Hou die skeidsregter dop, want iemand slaan my raak!

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Wat is billike “toeganklikheid” as dit by Suid-Afrikaanse universiteite kom?

Volgens prof. Wim de Villiers, rektor van Maties, moet alle universiteite oorwegend Engels word om toeganklik vir almal te wees (Beeld, 22/10/2019). Is dit billike toeganklikheid? Ek dink dit is ’n kortsigtige siening.

Meer as die helfte van die Wes-Kaapse bevolking is Afrikaanssprekend. Die Wes-Kaap het drie universiteite: Ikeys, Wes-Kaap en Maties. As twee universiteite Engels is en een, byvoorbeeld Maties, is oorwegend Afrikaans, is dit nie billiker toeganklikheid as drie Engelse universiteite nie?

Verder is die helfte van die Wes-Kaapse bevolking bruin mense. Die bruin Afrikaanse bevolking het die heel laagste vlak van tersiêre opleiding van alle ras- en taalgroepe in Suid-Afrika. Indien daar slegs gekyk word na universiteitsgrade, dan val die gemiddeld vir bruin Afrikaanse mense na 1,1%. Die Suid-Afrikaanse gemiddeld van alle groepe is 4,1%.

Stellenbosch was die een universiteit wat hierdie probleem kon help oplos. Daarom is dit gelyk aan ’n misdaad om die universiteit te verengels en so moeilik toeganklik as moontlik vir hierdie hoofsaaklik plattelandse bruin Afrikaanssprekendes te maak.

Waarom moet alle universiteite verengels?

Volgens prof. De Villiers is dit omdat universiteite belastingbetalersgeld ontvang. Wat ’n eensydige en koloniale tipe logika! My Afrikaanse belastinggeld is mos ook deel van daardie geld. Waarom word my kinders en kleinkinders, wat in Afrikaans wil studeer, nou gestraf en kry hulle geen voordele uit my belastinggeld nie?

As verdere argument sê prof. de Villiers dat Engels, ook in China wat hy tans besoek, al hoe meer gebruik word vir onderrig. Ek het China verskeie kere besoek. Ek daag hom uit om vir my aan te toon watter persentasie van die Chinese skole en universiteite Engels as onderrigtaal gebruik.

Minder as 1% Chinese is vlot in Engels. Dit uit ’n bevolking van 1,4 miljard. Kontroleer gerus hierdie feite by Michael Murphy wat, as ’n Engelse taalspesialis, Engels in China aanbied. Hy skryf gereeld daaroor in die China Daily, die grootste Engelse koerant in China.

Chinese word in Chinees geleer, dit is 99% leerders en studente se onderrigtaal. Dit het hulle nie verhoed om hul eie atoombomme te ontwikkel nie, hulle is die wêreld se tweede grootste ekonomie en hul plaas hul mense in die ruimte.

Wat wel waar is, is dat daar ’n groot behoefte in China is om Engels as kommunikasietaal aan te leer. Daar is ons in Suid-Afrika China reeds ver voor. As ek vir Afrikaanse moedertaalonderrig tot op die hoogste vlak argumenteer, beteken dit nie dat ek teen Engels is nie. Verkieslik moet alle Afrikaanssprekendes Engels as vak neem tot op universiteitsvlak om dit as kommunikasietaal te kan gebruik. Dit maak deure oop.

Maar daar moet duidelik onderskei word tussen Engels as enigste onderrigtaal teenoor Engels as kommunikasietaal nadat jy in jou moedertaal onderrig is.

Waarom word daar van die meerderheid Suid-Afrikaners verwag om hulself te benadeel deur chemie of wiskunde of ingenieurwese in hul tweede of derde taal te leer? Dieselfde benadeling geld nie vir Engelssprekendes nie.

Afrikaanse rektors te blameer

In my ervaring lê ons probleem met Afrikaans by universiteite meer by die Afrikaanse rektors as by die ANC. Die ander ernstige probleem is die Suid-Afrikaanse Grondwet wat, volgens sommige, die beste en modernste is. Ek verskil daarvan.

