Hoop in die Noord-Kaap

Die Noord-Kaap se natuurramp het inderdaad verander in ’n humanitêre ramp vir die streek. (Foto: TLU SA)

Die Noord-Kaap is ’n harde wêreld, maar ook ’n dankbare wêreld. Daar waar ’n strepie reën geval het, kan mens ’n effense groenigheid sien. Maar ook dié lappie lewe kwyn reeds weg omdat daar geen opvolgreën geval het nie. Kort-kort sien mens ook ’n wolk van sprinkane wat die bietjie plante wat oor is, verorber.

TLU SA het in April (19-24 April 2021) na gemeenskappe in die Noord-Kaap – wat al vir etlike jare onder ’n knellende droogte gebuk gaan – uitgereik. Om omstandighede in hierdie streek te beleef, is hartverskeurend. Gemeet teen die onbestuurbare afmetings wat die nood aangeneem het, is die geringe hulp wat sekere van die gemeenskappe ontvang het, eintlik weglaatbaar. Die Noord-Kaap se natuurramp het inderdaad verander in ’n humanitêre ramp vir die streek.

Hoewel sommige dele van die Noord-Kaap wel reën gekry het, is dit geensins ’n oplossing vir die provinsie se uitdagings nie. Dit gaan ’n paar jaar se goeie reënseisoene verg om weer hoëgehalteweiding beskikbaar te hê. Intussen moes die boere hul veekuddes na minder as 30% van wat hulle normaalweg aangehou het, sny.

Oral waar ons aangedoen het, het ons die karakter van die mense – so eie aan die Noord-Kaap – ervaar. Gebreidel deur ’n harde omgewing is dit hartsmense, omgee-mense wat steeds voortbeur, wagtend op die volgende reënbui. Dit was ’n voorreg om tyd deur te bring met mense wat dankbaarheid so opreg uitleef.

In ’n streek met unieke name soos die Knersvlakte, Boesmanland, Hantam, Richtersveld, Tankwa en Roggeveld is dit dan ook te wagte dat unieke geregte die tafels sal laat kreun; skuinskoek, Karoo-afval, skaapkop, pap en kaiings en dan natuurlik koeksisters, melktert en die unieke smaak van ’n Karoo-skaaptjop. Die gasvryheid, ten spyte van erge trauma, bly een van die uitstaande kenmerke van die Noord-Kaap se mense.

Ons moet ’n spesiale pluimpie gee vir die vroue van hiérdie wêreld. Dit is verblydend om te sien hoe hulle nie net bankvas agter die manne staan nie, maar ook self inspring met planne om die pot aan die kook te hou, soos die Koekiebak-projek wat nou ook al plaaswerkers bemagtig om vir hulle ’n inkomste te skep.

(Foto: TLU SA)

Die reis deur die Noord-Kaap het net weer beklemtoon hoe belangrik dit is om kommersiële boere in produksie op hul plase te hou. Buiten die bydrae tot die Suid-Afrikaanse kosmandjie word die enorme inspuiting tot die plattelandse dorpies nie altyd verreken nie. Waar landbou tot stilstand knars omdat boere hul plase moet verlaat, kan besighede in die landelike omgewing bykans onmiddellik nie meer ’n ekonomiese bestaan maak nie. Daarna beïnvloed dit die kultuurlewe by skole en kerke, die sosiale gedeelte waar mense mekaar ondersteun en sportgeleenthede tot stilte.

Landbourolspelers het reeds lankal besef dat hulle moet saamstaan om boeregemeenskappe te ondersteun. Die Manna vir Boere-groep reik gesamentlik en ook op eie stoom uit na gemeenskappe in nood. Die TLU SA – saam met Agri NW, Save the Sheep, Caring Daisies, Saai, Gift of the Givers, AfriForum en die Boere-in-Noodgroep – is deel van Manna vir Boere.

(Foto: TLU SA)

Hoewel die afgelope besoek aan die Noord-Kaap grootliks ’n feitesending was, het TLU SA ook in ’n gebaar van meelewendheid ondersteunende hulp aan mense in nood gebied. Vir TLU SA is die lidmaatskap van iemand wat hulp benodig, nie deel van die hulpverleningskriteria nie. Hulp word verleen waar dit nodig is, so goed dit moontlik is. TLU SA besef dat dit vir elke boer se voortbestaan belangrik is dat die buurboer ook in produksie bly. Daarom word almal gehelp. Ons krag as boere is net so sterk soos wat die grondvlakstruktuur in stand gehou en uitgebou word.

Met ’n afwesige regering besef mens opnuut dat die hulp wat moontlik ’n verskil kan maak, in onsself gesetel is. TLU SA se pleidooi aan die gemeenskappe waar dit nog goed gaan, is om te dink aan ’n spesifieke deel van ons land wat in die uiterste nood verkeer.

TLU SA het ’n Art 18A-organisasie geregistreer waar donateurs belastingvoordele kan ontvang deur ’n bydrae tot die TLU SA Traumafonds te maak. Dit is belangrik om te beklemtoon dat ons met die Traumafonds ’n beleid volg van R1 in, R1 uit. Daar word geen administratiewe geld teruggehou of enige ander kostes gedek vanuit bydraes nie. Die fondse word volledig aangewend om te help in nood. Die fonds word jaarliks geoudit en die state is altyd beskikbaar om te besigtig.

Kontak Ute van Wyk by [email protected] om meer te wete te kom oor die belastingvoordele van bydraes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E ·

Wind en son, baie daarvan. Ons moet net weet hoe om dit te kan aanwend. Geld om dit ook te kan implementeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.