Hoop in medemens, nie in die regering nie

Deur Chris Hattingh

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

President Ramaphosa het laas week kommentaar gelewer op die onlangse parlementêre debat wat gevolg het op sy  staatsrede van 2021. Die president het, onder meer, Suid-Afrikaners gevra om die goeie in die land en hul medemens raak te sien en te waardeer, en om nie die heeltyd op die negatiewe te fokus nie. Suid-Afrikaners het elke rede om die goed in ander raak te sien; deur selfs die moeilikste tye probeer bure en gemeenskappe vir mekaar omsien, en mense skenk aan liefdadighede (wanneer die regering dit nie óók verban nie).

Maar ná amper ’n volle jaar van die regering se irrasionele hantering van die Covid-19 pandemie (die verbanning op gekookte hoender en e-handel, asook persoonlike beskermende toerusting-korrupsie en die entstofdebakel staan uit) en jare van die regering se vernietigende ideologie en beleide – het burgers ongelooflik min rede om die goeie in die regering te sien.

In sy staatsrede het president Ramaphosa gepraat van die land se fynbos, en hoe die land se mense, nes fynbos, vernuwe word deur elke brand. Die president het vergeet om die ontelbare brande wat die regering self al op die mense losgelaat het, in te sluit. Van regstellendeaksiebeleide – wat eenvoudig mense met die “regte” politieke verbintenisse beloon – tot die beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet (en vele voorbeelde tussenin), het hierdie regering oor die jare die afswaai van die ekonomie veroorsaak.

Voor Covid-19 ons begin teister het, was meer as 10 miljoen Suid-Afrikaners werkloos en talle meer het, as gevolg van werksontmoedigende wette, ophou soek vir werk. Kapitaalbelegging (van beide plaaslike en internasionale oorsprong) is absoluut noodsaaklik vir enige groei van besighede en die skepping van werksgeleenthede – hierdie raak egter by die jaar al hoe minder.

Dat die regering tans besig is met die proses om die Grondwet fundamenteel te verander – om onteiening van eiendom sonder vergoeding (OSV) wettig te maak – moet vir elke Suid-Afrikaner ’n massiewe waarskuwingsteken wees aangaande die oorkoepelende rol wat hierdie regering in ons daaglikse lewens wil speel. Die mag wat OSV die staat sal gee, is nie slegs ’n probleem ten opsigte van die huidige regering nie – enige regering sal in die toekom kan intree en mense se eiendom van hulle wegneem. In so ’n omgewing het niemand die nodige aansporing om te bou, te werk, of om in Suid-Afrika se toekoms te belê nie. Die goeie wat mens in Suid-Afrika kan ervaar, gaan net al hoe vinniger verdwyn as die regering voorgaan met OSV.

In sy 18 Februarie-toespraak het die president gesê dat die land se grondherverdelingsprogram versnel moet word as die land sy potensiaal gaan bereik. Dat Suid-Afrika aandag aan die wonde van die verlede moet gee en oplos, is sonder twyfel belangrik, Maar om dan vanaf daardie beginposisie te beweeg na die posisie dat eiendomsregte verdun moet word (deur die bogenoemde wysiging van artikel 25), is waansinnig. Grondhervorming wat geskied in die konteks van ’n regering wat enige tyd enigiemand se eiendom kan wegneem, gaan net armoede en swaarkry veroorsaak. Die oppergesag van die reg en sterk eiendomsregte moet enige grondhervormingsproses onderlê.

Saam met vernietigende beleide soos OSV moet Suid-Afrika ontslae raak van al hoër belasting en die idee dat herverdeling van party mense se rykdom ander regtig kan ophelp, dryf mense óf na die buiteland óf dien as ’n rede om nie besighede en produkte en dienslewering aan te pak nie. Hierdie moet ’n land wees wat sukses, innovasie en deurbrake bemoedig, nie by elke geleentheid aftakel nie.

Indien hierdie regering ernstig was oor mense se potensiaal, sou ons drastiese aanpassings gesien het aangaande die vele maniere hoe die staat in ons lewe probeer inmeng. Oor die lang termyn gaan “staatsgeleide groei” baie min verwerf – solank as die staat die privaat sektor se suurstof opsuig, en die regering se skuld-tot-BBP nader kruip aan 100%, gaan ons nooit ware radikale ekonomiese groei ervaar nie. Ná Covid-19 benodig Suid-Afrika ten minste 5-7% groei per jaar vir die volgende 5 jaar om enige ernstige vordering te maak in die uitdaging om werk te skep vir meer as 11 miljoen werkloses.

Hierdie regering is moeg, sonder verbeelding en sonder nuwe idees. Meer staatsbeheer is nie die antwoord vir Suid-Afrika se probleme nie; die beste ding wat die regering nou kan doen, is om uit die pad te staan.

  • Chris Hattingh is ’n adjunkdirekteur by die Vryemarkstigting. Die menings uitgespreek in hierdie artikel is dié van die skrywer en word nie noodwendig gedeel deur die lede van die Stigting nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ou bees ·

Groter waarheid as die kan n mense nie kry nie, maar die waarheid en feite is ongelukkig nie deel van die ideologie van die mense in beheer nie.

Mallie ·

Hoop in jou medemens, boel. Jou hoop is in ons Hemelse Vader, wat nooit sluimer of slaap nie. Mense stel terleur maar GOD nooit.

OW ·

Hierdie regering leef absoluut in die verlede en blameer al die probleme in die land deur die wonde wat in die verlede toegedien is.Hulle regeer hierdie land nou vir bykans 27 jaar en sinspeel nog steeds op apartheid en die onreg van die verlede.Geen wonder daar kan nie vordering getoon word nie.Hulle het toegang tot die geldkaste van hierdie land al die hulpbronne en rykdomme wat daar is,maar die wonde van die verlede bly die groot vraagstuk.Nee mnr die president,hierdie deuntjies raak nou afgesaag.Die tyd is al oorryp om te begin moue oprol en aan die werk te spring om Suid-Afrika tot sy volle reg te laat kom, en die land op te bou tot wat SA kan wees.Die wonde van die verlede gaan nie bydra om die goeie raak te sien nie.Daar word gevra dat ons die goeie moet raak sien.Hou dan op met die wonde van die verlede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.