Die ou boksergrappie verduidelik dit goed. Terwyl die bokser se opponent hom aanmekaar hard raakslaan, sê sy afrigter tussen rondtes vir hom dat dit baie goed gaan. “Jy wen, hy slaan heeltyd mis.” By die vyfde rondte vra die bokser aan die afrigter: “As dit nie hy is wat my so slaan nie, dan moet jy die skeidsregter dophou”.

Die Grondwet en Afrikaans

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. Foto: DoC

So voel ek oor die grondwethof se uitspraak oor Afrikaans by Stellenbosch. Die Grondwet is veronderstel om as skeidsregter op te tree en ons met “wigte en teenwigte” te beskerm – teen ’n regering en rektors wat transformasie gebruik om Afrikaans orals geleidelik uit te skuif.

Daar was sewe Afrikaanse universiteite. Van die 39 universiteitskampusse bly nou net een oor as oorwegend Afrikaans: die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Onder die huidige NWU-rektor en bestuur gaan dit binne vyf jaar ook oorwegend Engels wees. Dit beteken ons betaal belasting vir openbare onderwys, maar moet vir Afrikaans ten duurste voor begin met private universiteite soos Akademia.

Die voormalige NP-minister van onderwys, Piet Marais, het oudpresident FW de Klerk tydens die onderhandelinge gewaarsku dat “onderwys nie die prioriteit onder ons onderhandelaars is wat dit behoort te wees nie”, aldus Die Afrikaners, (Giliomee, 2018: 603).

Die huidige minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, sê ná die Stellenbosch-uitspraak dat Suid-Afrikaanse universiteite “wegbeweeg van Afrikaans as onderrigtaal”. Volgens hom “is dit in ooreenstemming met die Grondwet.”

Die NP-onderhandelaars het destyds aan kiesers belowe onderwys in Afrikaans is verskans en veilig in die nuwe Grondwet. Ons het by Kodesa en by die Grondwetonderhandelinge ernstig daarvan verskil dat Afrikaans, of moedertaalonderrig, veilig is.

Hoekom het ons verskil? Omdat belangrike artikels in die Grondwet berekend baie wyd en vaag bewoord is. So vaag dat ’n regter enige interpretasie daaraan kan gee. Waar hierdie vae artikels nou in die howe getoets word, blyk ons destydse kritiek geldig te wees. Roelf Meyer moet my nou antwoord waar my kleinkinders, wat nog almal in Suid-Afrika is, in Afrikaans gaan studeer.

Soos met die bokser die geval is, word ons nie net hard deur die ANC as opponent bygekom nie, maar ook deur die skeidsregter, wat die Grondwet is. Op alle terreine beweeg ons al verder van die droom van veeltaligheid af weg na eentaligheid, naamlik Engels.

ʼn Plan B

Terwyl ons druk op die huidige universiteite moet hou om veeltaligheid te bevorder, het ons nie ’n ander keuse as om solank ’n plan B gereed te kry nie. Daarom is dit belangrik om geld te skenk en tyd te spandeer om alternatiewe soos Akademia vir die toekoms op te rig.

Ná die Anglo-Boereoorlog in 1902 moes ons weer voor begin met moedertaalskole onder bome en in skure omdat Alfred Milner verengelsing op ons probeer afdwing het. Die Afrikanerkinders wat uit daardie skole gekom het, het uiteindelik ook atoombomme gebou, nuwe uraanverrykingsmetodes ontwikkel en harte oorgeplant.

Miskien moet die Blade Nzimandes, die Lesufis en die naïewe rektors by Milner gaan leer hoe sy onderdrukking uiteindelik tot Afrikaans se oplewing gelei het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

‘n Skitterende stuk deur dr. Mulder waarin hy van “naïwe rektors” melding maak.
Daar is inderdaad ‘n wye verskeidenheid byvoeglike naamwoorde wat hierby gevoeg kan word.
Solidariteit se pro-aktiewe optrede en toekomsplanne betreffende Afrikaanse opleiding maak die verraderlike handelinge jeens ons moedertaal sedert 1994 ietwat ligter, maar;
almal wat verantwoordelik is om Afrikaans tot op hierdie punt te bring, weet wie hulle is.
Rugkrappery was nog altyd makliker as ruggraat toon.

Frans C ·

Geagte dr Mulder,
Indien u wag vir ‘n antwoord van die heer Roelf Meyer,gaan u nog lank wag.Indien hy dit wel doen gaan dit net so vaag en oop vir vertolking wees as wat die artikels van die grondwet,waarna u verwys,is.

Nouja die arme Roelf was mos ‘n jagter en nie ‘n visserman nie en in sy poging om een te vang slaag hy mos daarin om die hoek deur sy vinger te kry en moes sy vriend Ramaphosa , blykbaar met die hulp van ‘n stywe dop, dit verwyder,

Geen wonder alles is so oop vir vertolking want as jy nie eers ‘n vis kan vang sonder om jouself te beseer kan jy seker niks beter in die grondwet verwag.Dat Cyril ‘n beter visserman was is duidelik uit die feit dat hy nou President is en almal nou spook om die engelse hoek uit hul monde te kry.

Gelukkig probeer Akademia sy bes al is en bly dit steeds ‘n pynlike ervaring,want hoe anders as jou swaar verdiende belastinggeldjies nou bebruik word om engels mee te vang.

Gert ·

Baie dankie Dr Mulder vir ‘n uitstekende artikel waarin die situasie absoluut korrek ontleed word.

NaamgenootPieter ·

Ons Afrikaners is puik kantlyn ideoloë wat die beste gevolgtrekkings kan maak……maar met geen impak. Antwoord net my volgende vrae:
* die meerderheid Afrikaners bly in die suid- westelike deel van die land. Die noorde het nog darem NWU, maar nou word daar nog ook ñ Soltek en Akedemia in die noorde gebou in die naam van bevordering van Afrikaans.?? Wat van die suide mnr Solidariteit?
* as daar nie meer ñ ekonomie vir afrikaans is nie, wat is die punt om afrikaans te studeer? Bv. hoe verdedig ñ prokureur wat Afrikaans geswat het ñ klient in ñ Engelse hof?
* gaan “geleerde kinders” regtig wil emmigreer na 30 dorpies – of eerder ñ provinsie soos WP en NK waar daar ñ groter kans is om in Afrikaans besigheid te doen?
VF+ hou op praat en voeg daad by woord om die enigste logiese deel van die land te behou vir Afrikaans. Tyd raak min.

Dolf ·

Daar is geen langtermyn toekoms vir Afrikaners in die binneland nie. Plan B sal duur wees en vinnig lei tot klasseverdeling, verdere armoede, ellende, en die ontstaan van ‘n kantlyn nasie wat uitgelewer is aan sosialiste. Beplande migrasie na die suidelike en westelike deel van die land is die enigste werklike oplossing. Daar kan weer van vooraf gewoeker word. Boere en dié met sakebelange in die binneland kan steeds voortgaan met hul aktiwiteite daar. Dis so goed jy vestig jouself in die Kongo of Georgia.

Bess ·

Aan die einde van die dag is dr mulder in die geheim deel van die anc se apparaat hy praat een ding maar doen n ander en sy paety gee voorkeur aan kleurlinge as dit by beurse en werk kom…

humor ·

Dr Muller verskoon tog maar. Daar is altyd die oningeligde wat valse persepsies kweek en lewenslank daarop teer.

Jack Klok ·

Die antipatie van die ANC is net ‘n simptoom van ‘n dieperliggend grimmigheid teenoor blankes en by uitstek Afrikaners. Hoe meer ons daaroor kla hoe meer olie gooi ons op die ANC se vuur.

Ek wil graag ‘n ander perspektief stel. Die ANC onderskat Afrikaners, net soos die briite en hulle meelopers dit meer as ‘n honderd jaar gelede gedoen het.

Afrikaanse kinders is vandag meer tweetalig as hulle ouers en die was baie meer tweetalig as hulle voorouers, alles danksy televisie. Ek wil dit waag dat Afrikaner kinders van hoërskool ouderdom baie maklik by engelse onderrig kan inskakel. Ek was op beide Afrikaanse en Engelse skole en het my naskoolse opleiding ook in beide tale ontvang. In elk geval is die oorgroete meerderheid handboeke deesdae nie eers meer in Engels nie maar in American.

So gesê beteken nie dat ek Afrikaans wil afskryf nie. Ek ondersteun Afrikaans as onderrig taal heelhartig maar ons mote nie toelaat dat dit ‘n slaanstok of hefboom in die hande van die ANC word nie. Ons moet ons eie ding doen op eie terrein. Akademia bo!!

Petrus ·

Minderheidstale soos Afrikaans moet hard veg om relevant te bly. As akademiese en navorsingstaal het Afrikaans baie sterk gegroei oor ‘n paar dekades wat eintlik ‘n wonderwerk is. Ja, baie handboeke is Brits en Amerikaans, maar Afrikaanse studente kon die inhoud maklik vertaal, danksy die akademiese status van Afrikaans. Plaaslike dosente het wel handboeke en studiegidse geskryf in Afrikaans wat die woordeskat verder uitgebrei het. Die pad wat nou gestap word kan tot gevoog hê dat Afrikaans redelik vinnig sy akademiese status sal verloor. Dan is die taal eintlik maar weer ‘n nuttelose kombuistaal.

Kallie ·

Petrus, mense wat reken Afrikaans sal sterk groei en verder ontwikkel op die huidige pad moet maar weet dink. Ons sal seker nog lank Vandermerwe grappe vertel en oor rugby praat, maar ons kleinkinder sal met mekaar Engels praat sodra gesprekke ernstig raak.

Feite ·

Uitstekende skrywe wat die blaam vir die uitfassering van afrikaans vierkantig voor die deur van die ANC regering, universiteitsowerhede, die howe en afrikaanse rektors le. Ek mis egter die naam van afriforum wie as kampvegter vir die behoud van afrikaans by universiteite geveg het. Seersekerlik moet alle rolspelers, ook afriforum die blaam dra, al dan nie. Na die hofuitspraak van afriforum vs UV, blyk dit meer en meer dat afriforum daaraan aandadig is dat afrikaans uitgefaseer word as wat dit op die oog af lyk, juis ook agv solidariteit se plan B, wat moontlik die heeltyd plan A was. Hoe dit ookal sy, die afriforum vs UV se hofuitspraak en kenners se menings daaroor bevestig dat afriforum nie argumente gevoer het wat n gunstige uitslag vir die behoud van afrikaans sou verseker nie. Die mening was dat afriforum met opset n ongunstige uitspraak gemanipuleer het teen afrikaans (Die wolwe wen net soms). Nou, indien dit die geval was dan is afriforum aandadig aan die uitfasering van afrikaans en vir die verlies van afrikaanssprekendes se erfenis aan afrikaanse universiteite (Verraad). Solidariteit se plan B van selfbestuur, selfbeskikking dmv privaat onderrig instansies vir afrikaans blyk dus die plan van die begin af te gewees het as enigste heenkome vir afrikaanssprekendes. Afriforum het dus nie soos hulle afrikaanssprekendes laat glo, geveg vir die behoud van afrikaans nie, maar vir die uitsluiting van afrikaans by universiteite en die isolering van afrikaans by privaat akademias. Geld, mag en nasionalisme deur verraad!

B ·

@Feite – jou aanhoudende en hoofsaaklik irrasionele aanvalle op Afriforum laat my wonder wat is die ware dieperligggende probleem, want die hamer hou aanmekaar of die seer duim te tref!

LN ·

‘Feite’, lees Cerneels Lourens se ope brief aan Cameron op Litnet tesame met bostaande stuk, dan dink jy weer oor die groter prentjie.

Therese ·

“Feite” se ander skuilnaam is “Jerry”.
Hy het net die eensnaar-kitaar …
“Skuilnaam” is inderdaad ‘n wonderlik beskrywende woord.

Werner ·

Bess, “aan die einde van die dag” is nou later vanmiddag of hoe?

MH ·

Dis ongelooflik hoe die verontwaardiges van hierdie wêreld dit altyd regkry om negatiewe kommentaar te lewer op ‘n positiewe berig. Dankie vir ‘n goeie berig, dr. Mulder.

Gerhard Kotze ·

Nee NaamgenootPieter, die meeste Afrikaners bly in die Noorde van die land. Dit is n betwiste konsep dat Bruin Afrikaanssprekendes hulself oorweldigend as Afrikaners beskou. Dit is wel so dat bruin mense oorweldigend Afrikaans praat.

