Hoop steeds min vir vrede in Afganistan

ʼn Vrou huil buite ʼn hospitaal nadat een van haar geliefdes in die selfmoordbomaanval gesterf het (22 April 2018). Foto: AP Photo/Massoud Hossaini

Byna sestig mense is Sondagoggend dood en meer as een honderd beseer toe ’n selfmoordbomaanvallers ’n regeringsgebou in Kaboel waar mense besig was om vir die komende parlementêre verkiesing in Afganistan te registreer, aangeval het.

Die aanval op die hoofsaaklik Sjiïtiese woonbuurt van Gashte Barchi in die weste van Kaboel is die soveelste selfmoordbomaanval die afgelope tyd wat Sjiïtiese Moslems teiken. Terwyl die Taliban, wat ook groot dele van Afganistan beheer, voortdurend aanvalle op die Afgaanse regering, polisie en weermag van stapel stuur, is die Islamitiese Staat besig om sektariese spanning tussen Soenniete en Sjiïete in veral Kaboel aan te blaas.

Afganistan se parlementêre verkiesing is veronderstel om op 20 Oktober plaas te vind nadat dit sedert 2015 herhaaldelik uitgestel is. Intussen moet die regering onder baie moeilike omstandighede probeer om teen 22 Julie 14 miljoen kiesers te registreer. President Ashraf Gani wil aan Westerse lande en belangrike rolspelers in die Midde-Ooste bewys dat sy regering ’n billike verkiesing kan aanbied en ook ’n duidelike mandaat van kiesers kan kry.

’n Uitgebreide studie wat vroeër vanjaar deur die Britse openbare uitsaaier onderneem is, het bevind dat die Taliban in 70% van die distrikte van Afganistan gedeeltelike of volle beheer het. Daar was sedert buitelandse soldate Afganistan grootliks in 2014 verlaat het, ’n skerp toename met die invloed van die Taliban.

Terwyl die Islamitiese Staat, ’n Soenniete-terreurgroep, baie veld verloor het in Irak en Sirië, gaan hulle voort met aanvalle op die Sjiïete in Afganistan in ’n poging om ’n sektariese oorlog, wat uiteindelik tot die vorming van ’n kalifaat aanleiding kan gee, moontlik te maak.

President Donald Trump het, ten spyte van sy verkiesingsbelofte om dit nie te doen nie, verlede jaar ingestem om 3 000 ekstra Amerikaanse soldate na Afganistan te stuur. Daar is tans sowat 14 000 Amerikaanse soldate in die land en saam met soldate van ander (hoofsaaklik Westerse) lande lei hulle soldate vir die Afgaanse weermag op en help hulle met die ontwikkeling van strategieë om die Taliban en Islamitiese Staat terug te dryf.

Dit lyk egter asof hierdie strategie van Westerse lande min vrugte afwerp. Tydens die oorlog tussen die Amerikaansgeleide koalisie en die Taliban is groot skade aan infrastruktuur deur die hele Afganistan aangerig. Sedertdien probeer die Amerikaners leiding neem in ’n veldtog om broodnodige infrastruktuur in die land te herstel.

Dit is egter ook ʼn mislukking. Verlede maand het die inspekteur-generaal vir die heropbou van Afganistan aan die Amerikaanse regering verslag gedoen van die soveelste projek, hierdie keer ’n elektrisiteitnetwerkprojek in die noordooste van Afganistan, wat misluk het. Verskeie soortgelyke mislukkings is verlede jaar aangemeld.

Dr. Kim Holmes van die Heritage Foundation in Amerika het onlangs geskryf dat Amerikaners daaraan herinner moet word dat die Amerikaanse missie in Afganistan slegs daaroor gaan om bedreigings vir Amerika teen te werk.

Die probleem is egter dat solank daar chaos in Afganistan heers en mense in armoede en sonder behoorlike infrastruktuur moet leef, Afganistan ’n tuiste vir internasionale terroriste sal bly. Oplossings vir die probleme in Afganistan sal uit die Midde-Ooste self moet kom. Intussen lyk die kanse vir ’n geloofwaardige verkiesing in Oktober al hoe skraler.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.