Hoogtepunte op Die Groot Debat, 2011: Mbeki, die ‘comeback-kid’

Artikel oorspronklik gepubliseer op Maroela Media op 8 September 2011.

Terwyl NATO en die rebelle Libië op 26 Augustus 2011 oorrompel en Tripoli ingeneem het, het voormalige president Thabo Mbeki die VSR en SASCO van die Universiteit van Stellenbosch (US) toegespreek om sy beskouing van die “geskiedkundige gebeure” in Noord-Afrika te verduidelik. (So terloops, die voormalige president se sekuriteit was oordadig: hy is deur sowat 15 lyfwagte vergesel en hulle het sommige gedeeltes van die kampus byna onbegaanbaar gemaak.)

Die JH Neethling-gebou aan die Rooiplein van die Universiteit van Stellenbosch op die voorgrond; Die Pieke onder sneeu in die agtergrond.

Mbeki het NATO se ingryping in Libië veroordeel en die ware doel van sy besoek aan die universiteit nie verdoesel nie. Hy het die universiteit besoek om die Afrika-unie te bevorder, en gegewe, soos hy gesê het, die universiteit se “doelwit om dialoog te stimuleer, kritieke denke aan te moedig en na ʼn meer getransformeerde kampus te streef”, het hy ʼn ongewone oorsig van die Arabiese opstande gegee met die mees Machiavelliese en weersprekende logika.

Eerstens het hy, redelik onoortuigend, aangevoer dat beide Tunisië en Egipte hul demokratiese transformasie bereik het deur hul eie inheemse opstande. Die opstande het plaasgevind omdat die polisie, leër en sekuriteitsmagte swak was en daar geen Westerse ingryping was nie.

Tweedens het Mbeki argumenteer dat, alhoewel beide Egipte en Tunisië opeenvolgende bedrieglike verkiesings toegelaat het en endemies korrup was, dit uiteindelik daartoe bygedra het dat die pot oorgekook het. Hul onderskeie leiers was heeltemal te lank aan bewind en ondanks omvattende, verdrukkende staatsbestuur, moes hulle lankal tot ʼn val gekom het.

Mbeki het derdens aangevoer dat hierdie jeugopstande “die Afrika demokratiese revolusie bevorder het”. Hoe? Ons weet steeds nie hoe nie.

Vierdens het hy die studente genooi om hulself vertroud te maak met die pan-Afrika beleid, manifes, beleidsdokument en protokol van die Afrika-unie. Hy het studente verder aangeraai om met hul Noord-Afrikaanse eweknieë te skakel, om te streef om die Universiteit van Stellenbosch in ʼn Afrikasentrum van studeer, onderrig en navorsing te verander en om dit in ʼn “aktiewe sentrum vir die progressiewe fundamentele transformasie van ons kontinent te verander en gevolglik sy herlewing teweeg te bring.”

Libië, aan die ander kant, sover dit Mbeki aangaan, was ʼn “perd van ʼn ander kleur” en sou sy eie organiese revolusie kon bewerkstellig indien NATO nie ingemeng en ingegryp het nie. Hy het toe bladsye vol joernaliste en internasionale rolspelers aangehaal wat kwansuis sy mening ondersteun alhoewel die datums van hierdie uitsprake redelik beduidend is en voor Ghaddafi burgeroorlog teen Libië verklaar het, gemaak is. Tweedens het Mbeki doelbewus en kieskeurig vergelykings tussen Tunisië en Egipte getref ten spyte van hul geskiedkundige verskille en eiesoortige eienskappe. Volgens hom het die vername Westerse magte in Libië ingemeng “om hul eie selfsugtige belange te bevorder, deur van die VN-sekuriteitsraad gebruik te maak”; “hulle was en is vasbeslote om ʼn regeringsverandering in Libië teweeg te bring, ongeag wat dit hierdie Afrika-land mag kos, vasberade om ʼn politieke uitslag voort te bring wat hul eie belange sou bevoordeel.”

Mbeki het Libië nie eenkeer aan dieselfde ondersoek onderwerp soos wat hy met Tunisië en Egipte gedoen het nie. Hy het homself weerhou om Ghaddafi korrup te noem, ʼn familie dinastie en ʼn verdrukkende tiranniese regering. Hy het versuim om te noem dat Ghaddafi ʼn diktator was, vir meer as 40 jaar aan bewind was, ʼn terroris en homself, by uitstek, skuldig gemaak het aan menseregtevergrype.

Om te insinueer dat die Afrika-unie Libië sou kon regruk sonder bystand van die VN-sekuriteitsraad en NATO, het Mbeki weereens sy holruggeryde rympie oor die Afrika Renaissance besing, van Afrikane wat hul eie oplossings vir hul eie probleme sal vind, selfs wanneer hulle dit nie wil of kan doen in Zimbabwe, die Ivoorkus, Swaziland, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Somalië nie.

Om die minste te sê is dit alles moeilik om te glo, aangesien hy Robert Mugabe se tirannie ondersteun en verskans het; hy Laurent Gbagbo ondersteun het wat geweier het om uit te tree nadat Alassane Quattara wettig die demokratiese verkiesings in die Ivoorkus-verkiesing gewen het; en toe hy nagelaat het om sanksies teen die Swazi-monarg toe te pas nadat hy sy mag teen sy landsburgers misbruik het.

Mbeki se optrede op kampusse om studente aan te moedig om hulle by hom in sy ontwykende Afrika Renaissance te skaar, is hoogs verdag. Die “comeback kid” kan nie vertrou word nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Rhoda Kadalie is Uitvoerende direkteur by Impumelelo Innovations Award Trust.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae