywer, aktivis en geselsprogramaanbieder. Hy het meer as 2 miljoen CD's op sy kerfstok en is 'n driemalige SAMA-wenner (insluitende Besverkoopte Suid-Afrikaanse Kunstenaar 2004). www.stevehofmeyr.co.za

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.