Dit is dus geensin verbasend dat Noordelike Afrikaners aan die voorpunt staan van daadwerklike ontwikkeling en planne maak om Afrikaners te red nie. Akademia is reg oor die land inelg geval.

Daardie 30 ankerdorpe is belangrik om ons hier in die noorde te help. Ons moet hier ook n bestaan maak. In die Wes-Kaap is daar n invloei van mense vannuit o.a. die Oos-Kaap.

Die realiteit is dat Afrikaners oorwegind vir Afrikaners moet sorg. Ons kan nie ook nog ander mense dra nie.

Deon ·

In die noordelike streek word Afrikaners klaar verdring en omring deur miljoene der miljoene swart mense. Gaan kyk maar na StatsSA se syfers. En dit gaan erger word, gegewe onwettige immigrante en beperkte grond wat in elk geval openlik beset word. Afrikaners sal ook vir hierdie mense moet sorg. Meer Afrikaners sal in plakkerkampe moet oorleef. Die las sal net te veel word vir dunner Afrikaner beursies. Die streek se infrastruktuur val nou ook uitmekaar. Solidariteit se planne in die noorde sal wit olifante word. Afrikaners sal in die suide en weste ‘n stewige groep kan vorm in terme van getalle. Die streke lê braak en kan ontwikkel word. Kaapstad, Stellenboch en gedeeltes van die Boland kan maar deel bly van SA. Bruin Afrikaanssprekendes in die Suid-Kaap is ook ongelukkig met die instroming van “Engelssprekendes” uit die Oos-Kaap. Hulle is indringers. Daar is nie werk nie. Die feit dat min ankerdorpe in die suide en weste geïdentifiseer is is kommerwekkend. Dis asof die streke afgeskryf is. Ek is ‘n Pretorianer en goed gevestig hier. Maar ek besef ek sal ook moet verhuis na die suide.

Sven ·

Afrikaners en ander groepe wat ‘n goeie inkomste verdien of ‘n besigheid besit gaan nog belasting betaal dat die biesies bewe. Die staat het doodeenvoudig nie meer geld nie en sal die belastinglas drasties verhoog. Nugter weet hoe Afrikaners dit gaan regkry om Plan B te befonds en dan nog behoeftige Afrikaners probeer help. Sodra mense hul werk verloor skop die realiteite in. Selfbestuur klink goed op papier en prakties op die oor, maar dit gaan duur wees. Selfregering in ‘n onafhanklike staat in die weste en suide is die enigste langtermyn oplossing. Die noordelike deel van die land is verlore grond en gaan die verhoog wees van ‘n komende burgeroorlog.

Wingman ·

Wag totdat die studente getalle by Maties die bevolkingsamestelling moet weerspieël. Die rektor sal reken dis reg so. Die ANC sal hard werk om Afrikaners van geleerheid re ontneem.

Piet Patat ·

Wat ek wil se het net gedeeltelik met bg saak raakpunte , MAAR , hoekom het d belasting betaler nie se in hoe sy belasting geld gebruik word nie ? Hoekom kan d belasting betaler nie deur die Verbruikers wergewing beskerm word nie ?
Is dit nie n geval van jy betaal vir n diens wat gelewer moet word , maar jy kry dit nie . Hoekom kan OUTA of diegene nie help om d regering op so manier tot verantwoording te roep nie ?
Net my 2 sent se insae ……….

Julia ·

Net een vraag. Kan iemand my dalk antwoord? Hulle haat absoluut die woord en alles afkomstig (behalwe die voorspoed en tegnologie) van “Kolonialisme” maar die taal van die kolonialiste word omhels en te alle tye beskerm en word in almal se kele afgedruk. Ons as Afrikaanse Afrikaners is HIER gebore, het ons eie taal HIER geskep en HIER sal ons bly en ons taal besig. Kom wat wil.

Hans ·

Ek kon nog nooit verstaan waarom Pukke met die universiteit in Mahikeng ( honderde kilometers van mekaar)moes saam smelt,maar die Universitete van Limpopo en Venda ook honderde kilometers van mekaar)as onafhanklike universiteite bly voorbestaan het. Kan dr Eloff asb ‘ n rasionele verduideliking verskaf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.